Woorde: Hein Eksteen | Foto’s: Michel Dei-Cont
Met die aanhoor dat ek met ʼn Skotse boer en sy Afrikaanse vrou in die Oos-Kaap gaan gesels, sluip my gedagtes terug na ʼn gebeurtenis jare gelede, toe ek – volgens my oorle moeder – nog ʼn ordentlike job gehad het. Nogal by een van die voorste oliemaatskappye. Daar raak ek bevriend met ʼn Skot, genaamd Jim Irvine. Byna elke oggend wanneer ons in die vol hysbak klim, haak Jim af en snou my lighartig toe: “Dumb Dutchman”. My antwoord was vervolgens: “Ja, ek is miskien ʼn dom boertjie, maar my voormense het nie hul nasionale dop by die Iere gesteel nie, óók kan ons nasionale musiekinstrument nie teruggevoer word na ʼn kameelblaas in Egipte nie en die belangrikste: my grootjies het nie gaan oorlog maak in rokke geklee nie.”
En kort voor lank tref die papaja die windpomp. Ek word na die voorsitter se kantoor ontbied. Daar moes ek aanhoor sy sekretaresse is van Skotse herkoms en sy vind my uitlatings aangaande die Skotte beledigend. Die ironie: van Dumb Dutchman was daar g’n sprake nie.
Nietemin, op die plaas aangekom, stel ek my in Engels voor en die Skot antwoord vlot in die soetste taal.
Van waar Gehasi?
David McEwan: “My oupagrootjie het hierdie plaas gedurende die vroeë 1900’s gekoop.” David se taalvaardigheid is te verstane. Ná bykans 200 jaar in Suid-Afrika en as deel van die vierde geslag op Fairfield, is David so Skots as wat ek Pruisies is.
Karen, daarenteen, is van Beaufort-Wes afkomstig en ʼn gerekende sjef. Een wat oor die “vrouhaftigheid” beskik om vanaf een van die uitdagendste beroepe oor te skuif na ʼn ander een: om groente organies te boer.
Karen: “Ek het aan die begin spyseniering gedoen en kookklasse en demonstrasies aangebied, maar toe die kinders aankom, het ek besluit om op die groentetuine te fokus. ”Hier is nóg ʼn voorbeeld van klein begin, aanhou win. Aanvanklik was die tuin bloot ʼn stokperdjie. Vandag is dit ʼn suksesvolle besigheid.
“ʼn Klein besigheid.”
Indien daar na Oupa se manjifieke plaasopstal gekyk word, is dinge alles behalwe “klein” op Fairfield. Om die verkleiningsvorm beter te verstaan, brei David uit oor hulle ander boerderykomponente.
“Ons boer met vleis- en wolmerinos. En dan ook met Tuli-beeste.”
Hierdie vleisbeesras het sy oorsprong in Zimbabwe en is ʼn variasie van die Sanga-bees, die gemeenskaplike naam vir sub-Sahara-Afrika se inheemse beesras. “Vir ons klimaat glo ek dit is die regte ras vir hierdie streek. Dit is ʼn redelike droë gebied wat nie eintlik geskik vir bees is nie, aangesien daar groot dele van die jaar geen gras is nie. Maar die Tuli hanteer die karoobossies baie beter as die Britse rasse.”
Daarbenewens is skaap mos by uitstek ʼn bossievreter en floreer in Middelburg se omte. Ja, hierdie omgewing is bekend vir sy skaap en bossies, maar óók vir sy snerpende koue. Indien jou oog egter van die termometer af wegdwaal en jy skeer jou skaap op die verkeerde tyd, haal jy die toorn van jou bankbestuurder op die hals.
“Nee, ons beplan goed vooruit en skeer só dat die skaap darem nog ʼn bietjie wol oorhou om teen die koue te baklei.” Menslik. En só moet dit wees. Gesondheidsbewustes wil deesdae presies weet wáár hul kos vandaan kom. Word die diere goed behandel? Wat vreet hulle? Word hulle sag geslag?
