Woorde: Maryke Roberts Fotografie: Verskaf
Dit sit nie in elke personeelbestuurder se broek om die korporatiewe wêreld vaarwel toe te roep en ’n bekroonde boer te word nie. Maar sodra jy met Susan van der Merwe van Groblershoop begin gesels, besef jy hoe diep haar landbouwortels lê, skryf Maryke Roberts.
WITGOUD OP LOWERGROEN
Susan is ‘n kommersiële katoenprodusent en sy boer al die afgelope 10 jaar op haar pa se plaas, Lowergroen, aan die oostekant van die magtige Oranjerivier, sowat 8 kilometer buite Groblershoop. In 2015 palm sy die titel as Noord-Kaapse Kommersiële Vroueboer van die Jaar in.
Sy sê die titel het haar laat voel asof sy iets as boer reg doen. “Vroue het meer meegevoel, begrip, mededeelsaamheid en geduld in die boerdery. Hulle moet hulself egter steeds goed versorg en oppas. Vroue het al in Bybeltye begin boer. In Numeri is Selofhad se grond aan sy dogters gegee wat dit toe bewerk het.
Die plaas se 45 hektaar is verdeel in 22 hektaar katoen, ses hektaar wyndruiwe en 17 hektaar droogdruiwe. Nege ander boere boer ook langs die rivier met katoen, maar hulle wissel dit met verskeie ander gewasse af.
Susan is op Groblershoop gebore en getoë en sy sê dis hier waar haar liefde vir boerdery begin het. Haar pa boer al sedert 1948 op die plaas en hy het 25 jaar voor sy die plaas oorgeneem het, met katoen begin boer. Katoen word egter al sedert 1927 in die Noord-Kaap gekweek, want dit baie goed in die klimaat aard omdat die grond vrugbaar is en die water genoeg is.
Ná ’n jaar by die Weermagkollege op George, en ’n graad in Personeelbestuur by Kovsies, trou sy met Schalk en hulle woon op Secunda. Hulle woon op ook Ellisras, voor hulle ’n jaar later terugtrek Groblershoop toe, waar Schalk ’n kliëntebestuurder by Eskom is.
PA SE KIND
Vir bykans 21 jaar het Susan daagliks op die plaas aangekom en haar pa met die uitvoerdruiwe gehelp. Sy vertel dat sy waardevolle lesse by haar ouers, Sarel en Lena Marais, geleer het, lesse oor pligsgetrouheid, standvastigheid, eerlikheid en om gelowig te wees.
Susan het die boerdery in 2011 by haar pa oorgeneem, plaas toe verhuis en ingespring. Schalk werk voltyds, maar hy is Susan se regterhand waar dit kom by enige meganiese werk op die plaas. Schalk help met die plant en spuit en hy doen self al die plukwerk saam met die plukker.
Katoen word met ’n planter geplant en Susan kry die saad van hul plaaslike pluismeule. “Ons plant dit 250 mm onder die grond en ons plant gemiddeld 110 000 plante per hektaar. Die ideaal is om wisselbou toe te pas, maar ek plant elke jaar katoen en wissel dit af met ’n dekgewas in die resestydperk.
Die tyd tussen plant- en oestyd wissel tussen 160 en 180 dae. Katoen is dors en hulle besproei elke twee weke uit die kanaal omdat dit so warm word in hulle geweste. Hul somerreënval wissel jaarliks tussen 180 en 200 mm en Susan sê as daar meer as 30 mm val, hoef hulle nie te besproei nie.
KATOEN VAN KWALITEIT
Volgens Susan kan goeie katoen tussen 5,5 tot 8 ton per hektaar lewer. “Ons katoen-kwaliteit stem baie ooreen met dié van Australië en Amerika, maar ons is steeds beter as hulle. Die Benede-Oranjerivier se katoen is beslis die beste in Suid-Afrika,” vertel sy trots.
“Ons druk dit in modules van ses ton en vervoer dit per vragmotor na GWK se pluismeule anderkant Marydale.”
Op Lowergroen is daar geen stil maand nie: in die somer word die wyndruiwe en rosyntjies geoes en in die winter, die katoen. Alle katoenreste word vir bemesting in die grond teruggeploeg.
Die wyndruiwe word na Groblershoop-kelders geneem, waarna dit by Orange River Cellars op Upington verwerk word. Die rosyne word op die plaas gedroog en na PepsiCo op Groblershoop geneem. Dit word ook op Upington verwerk, verpak en uitgevoer.
LIEWER LANGDRADIG
Sy vertel dat hulle voortdurend nuwe geneties gemodifiseerde organismes en katoenkultivars kry om te plant. Sy gebruik tans die beskikbare katoen-kultivars Kandia, 1240 en 1541 wat almal soortgelyk is, die een se vesel is dalk net effe langer of korter; die pitte bietjie kleiner of groter.
