Die Grendeltyd wat verlede jaar ingestel is het heelparty uitdagings aan boere gestel. Diegene wat nie toegang tot groot markte gehad het nie of wat hoofsaaklik aan restaurante verkoop het, is veral hard getref aangesien hulle markte vir lang periodes amper opgedroog het. In reaksie hierop het boere hul na die internet gewend om die eindverbruiker direk te bereik. Duisende boere die wêreld oor doen dit, en jy kan ook.
Daar is drie hoofroetes wat gevolg kan word – skep jou eie aanlyn winkel, verkoop jou goedere deur ʼn “tussenganger” wat ʼn aanlyn plaasmark bedryf, of maak gebruik van vry platforms om direk met klante te skakel. Die eerste roete verg heelwat werk aan jou kant wat insluit die opstel van die aanlynwinkel, die administrasie en die uitvoering van die bestellings. Maar as daar nou een ding is wat ʼn boer nie afskrik nie, is dit harde werk.
Die tweede opsie, om deur middel van ʼn aanlynmark te verkoop – beteken dat jy wins moet afstaan, maar die bemarking, administrasie en verspreiding word namens jou behartig.
Die derde moontlikheid is heel eenvoudig en ʼn goeie manier om direk en vinnig kontak te maak met verbruikers in jou omgewing.
JOU EIE AANLYN WINKEL
As jy die wins in jou eie sak wil steek en die tyd, kennis en hulpbronne (bv. tegniese vaardigheid en goeie internetkonneksie) het, is dit dalk die beste om jou eie aanlyn winkel te begin. Daar is heelwat platforms met inkopiesagteware om webwerwe te bou wat jou in staat sal stel om jou eie aanlyn winkel, gekoppel aan jou plaas se webwerf, op te stel. Sommige van die beste en gerespekteerdes is Wix, Shopify en Squarespace.
Alhoewel hulle kostestrukture wissel, is almal redelik maklik om te gebruik, selfs al is jou tegniese vaardighede nie watwonders nie. Sodra jy die stelsel bemeester het, is dit maklik om produkte en pryse op te dateer, foto’s by te voeg en so aan. Dit neem tyd om alles in plek te kry — die fotografeer van jou produkte, die skryf van ʼn beskrywing vir elkeen en om dan die hoeveelhede en prysinligting by te voeg. Maar, sodra dit afgehandel is, sal jou aanlyn winkel nie veel onderhoud verg nie.
ʼn Eenvoudige aanlyn winkel wat maklik is om te navigeer is waar jy jou produkte sal vertoon, bestellings sal neem en betaling sal ontvang. Afhangend van die graad van ingewikkeldheid, kan die koste om ʼn aanlyn winkel te skep wissel van bykans verniet (as jy dit alles self doen, ook die foto’s) tot in die duisende rande as jy ʼn professionele webontwerper, kopieskrywer en so meer sou inspan. Die belangrike ding is om ʼn platform – enige platform – te skep wat lede van die publiek in staat stel om direk van jou te koop.
Jy sal natuurlik ook die diens moet bemark – weereens sal hoe jy dit doen en wat dit kos dramaties wissel. Besluit op ʼn begroting en vat dit van daar. ʼn Facebook-blad is noodsaaklik, en jy kan ook Instagram, e-posbemarking, of ander sosiale media oorweeg. Met betaalde advertensies op sosiale media kan jy ʼn baie spesifieke mark in jou presiese ligging teiken.
Voor alles soos hier beskryf word kan gebeur, sal jy moet besluit watter produkte jy gaan verkoop, waarvoor jy hulle gaan verkoop en hoe jou klante die produkte waarvoor hulle betaal het gaan ontvang. Afhangend van die omvang van jou aanlyn verkoopsbedryf en jou ligging kan jy byvoorbeeld reël dat produkte twee weekliks op jou plaas afgehaal kan word of/en jy kan twee of drie aangewese afhaalpunte naby jou klante gebruik. Alternatiewelik kan jy kies om jou eie voltydse drywer te kry wat die bestellings aflewer, direk by jou klante se huise.
ʼn Voorbeeld van ʼn kleinskaalse produsent wat direk aan klante vanuit haar aanlyn winkel verkoop, is te sien op die webwerf annabeulahfarm.co.za; en vir ʼn voorbeeld van ʼn plek wat nie so klein is nie, besoek hul aanlyn winkel by
shop.babylonstoren.com.
