Woorde: Danie Keet | Foto’s: Michel Dei-Cont & Verskaf
Die oorsprong van die naam Kogman & Keisie-gasteplaas word deeglik weerspieël in die lewenswyse en besigheidsmodel van die eienaars, Petrus en Liana Jansen. Staan ‘n mens by die gastehuis en kyk uit oor die klein vallei waardeur die Keisierivier rustig vloei na die ruwe Kogmanskloofberge wat waghou oor die ingang na Montagu aan die oorkant, verstaan mens beter hoekom die eienaars so ‘n lewensbestaan gekies het.

“Ons kom albei oorspronklik van Pretoria maar het mekaar nie daar geken nie. Ek het ondernemingsbestuur en sielkunde studeer en Liana landskapsargitektuur en antropologie. Ek het op ‘n kleinhoewe grootgeword en het altyd terug gehunker na daai tyd en dit was die saadjie wat my na ‘n landelike omgewing en boerdery teruggebring het. Ek het wel in die stad besigheid gedoen, maar ek het nie werklik daar tuis gevoel nie.”
“Ek het besluit om alles te verkoop en het die Wes-Kaap platgery op soek na ‘n ideale plek. Ek was letterlik orals, van die Paarl tot Oudtshoorn, Herbertsdale tot Napier en toe beland ek hier op Montagu. So het ek ‘n goeie idee gekry van wat elke dorp bied. Aanvanklik wou ek ‘n groter stuk grond koop, maar toe ek die eerste keer by die plasie inry, het die plek tot my gespreek en ek het instinktief geweet dis waar ek moet wees. Montagu was anders as ander dorpe oor sy argitektuur, tuine, skoonheid, unieke berge en mense. In 2008 was Montagu nog so half weggesteek, maar deesdae is dit ‘n bekende kuierbestemming,” vertel Petrus op hulle ruim stoep onder die groot skaduboom.

Daar was ‘n wingerd met tafeldruiwe, weiding, ‘n handvol olyfbome en ‘n opstal. “Maar daar was baie potensiaal met ʼn unieke ligging tussen die dorp en ʼ’n natuurreservaat, die landbousonering, heelwat water en die beste van alles – die windpomp. In die stad is ligging die belangrikste, op ‘n plaas is dit water. Hier was goeie ligging én water,” vertel hy. Hulle is baie geseënd met water van die windpomp, die landbouskema en leiwater in die dorp.
“Ek kom uit ‘n familie van entrepreneurs en ek het die potensiaal van die plaas raakgesien. Ek was skaars twee maande hier toe verwoes ‘n groot vloed al die wingerd en weiding en ek moes vinnig ‘n plan maak om iets lewensvatbaar aan die gang te kry. Uit die tragedie is twee dinge gebore, die gastehuis en die besluit om organies te boer en sodoende weer die grond wat verlore was op te bou. Dit was uitdagend om skielik aan die diep kant ingegooi te word, maar dit het alles in die groter prentjie bygedra tot wat dit nou is.”

“Oor die jare het ek olyf-, granaat-, vye-, suurlemoen-, lemmetjie- en ander bome bygeplant, en nou mees onlangs ‘n shiraz-wingerd om my eie wyn te maak. Ons boer nie net organies nie, ons leef ook so natuurlik as moontlik en my vrou het ‘n velsorg-produkreeks vir ons behoeftes ontwikkel en dit het uiteindelik gegroei,” vertel hy.
“Vir ons groente gebruik ons hoofsaaklik erfsaad wat ek oor die jare versamel het en ek oes jaarliks weer my eie saad. Op die manier pas die saad ook goed aan by ons klimaat en die plante versterk oor tyd. Van die kultivars dateer so ver as die 1800’s terug, maar per definisie moet erfsaad ouer as 50 jaar en open-pollinated wees; die saad bly ook dieselfde in nageslagte en verander nie. My gunsteling is tamaties met die eienaardigste vorm, kleur en ʼn ongelooflike smaak,” blink sy oë.
“Wanneer ons oorsee reis, sal Petrus altyd op soek wees vir interessante erfsaad uniek aan daardie land. Ons laaste keer was in Italië waar ons ‘n tamatie-piekniek op die trappe in Pompeii gehad het, waar Petrus gou saad geoes het en in sy sakdoeke gebêre het
Liana Jansen
“Dis ook fantasties met oorsese gaste wat kom kuier, want soms raak ons vriende en kort voor lank stuur hulle vir my hul gunsteling-kultivar se saad. Saad van oorsee moet ek altyd eers net hier aan die gang kry en laat akklimatiseer, maar ná ‘n paar oeste kry ek ‘n baie hoë ontkiemingspersentasie,” vertel Petrus.



