Ondanks die probleme van 2020 was die prestasie van die SA landbousektor uitsonderlik, veral teen die agtergrond van ‘n krimpende ekonomie en ‘n ver-lammende wêreldwye pandemie. Ten spyte van uitdagings en inperkings was die landbousektor ongetwyfeld ‘n uitnemende presteerder in ‘n jaar wat, vanuit ‘n ekonomiese perspektief, as rampspoedig beskryf kan word. En in 2021 klop verskeie uitdagings, asook geleenthede, aan die sektor se deur.

Die finansieringskrisis wat oor die landbousektor hang, is kommerwekkend en, as dit nie opgelos word nie, kan dit ‘n groter impak op die sektor hê as Covid-19. Diegene wat by die Landbank om finansiering wil aansoek doen, sal steeds sukkel weens die bank se langdurige likiditeitsuitdagings – ‘n situasie wat vererger word deur onlangse verlagings van sy kredietgradering. Die minister van finansies, Tito Mboweni, se aankondiging in sy Februarie-begrotingsrede dat die Landbank ‘n reddingsboei van R7 miljard kry, word verwelkom, maar is dit genoeg om die situasie van dié staatsbeheerde onderneming, wat ‘n belangrike rol in die ontwikkeling van die landbousektor speel, om te keer?
President Cyril Ramaphosa het vroeg in Februarie in sy staatsrede ‘n meesterplan vir pluimvee aangekondig. Dit het reeds R800 miljoen aan produksie-opgraderings bestee en gevolglik produseer Suid-Afrika tans ‘n bykomende een miljoen hoenders per week. Net so het die suikermeesterplan meegebring dat groot suikergebruikers daartoe verbind is om minstens 80% van hul voorraad van plaaslike produsente te verkry, wat verlede jaar tot ‘n toename in plaaslike produksie en ‘n afname in ingevoerde suiker gelei het.
Ondersteuning vir swart kleinboere het toegeneem. ‘n Groot drankprodusent het hom daartoe verbind om hul verkryging skerp uit te brei. Die Blended Fund Scheme is ‘n openbare-privaatvennootskap wat tans onderhandel en as konsensus bereik word, kan dit die weg baan vir verbeterde toegang tot finansiering vir kwalifiserende boere en landboubesighede.
Dié regeringsinisiatiewe vereis deelname en toewyding deur alle belanghebbendes en, terwyl vennootskappe tussen die regering en die privaat sektor moeilik kan wees, is dit noodsaaklik om ‘n inklusiewe sektor te bou.
Die landbou het die potensiaal om ‘n katalisator vir groot groei te wees, en deur te bou op die sterk fondament wat in 2020 gelê is, kan 2021 dalk nog ‘n uitblinker wees. In een van sy onlangse Landboumark-standpunte sê Wandile Sihlobo, Agbiz se gerespekteerde hoofekonoom, Suid-Afrika se landbou-uitvoer was in 2020 die tweede hoogste op rekord.
Die toename in verdienste uit tuinbou-uitvoer sal waarskynlik voortgaan in 2021, en Sihlobo sê die optimisme rondom die 2021-oes van dié en ander veldgewasse soos suiker en mielies ondersteun ‘n moontlike toename in landbou-uitvoer vanjaar, veral gegewe die sterk vraag en lae voorraadvlakke. SA wyndruifproduksie kan ook hoër as in 2020 wees, en hoewel dit druk op buitengewoon hoë voorraadvlakke kan plaas, kan die hoër produksie tot groter wynvolumes vir uitvoer bydra.
Daar is beduidende private belegging in produksie, verpakking, verwerking, verkoelde berging en logistieke infrastruktuur om die sektor se groei te ondersteun, en regeringsbesteding moet daarby aansluit. Verbeterde infrastruktuur is van kardinale belang om voorsiening te maak vir die verwagte toename in uitvoervolumes, maar ondanks die groot gewag wat daarvan gemaak is, het Mboweni in sy 2021-begroting net 4,7% van die bruto binnelandse produk aan infrastruktuurbesteding toegeken.
Uitdagings opsy, die sektor se reaksie op ‘n gans ongekende jaar het mooi gewys wat bereik kan word wanneer daar ‘n gemeenskaplike bedreiging is, maar ook duidelikheid oor wat gedoen moet word en die besef dat daar dadelik opgetree moet word. As ons die lesse van die pandemie kan inspan, dink net wat ons kan doen om baie van die uitdagings waardeur ons in die gesig gestaar word, op te los.