Woorde: Hein Eksteen Fotografie: Verskaf
Dit was die foto van die seeskil-pad in Costa Rica, met ʼn strooitjie in sy neus, wat bewussyn rondom strooitjies as’t ware in die hoof-stroom laat beland het. Toe die 2017-BBC dokumentêr, Blue Planet II, met ‘n toneel van ʼn albatros wat haar kuikens plastiek voer – op TV-skerms verskyn, het die anti-plastiek oorlog momentum gekry.

Nou, in 2021, met die planeet in die greep van ʼn virus, is die algemene gevoel dat ons meer verantwoordelik met moederaarde moet omgaan. Omdat almal by die huis eet, word ons ook meer bewus van die berge plastiekverpakking wat ons aandra.
Ons ken die statistiek soos ʼn mantra: Sowat 400 miljoen ton plastiek word jaarliks wêreldwyd produseer. Die meeste daarvan word op ‘n stadium weggesmyt en minder as tien persent word herwin. Tot 8.8 miljoen ton plastiekgemors beland per jaar in ons oseane. Daar is selfs drywende plastiek-eilande.
In Suid-Afrika genereer ons 41 kg plastiekgemors per persoon per jaar, en net in 2015 alleen het ons ʼn volle 79 000 ton plastiek in die oseaan laat beland. Dit maak Suid-Afrika, volgens ʼn nuwe verslag deur die WWF Plastics: The cost to society, environment and the economy, die elfde grootste besoedelaar in absolute terme.
Ons ken die verskil tussen makro-, mega- en mikroplastiek. Mega- en mikroplastiek is wat hoofsaaklik in verpakking gevind word.
MIKROPLASTIEK MAAK ONS BANG
Mikroplastiek vorm onder meer wanneer mega- of makro-stukke plastiek opbreek, of klein stukkies vesels, afkomstige van kleding of matte. Mikroplastiek word ook in tandepastas en velsorgprodukte gebruik. Wetenskaplikes jaag om dié partikels se effek op marine-spesies, asook op die mens, na te vors. Daar word vermoed dat mikroplastiek ook die fotosintese van alge beïnvloed.
Die toonaangewende vaktydskrif, Nature, het in Mei vanjaar ‘n artikel oor die omvattende navorsing oor mikroplastiek in see-organismes en mense, gepubliseer. Mikrovesels blyk tans ʼn groter gevaar as mikro-balletjies te wees, veral vir plankton.
Die slotsom van ekotoksikoloë is egter dat dit te vroeg is om te beweer dat mikroplastiek werklik op grootskaalse vlak, nadelig is vir marinelewe of mense. Wat seediere betref, wat met plastiek in hul ingewande aangetref is, het die studie bevind: “Ons glo nie enige diere het spesifiek van plastiek gevrek nie.” Alhoewel die plastiek in hul dermkanaal was, is dit egter moontlik dat die diere nie genoeg voeding ingekry het, om gesond te bly of te groei nie. Maar studieleiers wys daarop dat studies oor mikroplastek nog in ‘n beginfase is, en dat daar dalk meer bewyse vorendag kan kom. En die probleem gaan nie kleiner nie, maar groter raak.