VERKOOP DEUR JOU AANLYN MARKPLEK
Aanlyn markte is soos groot boeremarkte, maar op die internet, waar jy kan betaal vir “ruimte” om jou produkte saam met dié van ander produseerders te verkoop. Sommige van hierdie webwerwe kan dalk ʼn persentasie van die verkoopsprys opeis omdat hulle die platform voorsien en soms jou produkte afhaal of aflewer. Ander kan weer ʼn nominale maandelikse bedrag vra omdat hulle jou produkte ten toon stel. Een voorbeeld is farmfreshonline.co.za, wat aan verbruikers ʼn verskeidenheid plaasprodukte bied, die produkte kry en verpak en direk aan die verbruiker lewer. Hierdie opsie verg minder administrasie, maar jy ontvang nie die volle prys vir jou produkte nie.
Nog ʼn voorbeeld is locallygrown.co.za, waar klante enige aantal items kan uitkies en in ʼn enkele mandjie plaas. Die klant betaal dan Locally Grown een bedrag vir die hele mandjie, en Locally Grown betaal die verskillende produsente.
Hierdie opsie vra van jou om ʼn aanlyn markplek te skep wat die beste by jou omgewing en produkte pas, en bestuur dan jou verskaffings- en transaksiekoste – niks wat jy nog nie voorheen gedoen het nie.
KONNEKSIEPLATFORMS
ʼn Derde opsie wat hoofsaaklik sy kop uitgesteek het sedert die grendeltyd is ʼn eenvoudige platform waar boere en verbruikers kan ontmoet en direk met mekaar sake doen sonder ʼn “tussenganger”, behalwe die virtuele bekendstelling.
ʼn Voorbeeld van hierdie is die Facebook-groep Koop Direk van Boer, wat begin is tydens die eerste golf van die pandemie en binne twee weke 46 000 lede gekry het. Boere kan hulle produkte adverteer en klante kan direk boodskappe aan hulle stuur, ʼn bestelling plaas en dan reëlings tref vir die afhaal of aflewering daarvan.
Nog ʼn aanlyn platform, is te kry by farmdirectsa.co.za, wat vir dieselfde redes in Oktober verlede jaar van stapel gestuur is. Die doel daarmee is om boere te bemagtig om direk met verbruikers te skakel. Verbruikers kan dan die ruimte verken, kry waarna hulle op soek is, en kies hoe om hulle produkte in die hande te kry.
Alternatiewelik kan nie-bederfbare produkte binne 10 dae landswyd afgelewer word. Die Plaasvars e-Market se aanlyn platform is ʼn soortgelyke platform wat boere in staat stel om enige landbouproduk direk aan die eindverbruiker te koop aan te bied. Gaan kyk by plaasvars.tlu.co.za.
Hierdie platforms gee jou direkte toegang tot potensiële klante, maar as jy gewoond is daaraan om groot voorrade aan ʼn paar klante te voorsien sal die verandering om minder produkte aan meer individuele kopers te bied nie sonder haakplek wees nie. Werk uit waar jy tyd en geld spaar en span die hulpbronne waarop gespaar is in om jou te help om aanlyn te gaan, byvoorbeeld met sosiale media bemarking of ʼn administratiewe assistent.
Verbruikers soek reeds jare lank al hoe meer die varste produkte wat beskikbaar is. Weens verandering in gedrag wat spruit uit die pandemie gaan hierdie aanvraag steeds styg en al hoe meer mense verkies om produkte uit die gerief van hul huise te bestel eerder as om na supermarkte te gaan. Vars-van-die-plaas aankope sluit ook aan by wêreldtendense van ʼn gesonder leefstyl en om kos te eet wat so naby moontlik van die bron bekom is.
Indien jy tot nou toe weerstand teen die digitale wêreld gebied het, is dit nou die tyd om die internet tot jou voordeel te gebruik. Daar is hope geleenthede om kontak te maak, jou produk te vertoon en die belangrikste van als is om dit week na week te verkoop.
Begin klein, bly buigsaam en pas jou strategie aan as dit nodig is, en wie weet? Die aanlyn ruimte kan dalk uiters winsgewend wees.