Woorde: Anna Mouton Fotografie: Dewald Kirsten
“In die tagtigerjare was my pa, Jan, ’n wynverteenwoordiger vir Mooiuitsig Wynkelders in Bonnievale,” vertel Hendrik van Wyngaard, besturende direkteur van TimJan Wondersap. “Een van sy kliënte was ’n man met die naam Tim Pollard van Humansdorp. Daar was ’n vrou wat by Tim gewerk het wat dié boereraat vir haar vriende gemaak het. Sy gee dit toe vir my pa vir sy jig en dit het vir hom gewerk. Hy’t toe aalwyn in die hande gekry en dit self begin maak.”

BESKERMDE BESKERMER
Hierdie herkenbare vetplante met hul groot, dik blare wat in kleur wissel van grys tot heldergroen, word maklik op die Suid-Afrikaanse landskap uitgeken. Die blare se wasagtige tekstuur is goed aangepas vir ons land se droë klimaat. Aalwyne is ‘n beskermde plant en een wat nie sonder toestemming uit die veld verwyder mag word nie.

Danksy hoë konsentrasie vitamiene en minerale, soos magnesium, sink, koper, kalsium en yster, word aalwynsap al vir generasies as ‘n volksgeneesmiddel gebruik. Mense drink dit onder andere vir hardlywigheid, gewrigsontsteking en om hulle weerstand teen siektes te verbeter. Volgens sommige bronne word sekere soorte aalwyn al vir duisende jare vir medisinale gebruik ingespan. Blykbaar het die Egiptenare dit nie net as geneesmiddel toegedien nie, maar ook om lyke mee te balsem. Dioskorides, ‘n eerste-eeuse Griekse plantkundige, het Aloe vera vir wonde, aambeie en haarverlies aanbeveel en selfs as lakseermiddel. Die jelagtige sap in die blare kan as noodhulpmiddel vir brandwonde gebruik word, maar sommige spesies veroorsaak erge newe-effekte, so dis nie iets wat enigeen met ‘n aalwyn in sy voortuin wil probeer nie.

’N NUWE NISMARK
Aanvanklik het Jan van Wyngaard die boereraat net vir homself voorberei en nou en dan het hy dit ook met ander gedeel. Kort voor lank het mense daarna begin vra. Jan het ‘n besigheidsgeleentheid raakgesien. “Hy en Tim het toe saam in die ding ingegaan, want my pa het die kontakte gehad om die produk in bottels te sit omdat hy vir die kelder gewerk het,” onthou Hendrik. Die twee moes ‘n naam uitdink en so is TimJan gebore.

Dit was 21 jaar gelede en intussen het TimJan sodanig gegroei dat hulle na ‘n groter perseel in Bonnievale se Hoofweg moes trek. Hendrik het in Bonnievale gematrikuleer en ná skool was hy ‘n toergids in Afrika. In die laat negentigs het hy teruggekeer om sy pa met die besigheid by te staan.
PARS DIE SAP
Hendrik kry suiwer aalwynsap van Albertina en Herbertsdale se omgewing. Wanneer die sap van die bitteraalwyn geoes word, word die plant se groen blare teen die stam afgesny en met die gesnyde kant na binne, in ‘n sirkel oor ‘n gat in die grond opgestapel. ‘n Houer in die gat kollekteer dan die sap soos dit uit die blare drup. Die gewig van die swaar, opgestapelde blare help om die sap uit te pers wat in die houer opgevang word. Daarna word die sap verhit en geroer tot dit styf en dik is waarna dit uitgegiet word en verhard voor dit verwerk word.
By TimJan word die verwerkte aalwynsap by bottels port gevoeg en dan regoor Suid-Afrika en ander Afrika-lande versprei. “Ons gebruik ‘n spesifieke aalwyn, Aloe ferox. Sy waarde, dit wat hy bevat, oortref enige ander aalwyn,” sê Hendrik. “Hy lewer ook meer sap as enige ander aalwyn – sy blare raak groot.” Aloe ferox, of die sogenaamde bitteraalwyn, is een van ongeveer 155 spesies aalwyn wat in Suid-Afrika voorkom. Wêreldwyd is daar na beraming 600 verskillende spesies.


LAAT DIE PLANT RUS
Om die moederplante te beskerm en kans te gee om weer te herstel, word net die boonste blare gedurende die oesproses afgesny sodat die plant weer kan aansterk. Plante word dan vyf jaar gelos voordat daar weer aan hulle geraak word.
“Maar die droogte,” sug Hendrik. “Soos met enige ander vetplant, hou die aalwyn sy vloeistof in sy stam as dit droog is, so jy kan daai blaar gaan sny, jy kan hom daar gaan neersit, maar daar kom niks uit nie. Dit moet reën, dit moet koud wees, die omstandighede moet reg wees.”

ALMAL PRAAT DAAROOR
As gevolg van die afgelope vyf jaar se lae reënval, kan TimJan nie voorbly met die aanvraag na hulle wondersap nie. “Dis oumense, jongmense, mense op alle lewensterreine wat dit gebruik. Oor twintig jaar het ons al terugvoer van ‘n wye spektrum mense gekry – van ‘n agtienjarige laaitie tot ‘n sewentigjarige tannie. Hulle almal gebruik dit,” sê Hendrik. Oor hul bemarking, het hy te vertelle: “Dit is alles mondelings. Ons het nog nooit nodig gehad om te adverteer nie.”
Hierdie stekelblaar vetplant speel ‘n belangrike rol in die ekologie. Waar aalwyne in die veld bo ander bossies uittroon, word hulle baiemaal deur voëls benut. Enigeen wat al deur Namibië getoer het, sal sekerlik die reusagtige voëlneste in die kokerbome, ‘n tipe aalwyn, onthou. Omdat baie aalwynspesies in die wintermaande blom, is die soet nektar ook die voedingsbron vir baie insekte. Inteendeel, die nektarproduksie is só oorvloedig dat baie byeboere grootliks op hierdie plant staatmaak. En al is die sap van die aalwynblaar bitterder as bitter, bly dit tog ‘n stroopsoet sap vir Tim en Jan.

EIENAAR: Jannie van Wyngaard | NAAM: TimJan | AREA: Bonnievale | PRODUK: Aalwyn | OPSOMMING: Hierdie tuisgemaakte boereraat is ’n hoogs aangeskrewe kruiewyn wat binne en buite Suid-Afrika gedrink word as ’n kuur om allerhande kwale teë te wer | KONTAK: timjan@lando.co.za | www.timjanwonderjuice.co.za
Middag…my ouers gebruik Timjan nou vir jare en ek sukkel om die heldergeel “label” bottle vir hulle te kry. Die nuwe een is nie so goed nie. Kan ek by u bestel en EFT betaling doen. Dankie