RFID-INDENTIFIKASIEPLAATJIES
David en Karen voldoen aan hierdie vereistes deur die gebruik RFID-indentifikasieplaatjies. Geskik vir skaap en bees, word hierdie plaatjies aangewend om die diere individueel te monitor – dit verseker die behoud van akkurate rekords en bevorder die presiesheid verbonde aan kuddebestuur. Die produsent win betroubare inligting in en is nie meer aangewese op gemiddeldes en om met die oog te skat nie. Hierdie geïndividualiseerde inligting dek alles van die diere se gesondheid, gewigs-aanwas en gedrag, en dit lewer ʼn reuse-bydrae wanneer daar op die voete gedink moet word.
“Ons heg die plaatjies ongeveer drie dae ná geboorte aan die lammers se ore. Die lam is dan elektronies aan die ma gekoppel en jy kan presies sien hoe daardie spefieke ooi presteer en hoeveel lammers sy jou per jaar gee. Jy werk mos daaraan om jou kudde jaar vir jaar te verbeter en van die swakker ooie ontslae te raak.”
David verkoop sy lammers uitsluitlik aan voerkrale en so ver moontlik aan krale wat dieselfde stelsel gebruik, met ander woorde die indentifikasieplaatjies bly aan die lammers se ore tot en met die dag wanneer hulle geslag word.
“Ons probeer die konsep van naspeuring verder voer. Ek is ook seker dat binnekort, wanneer jy jou vleis koop, jy daardie tjops sal kan naspeur tot op die plaas waar die lam gebore is.”
VOERKRAAL OF VRY WEI?
Nou ja, veekraallam teenoor veldlam is soos die tweespalt tussen die Doppers en die Gatjieponders. Veekrale reken hulle vleis is die beste, aangesien hulle lammers die regte voer kry en nie hulself taai loop op die veld nie. Diegene wat veldlam voorstaan, is van mening die lam ís die bossie wat hy vreet.
David moes op sy dag ʼn kranige rugbyvleuel gewees, want hy systap dié slagyster met die vaardigheid van Cheslin Kolbe.
“Ek dink elke mense soek die vleis waarvan hy hou. Ons verkies voerkrale omdat hulle pryse baie goed is en met al die ongediertes hier rond en die droogte, is dit bitter moeilik om lammers op die veld te laat grootword. ”Met dieselfde vaardigheid omseil David die uitdagings wat die droogte op sy brood kom smeer. Sodra daar ondergemiddelde reën val, verminder hy onmiddellik sy kudde om te strook met die veld wat hy oor het.”
“Sodra jy begin voer, hou dit nie op nie. Ek het op ʼn kol byna net die helfte van my vee oorgehad. Ons moes weiding huur en dus hoef ons nie alles te verkoop het nie.” Die produsent wag en hoop vir reën wat nie kom nie. Die vee se kondisie verswak en is naderhand aansienlik minder werd. Hoe lank moet die produsente wag alvorens hulle alternatiewe planne maak?
“Ons ryptyd is gewoonlik in Mei en die veld hou summier op groei. Dan moet daar seker gemaak word jy het genoeg weiding tot in Desember. Ons kry glad nie winterreën nie en maak slegs staat op vroeë somerreën teen Oktober en die reënvalseisoen vanaf Januarie tot Maart. Indien die reën gedurende hierdie tydperke onvoldoende is, is die winter droog. En die eerste somermaande wat daarna volg, nóg droeër. Dus moet jy die regte ding doen anders is jy diep in die moeilikheid.”
Om teen die ongediertes te veg, span David die kundigheid van ʼn Maluti-hond in. Dit is honde wat uit Lesotho kom en nie twak van rooikat of jakkals vat nie. Waar hulle voorheen tot 30 skaap per maand verloor het, trek hulle nou by ’n verlies van drie tot vyf skape jaarliks. “Van kleins af word die jong hond saam met die skape in ʼn klein kamp gesit. Sodra hy dink hy is self ʼn skaap, is hy reg vir sy lewenstaak.”
GROENTETUIN IN DIE KAROO
En dit bring ons by Karen en wat sy om den brode doen. Karen het aanvanklik groetesaad verkoop en later begin klasse aanbied, spesifiek vir ander vroue in die Karoo wat ook in uiterste weersomstandighede lewe. “Hierdie vroue wou weet hoe kry ʼn mens dit reg om groente suksesvol in hierdie ongenaakbare wêreld te verbou. Ons het byvoorbeeld nie tonnels nie en as die groente nie groei nie, maak ons ʼn ander plan.”