Katoen is die wêreld se belangrikste natuurlike vesel en dit verskaf miljoene werksgeleenthede in die 100 lande waar dit verbou word.
Katoen se grootste vyande is blaaspootjie, aalwurm en bladspringer. Susan verduidelik dat blaaspootjie net ná opkoms tot vierblaar voorkom. “Ons spuit Aceta Star 46 EC. Aalwurm kan deur Nemacur beheer word en bladspringer kom van die vyfde week af voor en kan ook met Aceta Star 46 EC bespuit word.
“Ons plant met ’n kunsmismengsel en daarna, op vier weke, gee ons ongeveer 100 kg/ha stikstof en voor 8 weke, potassium.
“Katoen blom eers met ’n wit blom wat daarna pienk verkleur voor dit ’n reuse knop vorm, waarin die katoenvesel ontwikkel. Wanneer die bol oopspring, hang die groot bol vesel daar om droog te word. Die katoen is reg om geoes te word sodra die pit binne droog is,” verduidelik sy. Die katoen word met Pix bespuit om sy groei te stop. “Ons spuit ook vir ontblaring en om die knoppe oop te maak. Dit neem so drie weke en dan pluk ons met die plukker.”
WITGOUD OP DIE LANDE
In landboukringe word katoen dikwels witgoud genoem weens sy hoë winsgrense, mits dit korrek geboer word. Susan sê “naas droogdruiwe en pekanneute, is katoen die beste om te boer. Wyn en lusern lê verder af in die winsgewende leer. Maar jou voetspore moet maar in die lande bly, winsgewendheid kom nie vanself nie.”
Dié raad het sy destyds by haar pa gekry het en sy pas dit daagliks toe. Susan sê as sy haar duurste les moes opsom, sou dit wees: “Vertrou op die Here, moenie twyfel nie en moenie na die weer kyk nie.”
In die tien jaar wat sy op Lowergroen boer, het sy die grond weer opgebou, wingerde bygeplant en heelwat gereedskap aangekoop. “Die Here stuur ook mense wat vir my raad en leiding gee oor my pad,” vertel sy dankbaar.
‘N HART WAT BLOM
En wat hou die toekoms vir haar in? “Dis alles in die Here se hand. Menslik gesproke sal ek nog ’n rukkie wil boer. Die boerdery is eintlik my stokperdjie, want ek geniet dit baie. Die gewasse waarmee ek nou boer, verstaan ek. Hulle is soos mense. Om uit te brei sal afhang waar die grond geleë is. Ek sal graag nog iewers vir ontspanning met blomme wil boer,” glimlag sy.
Wat ook al in die volgende dekade op haar wag, Susan sê: “Wat ek is, is genade. Wat ek het, is geleen!”
INTERESSANTE KATOENFEITE
• Katoen word in vyf van Suid-Afrika se provinsies geboer: KZN, Limpopo, Mpumalanga, Noord-Kaap en Noordwes. Katoen soek ’n warm groeitydperk tussen November en Maart.
• Katoen is gewild omdat dit baie sterk en absorberend is, mak-lik droog word en sy kleur behou. Dis die vesel wat die meeste vir klere, verbande, banknote en beddegoed gebruik word.
• Katoen is uniek omdat dit die enigste gewas is wat sowel ’n kos- as ’n veselgewas is. Die katoenpluis of linters – die wollerigheid op die saad – bied sellulose wat in plastiek of papierprodukte van hoë gehalte, soos banknote, gebruik word, of as vulsels vir matrasse en meubels, ook in rekenaarskyfies, platskerm-TV’s en plofstof.
• Die katoensaad word fyngemaak en word dan in drie produkte verdeel. Die olie word in margarien, kookolie, slaaisous, skoonheidsmiddels, seep, kerse, skoonmaakmiddels en baie ander kommoditeite gebruik. Die meel word in vee, pluimvee- en visvoer gebruik, asook in kunsmis. Die doppe word in kunsmis, brandstof en verpakking gebruik. Wat oorbly van die plant – die stingels en blare – word vir geparste papier en karton gebruik of word in die grond teruggeploeg om dit te verryk.
• Sowat 44% van SA se katoen voldoen aan die Better Cotton Initiative (BCI) se standaarde (wat dubbeld die wêreldwye standaard is). BCI is ’n wêreldwye, nie-winsgewende organisasie wat daarna streef om katoenproduksie te verbeter vir dié wat dit produseer, vir die omgewing en vir die bedryf se toekoms.
• Elke ton katoen wat geproduseer word, skep vyf werksgeleenthede.
EIENAAR: Susan van der Merwe | NAAM: Lowergroen | AREA: Groblershoop, Noord-Kaap | PRODUK: Katoen, wyn- en droogdruiwe | OPSOMMING: SA se eerste vroulike kommersiële katoenprodusent, Susan van der Merwe, boer al 10 jaar lank en wil graag vir ontspanning met blomme begin boer | KONTAK: lowergroen1@gmail.com