WAT IS PLASTIEK?
Annabé Pretorius van Plastix 911, ‘n konsultant vir Plastiek SA, verduidelik: “Plastiek word van afval-produkte van die petrochemiese bedryf vervaardig. Die produk is bestand teen die meeste chemiese middels en maak dit ‘n veilige, kostedoeltreffende verpakking vir goed soos gifstowwe, sure en olies. Vandat die gas “ge-oes” word by Sasol, tot die produk in ‘n huis of pakkamer staan, is die hoeveelheid koolstof wat verbruik is, baie minder as vir ander materiale. Neem byvoorbeeld ‘n glasbottel of aluminiumkannetjie teenoor ‘n plastiekbotteltjie vir 150 ml veemedisyne. Die produk is ligter met ‘n kleiner kans vir breekskade. Baie kan gesê word oor voedselveiligheid en voedselbederf. Dit is algemeen bekend dat die hoeveelheid koolstof wat benodig word om enige vars produk op die winkelrak te sit, aansienlik is.
As die verpakking nie geskik is nie, word die raklewe verkort en gaan ‘n vars produk verlore. Plastiek leen hom tot aanpassing vir die perfekte atmosfeer vir sampioene en ander vars produkte. Elke soort verpakking word spesifiek gemaak vir die produk wat dit moet beskerm, hetsy om vog in te hou, suurstof uit te hou, vir ventilasie, om lig uit te hou, en so meer. Alternatiewe materiale is nie so veelsydig nie. Plastiek maak slegs ‘n skamele twee persent uit van die totale hoeveelheid afvalstowwe – dis egter ‘n baie sigbare twee persent.

Plastiekbesoedeling is lelik en baie meer sigbaar met die blote oog as ander (soms meer) toksiese besoedeling soos riool en gifstowwe. “Ons sien nie die chemikalieë wat gestort word nie, asook die riool wat in ons riviere beland nie. Duisende visse het gesterf toe ‘n pakhuis vanjaar in Durban afgebrand en geplunder is, en die gifstowwe is nog vir lank in die riviere en die see. Dit is juis die unieke eienskappe van plastiek wat dit so bruikbaar maak, maar ook is dit dié materiaal se nadele. Plastiek hou lank, is waterbestand, lig en kleurvol, maar ‘n visuele gemors. As dit nie reg bestuur word nie, veroorsaak dit ʼn baie groot probleem” sê Pretorius.
“Volgens die WNNR is informele herwinners verantwoordelik vir die herwinning van 80 tot 90 persent van die land se gebruikte verpakking en papier.”
Intussen reduce, reuse, recycle ons maar voort. Ons gebruik dieselfde inkopiesakkie oor en oor. Gemorsoptelgroepies word ʼn Olimpiese sport met buurte wat riviere, strande en parke skoonmaak. Maar dit maak nie saak hoeveel keer ons ons melkbottels was nie, die skuldgevoel bly knaag. Die berg plastiek word groter.
DON’T YOU TOUCH ME ON MY PRODUCE
Die verbruikersverslag toon dat Suid-Afrikaanse verbruikers produkte verkies wat minder skadelik is vir die planeet en diere, asook vir mindergegoede gemeenskappe. Verbruikers, nie net millennials en Generasie-Z nie, maar ook alle rasse, inkomste- en ouderdomsgroepe wil veral ná Covid 19 weet waar hul kos vandaan kom. “Waar het hierdie produk gegroei, wat is daarin en wie het dit hanteer?” Produsente en handelaars moet meer innoverend begin raak om plastiekgemors uit te skakel. Die mark vereis dit.
Sakeondernemings stem saam dat dit oor meer as net die beeld van die handelsmerk gaan. Dit gaan nie meer oor wins teenoor die aarde nie; dit gaan oor wins MET ‘n doelwit. Die Covid-pandemie het die gesprek oor ons vuil, siek planeet dringender kom maak.

