farmers, Sustainability
Leave a comment

RWS stap die pad saam met boer, werker, veld en dier

Woorde: Hein Eksteen | Foto’s: Michel Dei-Cont

Formidabele mense dié

Oom Lourens Badenhorst vertel: “My ouma was Dollie en sy het tydens die Boereoorlog op Colesberg gewoon. Daar kom die Engelse en kommandeer toe haar perde op. Nou, sy was effens krank en kon nie lekker loop nie. Dus is sy Sondae kerk toe met haar perdekar. Hoe nou gemaak? Sy het die Engelse kommandant laat kom en hom summier in kennis gestel dat hy moet sorg dat vier van sy soldate elke Sondagoggend op aandag staan voor haar huis om haar in ʼn stoel kerk toe te dra. Die volgende Sondag was die draers op hul pos. En so ook elke Sondag tot en met die einde van die stryd.

Sy was ʼn formidabele vrou.

Lanolienolie in die wol hou die skeermasjiene koel.

Nog een was die legendariese (en jammerlik oorlede) Tot Pienaar. Merinoboer extraordinaire, filosoof, ʼn man wat nie kuttels vir vye verkwansel of skroom om die duiwel aan die stert rond te swaai nie. En hy het die volgende te sê gehad:

“Ons is hier vanaf 1887 en het tóé reeds met merino’s geboer. Die wol was drie keer die prys van vleis, maar die vrugbaarheid was hopeloos. Toe verander die wol- en vleispryse en jy moes gou aanpas by die verandering en nie rondspring nie. My oupa het gesê as jy rondspring, is jy soos ʼn voëltjie wat opvlieg. Elke keer as jy opvlieg verloor jy ʼn veer en as jy genoeg opvlieg, is jou gat kaal.”

Só is dié mense.

CHARL EN WIMPIE VISSER
Naauwpoort, Colesberg, Noord-Kaap

Terug in die hede, en op pad na die ewe gedugte Charl en Wimpie Visser van die plaas Naauwpoort, gooi ons eers ʼn draai by skaap- en woldeskundige, Piet Venter. Piet is werksaam by BKB en doen onder andere interne RWS-oudits. Hy verduidelik waarom dit kardinaal vir wolboere is om lede van hierdie organisasie te wees.

“RWS staan vir Responsible Wool Standard. BKB het die geleentheid gesien met betrekking tot die sertifisering van wol. Die saak is ondersoek en die bevinding was dat daar ʼn behoefte is onder wolkopers en verder in die wolpyplyn tot by die verwerkers, om die volhoubaarhei en naspeurbaarheid te verseker.”

Piet Venter
Piet Venter, ʼn skaap- en woldeskundige by BKB, doen onder andere interne RWS-oudits en wys hier hoe ʼn eersteklaswolskaap moet lyk.

By BKB alleen is daar reeds 1 100 gesertifiseerde wolprodusente. Tel daarby die ander rolspelers en wolmakelaars en die ledetal is bykans 1 700.

“Ander aspekte waarna RWS kyk is die welstand van produsente se veld, hul diere en werknemers.”

Piet, as onder andere een van BKB se interne ouditeure, is in samewerking met Control Union (wat na die eksterne ouditeuring omsien), verantwoordelik vir die wel en weë van boer, veld, dier en werker binne ʼn radius van 200 kilometer om Colesberg. En dit sluit die Vissers van Naauwpoort in.

Tydens skeertyd, of wanneer hy met skaap gaan werk, besoek Piet verskeie plase en lig boere in oor die voordele verbonde aan RWS-sertifisering.

“Twee van die vele voordele is die hoër aanvraag juis na gesertifiseerde wol en die hoër premie wat vir hierdie wol betaal word teenoor dié van nie-gesertifiseerde wol.”

Ten spyte van die voordele is daar tóg produsente wat soos Tolla van der Merwe se hond, Galjoentjie, nié maklik byt nie.

“Daar is soms teenkanting as gevolg van die redelike groot administratiewe taak om sertifisering te bekom. Dit behels juis die welstand van produsente se veld, diere en werkers. Maar sodra hulle daardie drif deur is, is dit net die instandhouding daarvan en die bietjie administrasie wat aan die deur klop.”

