Woorde: Nikki van Coller | Foto’s: Verskaf
‘n Troeteldieretuin kan ‘n wonderlike manier wees om besoekers na jou plaas te lok, veral as jy reeds verblyf bied, of plaasprodukte het wat jy direk aan die publiek bemark.
Daar is geen twyfel dat sowel volwassenes as kinders lief is daarvoor om betrokke te raak by diere, veral daardie diere wat hulle nie gereeld van nader te sien kry nie. As jy ʼn kleinhoewe of plaas het en na meer maniere kyk om mense na jou onderneming te lok, is ʼn troeteldieretuin iets om te oorweeg. Maar dan moet jy dit op die regte manier aanpak wat uiteraard beteken dat die gesondheid, geluk en gemak van die diere asook die veiligheid van die mense wat die troeteldieretuin besoek verseker is. Met ander woorde jy moet ʼn etiese, opvoedkundige en veilige omgewing skep om die dieretuin te bedryf.
IS DIT WINSGEWEND?
ʼn Troeteldieretuin is nou dalk nie die mees winsgewende deel van jou boerdery nie, maar dit kan beslis jou inkomste verhoog indien jy toegangsgeld vir besoeke vra en dit gebruik om mense te lok wat dan ook ander produkte op jou plaas koop terwyl hulle daar is. Jy kan ook teen vergoeding opvoedkundige sessies reël en dan versnaperinge en drankies aanbied en selfs ‘n teetuin of ʼn klein kafee oorweeg. Die oorkoepelende rede om ʼn troeteldieretuin te begin, moet ideaalgesproke wees omdat jy self lief is om betrokke te wees by diere en jy daardie passie met ander wil deel.
HOE OM DIE DIERE TE KIES
Diere wat gewild is in troeteldieretuine sluit in hoenders, eende en ganse, ponies, donkies, alpakkas, llamas, bokke, varke, hase, marmotte en hamsters. Dit is belangrik om behoorlik navorsing te doen oor watter diere saam kan leef, watter saam afgekamp kan word, en watter eerder apart aangehou moet word.
Die beste manier is om klein te begin, dan kan jy geleidelik jou diere uitbrei namate jy en jou span meer vertroud raak met die versorging van die diere. Oorweeg dit om jou versameling diere organies uit te brei deur beseerde diere te red en te rehabiliteer, of diere wat ʼn hoë ouderdom bereik het en “afgetree” het, byvoorbeeld ʼn ou donkie, in te neem. Praat met jou bure en ander boere in jou omgewing en vertel hulle dat jy beplan om ʼn troeteldieretuin te begin en dat hulle jou in gedagte moet hou as hulle te hore kom van diere wat ʼn veilige hawe nodig het.
Ongelukkig is daar gewetenlose mense die wêreld oor wat troeteldieretuine bedryf met die uitsluitlike doel om geld te maak en min vir die diere self omgee. Hulle hou die diere aan totdat hulle nie meer oulik is nie en verkoop of slag hulle dan. Gelukkig sal die Suid-Afrikaanse publiek sodanige praktyke nie duld nie en die eienaars van ʼn troeteldieretuin wat daarvan verdink word dat hulle nie die diere goed versorg nie sal voor stok gekry word. Jy moet dus die diere in jou troeteldieretuin as jou “buite troeteldiere” sien en dieselfde liefde en aandag aan hulle gee as aan jou huisdiere.
SKEP DIE TROETELDIERETUIN
Kies die plek daarvoor sorgvuldig deur oorweging te gee aan dinge soos skadu, skuiling teen die wind en ligging naby ablusiefasiliteite en die hoofingang. Sommige diere sal hul eie ruimte nodig hê en sommige sal in die aande weggeneem moet word van waar hulle bedags die ruimte met ander diersoorte deel. Die belangrikste is dat daar genoeg ruimte is vir die diere om te kan rus, eet, speel en gemaklik tussen mekaar kan wei. Nes mense, waardeer diere ruimte!
Jy moet besluit of jy mense gaan toelaat om aan die diere te raak, en of hulle eerder net toegelaat gaan word om die diere te besigtig want dit sal jou help met die uitleg van die dieretuin. Gee aandag aan die beskikbaarheid van water, voeding, platforms van verskillende hoogtes en interessante kenmerke van die diere. Dink ook aan die opruiming en skoonmaak van die ruimte – miskien kan die betonvloeroppervlaktes ʼn effense afloop hê om skoonmaak te vergemaklik. Maak seker dat wat jy ook al bou of skep op ʼn logiese wyse maklik uitgebrei kan word.
GESONDHEID EN VEILIGHEID
Troeteldieretuine kan potensieel skadelik vir dier en mens wees. Diere is geneig om op verskillende maniere teenoor verskillende mense op te tree en kan dalk negatief reageer teenoor ʼn onhebbelike kind. Mense kan ook skadelik wees vir die diere. Nie almal het in hulle grootwordjare aangeleer om respek teenoor diere te toon nie. Hou in gedagte dat sommige diere maklik gespanne kan raak as hulle blootgestel word aan groot groepe mense en uitermate lawaai. Hou hierdie dinge in gedagte wanneer jy besluit oor hoe jy jou troeteldieretuin wil bedryf, hoeveel mense jy op ʼn slag sal toelaat, hoeveel dae per week jy oop gaan wees en of jy gaste in die kampe sal toelaat of nie.
Dit is belangrik om ʼn handwasstasie te hê waar besoekers voor en nadat hulle die diere hanteer het hulle hande kan was. Selfs al is daar geen aanraking van die diere nie, is dit altyd ʼn goeie idee om goeie higiëneprotokols te volg. Uit die aard van die saak is dit van die uiterste belang dat die kampe so skoon en higiënies moontlik gehou word.
Laat die gaste met aankoms ʼn vrywaringsvorm teken sodat jy rugsteuning het indien daar regskwessies opduik. Mens wil natuurlik nie hê iets moet verkeerd loop nie, maar indien daar ʼn besering of ongeluk van enige aard is, wil jy nie aanspreeklik gehou word nie.
MAAK DIE REËLS BAIE DUIDELIK
Hoe jy besluit om jou troeteldieretuin te bedryf en wat jy gaan toelaat sal waarskynlik met verloop van tyd aangepas moet word namate jy meer leer en ervaring opdoen. Sommige troeteldieretuine bied aktiwiteite waar besoekers direk betrokke kan raak by die voeding, vertroeteling en versorging van die diere. Hierdie aktiwiteite hou baie voordele vir kinders in, maar dit is belangrik dat die aktiwiteite absoluut veilig is en dat daar ten alle tye toesig gehou word.
Jy moet ook in gedagte hou dat ten einde jou diere te beskerm jy en jou span bereid sal moet wees om streng op te tree en reëls nougeset toe te pas. Plaas kennisgewings op strategiese plekke sodat dit duidelik is vir besoekers waar hulle mag gaan en wat hulle mag en nie mag doen nie.
Beskou dit as ʼn omgewing waar opvoeding kan plaasvind en jy dus die geleentheid het om die publiek op te voed en in te lig oor plaasdiere met die klem daarop dat hulle met sorg en deernis hanteer moet word. Diere is nie daar om mense te vermaak nie, dus is ʼn sterk opvoedkundige komponent ‘n kern deel van die besigheid.
Die belangrikste is dat daar genoeg ruimte is vir die diere om te kan rus, eet, speel en gemaklik tussen mekaar kan wei.