DIE KRINGLOOP-EKONOMIE MOET IN PLEK KOM
Ons wil nie plastiek in ons omgewing sien nie. En plastiek is te waardevol om te mors – ons moet optel en herwin. Tans kan ons nie sonder plastiek klaarkom nie, veral in terme van kosverpakking. Plastiek word in die mediese bedryf, rekenaars, selfone, kragtoevoer en vervoer gebruik. Byna die helfte van die volume materiaal in ‘n tipiese voertuig, is plastiek. Dit help om voertuie ligter te maak en brandstofverbruik te verbeter. Die 7.7 miljard mense op aarde gaan nie ‘n normale lewe, sonder plastiek, kan lei nie.
INFORMELE KOLLEKTEERDERS
Rommelbestuur, veral in informele buurte, skiet tekort. Aan die positiewe kant, word duisende werksgeleenthede geskep in ‘n multi-milljoenrandbedryf. In Suid-Afrika kollekteer ons ongeveer 46.3 persent van plastiek vir herwinning. Volgens die WNNR is informele herwinners verantwoordelik vir die herwinning van 80 tot 90 persent van die land se gebruikte verpakking en papier. Dit spaar munisipaliteite miljoene rande jaarliks in stortterreinspasie. Daar word geskat dat daar tussen 60 000 en 90 000 mense in die informele rommel-industrie werk. ‘n Totaal van 70 persent van herwinbare plastiek kom van munisipale stortterreine. Die meeste hiervan word deur informele kollekteerders sorteer. Sodoende word duisende tonne koolstof-emissies gespaar, wat in die atmosfeer sou beland het as die rommel in die vullisgate gebly het.
PLASTIEKSAKKIES IS NIE DIE GROOT SONDAAR NIE
Die WNNR se jongste studieresultate rakende inkopiesakkies, toon dat plastiek ‘n beter omgewingsvoetspoor laat as baie ander materiale. Dit benodig minder energie om te vervaardig en het ‘n laer koolstofvoetspoor.
Die studie neem verskillende omgewings se ekonomiese aanwysers in ag, watergebruik, grondgebruik, aardverwarming en impak op indiensneming. Konvensionele plastieksakkies is meer omgewingsvriendelik want dit word her-gebruik en -benut in die siklus. Ook net as dit soveel moontlik hergebruik word.
Volgens Pretorius is koste en koolstof-gebruik steeds die grootste hindernisse. Een supermark het navraag by ‘n ander vervaardiger gedoen om al sy dun sakkies by die vrugte- en groenterak met bioafbreekbare sakkies te vervang. Dit sou hom presies agt keer die prys kos om dit te doen. En dan is daar boonop geen waarborg dat die sakkie nie ook in die omgewing gaan beland nie.

Bioafbreekbare verpakking? “Dis net bioafbreekbaar wanneer dit in die regte omgewing is. Met ander woorde in ‘n regte egte komposaanleg! Dit gaan nie bioafbreek in die see, rivier of op die ashoop nie. Namate die tegnologie ontwikkel, is daar al hoe meer van hierdie bioafbreekbare materiale wat wel die nodige beskerming vir die verbruiker bied. Dit hou suurstof uit en vog in.”
Plastiek SA verklaar hulle is gedurig besig met opleiding en opvoeding en is deel van baie plaaslike inisiatiewe, in Afrika en internasionaal om die gebruik, of eerder die misbruik van plastiek, aan te spreek. Daar is baie wetenskaplike bevindings wat bevestig dat plastiek oor en oor gebruik kan word. “Die gebruiker (ek en jy) moet minder mors, ons goeters (plastiek en glas en hout en vesel en water) spaarsamig gebruik, oor en oor gebruik; en as dit regtig kapot is, seker te maak dit beland op die regte plek.
“In Suid-Afrika kollekteer ons meer as 45% van plastiek vir herwinning.”
Plastiek is ten volle herwinbaar, maar ons het nie goeie sisteme in plek om almal in die land van ‘n asblik (wat gediens word), te voorsien nie. Daar is heelwat gebiede waar mense dig op mekaar woon en geen toegang tot vullisbestuur het nie. Dis in dié gebiede waar hope plastiek rondlê.”
Is die herwinningskultuur nie bloot ‘n foefie deur die petroleum-industrie wat ons beter laat voel om aan te hou plastiek gebruik nie? Die WWF draai nie doekies om in hul teenkanting van voortgesette plastiek in die omgewing nie. Die organisasie stem nie saam met die optimisme van die plastiekindustrie, dat met die regte herwinningspraktyke in plek, daar zero-gemors teen 2030 gaan wees nie.
“Teen die huidige trant sal dit meer as twintig jaar neem, net om die bestaande hoeveelheid plastiek te herwin. Daar moet ‘n vermindering in produksie en verbruik van plastiek wees, en daar moet baie meer fondse vir herwinning van plastiek aangewend word.”
Die regering wil skadelike plastiek begin uitfaseer en dit met herwin-bare alternatiewe vervang. Volgens die minister van omgewingsake, bosbou en visserye, Barbara Creecy, sal dit verhoed dat gevaarlike stowwe in riviere en die oseane beland. Sekere persentasiedoelwitte is in plek soos dat alle plastieksakke gemaak moet word van ‘n minimum van 50 persent herwinde materiaal. Die persentasie sal dan ná elke paar jaar moet vermeerder. Oortreding van dié regulasie beteken boetes of tronkstraf vir die winkeleienaar.
WAT SÊ DIE PRODUSENTE?
Grond tot Mond het drie van ons land se megaboere genader.
AL 3 BOERDERY
Die AL 3 Boerdery is reeds sedert 1978 aan volhoubare boerdery toegewy en verbou aartappels, uie, pitaja (dragon fruit) en boer ook met beeste, op plase wat strek vanaf die Limpopo tot Mpumalanga en die Noord-Kaap. Volgens CT van der Merwe, AL 3 Boerdery se hoofuitvoerende beampte, is die groep tans nie heeltemal op die alternatiewe verpakking van produkte gefokus nie, maar eerder op gehalte- produkte wat doeltreffend verbou word en wat langer vars bly.
“Wat AL 3 vir langer raklewe van ons produkte probeer bewerkstellig, is ons eko-vriendelike bestuurspraktyke. Deur te fokus op gesonde grond- en landboupraktyke, meer biologies en minder harde chemie, het ons produkte ‘n langer houvermoë, ons ontvang baie goeie terugvoer van ons markagente (soos RSA), asook kliënte wat vars produkte na Mosambiek uitvoer. Die AL 3-aartappel het regtig ‘n baie lang raklewe.
Die grond word goed bewerk sodat dit gesond bly en die biologiese organismes kan floreer. Kompos en beskermende gewasse word aangewend om voedingstowwe in die grond te optimaliseer.

