Farm to Fork, farmers, Niche Farmers
Leave a comment

Afsaal, maar nie aftree nie

Woorde: Clifford Roberts Fotografie: Mia Truter

Weskussers is rateltaai met ‘n sagtheid vir mooi stories en interessante staaltjies. Dis mense wat anders na die lewe kyk, maar wat mooi verstaan wat belangrik is. Hulle kanniedood lewensuitkyk word deur die landskap uitgebeeld – of is dit nou andersom? Hoe dit ook al sy, die rotsbedekte omgewing met sy geharde plantegroei, die area se eiesoortige uitdrukkings en inwoners se harde teerheid is alles dinge wat hierdie plek diep in ‘n mens se hart laat inkruip. En dis hoe ons by Afsaal Padstal uitkom.

Afsaal Padstal is al lank ‘n baken vir inwoners en vakansiegangers van Trekoskraal.

OP DIE AFDRAAND

Tussen Vredenburg en Paternoster draai ‘n mens af na Trekoskraal, en net verby halfpad, kry jy Afsaal Padstal.

En presies soos die naam beloof, gee dit ‘n mens die kans om die bene te rek en padstal-inkopies te doen. Veral vakansiegangers kan nie uitgepraat raak oor dié juweel op die kruin van die rif oortrek met fynbos langs die grondpad wat met ‘n afdraand see toe loop nie.

Vir nuwelinge wat die eerste keer hier stop, lyk dit dalk nie buitengewoon nie, maar die onderneming is merkwaardig omdat dit ‘n boerdery op mikro-skaal is. Dit is beslis ver van die aftreetaak wat Alta Nel in gedagte gehad het. Alta, ‘n gekwalifiseerde fisioterapeut, en haar man, dr. Wilhelm “Gunnies” Nel, woon al 39 jaar in die omgewing, 26 daarvan op die kleinhoewe.

“Maar, ek staan elke oggend met ‘n missie op!”

Wat is ‘n werf sonder ‘n woef? Die Nels het in die verlede honde geteel, maar dié wat by die padstal gekry word is hul eie diere-kinders.

Hulle het oorspronklik op Vredenburg gewoon, waar Gunnies se mediese praktyk steeds is. Toe hul kinders groter geword het, het hulle in perdry belanggestel en toe trek die gesin na die kleinhoewe toe. Dit het hulle goed gepas, nie alleen vir perdry nie, maar ook omdat Alta en Gunnies nog altyd ‘n wye belangstellingsveld gehad het. Meer spasie vir hul hondetelery was ook baie welkom.

NUWE HUIS, NUWE WINKEL

Hulle het ‘n tweede woonhuis op die kleinhoewe gebou en uitverhuur. ‘n Paartjie wat toe daar kom bly, vra eendag of hulle die plek as ‘n padstal kon inrig, en so is Afsaal 15 jaar gelede gebore.

Alta vertel dat die geleentheid vir ’n padstal daar was omdat die nabygeleë baai met sy versteekte strand jare lank al gewild was onder die plaaslike inwoners wat daarvan geweet het. Vakansiegangers kon daar gaan kamp, maar dit is mettertyd deur die munisipaliteit gestop. Nou is die strand net vir dagbesoekers oop. Daar was geen geriewe nie, so die padstal het handig te pas gekom. Mense stop daar en koop eetgoed voor hulle strand toe gaan en soms ook wanneer hulle weer huiswaarts keer.

Afsaal se kleurvolle stoep is die gewildste uithang plek in dié geweste.

Later het die paartjie weggetrek en Alta het oorgeneem. Die padstal is uitgebrei tot ‘n informele plattelandse restaurant wat sowat 40 mense kan akkommodeer. Gunnies het die meubels gemaak. “Hy is baie handig,” verklaar sy met ’n trotse glimlag. Alta bedryf Afsaal nou al vir ses jaar.

ROL JOU MOUE OP

Die kaas wat hulle verkoop, maak hulle self, danksy ‘n handjievol melkbeeste wat hulle op die kleinhoewe aanhou. Hulle tuisgebak sluit koekies, platbrode en tradisionele brode in, en hulle het ‘n tuin vol vrugtebome en kruie waarvan die kombuis ‘n wye reeks ingelegde produkte maak.

Alta se liefde vir kaasmaak het reeds 25 jaar gelede begin toe sy ‘n self-doen-stelletjie deur Finest Kind by ‘n landboutydskrif bestel het. Sy het later ‘n twee dag lange kaasmaakkursus op Elsenburg bygewoon.

“Ek het nog altyd kaas en konfyt gemaak. Die restaurant was egter ‘n aanpassing,” sê sy. Toe sy oorgeneem het, het sy disse soos bobotie en afval bygesit. En sy moes leer koekbak. “Ek moet sê my wortel- en sjokoladekoeke is nogal puik!”

