Woorde: Bianca du Plessis Fotografie: Dewald Kirsten
Eens volop perlemoen is deesdae amper soos die reuse seekatte wat skepe tydens die Middeleeue geteister het. Mitiese seemonsters waarvan jy hoor, maar nooit te siene kry nie. Almal wat oud genoeg is, het hopelik ’n hemelse herinnering van die eerste keer wat hulle perlemoen geëet het. Ek was twaalf en dit was ’n bakkie gemaalde perlemoen en alikreukel in suurlemoenbotter,bedien op sagte witrys. Tot vandag toe is hierdie smaakervaring een van my gunstelinge, maar ongelukkig was dit ook die laaste keer dat ek perlemoen geproe het.
IS DIT ’N SKIP OF ’N SKUUR?
Ek en fotograaf Dewald is ewe opgewonde om bemarkingsbestuurder, Werner Piek, in Hermanus se nuwe hawe te ontmoet vir ’n toer van Abagold-Perlemoenplaas. Daar is tans ses perlemoenplase in Walkerbaai, waarvan Abagold een van die eerstes was en tans die grootste is. Die hoofkantoor is agter die perlemoenplaas geleë in ’n interessante gebou wat deur Kestrel Studio ontwerp is. Dit herinner aan ’n skip én ’n skuur en die gebruik van natuurlike boumateriale binne en buite verleen tekstuur en warmte. Selfs by die kantoor is dit duidelik dat alles hier fyn beplan en doeltreffend uitgevoer word.
Ons toer begin op die rotse waar ons hoor dat 10-12 miljoen liter water per uur uit die see gepomp word om die perlemoen-tenke te voer. “Hierdie is nie ’n plaas wat ooit ’n watertekort gaan hê nie,” noem ek. “Nee, toe hierdie dam gebou is, het hulle hom groot genoeg gemaak,” skerts Werner. “Maar waar ’n gewone boerdery die dam hoog bou sodat water kan afvloei, moet ons massas water na bo pomp wat natuurlik baie krag gebruik.”
GOLWE GEE KRAG
Ten einde volhoubare krag op te wek, werk Abagold in samewerking met Mean Sea Level (MSL) om ’n branderkragopwekker in die sloep net onder die plaas te bou. Dit is op verskeie vlakke ’n enorme uitdaging. Nie net bou hulle onderwater in ’n ekologies sensitiewe area nie, die brawe konstruksiewerkers in hul duikpakke moet teen die konstante aanslag van onstuimige branders werk. Onderwaterkonstruksie vereis gewoonlik die gebruik van groot hoeveelhede beton, maar dit is nie in ’n ekologies sensitiewe area moontlik nie. MSL vervaardig betonblokke op die plaas, wat skuins onder water opgestapel word om gleuwe te skep. Met elke brander wat oor die blokke breek, spoel water deur die gleuwe en word krag dus opgewek. Dit klink eenvoudig, maar die tegnologie verbonde aan hierdie tipe Wave Energy Converter (WEC) is nog nooit elders in die wêreld suksesvol toegepas nie. Ek kry die idee dat hier weereens ’n haas uit die innovasie-hoed gepluk gaan word.
Ons volg die vloei van water soos dit deur massiewe pompe uit die oseaan gesuig word, tot in die watersuiweringsaanleg. Seewater tol deur enorme filters wat stukkies wier en skulpdiertjies verwyder en weer na die see terugvoer.
DIÉ ROOI WAS NIE MOOI NIE
“Soos enige boerdery is ons op die natuur aangewese,” sê Werner, en hy vertel van die massiewe rooigety wat ’n paar jaar terug verwoesting gesaai het. Die 400 km lange, skadelike alge-bloei het vermoedelik in Algoabaai ontstaan toe ’n besmette boot in die hawe vasgemeer het. Ongelukkig was die spesifieke rooigety dodelik vir perlemoen en Abagold het binne enkele dae ongeveer 30% van hul voorraad verloor. “Ons moes 145 ton perlemoen weggooi, met ’n direkte verlies van R50 miljoen.” Die hele span het dag en nag gewerk om skade te beperk, maar die omvang van die verlies was steeds verstommend.