Wat verpakking betref is die realiteit dat ons plaaslike kleinhandelsisteem uiters ondoeltreffend is,” meen hy. “Enige vars produk se koste verdubbel bykans binne 24 uur, vandat die boer dit geoes het, totdat dit op die winkelrak verskyn.
Die verbruiker betaal byna dubbeld vir ʼn produk as wat die boer daarvoor ontvang. Die enigste rede daarvoor is die ondoeltreffendheid van ons kleinhandelsisteem. Verpakking is uiters duur, veral as jy gaan kyk wat verpakking per kg kos waarvoor verbruikers betaal – as jy jou somme maak, werk dit uit op ‘n aardige bedrag.
Daar is baie draadwerk maar tog ook baie potensiaal – dit is ʼn mark wat wag om te ont-plof en beter ontgin te word soos wat met Uber of Airbnb en Amazon gebeur het. Daar is massiewe geleenthede en potensiaal in ons kleinhandelsisteem.”
LAASTEDRIF AGRI
Die Laastedrif Agri-besigheid behoort aan die Cillié-familie en bestaan uit plase vanaf Ceres en die hange van die Matroosberge, tot die Sandveld en die Klein-Karoo. Vrugte en groente word op baie groot skaal verbou, verwerk en verpak.
“Dit beteken ons kan heeljaar vars produkte aan handelaars lewer”, sê Zandri Pienaar, woordvoerder van die familie.
Dié megaboerdery fokus op omgewingsvriendelike boerderymetodes. Laastedrif Agri het ook ʼn volhoubare bestuursplan om biodiversiteit en waterbronne te beskerm.
Plastiekverpakking is toe nie so eenvoudig nie. “Ons boere sal bly wees as ons plastiek van ons werf af kan hou. Dis lelik en sleg vir die omgewing – het jy al ‘n slymerige ui geskil of ʼn swart blomkool uit die pakkie gehaal? Die regte plastiekverpakking is steeds die beste manier om produkte vars te hou en raklewe te verleng – wat gevolglik ook vermorsing verhoed.