Met dié klop ons toe aan die Vissers se deur.

CHARL EN WIMPIE VISSER
Naauwpoort, Colesberg, Noord-Kaap

Pa Charl is reeds die vierde geslag op die plaas, en Wimpie is volgende. Laasgenoemde maak koffie en Charl, soos dit hierdie geweste se formidabele mense betaam, val met die deur in die huis.

Terloops, dit is een ding om RWS-sertifisering te behaal. Dit is egter ʼn ander storie om daarby te hou. Die klimaat en weersomstandighede het nie RWS se bepalings gelees nie en staan dus gereeld dwars in jou pad. Dit gesê, neem Piet droogtes en ander onguurhede in ag.

Charl Visser op sy plaas.

Charl: “Wat die grootste uitdagings van skaapboerdery in die Karoo betref, is droogte. Beslis die belangrikste daarna is roofdiere en dan vee- en veral lamverliese. Laasgenoemde word veral beïnvloed deur die eerste twee. Daarteenoor bly voeding die groot probleem.”

Volgens Charl is spaarveld en spaargeld jou beste bates tydens droogtetye. “Met ander woorde, moenie oorbewei en oorspandeer nie. Ons voer eers hoë-proteienlekke sodat die vee die droë veld kan benut voordat ons voer-korrels op grootskaal voer. Strategiese byvoeding tydens laatdragtigheid en vroeë laktasie help ook om lamverliese te bekamp.”

Niks klop egter goeie reënval nie. “Aan die einde van die dag gaan dit oor goeie voervloei. Dan maak jy baie lammers groot en dit het die grootste invloed op die winsgewendheid van skaapboerdery.”

Die merinoras het sy oorsprong in Extremadura, Spanje, maar die moderne weergawe het in Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika fatsoen gekry. En vandaar gereken die oorsprong van sy fyn en sagte wol.

Colesberg het rypwinters en dit is warm in die somer. Die peste hou nie van daardie uiterstes nie en daarom is hierdie stoetramme tevrede.

“Ons gebied is nie so droog soos verder wes hiervandaan nie, en die merino het hier goed aangepas. Boonop is dit ʼn dubbeldoelskaap met beide wol- en vleisinkomste.”

Hierdie omgewing het nie hoë potensiaal nie en produsente is beperk tot veeboerdery. Aangeplante weiding is nie deel van die prentjie nie. Gras en bossie bepaal jou heil.

Maar – en dit is groot maar – die omte hier is gesond. Soos Tot my herinner het, “Ons het rypwinters. Dit ys in die winter vir so twee-en-ʼn-half maande. En dis warm in die somer. Die goggatjies hou nie van daardie uiterstes nie.

Charl: “En dan moet jy lief wees vir wol en skaap. Anders kan jy nie met hom boer nie.”

Alhoewel die gebied nie juis geskik vir bees is nie, bedryf Charl en Wimpie tog ʼn Bonsmarastoetery.

Wimpie Visser het oor die manhaftigheid beskik om vanaf risiko-ontleder in die stad na die vele risiko’s verbonde aan boerdery oor te skakel.

“Omdat dit voordelig is om meer as een spesie aan te hou. Jy benut dus beide die gras- en bossieveld.”

Anders as Charl wat direk ná universiteit kom boer het, was Wimpie vir ʼn geruime tyd ʼn werkende reisiger. Onder andere ʼn veiligheidswag by die BBC tot ʼn plafoninstalleerder. Met sy terugkeer uit Europa, hou hy toe kop en betree die wêreld van finansies as ʼn risikomakelaar. Maar in 2012 voel hy hy is opgewasse om een van die grootste risiko’s aan die strot te gryp – om te kom boer.

“Ek het natuurlik nie ʼn formele agtergrond in landbou nie – eerder my pa as inhouse tutor gehad.” ʼn Seun wat saam met sy pa boer, sê onlangs, “Ons kan saam boer, maar dit kos baie verdraagsaamheid en vergifnis.” Pa staan nie ver weg nie en grom, “Van beide partye af.”