Dit is opvallend hoe skoon en agtermekaar elke aspek van hierdie boerdery is. Toestemming moet verkry word om die binnenshuise broeiery te besoek en hande moet tussen verskillende kweek-areas gewas word. Met meer as 500 werknemers is Abagold een van die grootste werkgewers in Hermanus en daar word baie gedoen om personeel die nodige opleiding en ondersteuning te gee sodat hulle in dié uiters gespesialiseerde – en soms gevaarlike – omgewing kan werk.
SORG VIR DIE KLEINTJIES
Die Abagold-Ontwikkelingtrust is in 2011 gestig om opleidingsprojekte en ontwikkelingsinisiatiewe te ontwerp waarheen Abagold se werknemers en die omliggende gemeenskappe van Hawston, Mount Pleasant en Zwelihle gestuur word. In 2018 het die Trust begin met die oprigting van ’n Sentrum vir Vroeë Kinderontwikkeling langs Abagold se kantoor. Werknemers se kinders word hier versorg en opleiding en infrastruktuur word ook aan omliggende kindersorgsentrums verskaf.
Dis prysenswaardig om te dink dat hierdie boerdery, met al die innoverende fasette, in 1984 by ’n partytjie begin het, toe veearts, Dr Pierre Hugo, en ’n vriend gesels het oor duikers wat sukkel om hul perlemoen-kwota te vul. Dr Hugo het onmiddellik met die kweek van perlemoen begin eksperimenteer en, soos hulle sê, die res is geskiedenis.
Benewens waterwerke, konstruksie, broei- en groeitenke is daar ’n aanleg waar perlemoenvoer gemaak word, sowel as ’n fabriek waar lewende, gedroogde, bevrore en gaar, geblikte perlemoen geskrop, verwerk en vir versending verpak word. Elke faset van perlemoen se siklus word hier behartig. Die plaas het 200 broeipare waarvan sommige wild is, sowel as tweede en derde generasie gekweekte perlemoen. Perlemoen kan tot veertig jaar oud word en van die broeiers is reeds 30 jaar by Abagold. Die plaas besit ’n spesiale permit wat hulle toelaat om ’n broeier met ’n wilde perlemoen te vervang wanneer die broeier afsterf. Abagold volg ’n geneties selektiewe broeiprogram en daar vind geen genetiese manipulasie plaas nie.
SORG VIR SEESKULPIES
Elizabeth Mabuya is die “moeder-hen” wat na die mikroskopiese perlemoentjies in die donker broeikas, waar die watertemperatuur teen ’n konstante 18,5 grade Celsius gehou word, omsien. Op 4 maande word die “babas” na groter binnenshuise tenke oorgeplaas waar hulle leer om teen plastiekplate vas te suig. Teen 8 maande skuif hulle na buitetenke wat met onverhitte, gesuiwerde seewater gevul is.
Benewens rooigety is perlemoen ook uiters sensitief vir ammonia. Lug word deur die konstant vloeiende water gepomp om te help met die afbreek van ammonia wat deur perlemoen-afskeiding in die water vrygestel word en waarvoor die skulpdiere vreeslik sensitief is. Blootstelling aan lig word beheer deur skadunette wat oor die tenke getrek word. Die perlemoen woon vir 3 tot 4 jaar hier, waarna hulle markgereed is.
HOEKOM SO DUUR?
Daar is tans ’n totaal van ongeveer 10 miljoen perlemoen van alle ouderdomme op die plaas. Om hulle volgroeid te kry is ’n geweldig lang, gespesialiseerde en arbeidsintensiewe proses. “Ek verstaan nou hoekom ek nie perlemoen kan bekostig nie,” sê ek vir Werner.
Abagold voer sowat 400 000 kilogram per jaar uit, hoofsaaklik na Hong Kong, Singapoer, Taiwan en Sjina. Die plaaslike perlemoenbedryf word deur die volgende syfers in perspektief geplaas: daar word jaarliks 4 500 ton geoes waarvan 1 500 ton gekweekte perlemoen is en 80 ton wilde perlemoen wat op kwota uit die see gehaal word terwyl 3 000 ton onwettig deur smokkelaars gestroop word. Wêreldwyd word daar ongeveer 140 000 ton per jaar geproduseer.
