Through the lens
comment 1

Portret van ‘n Boer

JOHANN RÜSTER | Karnberg, Vredenburg, Wes-Kaap
Woorde: Clifford Roberts | Foto: Michel Dei-Cont


Johann sit op sy hurke en krap aan ‘n vragmotor se binnegoed toe ons die werf binne ry. Hy vertel dat hy redelik onlangs eers op die 1 500 ha plaas beland het en dit om boorgate vir die eienaar, Willem Basson, te sink. Hy het belangstelling in die plaas getoon en kort daarna is ‘n huurooreenkoms geteken. Nou is hy en sy seun, Richard, al in hul sewende jaar hier.

Johann Rüster

Johann is een van vier seuns wat op ‘n groenteplaas in Philippi grootgeword het. Terwyl hy in die weermag was, het hy ‘n ambag in ingenieurswese gedoen en vandag besit hy steeds Lekkerwater Boordienste, ‘n onderneming wat hy ongeveer 15 jaar gelede begin het.

Hy vertel dat hy baie dankbaar vir dié besigheid is omdat dit hom deurgedra het toe hy hier begin boer het, veral in die droogtetyd. Reënval in dié geweste is min. “September moet dit weer reën, anders affekteer dit almal se oeste,” sê hy. “Hulle praat van September as ‘afrekeningsmaand’ vir diegene met koöperasie-skuld. As dit reën, dan weet jy, jy gaan jou rekening kan betaal.”

Die plaas se water word deur putte en boorgate verskaf. Daar is ‘n paar ou reënwatertenke op die plaas, wat hy besig is om te herstel. Ek kom vinnig agter dat hierdie “regmaak” waarvan hy praat, net die seekoei se oortjies van sy benadering tot die boerdery is. “Ek het my draaibank en ander masjinerie, so as iets reggemaak moet word, dan doen ons dit self,” sê Johann.

“Dis mos ‘n boer se ondergang as jy dinge laat regmaak.”

Johann Rüster

Later, voeg hy by: “Hierdie is nie ‘nuwe stroper’-wêreld nie. Jy moet met ou masjiene klaarkom. Dis ‘n harde wêreld, nietemin kyk ek en my seun vorentoe. Rooibostee mag dalk in die vooruitsig wees en dalk een of twee ander dingetjies, wat hy nog nie gereed is om te verklap nie.” sê hy. 

Filed under: Through the lens

by

Clifford has been a journalist and writer since the early 1990s. During that time – as he worked amidst the commotion of township demonstrations, among farmers, and in remote villages across the country – he discovered the stark truth about what makes us human. Nowadays he lives in a city close to the ocean which he loves, but he still brings homage to this truth by contributing to a variety of national publications. “The words of a song by Stef Bos apply to me because I will ‘always be en route’,” he says.

1 Comment

  1. Ditshitiso Hlahane says:

    Ek is nie n eerstetaal Afrikaanssprekende nie, maar juis ek is ontsettend beindruk deur flink taal wat gebruik is, hierin. Ek wou graag n intekenaar wees, maar ek is huidiglik werkloos.
    Hou aan met die uitmuntende diens wat julle verskaf.

Leave a Reply

Your email address will not be published.