farmers, Female Farmers
Leave a comment

Savon – seep uit diervet laat die sente inrol

Woorde: Maryke Roberts | Foto’s: Verskaf

Die droogte wat wyd oor die land verwoesting saai, grendeltyd, en die neiging om nader aan die aarde te leef en minder te verkwis, noop baie boere om dit wat voorheen weggegooi of as afval gesien is, te omskep in ’n nuwe produk, skryf Maryke Roberts

Toegevoegde waarde bied vir baie boere of hul vroue en werkers, ’n inkomste wat in maer maande die pot aan die kook hou. Dit wat voorheen vir die komposhoop beskore was, word nou kosbaarhede. Een van hierdie suksesstories is Martinette Ziman wat duskant Laingsburg seep uit diervet maak.

Die Savon-reeks bestaan uit ses badsepe, boerseep en ‘n plantgebaseerde wasgoedseep.

Op die plaas Suikerbosfontein, maak Martinette Ziman seep van skaap- en beesvet. Die Savon-sepe, met hul art nouveau-ontwerpte boksies, bevat geen chemikalieë nie. Die reeks bestaan uit ses badsepe (waarvan twee vegansepe is), Boerseep en ’n plantgebaseerde wasgoedseep.

Sy gebruik ’n afvalproduk wat meestal vir hondepille of varkkos gebruik sou word. “Velle word gewoonlik verkoop, bene kan opgesaag en vir sopbene of aftreksel verkoop word. Vet word in ander vleisprodukte gebruik, en ook verkoop aan mense wat daarmee kook, maar ons seep gee nou as’t ware die vet ’n tweede kans om nuttig te wees.”

HOE GEMAAK MET DIE VET?

Martinette en haar man, Mark, het die plaas in 2010 gekoop om van die gejaagde lewe in Johannesburg af weg te kom. Hulle het met skaap en lusern begin boer. Daar is baie geslag en sy het ’n manier gesoek om iets met die vet te maak. Sy hou nie van vermorsing nie en ’n addisionele produk om hul spaarvarkie te maag vol te hou, was nie te versmaai nie.

Die Savon-sepe se art nouveau-ontwerpte boksie, bevat geen chemikalieë nie en is sag genoeg vir jou hare en baba se lyfie.

Hulle het eers met boerseep uit die diervet begin. Die badseep, waarby klei, speserye, kruie en vlugtige olies gevoeg word, het later bygekom. Vir die vegansepe word net ’n verskei-denheid plantolies, -vette en -botters gebruik. Die ses badsepe het eksotiese name: Roses and Lavender, Neroli and Cocoa, Midnight, Seamud, Jasmin and Grapefruit en Lemongrass. Die handels-merk se naam, Savon, kom uit Frans en Hebreeus en beteken seep. Dit gee alles ’n tikkie misterie aan dié Karoo-sepie.

Mark is ongelukkig in Januarie vanjaar oorlede en die seepmakery hou nou die pot vir Martinette en hul gesin aan die kook. Die ouer kinders, Jesse en Rachel, help haar nou in die besigheid en die twee jongeres, Abigial en Hannah, is al baie bedrewe met vou van die boksies, sepies verpak en bestellings voorberei.

Weens die afgelope ses jaar se erge droogte, is daar baie afgeskaal en daar is slegs ’n paar skape oor. Vandat Mark oorlede is en die boerdery afgeskaal het en sy nie so baie kan slag nie, koop sy addisionele skaap- en beesvet by ’n boer in die omgewing.

LAAT DIE VET EERS UITBRAAI

“Ek koop die vet klaar uitgekook aan. Indien ek nie by hom kan kry nie, koop ek vetstukke wat ons dan self uitkook. Wanneer jy seep maak, verskil die hoeveelheid seepsoda tussen bees- en skaapvet en ek pas die resep daarvolgens aan.”

Martinette se twee jonger dogters, Abigial en Hannah, is al goed bedrewe met boksies vou, sepies verpak en bestellings berei.

Martinette het in 2007 ’n kursus gedoen in kruie-medisyne, huishoudelike skoonmaakmiddels en lyfsorgprodukte wat nie skadelik is of sintetiese stowwe bevat nie. “Jesse was as kind verskriklik allergies en het vreeslik gesukkel met ekseem. Ek het oplossings gesoek. Die kursus het my belangstelling soveel geprikkel, dat ek aanvanklik met gliseriensepies in ons kombuis in Johannesburg begin het.

“Dit het later daartoe gelei dat ek die koue proses wou probeer, en ek was dadelik verlief op die resultaat: ’n baie harder koekie seep, asook die feit dat mens beheer het oor wat alles in jou seep gaan,” gesels sy terwyl sy die groot blokke seep in kleiner stawe sny. Mark het haar stokperdjie in ’n besigheid omskep en haar aangespoor om uit te brei. “Ons probeer nou om hom trots te hou en die besigheid verder uit te brei.”

Martinette se kinders help ywerig in die seepbesigheid. Hier is Jesse besig om die seep te meng

STAPEL DIE SEEP OP

Die kombuis het gou te klein vir haar seepmakery geword. Eers het vriende daarvan begin gebruik en teruggekom vir meer en toe het sy dit begin verkoop. Tans verkoop hulle op die webwerf www.savonproducts.com en in verskeie gesondheidswinkels, apteke, dekorwinkels en padstalle.