Op Naauwpoort leef pa en seun nog in vrede. Wimpie het die insig om nuwe planne te maak. Charl die ontvanklikheid om inisiatiewe te aanvaar en aan te moedig. Wimpie volg ook die Amerikaanse leerstelling: It it ain’t broken, don’t fix it. “Ek krap nie waar dit nie jeuk nie en lewer eerder ʼn bydrae waar ek byvoorbeeld glo dat nuwe tegnologie kan werk. Ons is ʼn span en sit koppe bymekaar. Met my pa se wye ervaring, kan ons mos nie skeeftrap nie.”

RWS – SERTIFISERING – HOE NOU GEMAAK?

Die Responsible Wool Standard (RWS) is ʼn vrywillige wêreldwye standaardiserings-organisasie wat die welsyn van wolskape en hul weiding op die hart dra, asook bewys lewer aan makelaars en vervaardigers van die praktyke op plase.

Die organisasie verseker dat die wol van plase kom wat progressiewe bestuursplanne het en ook dat die vee met holistiese respek behandel word. Vervolgens word wolkopers en -rolspelers verder af in die wolpyplyn tot by die eindverbruikers ook verseker van die volhoubaar- en naspeurbaarheid van die produk.

Piet Venter, ʼn skaap- en woldeskundige by BKB, doen onder andere interne RWS-oudits en werk binne ʼn radius van ongeveer 200 kilometer om Colesberg, om toe te sien dat gesertifiseerde lede die streng voorskrifte nakom.

Responsible Wool Standard vereis werkers moet weet hoe om skape te hanteer en BKB wys presies hoe dit gedoen word.

“Ek wil nie sê dat as produsente oor vyf of twintig jaar nié gesertifiseer is, hulle nie kopers vir hul wol gaan hê nie. Dit is in die toekoms. Maar nou is een van die groot voordele die hoër premie wat wolmakelaars vir gesertifiseerde wol betaal.”

Vir boere om hieruit voordeel te trek, moet hulle aan die volgende voorskrifte voldoen, naamlik dat die “Vyf Vryhede” van diere verseker moet word: 1) Vryheid van honger en dors. 2) Vryheid van ongerief. 3) Vryheid van pyn, besering en siekte. 4) Vryheid om natuurlike gedrag uit te leef. 5) Vryheid van vrees en om in nood te verkeer.

Piet: “Wat die diere aanbetref, gaan dit merendeels oor hul welstand en gesondheid.” Boere moet inentings- en doseringsprogramme kan voorlê. Hierdie spesifikasies vorm in elk geval deel van enige produsent se algemene bestuursplan. Net só belangrik is die kondisiebepaling van die diere.

Wolkopers en rolspelers verder af in die wolpyplyn tot by die eindverbruikers is verseker van die volhoubaar- en naspeurbaarheid van die produk.

“Indien die kondisiebepaling van die diere laer as drie uit vyf is, moet daar opgetree word. Óf jy skuif die vee na ʼn vars kamp toe, óf jy voorsien byvoeding. Met ander woorde jou diere moet gesond wees.”

Ooie met lammers moet byvoorbeeld op ʼn oordeelkundige manier hanteer word. RWS kom nie net met voorskrifte nie, maar ook met oplossings.

“Ons bied byvoorbeeld baie kursusse aan oor die hantering van vee; hoe jy met skaap moet werk; en dan ook met jou werkers. Dit sluit boonop die produsent en buitekontrakteurs, soos die skeerders, in. Hierdie spanne moet deeglik opgelei wees in die hantering en die skeer van die diere.”

Soos enige nuwe ouer vinnig leer en wie sy kleinding streng volgens ʼn handleiding probeer grootmaak, is dat kleinding nie die handleiding onder die oog gehad het, en nie daarvolgens ontwikkel het nie. Net só volg die klimaat nie noodwendig RWS se voorskrifte nie. Wat gebeur tydens die uitmergelende droogtes wanneer die veld en die vee koponderstebo staan?

Piet en die RWS is egter nie genadeloos nie en neem die klimaat en droogtes in ag.

Die gemiddelde wolskaap het ongeveer 60 000 000 produserende follikels en die wolvesel groei omtrent twee millimeter per week. Met ander woorde, wolskape produseer omtrent 120 kilometer vesel per week.