Buiten die tamaties waarvoor hulle so lief is, is boerbone weer ‘n gunsteling in die winter. Alles word gemeng geplant met spesies wat mekaar ondersteun, bekend as plantmaats of companion planting. Petrus plant graag stinkafrikaners en kappertjies vir natuurlike pesbeheer, en tamaties saam met basiliekruid en wortels. Die boerbone sorg in die wintermaande dat daar weer stikstof in die grond kom.
“Ek glo in ‘n holistiese en natuurlike benadering tot boerdery, dis ook belangrik om siklusse te voltooi. Soos die grond weer mettertyd gesond word en ekosisteme herstel, raak peste en plae minder van ‘n probleem en alles begin saamwerk soos dit hoort. Dis belangrik vir ons om dan plante, diere en uiteindelik erdwurms ook te hê. Niks word gemors nie en alles word teruggewerk tot die welstand van die hele plaas se gesondheid – van mens tot dier, plant en mikro-organisme.”
Petrus en Liana het in 2011 ontmoet nadat Petrus bevriend geraak met gaste wat by hom was en hulle voorgestel het dat hy Liana moet ontmoet. Nie lank daarna nie het Liana vir Petrus op die plaas kom kuier en sy het soos ‘n handskoen gepas.
Liana vertel dat sy haar resepte self ontwikkel en hoofsaaklik die plaas se produkte gebruik. Sy bring vir ons tuisgebakte brood met kweper-, olyf- en pruimkonfyt wat op die plaas gemaak is. “Ek het die Membrillo-resep by ‘n vriendin gekry – dit kom uit ‘n klooster in Spanje. My sapkonsentraat is baie gewild, gesond en heeltemal organies. Al ons konfyte bevat ook inheemse kruie wat ons by ons produkte byvoeg – soos ons lemmetjiesap met kappertjiesaad. Ons Lime Quencher kom van ons eie suurlemoenbome en dis ‘n wenner, baie smaaklik vir iets so gesonds.”

Liana maak nie net eet- en drinkgoed nie. Haar natuurlike gesondheidsprodukte is uniek en word ook deur haar ontwikkel. As antropoloog het sy geleer om baie navorsing te doen en dis iets wat sy nou op hul produkreeks, Fijn Botanicals, toepas. Dit sluit verskillende soorte seep, handwasmiddels, olies en rome in. Sy is betrokke by die Montagu-museum se inheemse kruieprojek wat al vir die afgelope 38 jaar die plaaslike mense se kruierate opteken. Vir honderde jare word tee-aftreksels van verskillende fynboskruie vir medisinale doeleindes gebruik. Vir Fijn Botanicals onttrek hulle egter die essensiële olies uit die fynbos. Fynbos soos boegoe, roosmalva en asbos, wilde-als, kooigoed en kapokbos maak gewoonlik deel hiervan uit. Vir die badsout word die plante self op die plaas geoes, gedroog, fyngemaak en met seesout en essensiële olies gemeng.

“Dit het aanvanklik uit nood begin. Ons het handseep vir ons gastehuis nodig gehad, en toe maak ek dit. Toe ek swanger geraak het, het ek gevoel my vel benodig ‘n voedende olie – weereens het ek die navorsing gedoen, op myself getoets en met vriendinne gedeel. Hierdie olies, seep en rome word nou wyd verkoop as geneesmiddel teen velprobleme en sommige dokters beveel dit selfs aan. Die produkreeks het organies uit behoeftes van vriende, gaste en ons gemeenskap gegroei en nou word dit in ‘n verskeidenheid winkels dwarsoor die land en in ons aanlyn winkel verkoop.
Petrus en Liana stem saam dat hulle leer soos hulle aangaan. ‘n Entrepreneuriese ingesteldheid is een van die groot dryfvere van hul sukses. Hulle probeer om volkome in balans met die natuur te bly en sorg dat hul prosesse so na as moontlik daaraan is.
Die jong paartjie het ‘n goeie balans tussen die kommersiële bedryf van landbou-toerisme en organiese leefwyse gevind. Die gastehuis het 5 slaapkamers en daar is ‘n selfsorgeenheid met drie kamers. Hulle kombineer dikwels verblyf met kursusse en tema-etes om addisionele geleenthede te skep.


“Ons glo daarin om die moue op te rol en dinge self te doen. Lokalisering is belangrik en ons gebruik altyd plaaslike produkte wanneer dit moontlik is. Die platteland moet sy eie ekonomie stimuleer en mense van buite lok om tyd hier te kom spandeer. Die tye waarin ons nou leef is wonderlik, want enigiemand kan nou in die platteland woon en ‘n bestaan maak – selfs mense met tipiese stadsberoepe, of die wat oor die internet werk en ‘n aanlyn besigheid bedryf. Ons het baie toekomsplanne vir ons produkte, ons eie distilleerder en om heerlike garagiste-wyn te maak,” vertel Petrus.
NAAM: The Kogman & Keisie Guest Farm| AREA: Montagu | PRODUK: Fijn Botanicals, Akkommodasie en verwerkte organiese groente en vrugte | www.kogmanandkeisie.com | info@kogmanandkeisie.co.za