writer: Hein Eksteen
‘Die wildernis bewaar die antwoorde op vrae wat die mens nog nie gevra het nie.’ Só skryf Nancy Newhall.
En Afrika meer as enige ander wildernis. Ná my besoek aan Antarktika in 1980, was ek van mening dat dáárdie kontinent die ware jakob was. Want, anders as in Alaska en die toendra, loop daar nie oliepyplyne, vragmotors en mense nie. Toe gebeur Afrika met my.
Maar met ʼn ompad.

Wysgere reken op ouderdom dertig behoort jou lewenspad gebaan te wees. Jy weet min of meer wie en wat jy is. Jou loopbaan en verwagtings is gekarteer en jy stoom voort op ál agt silinders. Helaas . . .
Juis op daardie ouderdom pak ek my rugsak en eindig ek uiteindelik in Japan. Binne twee jaar word daardie algehele vreemdheid egter die bekende. Voorspelbaar – en dit is tog in die mens se aard om ʼn mate van ’n voorspelbare toekoms te hê. In Duitsland dieselfde. Immer terug na Afrika. Hoekom?
Oor die onvoorspelbaarheid daarvan. En die manier waarop die kontinent en sy mense jou sluik lê en inwag.
Daardie armoedige snotneuskind in Mosambiek met die Jesus-oë wat half verskuil agter ʼn boom na jou loer. En breed glimlag. Die statige man van Arusha in Tanzanië, uitgevat soos onse eige Malusi, met ʼn volstruisleertas in die een hand en ʼn tros lewendige hoenders koponderstebo in die ander. Die vrou in Botswana wat my oorlaaide motorfiets se drarak weer aanmekaar sweis – haar oorlede man het haar hierdie handvaardigheid geleer – en weier om betaling te aanvaar. “You do enough for my country by just coming here.”
“Ek het dit oorleef. Alhoewel die ervaring emosioneel dreinerend was.”
Om ʼn reistog in Afrika te oorleef moet jy aanvaar jou emosies word ʼn pin ball-spel. En daardie balletjie tref teikens wat uit opwinding, wanhoop en treurigheid bestaan, maar uiteindelik weer hoop en die bevestiging van jou medemens se ingebore goedheid. Ons word immers geïndoktrineer en gekondisioneer om die kwade te beproef.
Terug na die maak van my bosvrou.
Toe ek my geliefde Giselle die aand in Pringlebaai ontmoet, was die eerste woorde in my kop dié van Don Quichot: ‘Dulcinea, I have found thee.’ Ridders van ouds het die lans opgeneem ter ere van ʼn adellike dame. Verruklik en begeerlik en uitgevat soos een wat na die parlementsopening toe op pad is, dit is Giselle. Die ridder, daarenteen, kaalvoet en verslons, pas terug ná maande se boskamp in Namibië, Botswana en Mosambiek. Het die ridder die geringste kans gehad? Uiteindelik, ja.
Vrind en mede-reisiger, Abri Bukes, het te wete: “Die eerste en belangrikste toets vir ʼn nuwe vrou in jou lewe, is eenvoudig. Kan sy kamp?” Giselle, die stadsvrou, wat tot baie onlangs met ʼn sportmotor tussen die herehuis in Lissabon en die villa in die Algarve gependel het?
Nie lank daarna nie, beplan ek en maters ʼn toer Tanzanië toe. En ek roer die sakie aan.
Giselle: “Waar bly ons snags oor?”
Ek span ál my twyfelagtige kreatiewe fakulteite in om die begrip ‘boskamp’ eksoties te laat klink.
“En waarin boskamp ons?”
Siende dat ons twee saam met ander vriende ry, pleeg ons die eksotiese in my motorfiets-tentjie (een meter hoog en breed, en twee lank).
“Is dit veilig?”
Sodra ons oor die Suid-Afrikaanse grens is, ja.
Aanvanklik paap ek. Daar waarheen ons nou op pad is, is daar nie ʼn kans van omdraai en ‘Laai my by die naaste lughawe af’ nie.
Die eerste aand sien ek hoe Giselle my dophou terwyl ek die tent opslaan. Die volgende oggend help ek met die ontbyt en woerts het sy die tent afgeslaan. Sy maak dit haar daaglikse taak.
Dan die grote. Op diesulke ritte kom daar die oomblik waar jy met die rolletjie wit papier die bosse moet in. Giselle kom terug en ek vra uit.
“Ek het dit oorleef. Alhoewel die ervaring emosioneel dreinerend was.”
Die hoop beskaam nie.
In Mabuasehube slaap ons in die tent en sy voel hoe ek te styf teen haar lê. Sy stamp my weg. Ek gee pad. Maar oomblikke later is dit weer sulke dinge. Giselle word behoorlik wakker en besef ek slaap aan die ander kant. ʼn Leeumannetjie het bloot liggaamshitte aan die buitekant kom soek.
Sy oorleef dit toe ook. En die olifant wat dwarsdeur ons kamp in Linyanti gestap het. En die swartmamba in die boom reg bokant ons braaivuur.
Kan Giselle kamp? En haar oorgee aan Afrika se vryheid en onvoorspelbaarheid? Afrika se wildernis het gereed gestaan met die antwoord toe sy uiteindelik die vraag gevra het.
Hein Eksteen is ’n storietrekboer wat saam met Ben Rumson (Lee Marvin in Paint Your Wagon) glo: ‘I’ve never seen a sight that didn’t look better looking back.’ Die Wes-Kaap is sy herkoms. Suider-Afrika sy herwaarts en derwaarts.
1 Comment