Volgens Karen is tonnels nie bestand teen die stormsterk winde en uiterste temperature nie. Hulle skeur en waai weg. En sy verkies om so natuurlik as moontlik te boer. Wanneer Karen saad oes, laat sy van die sade agter en bestrooi ook met die hand. Vervolgens maak sy gebruik van permakultuurbeginsels.
“Ek span ook mengelmoes-aanplanting in en is nie juis gepla met wat groei waar nie. In hierdie streek met sy hoë temperature is ons net te dankbaar vir elke saad wat groei. En elke jaar pas die sade by die omstandighede aan en word dit goggabestand.”
Gedurende die somer word die eter tot 45 grade gedruk en selfs daarteen het die planmatige Karen haar verweer. “Ek plant sonneblomme en mielies aan om skaduwee te bied. En die boontjies gebruik sommer die mielies om teen op te rank.” Hierdie praktyk heet companion planting. Amper iets soos simbiose. Is daar egter ʼn plant wat nie maats met ander maak nie?
“Vinkel. Beslis.”
Het vinkel selfs vir koljander verdryf?
Nietemin, Karen verkoop haar gebottelde produkte en gebak plaaslik en in haar aanlynwinkel.
Gedurende 2019 hou sy die eerste markdag uitsluitlik vir plaaslike ondernemers. Sedertdien het dit ʼn jaarlikse instelling geword. “Van die beste produkte word deur plaaslike entrepreneurs en klein sakeondernemings in ons omgewing gemaak. Ons ondersteun, adverteer en moedig hulle aan om deel te neem aan die aanlynwinkel en markte.”
Karen se hoenders vorm ook deel van haar herskeppende landboupraktyk. “Ons gebruik geen chemiese kunsmis of aanvullers op die lande nie. Die hoenders bewerk die grond deur hulle mis en skroppery, en pik al die larwes van ongewenste insekte sowel as parasiete wat voorkom, op. Natuurlik voorsien hulle ook daagliks eiers wat verkoop word.”
Soos met die weg van alle vlees, word kiepie uiteindelik geslag. “Dan maak ek heerlike plaaspasteie met varsgeplukte uie en tiemie. Alles in die aanlynwinkel beskikbaar.”
Bon appétit!
TRUE KAROO
VARS UIT DIE KAROO
Karen se voorliefde vir organiese groenteboerdery het, noodeloos om te sê, oorgeloop in die True Karoo-handelsmerk en word Fairfield se kos- en groenteprodukte onder dié handelsmerk verkoop. Die reeks is aanlyn beskikbaar asook by al die plaaslike boeremarkte. Dit bied ʼn wye verskeidienheid van produkte aan: gebottelde produkte, souse, gevriesde maaltye, varsgebakte beskuit, koekies, speserye en konfyte en vele meer. Hulle verkoop ook ʼn reeks organiese groentesade, kruie en blomme (in seisoentyd). Dan kan jy ook suiwelprodukte en eiers, bees- en wildsprodukte, koffies, geskenke, velsorg- en verskeie skoonheidsprodukte koop. Karen bied kookdemonstrasies, kookklasse asook inligtingspraatjies aan oor organiese groente kweking, tuinmaakwenke en -idees. Inderdaad ʼn mond vol!
WIE HOU NIE VAN ʼN LEKKER PLAASLIKE MARK NIE?
Karen organiseer en oorsien die reelings van Karoo-geïnspireerde plaaslike seisoenale markte vir Graaf Reinette, Middelburg, Cradock en die omgewings waar plaaslike boere, bakkers en verskaffers hul produkte kan verkoop. Hier sal jy iets van alles vind: wolslippers, biltong, droëwors, chillie-sous, ingelegde eiervrug, Karoo-sushi, roosterkoek, vars brode en tuisgekweekte sampioene. Bokmelk, vars eiers, heuning en olyfolie is ook op die lys wat net aanhou – alles van net die beste gehalte. Die klem val op plaaslik vervaardigde produkte en jong entrepreneurs word ook aangemoedig om hul eie stalletjies en drome ten toon te stel by die veskillende markte. True Karoo Trading-produkte is so Karoo as wat jy kan kry!
EIENAAR: David en Karen McEwan | PRODUK: Organiese groente, spyseniering, demonstrasies, Duroc-varke, Merino’s, Tuli- beeste en hoenders | KONTAK: www.truekarootrading.co.za