Die ou slaghuis op die plaas is nou die werksplek waar al die seep gemaak word en die ou melkkamer is waar die seep rus en verouder. Martinette hou van die feit dat die seep hom nie laat aanjaag nie, maar dat jou geduld beloon word met ’n harde seep wat langer hou. Sy hou ook daarvan dat haar seep eetbaar is, wanneer dit behoorlik verouder het, want net natuurlike basis-olies, vlugtige olies wat van plante en blomme gedistilleer is en natuurlike kleurmiddels word daarin gebruik. Droë kruie en jasmynblomme word in die proses gebruik en laat die hele werksplek hemels ruik.

Martinette-hulle het die slagspreuk “Using Nature to Nurture” aangeneem. Hulle gebruik onder meer olyfolie, kokosneutolie, volhoubaar-geoeste palmolie, galambotter (oftewel, shea butter), kasterolie en ’n verskeidenheid vlugtige olies. Vir kleur gebruik hulle onder meer borrie, kakao, kaolien-klei, geaktiveerde steenkool en gedroogde blomme.

“Die seep is ryk en bevogtigend en mense met allergieë en sensitiewe velle kan dit met vrymoedigheid gebruik. Dis geskik vir babas en kinders en ‘n mens kan selfs jou honde met ons seep was,” vertel sy.

Die seep word in die ou melkkamer gelos om te rus en te verouder voor dit verpak word.

NATUURLIK NET NATUURLIK

“Chemikalieë bespoedig die seepmaak-proses en dit beteken dat goedkoper rou materiale gebruik kan word en dit word deur sout aangevul om ’n harde koekie seep te maak. Met sintetiese stowwe kan jy ook ’n witter koekie seep kry, maar dit droog jou vel uit. Ons natuurlike seep se kleure wissel, want die vet wissel van dier tot dier.” Die hoeveelheid vet wat sy gebruik, hang van elke tipe seep af. Vir boerseep gebruik hulle 23 kg vet, waaruit hulle 150 koekies seep kry.

Sy verduidelik die koue proses kortliks: “Vir die seep waarin ons dierevet gebruik, kook ons eers die vet om die vet en die kaiings te skei. Dan smelt ons al ons vet, los seepsoda in water op en voeg die twee bymekaar. Die seepsoda veroorsaak dat die mengsel warm word en dit stel jou in staat om alles goed te kan meng. Jy meng totdat dit die verlangde dikte bereik – die transeer-stadium. Dan word die vlugtige olies bygevoeg. Die mengsel kan dun, medium of dik wees, afhangende van wat jy maak en watter tegniek jy gebruik.”

Martinette beduie verder: “Daarna giet ons dit in die vorm wat met waspapier uitgevoer is. Ons bedek dit en wag totdat dit hard genoeg is om uit die vorm te haal. Hierdie proses kan tussen agt en dertig uur neem, afhangende van die seep, die temperatuur en die humiditeit. Vandaar sny ons die groot blok seep in stawe en dan in koekies. Dit word op houtrakke gepak om te verouder. Dit neem tussen vier en ses weke, weer eens afhangende van die soort seep wat gemaak word, die weer en die humiditeit. ’n Seep wat meer olyfolie as harder vette bevat, neem langer om te verouder. Die verouderingsproses is noodsaaklik sodat al die seepsoda en water kan onttrek om ’n harde koekie seep te lewer.”

Die oorskietstukkies wat nie groot genoeg is vir die boksie nie, het gestalte gegee aan die “misterie-sepies” vir gastehuise en hotelle.

TEL ELKE KRUMMEL OP

Met die kleiner sny van die seepblokkies het sy gou besef daar is klein afvalstukkies wat nie groot genoeg vir die boksie is nie. Haar kreatiwiteit het onmiddellik oorgeneem en só is die mystery soaps vir gastehuise en hotelle gebore. “Die sepies word van stukke afvalseep gemaak en in klein ronde koekies gesny wat ideaal vir gastehuise is wat nie groot koekies seep in die kamers wil los nie. Dit gee gaste al die lekkerte en voordele van die seep, maar in klein formaat.”

Die pragtige verpakking is die handewerk van Anneri Mouton van Ladismith se Red Fox Designs en die drukwerk word in Kaapstad gedoen.

Hoewel haar seep eko-vriendelik is, het sy nie die amptelike sertifiseringsproses voltooi nie. “Die proses is ’n vreeslike duur een, en sal die seep se prys hemelhoog laat styg. Ons wil nie onbekostigbaar vir ons klante word nie,” vertel sy.

Behalwe die seep, maak Martinette ook organiese sanitêre produkte van katoen wat aanlyn verkoop word. Die katoen word van Suid-Korea ingevoer. “Ek maak ook byewas-room vir brandwonde en bababoudjies en kruiemedisyne vir my familie en vriende.” Sy koop die was by byeboere en oorweeg dit om haar reeks verder uit te brei – dalk ’n byewas-salf, ’n natuurlike sjampoe en ‘n bevogtiger-staaf ook. “Wie weet wat nog voorlê. Ek moet net eers meer as 24 uur per dag present kry, want tussen alles deur, moet ek ook my kinders tuis onderrig en ek moet huishou,” glimlag sy.


EIENAAR: Martinette Ziman | NAAM: Suikebosfontein AREA: Laingsburg | PRODUK: Savon-seep | KONTAK: www.savonproducts.com | 0826527711

Filed under: farmers, Female Farmers

by

Maryke is a prizewinning journalist whose articles have been published countrywide. She has written about a wide range of subjects including books, actors, theatre, food, wine and travel. When she pulls over to open a farm gate and shakes the farmer’s hand, the anticipation rushes through her veins. “Agriculture is more than the production of food – it is the heart and soul of our country. And this is where you’ll discover tales of true grit,” according to her.

Leave a Reply

Your email address will not be published.