Laastens, en geensins minder belangrik nie, is die werkers se welstand.

“Hier gaan dit oor die dienskontrakte wat aan die wet moet voldoen en is dit geensins diskriminasie met betrekking tot ras, geslag of geloof nie. Boonop moet produsente hulle nie skuldig maak aan omkopery en oormatige aggressie nie.”

Vervolgens moet produsente behoorlike veldbestuur toepas. Indien erosie voorkom, moet bewys kan word die probleem word bekamp en herstelwerk word aangerig. Indringerplante en onkruid wat die wol besoedel, moet bestry word.

“Daar moet sorgvuldig na heinings omgesien word, om te voorkom dat los drade en dies meer nie die skaap beseer nie. Daar moet uiteraard skuiling aan die diere gebied word vir die kouer dae. Baie belangrik is watervoorsiening – om seker te maak die vee is nooit sonder water nie en dit beteken verkieslik twee of meer suipings per kamp.”

Daardie ou storie van wol wat krap, is in die verlede. Die prikkel in wol is uitgehaal.

Alles goed en wel. Maar wat van die bykans fundamentalistiese People for the Ethical Treatment of Animal (PETA) met die strydleuse: Diere is nie ons s’n om eksperimente op uit te voer, te eet, te dra, mee vermaak te word of op enige ander wyse mishandel te word nie. Invloedrykes soos Sir Paul McCartney, Eva Mendes en ons se eie Charlize Theron is eredirekteure daarvan. Toonaangewende modehuise het ook reeds tot bekering gekom. Polo Ralph Lauren gebruik nie meer pelse nie. Avon, Estée Lauder en Benneton toets nie meer hul produkte op diere nie. Van hulle gebruik nie meer wol nie. Waar laat dit Suid-Afrika se wolprodusente?

“PETA, ja. Hulle was veral baie aktief met bokhaar. Maar hierdie RWS-sertifisering sit hulle koud. Ek meen as produsente aan RWS se voorskrifte voldoen behoort PETA geen houvas op hulle te hê nie. Daardie organisasie gaan geen gronde hê om gesertifiseerdes te beskuldig van swak hantering of mishandeling van vee nie.”

Volgens PETA se slagspreuk moet die mensdom liefs nie eens in die skaap se rigting kyk nie. “Dit is omdat hulle nie weet hoe ʼn skaap se dinge werk nie. Daarenteen verstaan RWS ál die skaap se behoeftes en is uiteraard baie ernstig daaroor.”

Indien dit gedurende Januarie baie reën, is steekgras in die  wol die voorland. Daarom moet klassers baie goed weet watter wol gaan waar.

IS WOLBOERDERY ’N WOLHAARSTORIE?

Weerstoestande maak die Colesberg-omgewing by uitstek geskik vir merinoboerdery. Koud in die winter en warm in die somer. Die reënval is gemiddeld 380 millimeter per jaar en 80% daarvan val in die somer. So, dit is ʼn gesonde area en peste is in die minderheid, wat die onderhoud per skaap soveel minder maak.

Tot Pienaar het by geleentheid vertel sy voormense het reeds vanaf 1887 met merino’s in die omgewing geboer. Daardie jare was wol drie keer die prys van vleis, maar die vrugbaarheid was hopeloos. Toe verander die wol- en vleispryse en hulle moes vinnig aanpas by die verandering. Hulle het skaap met minder plooie, maar genoeg wol geteel. Aanvanklik was daar heelwat teenkanting, en is gevrees die stoet gaan toemaak.

Hy reken ook dat hulle nog nie klaar geleer het nie.

Tot: “Jy moet voortdurend kyk wat maak die wol- en vleispryse. ”Wol- en vleispryse. Of is vleis- en wolpryse nader aan die waarheid?

Van vleis gepraat. Tot was van mening (met ʼn glinstering in die oog) jy kan maar merinovet eet, want dit is getoets en het die hartstempel op!

Ry in die veld en jy kom 436 plantsoorte teë. 70% is gras. 30% is bossie. Karoobossie, bitterbossie, steekgras, rooigras, assegaaigras…. “Rooigras en gannabos is die beste vir skaap – oor sy hoë proteïeninhoud. Indien jou weiding-stelsels reg is, gaan jy baie ver kom voordat jy droogteprobleme optel, aangesien jou kampe sal rus vir ses maande.”