Ek kom agter Alta is nie bang vir ‘n uitdaging nie. Toe ons later deur Gunnies se werkswinkel stap, verby ‘n muur vol gereedskap, sê sy: “Ek het nog altyd daarvan gehou om nuwe dinge te leer, en ek wou al leer om self houtwerk te doen.”

Die padstal probeer altyd iets anders op hul rakke sit. Buiten labneh-kaas, is daar ook ‘n wye reeks konfyte en ingelegde produkte wat uit hul eie tuin gemaak word.

HOU AAN INNOVEER

Die verskeidenheid van vrugte en groente in haar tuin verseker dat daar die heeltyd nuwe produkte is. Sy hou boonop daarvan om interessante kombinasies in te lê. “Dit is vir my belangrik dat ‘n onderneming soos ons sin deur die uniekheid van sy produkte onderskei moet word,” sê sy.

Sy probeer om alles wat in die tuin groei, te gebruik. Kweekbokse vol kruieplantjies staan voor in die padstal se parkeerarea – die naaste plek aan die kombuis waar daar genoeg son is om hulle te laat floreer. “Ek het eers in beddings geplant, maar alles het dit kom opvreet, van slakke tot skilpaaie,” vertel sy.

Met hul aankoms op die kleinhoewe, het die Nels beeste aangeskaf. Nou is daar drie koeie en een bulkalfie. Elke middag, sodra Gunnies van die werk af kom en sy stetoskoop neerlê, ry hy af na die stal om die beeste te voer en te melk.

‘n Houthuisie is vir die kaasmakery ingerig. Hulle het later ‘n tweedehandse verkoelingswa gekoop en die wa se verkoeleenheid in die garage ingebou. Net sy en Gunnies hanteer die kaasmakery om sodoende beter beheer oor higiëne uit te oefen. “’n Mens kry ook vinniger ‘n aanvoeling vir die bestanddele en die proses. Jy weet wanneer ‘n kaas reg of verkeerd gaan uitwerk.”

Al is hul kaasmakery klein is ‘n pasteuriseer-masjien ‘n belangrike deel van die Nels se
kaasmaak-onderneming.

HUL STYL IS HARD

Hulle spesialiseer in harder kase, soos gouda en ‘n ses-maand-oue cheddar. Daar is ook feta, camembert en ‘n labneh-styl kaas. Alta verkoop gewoonlik haar kaas by markte op Langebaan en ook by die Weskus-fossielpark.

Hulle het vroeër sagte kase probeer maak en tydens die droogte het hulle agt boerbokke aangeskaf omdat hulle taaier vee is. Bokke lewer egter min melk en die pryse moes daarom hoër wees en dit het nie verkoop nie.

Alta en Gunnies se spesialiteit deesdae is harde kase wat soms met hul eie kruie en speserye
gegeur word.
Bestel gerus Afsaal se labneh-styl kaas vir ‘n middagete.

Die feit dat die winkel so ver van die dorp af is, is nie vir haar ‘n probleem nie. Sy gaan haal en laai elke dag personeel op Vredenburg af. As sy iets nodig het, dan tel sy dit op. Alta sê dat die afstand inteendeel daarvoor gesorg het dat mense haar tydens die grendeltyd meer begin ondersteun het. “Mense het basiese inkopies hier begin gedoen wanneer hulle kon omdat hulle nie dorp toe wou gaan nie,” sê Alta.

“Ek sal nou nooit weer wil teruggaan na ’n rustiger lewe of na fisioterapie nie,” sê sy, al kan die pas van ‘n onderneming wat heelweek oop is, straf wees. “Dis besig hier, en dis vir my lekker.”

Wanneer mediese praktisyn “Dr Gunnies” by sy spreekkamer op die dorp klaar is, wag daar verskeie take vir hom by die kleinhoewe.

NAAM: Afsaal Padstal AREA: Nieuwe Rust, Vredenburg PRODUK: Ingelegde produkte, kaas en ‘n restaurant OPSOMMING: Alta en haar dokter-man se planne om op hul kleinhoewe af te tree, het ‘n ander wending geneem en vandag is hulle padstal besiger as ooit! KONTAK: +27 71 403 1129

Filed under: Farm to Fork, farmers, Niche Farmers

by

Clifford has been a journalist and writer since the early 1990s. During that time – as he worked amidst the commotion of township demonstrations, among farmers, and in remote villages across the country – he discovered the stark truth about what makes us human. Nowadays he lives in a city close to the ocean which he loves, but he still brings homage to this truth by contributing to a variety of national publications. “The words of a song by Stef Bos apply to me because I will ‘always be en route’,” he says.

Leave a Reply

Your email address will not be published.