Synde die bakkie gemaalde perlemoen ná drie dekades steeds by my spook, is dit tog jammer dat hierdie gesogde seeslak nie binne die gewone Suid-Afrikaner se bereik is nie. “Daar is ’n paar plekke in die area wat by ons koop,” sê Johan, “maar ’n restaurant of deli moet ’n permit hê om perlemoen te verkoop. Én ’n permit om dit te vervoer, wat hulle gewoonlik nie het nie. Gevolglik moet ons klein bestellings van 4 tot 5 blikkies aflaai, wat nie prakties moontlik is nie.”
Indien die perlemoen-gier jou pak, is daar altyd die driegang-perlemoen-proesessie by die Heart of Abalone-winkel in die middel van die plaas. Toere kan by die winkel bespreek word, perlemoen kan geproe word en perlemoen-geïnspireerde juweliersware word te koop aangebied. Perlemoen word op drie maniere voorberei: ’n klein, heel perlemoen in ’n Oosterse sous; dun carpaccio skyfies bedien met swart seewierkaviaar; en ’n gemaalde perlemoen ceviche (Peruviaanse seekos-slaai met lemmetjiesap en rissie).
TYD IS GELD
Hierna besoek ons die area waar perlemoen vir lewendige uitgevoer gehou word. Dit is ’n besonder hoë-risiko uitvoerproses. “Perlemoen is ’n hoogs bederfbare produk en ons het net 40 uur om hulle van hier tot by tenke aan die ander kant te vervoer,” sê Werner. ’n Vertraagde vlug het groot stres, noodmaatreëls en soms verliese tot gevolg. Elke tenk is toegerus met ’n alarm wat watervloei monitor. Sou die water om een of ander rede ophou vloei, lui ’n alarm by ADT in Kaapstad, wat op hul beurt die plaas inlig dat daar fout is. Daar is bykans 3 000 alarms op die plaas, elkeen met ’n nommer, om verwarring uit te skakel.
Laastens besoek ons ’n deel van die boerdery wat vir my ’n gunsteling is – die verwerking. Heel perlemoen word volgens ’n eg Japanese metode wat vier weke duur, gedehidreer. Om die gedroogde perlemoen weer te hidreer is ook ’n ingewikkelde proses. “Dit vat so 3 tot 4 dae,” meen Johan, “die perlemoen moet lank en oor lae hitte in ’n aftreksel kook. In Sjina word dit met gestoomde eendvoet voorgesit.” Johan het hierdie einste gereg al vir vriende gaargemaak en hulle het dit baie geniet – al was hulle salig onbewus van wat hulle eet. “In Sjina word perlemoen tradisioneel by troues bedien wat dit konstant in aanvraag hou,” voeg hy by.
’N HAPPIE GOUD
In die gebou langsaan word perlemoen op ’n ry ontskulp, sorgvuldig onder lopende seewater skoongeskraap en gepoets tot dit silwerskoon is. Dan word heel perlemoen en gemaalde perlemoen geblik en in ’n groot, silindriese pot gestoom tot dit gaar is, waarna dit geëtiketteer en verkoop word. Dis ook waar ons toer van hierdie ongewone en hoogs indrukwekkende boerdery ten einde loop. By die deur sien Werner ’n bakkie met heel, gaar perlemoen. Dit is die oorskot van ’n kwaliteitbeheertoets wat pas gedoen is. “Wil julle proe?” vra hy.
Ons laat beslis nie op ons wag nie. En, hoe proe perlemoen ná soveel jare? Vreemd. Ongelooflik. Aards en ryk – so ’n bietjie soos vark – met so ’n tikkie hoender. Stewig van tekstuur, soos iets wat kan klou. Jy proe beslis die see, maar dit is die nasmaak wat jou vir lank nog bybly.
Besigheid: Abagold | Kontak: info@abagold.co.za | www.abagold.com
Wow baie goeie artikel oor die perlemoen en Werner Piek wat die produksie bestuurder is. Well done
Seker ammoniak? (NH3) Maar die Engels is ammonia. Sommer net so ter inligting.