Boere diversifiseer op kreatiewe maniere deur middel van onder andere verwerking en landboutoerisme. Nog ‘n manier om jou wins aan te vul sonder ‘n groot kapitaaluitleg is om ’n kampterrein op jou plaas op te rig en gebruik te maak van paaie naby hoofweë om potensiële kampeerders te lok.
1. DIE BASIESE DINGE
Die volgende maak ʼn kampeerplek aanloklik:
Pragtige natuurlike omgewing
Die hoofrede waarom mense uitkamp, is om tyd in die natuur te kan deurbring. Indien jy bome en voëllewe op jou plaas het, dalk ʼn dam of stroompie, asook ʼn uitstekende uitsig, is dit ʼn goeie begin.
Vrede en rustigheid
Buiten die geluide van voëls, paddas en ander veldlewe, moet alles absoluut stil wees. Niemand wil gaan kampeer en dan na hoofwegverkeer of die plaaslike saagmeule luister nie.
Veiligheid en sekuriteit
Dit is noodsaaklik om toegangsbeheer toe te pas sodat jou besoekers heeltemal veilig en gemaklik voel en werklik van die wêreld kan ontsnap.
Toegang
Die kampterrein moet uiteraard maklik met ʼn gewone motor bereik kan word. Indien dit net met ʼn viertrekvoertuig bereik kan word, verklein jy jou mark te veel.
Skadu
Daar is niks erger as jy laatmiddag ʼn vuurtjie wil aansteek en die omgewing wil geniet, maar jy nie die son se felheid kan ontsnap nie.
As jy al bogenoemde kan aftik, het jy die basiese dinge in plek wat nodig is om ʼn nuwe inkomstebron te ontgin! Kom ons kyk nou na ander belangrike aspekte en hoe jy hulle sonder te veel onkoste in plek kan kry.
2. SKEP DIE KAMPEERTERREIN
Kyk goed rond op jou plaas en vra jou af waar jy sou wou uitkamp as jy ʼn besoeker is? Soek ʼn oopte met skaduwee, beskut teen die wind en met maklike toegang. Dit is vanselfsprekend dat jy ʼn plek moet kry waar die uitsig fantasties is – verbeel jou jy sit op jou kampstoel en kyk uit oor die landskap. Wat is die beste uitsig moontlik wat jy aan gaste kan bied? Die plek moet beskerming teen diere, die weer en lawaai in ag neem. Vermy boomwortels en klippe en soek gelyk grond vir die opslaan van tente. As die stuk grond voorheen gebruik was, wees op die uitkyk vir bewapeningstawe, elektriese bedrading en versteekte waterlyne wanneer die terrein skoongemaak en uitgegrawe word.
Water, ablusie en vullishouers
ʼn Toilet of twee is belangrik, en ook ʼn stort en ʼn wasbak om in te was. Dit hoef nie deftig te wees of baie geld te kos nie, maar die bou van toilette is ʼn uitgawe wat sterk oorweeg moet word. As daar nie ʼn ander uitweg is nie, begin met ʼn mobiele stort en toilet, en voeg dan geleidelik permanente konstruksies by as dit moontlik raak. As daar dalk ʼn ongebruikte gebou naby is wat jy kan omskep is dit iets om te oorweeg want die ablusieblok hoef nie reg langs die kampeerterrein te wees nie. Fasiliteite wat ʼn ent weg is en goed belig is, is heeltemal aanvaarbaar. Water is noodsaaklik. Jou gaste sal water naby wil hê waarmee hulle kan kook, skoonmaak en daardie belangrike oggendkoffie kan maak. Jy sal ook vullishouers van ʼn aard moet verskaf.
Braaiplekke
Dit is vanselfsprekend dat jou gaste ten minste een maal per dag, indien nie meer kere nie, ʼn vuurtjie sal wil aansteek. Die moontlikhede is legio. Jy kan halfkonka’s installeer, of met klippe en sement ʼn braaiplek vir elke staanplek maak, of jy kan dit heel eenvoudig hou en groot klippe in ʼn sirkel pak om ʼn braai-area te skep. Indien jy dit doen, moet jy seker maak jy stel besoekers in kennis dat hulle hul eie rooster moet saambring – dit is nie so ongewoon nie en kampeerders het gewoonlik hul eie roosters. Hou in gedagte dat die meeste kampeerders daarvan hou om individueel te braai by hul staanplek eerder as by ʼn gemeenskaplike vuur.
