writer: Hein Eksteen
“Natuurlik het ons op die trekpad jolyt gemaak. Sodra ʼn klompie waens saam staning gemaak het, het ons die kitare, bekfluitjies en konsertinas uitgehaal. En ons kón dans. Nie soos die goed van vandag wat lyk asof hulle gif ingekry het nie.” Só onthou Tant Kobie in Eksteenfontein in die Richtersveld die ou dae toe die Bosluisbasters (hulle verwys trots na hulself op hierdie manier) nog grondloos met hul vee op die trekpad in die Boesmanland geswerf het.
Hierdie haweloses moes noodgedwonge hul vee in die ‘gorrels’ laat wei – dit is die stroke aarde weerskante van die grondpaaie en tussen die plase se omheinings. Selfs dáár was hulle nie juis welkom nie, alhoewel die boere hulle as plaasarbeiders met ope arms ontvang het. Om hul omstandighede te vererger, is hulle gereeld toegang tot suipings op die plase geweier. En die Boesmanland is uiteraard droog. Soos iemand eendag vertel, “Dis hier só droog, as die kinders waterpokkies kry, kry hulle net één. Daar is nie genoeg water vir meer nie.”
Dominee Eksteen (nie verwant aan my nie – hy was van die goeie Eksteens) stuur ʼn petisie aan die regering en in 1948 vind hierdie verlorenes hul Kanaän in wat vandag as die Richtersveld bekend staan.
Die Richtersveld vorm natuurlik deel van die /Ai/Ais-Richtersveld Oorgrenspark en ek slaan my kamp af onder ʼn koelteboom in Sendelingsdrif se kampeerplek. My gemoed is swaar – nie omdat ek een van my gunstelingplekke verlaat nie (ek verlaat graag plekke), maar oor wat hier aangaan.
Die pad loop daarvandaan verby myne en mynhope, deur Eksteenfontein waar ek my hoed vir Tant Kobie lig (in my geestesoog sien ek hoe sy oor die dor vlaktes kotiljons), oor die Helskloofpas (die een na Vioolsdrif) tot by The Growcery Camp teen die Garieprivier. ʼn Welige, boomryke staning met groener as groen grasperke en groente-, kruie- en blomtuine. ʼn Paradys geskik vir een met die behoefte om wonde te lek. Sonder om té verwaand te klink, wêreldwonde te probeer laaf en heel.
Die kroeg kyk uit oor die rivier en smaak vir my ʼn geskikte plek te wees om die kruis op te neem. Dit saam met Hennie Prinsloo, The Grocery se hoofman oor ʼn honderd.
Ons drink elkeen ʼn bier bloot om ontwatering mee teë te werk. Hennie het hierdie stuk grond, eens ʼn lusernplasie, 12 jaar gelede gekoop en ʼn boma gebou as oornagplek vir sy safari’s.
Nou, hulle sê leuens is soos kakkerlakke. As jy een sien, sal daar vir seker heelwat meer wees. Dieselfde met goeie idees en nuwe planne – Hennie se bynaam op skool was nie verniet Plannetjies Prinsloo nie. Dus word ʼn lodge kompleet met die kroeg en eetplek ontwikkel. Bly- en kampeerplekke. Tot ʼn kremetartboomwoud.
Alhoewel Hennie nie ʼn Richtersveld boorling is nie, het hy sy wortels in die Kaap uitgetrek en is hy nou van hiér. Die kroeg is lekker koel, maar kyk na waar die son skyn en jy word genoop om vir die wis en die onwis nóg ʼn bier te bestel. Jou vleeslike welstand is immers net so belangrik as die geestelike.
Ons kommer oor wat in die Richtersveld, Boesman- en Namakwaland aan die gebeur is. Nie die uitmergelende droogte nie. Eerder die stroop van seldsame en bedreigde vetplante.
Pieter van Wyk, die park se botanis, verduidelik onlangs aan my, “Vanaf hier in die Richtersveld, oor na die Boesmanland, die Namakwaland en verder teen die Weskus langs, is daar tussen 400 en 500 mense wat elke dag van die week seldsame en bedreigde plante stroop.”
Met hierdie wete is ons oor die hond se stert en ons ontwatering benodig uiteraard hoër oktaan vloeistof. En hier werk ons die pad boontoe na die aap se skouer met behulp van lewenswater bekend as Monkey Shoulder.
Pieter: “Teen November 2019 was die stropery op ʼn skaal groter as enige ander vorm van wild life trading.”
Nog ʼn klompie skeute en ons sit gemaklik op die aap se skouer.
Hennie reken, “Ons twee ry baie rond vir ons werk, maar ons moet begin dokkies maak. Die wêreld wys wat hier aangaan.”
“Ons gaan die stropers knak. Daai maaifoedies beroof die arme Richtersvelders van hul beste bates.”
“Nog ʼn enetjie?”
Tjorts, sê die aap.
Ek dans later kamp toe soos een wat óók gif ingekry het. Maar met Uys Krige in my hart waar hy skryf: Die lewe is alleen draaglik as ʼn mens bietjie dronk is.
Hein Eksteen is ’n storietrekboer wat saam met Ben Rumson (Lee Marvin in Paint Your Wagon) glo: ‘I’ve never seen a sight that didn’t look better looking back.’ Die Wes-Kaap is sy herkoms. Suider-Afrika sy herwaarts en derwaarts.
Baie mooi geskryf Henk. Het self pas teruggekom van n Boesmanland kopskoonmaak wegbreek. Ek is so bly jy raak die stropery kwessie aan, mense moet meer ingelig word.
Baie dankie!
Ek het al n pad geloop met die mnr Plannetjies Prinsloo…Hennie. Interesante karakter…maar ek wil graag die skrywer bedank vir die wyse waarop hy die plant stropery uitlig…maar daar is n ander onder werp wat op die Weskus, Namakwaland, Boesmanland en die Knersvlakte gebeur…en dis veel erger as die plant stropery. Dis die myn aansoeke wat soos die Rinder pes …op ons gemeenskappe toesak. Jy die nuwe myn aansoeke is soos die Covid pamdemie…klandistien. Dit alleen…gaan nie net die plante vernietig nie…maar ook die skaars waterbronne en dan…die reeds gebroke gemeenskappe. Doen so bietjie navorsing oor dit…dis n donker kant…wat min van weet…slegs die wat affekteer word.
Vir meer inligting…kan jy my kontak by 0825703364