Woorde: Danie Keet Fotografie: Verskaf
Dis maar effe afgeleë en eensaam en die grondpad wat jou soontoe neem is ietwat voos gery, sinkplaat op sy beste, maar die natuurskoon van die omgewing maak dit uit en uit die moeite werd. Skimmelberg is sowat 80 km van Piketberg, noordooswaarts min of meer, en het sy naam gekry van die vaalgrys kolle op die gesteentes van die bergpiek wat hoog bo die plaas uittroon.

SONVANGERS
Op die vlakte kort duskant Skimmelberg is die reuse Paleisheuwel-sonkragaanleg met nagenoeg 611 000 sonpanele wat reeds sedert 2016 sowat 82,5 MW elektrisiteit aan die nasionale kragnetwerk verskaf. Die pad kronkel die pad verder tussen die berge deur en kan die besoeker die Skimmelberg in die verte sien.
Aan die voet lê die boegoe- en rooibosteeplaas, Skimmelberg, van Jannie en Ria Slabbert wat ons gul ontvang. Jan-Hendrik, een van hulle twee seuns wat ook by die boerdery betrokke is, neem ons op ‘n toer deur die plaas. Saam met ons is Carika Fourie wat die afgelope twee jaar in beheer is van landboutoerisme wat plaas toere insluit, en die proelokaal waar besoekers ‘n verskeidenheid rooibos- en boegoe-teekombinasies kan proe.
“Wat ons opset spesiaal maak, is dat ons alles self doen, ons kweek die boegoeplantjies van saad wat ons uit ons eie landerye oes, dan laat ons dit in kweektonnels groei totdat hulle groot en sterk genoeg is om in die landerye te plant. Ons oes self, verwerk die boegoe met verskillende prosesse en verpak dit tesame met ‘n verskeidenheid rooibosteeprodukte, onder ons eie handelsmerk,” verduidelik hy die proses.
Die gebruik van hul eie handelsmerk is nogal uniek omdat die meeste boere hul oeste aan agente verkoop wat dit dan weer op die verskillende markte van die hand sit. Jan-Hendrik is die derde generasie Slabbert op die plaas wat in sy oupa Japie en pa Jannie se voetspore volg. Die voorgangers het aanvanklik met groente en lemoene op die plaas van ongeveer 2 500 ha geboer waarvan sowat 600 ha bewerkbare landbougrond is. Meer as 90% van die plaas is op kontrakbasis aan CapeNature as bewaringsarea gegee. Die res is meestal berggrond wat hulle met CapeNature in ’n besonderse bewaararea deel.

ROOITEE WORD MOOI TEE
“Oupa Japie het met die rooitee begin en droogbane aangelê. Dit het gaandeweg tot die besigheid wat dit vandag is, gegroei. Ons plant vandag nog rooibostee en sitrus, maar het sowat 16 jaar gelede ernstig met die boegoe begin – en ons kyk glad nie terug nie.” Jan-Hendrik verduidelik hoe die boegoe-kweekproses verloop en neem ons na ‘n kweekhuis waarin rye klein boegoeplantjies in saadlaaie staan.
Saadjies word in die laat herfs geplant omdat die koue nie eintlik ‘n negatiewe invloed op hulle het nie. Daar is genoeg reën – gemiddeld sowat 600 mm per jaar. Ten spyte van die hoë reënval, word water streng bestuur om waterbeskikbaarheid reg deur die jaar te verseker. Die hoofdam is hoog geleë en hulle hoef nie veel te pomp nie en meer as 50% van die water word op eie druk versprei. Om waterbestuur te vergemaklik word ‘n drupperlynstelsel gebruik.

“Ons gebruik hoofsaaklik twee boegoeplant-spesies. Die Agathosma betulina, met ‘n hoë olie-inhoud, het ’n kenmerkende rondvormige blaartjie en kom endemies in die berge hier voor. Uitgegroei staan hulle omtrent 1,5 m hoog, het pienkerige blommetjies in September en begin Oktober en gee hulle klein, langwerpige swart saadjies as dit ryp is. Die ander spesie is Agathosma crenulata, wat minder in ons produkte gebruik word, hoofsaaklik weens die persentasie olie wat ons uit die verskillende plantjies verkry. Die crenulata is nie goed vir inwendige gebruik nie en word hoofsaaklik in byprodukte aangewend.