Elektrisiteit
Is daar ʼn moontlikheid dat jy elektrisiteit kan aanlê, of dit op ʼn ander manier kan verskaf? Indien die aanlê van elektrisiteit ʼn groot uitgawe en moeite gaan wees, maak dit ʼn elektrisiteitslose kampeerplek. Diegene wat werklik met die natuur wil skakel en van alles wil wegkom, sal nie omgee nie. Dieselfde geld vir Wi-Fi – daar is hotelle vir daardie soort vakansie.
Aktiwiteite
Alhoewel party kampeerders so min moontlik wil doen behalwe om te gesels en bordspeletjies te speel, is daar diegene wat aktief wil wees. Water om in te swem, is altyd welkom en as jy kajaks of ʼn paar roeiplanke het, des te beter. Staproetes, bergfietsgeleenthede en ander plaaservarings sal bydra tot die aanloklikheid van jou kampeerplek en kan in al jou reklame as attraksies genoem word. Jy het dalk ook ander ervaringe om aan te bied en waarvoor jy besoekers addisioneel kan laat betaal. Dit hang af van jou plaasbedrywighede, maar dink byvoorbeeld aan dinge soos kaasmaakkursusse, druiwetrappery, koeimelkery en wildritte. Oorweeg ook interessante aktiwiteite in jou onmiddellike omgewing wat jy as nabygeleë attraksies kan noem en laat jou gaste weet van plekke wat hulle in die omgewing kan besoek.
Bykomende aantreklikhede
Klein ekstra afrondings maak ʼn groot verskil as jy ʼn kampeerplek aantrekliker wil maak. Dink aan hoe jy die terrein kan verfraai en dit ook meer funksioneel maak. ʼn Paar hangmatte wat reeds in bome hang, veelkleurige liggies wat om bome gedraai is, sonligte langs die voetpaadjies en blombeddings kan ʼn kaal stuk grond in ʼn lushof omskep. Dink ook daaraan om vir privaatheid eenvoudige houtafskortings tussen die individuele kampeerplekke op te rig of om heinings aan te plant vir ʼn meer natuurlike voorkoms.
3. DIE SAKEDEEL
Benewens ‘n sakeplan sal jy aandag moet gee aan die regsaspekte, insluitende enige lisensies wat nodig mag wees – maak seker by jou munisipaliteit. Jy benodig ook beperkte aanspreeklikheidsversekering, asook ʼn vrywaringsvorm vir jou gaste.
Wat reklame betref, is daar baie webtuistes wat jou gratis of teen betaling sal lys. Jy kan ook gebruik maak van Instagram en Facebook as bemarkingsinstrumente, of ʼn eenvoudige webwerf wat besoekers onder meer vertel wat hulle kan verwag en die koste daaraan verbonde. Plaas ook baie foto’s van die terrein.
Jy kan die kampeerterrein na jou plaas vernoem, of dit sy eie unieke naam gee. Indien jy laasgenoemde doen, moet jy seker maak dat die naam nie reeds in gebruik is nie.
Gee aandag aan voortgesette koste, soos personeel, vullisverwydering, water- en elektrisiteitskoste, asook die instandhouding van die ablusiefasiliteite, beligting, kajaks en so meer.
Jy moet goed nadink oor die soort gas wat jy wil teiken en wat die koste per nag, per tent of karavaan moet wees. Afhangend van jou begroting en fasiliteite, kan jy enigiets aanbied van heel basies tot luuks. As jy laasgenoemde roete wil volg, kan jy groot seiltente opslaan of selfs ʼn paar A-vormhuisies met beddens of opslaanbeddens, klein tafeltjies, lanterns en muskietnette inrig. Hierdie geriewe kan uitverhuur word aan diegene wat die buitelug wil ervaar sonder om ʼn bakkievrag kamptoerusting saam te sleep.
Ekstra geld kan genereer word deur dinge soos brandhout, vuuraanstekers, water, ys, en versnaperinge te verkoop.
Alhoewel dit ʼn bietjie dinkwerk, voorbereiding en uitgawes verg om ʼn kampeerterrein in te rig, kan dit ʼn relatief maklike manier wees om ekstra inkomste te bekom, nuwe mense te ontmoet en om ʼn bietjie ekstra publisiteit vir jou plaas te skep. Die gulde reël is om te dink wat jy van kamp hou en wat nie en dan dienooreenkomstig te beplan!