JULIAN PIENAAR
Weltevreden, Colesberg, Noord-Kaap

Julian Pienaar van die plaas Weltevreden, se kampe is almal op ʼn lugfoto aangedui. Elkeen in ʼn ander kleur; kampe wat tans bewei word; en ander wat rus.

Hulle sou vandag begin skeer het, maar Julian het daarteen besluit. Koue weer word voorspel en die merino’s moet vir eers hul winterklere aanhou.

Piet Venter staan nader en word daar eers wol gepraat. Vleis wag nog vir eers agter die skerms. Piet: “Daar is tans tussen sewe en nege wolkopers wat op die wolbeurs namens verskillende kliënte wol aankoop.” Hy noem dat Australië die wêreld se grootste wolprodusent is, terwyl Suid-Afrika maar ʼn skamele drie persent wol lewer.

“Maar wêreldwyd staan ons skeersel bekend as van die beste klasserings. Daarom is ons wol in groot aanvraag en verkoop dit goed.” Hierdie sukses word toegeskryf aan puik opleiding oor die jare. Bo en behalwe dit, het klimaatstoestand ʼn baie groot invloed op wolgehalte.

“In hierdie gebied, indien dit gedurende Januarie baie reën, het ons gedurende die winter en selfs ná die winter baie steekgras in ons wol. Daarom moet die klasseerder baie goed weet om daardie wol eenkant te sit.”

Julian Pienaar en Piet Venter bewonder van die gesogste skaapwol ter wêreld.

Natuurlik verskil wolgehalte van ras tot ras met betrekking tot lengte en fynheid.

Met ander woorde, Julian en sy medemerinoboere is wolboere.

Julian: “Ja, maar vleis vorm ʼn redelike groot deel van jou inkomste. Dit is hoekom ons merino’s deesdae baie groter is as in die verlede. Ons teel dus die karkasse groter sonder om die wol se gehalte in te boet. Nietemin, bly ons wolboere.”

Boere kan natuurlik nie ál hul lammers per jaar terughou vir wolproduksie nie. “Boonop kry jy so vyf jaar se produksie uit ʼn ooi. Dus moet jy elke vyfde jaar ál jou ooie vervang en daarom vervang ons 20 persent per jaar, aaneenlopend. Alhoewel ons met dubbeldoelskaap (Dohne-merino’s) boer, kompeteer ons uiteindelik met suiwer merino’s. Dus kan ons nie sê ons wol staan terug nie. Dit is en bly die fynste wol wat die grootste geld inbring.”

Alhoewel wol wêreldwyd ʼn klein bydrae tot die tekstielbedryf lewer, bly dit gesog en die aanvraag daarna vergroot.

Piet: “Wolkledingstukke het mos ʼn baie lang rakklewe en is bioafbreekbaar. Dit veroorsaak ook nie besoedeling soos kunsstowwe nie. Met die vordering in wolgehalte, kan jy deesdae wol, soos die Engelsman sal sê, next to skin dra. Daardie ou storie van wol wat krap, is iets van die verlede. Die prikkel in wol is uitgehaal.”

Hierdie dubbeldoel Dohne-merinoskape lewer beide wol- en vleisinkomstes.

Terug na vleis.

Alhoewel almal glo en verklaar hulle is wolboere, is hier ʼn kinkel in die kabel.

Piet: “As jy na die inkomsteverhouding tussen vleis en wol kyk, dan is ons eintlik vleis- en wolboere. Ons kry gemiddel 65 tot 70 persent van die skaap se inkomste uit hul vleis en 30 tot 35 persent uit hul wol.

Hoekom aanhou om hulself wolboere te noem eerder as wat hulle in der waarheid vleisboere is? Niemand wil antwoord nie.

Miskien het dit make met die feit dat baie besighede twee stelle boeke het. Een vir die bank en die ander vir SARS. Indien jy geld wil leen, is jy ʼn vleisboer. Indien die keiser aan jou deur klop om dit wat hom toekom op te eis, is jy sonder twyfel ʼn wolboer.


Leave a Reply

Your email address will not be published.