BOEGOE-BABATJIES
“Ons kweek ons eie saailinge en vang elke jaar die saad van ‘n spesifieke blok plantjies op. Die blokke word tweejaarliks afgewissel omdat boegoe elke jaar geoes word. Ons oes dus net elke tweede jaar van spesifieke plante om die beste gehalte saad te verkry.” Die boegoeplantjies staan vir sowat 3 maande in die saadlaaie voordat dit uitgeplant word. Volgens Jan-Hendrik ontkiem die saadjies maar moeilik en duur dit ongeveer 4 tot 6 weke. Wanneer hulle groot genoeg is, word hulle in landerye uitgeplant waar dit ná ‘n jaar en ‘n half vir die eerste keer geoes word.
“Omdat ons ten volle organies boer, het ons min siektes, swamme en ander probleme en ons gebruik natuurlike predatore om biologiese beheer uit te oefen. Op die sitrus gebruikverhoed dat blaaspootjies, rooidopluis en kodlingmotte skade kan aanrig. Dieselfde plae affekteer ook die boegoeplante en derhalwe het hulle ook ‘n weerstand teen hierdie plae opgebou. “Ons moes baie navorsing doen om ten volle organies te kan boer, ook met ons sitrus.

Dit is nogal ‘n omvangryke administratiewe proses om rekord te hou as bewys dat ons organies boer, grootliks om uitvoerverantwoordelikhede na te kom. So kan ons middelmanne uitskakel en die grootste potensiaal uit die hele waardeketting verkry.” Skimmelberg het reeds die BRC (British Retail Consortium) Global Standard-akkreditasie verkry, ‘n internasionale voedselsekerheid-sertifisering wat vir alle markte vereis word. Daarby het hulle ook Global G.A.P., Ceres en Kosher-graderings vir hul boegoe- en rooibostee-produkte verkry. Buiten dat hierdie graderings hulle toegang tot oorsese markte gee, glo Jan-Hendrik dat dit hom as boer ook op sy tone hou om die beste standaarde na te streef.

GEEN GOUE LEPEL
En moenie dink alles is vir hom op ‘n skinkbord aangebied nie. Nadat hy by Saasveld-landboukollege gestudeer het, het hy eers as byeboer in die VSA gaan werk en daarna moes hy toe vir nog 5 jaar by ‘n buurman gaan boer om genoeg ervaring op te doen voordat hy Skimmelberg se boerdery saam met sy pa kon aanpak. “Gelukkig is ons almal soos een groot familie hier en werk ons almal goed saam,” vertel Carika.
“Voor die Covid-19-inperking het ons per jaar sowat 2 000 besoekers op die plaas ontvang. Ons het ‘n groot gastehuis met ‘n driester-gradering en vier dubbelslaapkamers en ons kan op versoek ligte etes verskaf, alhoewel dit grootliks selfsorgverblyf is. “Hier is baie om te sien en te doen. Die berge bied baie stapplek en bergfietsryers kry ook vele geleenthede om hul staal te wys.
Ons neem die besoekers ook na die boegoe- en rooibostee-landerye, wys hulle die verpakkingsaanleg en doen proeë van die verskillende produkte. Hier is nog heelwat wild, bokkies en ‘n ryk voëllewe, met witkruisarende wat in die kranse broei. Gaste kan ook ‘n wye verskeidenheid van ons gesondheidsprodukte in ons winkel op die plaas aankoop – van badseep tot olies en diereprodukte. En natuurlik die verskillende kombinasies van boegoe- en rooibostee.
“Die plaas is al vir meer as 13 jaar deel van ‘n bewaringsooreenkoms met CapeNature en die landerye wat ons tans bewerk, is al waarop ons mag boer. Ons werk ook nou saam met Kaapse Luiperdtrust wat navorsing doen oor luiperds in die omgewing en gereeld veldkameras hier opstel om hul bewegings en getalle te monitor,” vertel Carika.
LUIPERDS MOET OOK LEWE
“Ja, en my pa sê altyd as ons van ons skape verloor weens luiperds wat hulle vang, moet ons nie te veel kla nie. Ons boer tog in hul gebied en as ons nie ons skape goed genoeg oppas nie, kan hulle maar een of twee in die jaar vang,” sê Jan-Hendrik met ‘n glimlag. Buiten die luiperds wat van tyd tot tyd gewaar word, is bobbejane en dassies ook nogal lastig in die sitrusboorde en boegoelande.
Terwyl ’n skoffelspan die boegoe skoonmaak, vertel Carika dat boegoe feitlik enige tyd van die jaar geoes kan word, solank dit net nie reën nie. En die markte word ook fyn dopgehou voordat nuwe boegoe verkoop word. In ‘n goeie jaar word tussen 5 en 6 t/ha geoes, maar fyn beplanning word toegepas om in die aanvraag te voorsien.
“Boegoe is relatief skaars en hierdie is een van die min areas in die land waar dit natuurlik voorkom en aangeplant word, buiten by ‘n paar boere in die Paarl, Bo-Piketberg en Tulbagh.
As die plante bietjie hoër as ‘n meter is, word dit geoes deur omtrent twee-derdes met ‘n sekel af te sny. Binne ‘n jaar groei dit weer terug vir die volgende oes. Gedroogde boegoeblare en boegoepoeier word hoofsaaklik uitgevoer en die boegoe-fynsnit word gebruik in teesakkies. In die hoogsomer moet ons besproei om produksie op die regte vlak te hou en dit jaag koste op – ons het sowat 13 km se druplyn per hektaar. Ons gebruik ook hierdie drupstelsel om organiese voedingstowwe (hoofsaaklik erdwurm-tee wat ons self produseer) aan die boegoeplantjies te gee.”
ELKE DRUPPEL TEL
In die droogstoor word die boegoe op rakke uitgepak en gelos om te droog. Die blare en stokkies word geskei deur ‘n windmasjien wat deur die Slabberts self ontwerp is, waarna dit in bakke geberg word. Die ouderdom van die boegoe is onderskeibaar volgens die kleur wat na gelang van die voggehalte verander.
By die distillasie-aanleg word die boegoe word dan in stoompotte geplaas waar die olie uit die blare onttrek word. Soos Carika sê: ”Dis ‘n lonende bedryf, maar baie nat boegoeblare word benodig om ‘n klein bietjie olie te kry,” met verwysing na die groot hoeveelheid boegoe wat nodig is om een kilogram boegoe-olie te produseer.
Ma Ria is eintlik die baas van die plaas en sorg dat alles reg verloop. Sy sien self om na ‘n deel van die boerdery, is verantwoordelik vir die bemarking van Skimmelberg-produkte en hou toesig oor uitvoere na Amerika, Europa, die Verre Ooste, Spanje, Frankryk, Duitsland, Switserland en Nederland. Selfs markte in Rusland word nou ontgin.

TEE GEE TROOS
In die proelokaal wys Ria die uitgebreide boegoe- en rooibosprodukreeks en verskillende teekombinasies wat hulle onder Skimmelberg bemark, asook ‘n uitgebreide reeks Buchu-produkte wat deur Cape Kingdom ontwikkel is en essensiële olies wat deur Skimmelberg Fynbos Olies geproduseer word. En aan verskeidenheid is daar geen gebrek nie – gesondheidsprodukte soos badsoute-, lyfrome antiseptiese en anti-swamrome en -olies, en ‘n wye reeks sepe kan hier of aanlyn gekoop word. ‘n Verskeidenheid van Cape Kingdom se gesondheidskapsules en diereprodukte is ook beskikbaar. Die teemengsels is ewe indrukwekkend – boegoe en rooibos, boegoe en kamille, gemmer en rooibos – dit is soos die spreekwoordelike simfonie van smake. Dan is daar nog

groenrooibos en ou, wilde boegoetee, gesny van plante wat al ouer as 80 jaar is. “Dit was interessant om te hoor toe ons in Argentinië kom om ons boegoe en rooibostee te bemark, het die plaaslike inwoners ons te vertelle dat hulle rooibos ken – dit kom mos van Duitsland af!” sluit Jannie die gesprek af.
EIENAARS: Jannie en Maria Slabbert | NAAM: Skimmelberg | AREA: Piketberg, Wes-Kaap | PRODUK: Rooibos- en boegoe-teekombinasies en gesondheidsmiddels | OPSOMMING: Die Slabbert-gesin ontgin die kosbare bestanddele van rooibos en boegoe al vir langer as 30 jaar en bemark dit as tee, olie of gesondheidsprodukte | KONTAK: www.skimmelberg.co.za
CAPENATURE
CapeNature fasiliteer die vestiging van bewaarareas op gekombineerde eiendomme deur middel van ooreenkomste tussen private grondeienaars en bewaringsowerhede. Die gemeenskap word betrek en omgewingsbewustheid word geskep, potensiële uitdagings word geïdentifiseer en natuurlike hulpbronne word bestuur. Alle belanghebbendes vind baat daarby deurdat bestuiwing en watersuiwering byvoorbeeld toeneem, konflik met roofdiere gemonitor word, jag-wetgewing toegepas word, en indringerplante en moontlike brande beheer word. Vir meer inligting oor bewaarareas, kontak Garth Mortimer by 021 808 7812 of gmortimer@capenature.co.za Die Kaapse Luiperdtrust is in 2004 gestig. Hierdie nie-winsgewende, aktiewe roofdierbewaringsgroep is toegespits op die behoud van biodiversiteit. Hulle interaktiewe en dinamiese opvoedingsprogram gebruik navorsing as ‘n bewaring-instrument om oplossings vir mens-dier-konflik te vind. Die trust word as ‘n toonaangewende gesag in SA beskou. Besoek capeleopard.org.za vir meer inligting.
BOEGOE RAAK WÊRELDBEROEMD
Dis interessant dat daar 13 bale boegoe aan boord die Titanic was toe dit in 1912 gesink het. Die boegoe was waarskynlik op pad na Amerika weens die bekendheid daarvan as ‘n anti-inflammatoriese bestanddeel van medisyne wat reeds in die Amerikaanse burgeroorlog gebruik is. En aangesien dat boegoe uiters skaars is en net in een deel van die wêreld voorkom – die klein area in die omgewing van die Paarl en Citrusdal – kon dit net van een plek afkomstig gewees het!