Tans is daar egter nog nie ʼn goedkoper en beter alternatief nie, maar waar die gebruik van plastiek wel voorkom probeer word, word dit vervang. Ander maniere om plastiekverpakking uit te skakel, is met beter verpakkingmetodes – ook met beter verpakking in koeltrokke.”
Groente kan nie oor een kam geskeer word nie. “Jy kan nie een verpakkingsmetode op alle vrugte en groente toepas nie. Die respirasie van vrugte en groente sodra dit geoes word, is ʼn ingewikkelde proses en wetenskap. ʼn Ui is ʼn moeilike ding.” sê Zandri. “Dit word gou slymerig. Blomkool gee baie gasse af – die perforasie in verpakking moet beter wees. Beet droog weer vinnig uit en wortels moet ook klam gehou word. ʼn Groen-soetrissie is baie sensitief en selfs ligte kan die temperatuur asook raklewe daarvan beïnvloed. Verpakking, verkoeling, of die inlê-proses moet vinnnig gebeur as jy dit nie dadelik verbruik nie.”
“Die karton kan herwin word of in komposhope gesit word omdat dit bioafbreekbaar is.”
“Ons is in die gelukkige posisie in Suid-Afrika dat ons regdeur die jaar groente op die rakke beskikbaar het. Lande soos Engeland is nie so bevoorreg soos ons nie. Selfs botterskorsie is byvoorbeeld seisoenaal. Omdat ons in Suid-Afrika vars produkte nie ver van die een deel van die land na die ander hoef te vervoer nie, word ons omgewing aan minder plastiek-, brandstof- en verkoelingsvrylatings blootgestel.
Maar veronderstel ons moet wel vars produkte vanaf die Kaap na Johannesburg vervoer, beteken dit twee dae op die pad. Dit impliseer die produk moet ʼn raklewe van ten minste 7 tot 9 dae hê. Hoe jy ná die oes die vragmotor pak, is ook belangrik.
As jy te veel van ʼn produk pak, kan jy dit nie te opmekaar pak nie. As jy oes vanaf die land, moet die middelste deel van die vrag so gou moontlik afgelewer word.
Kleinhandelaars maak mense bewus van die plastiekprobleem en baie vereis dat sekere produkte soos blomkool en brokkoli nie meer in plastiek verpak word nie. Dus het ons gevolglik met sommige groente na ekovriendelike verpakking oorgeskakel. Ons probeer so ver moontlik weg beweeg van polistireen.”

ZZ2-BOERDERY
Almal ken die ZZ2-tamatieboksies. ZZ2 is seker een van Suid-Afrika se bekendste megaboerderye. Dié bekende boerdery beskik oor ’n groot verskeidenheid van gewasse wat oral in Suid-Afrika verbou word, maar dit is hul tamatieproduksie wat dié handelsmerk ikoniese status laat bereik het.

Hulle vervaardig veertig persent van Suid-Afrika se tamaties – byna 160 000 ton jaarliks. Clive Garrett van die ZZ2-bermarkingsafdeling beskryf die 6 kg-kartonbokse waarin die meeste tamaties verkoop word, as “uiters ekovriendelik”.
“Die karton kan herwin word of in komposhope gesit word omdat dit bioafbreekbaar is. Met die verpakking van ons spesialiteits- en topgehalte tamaties, het ons van plastiekhouers na kartonhouers oorgegaan. Dit het net ʼn dun sellofaandeksel sodat dit nie uitval nie. Sodoende het ons tagtig persent van ons plastiekverbruik uitgeskakel.”

GROOT KETTINGWINKELS VOEL DIE DRUK
Die internasionale dataontleder, Kantar, het in sy verslag aan die Produce Marketing Association getoon dat korporatiewe verantwoordelikheid driehonderd persent belangriker vir kopers is as ʼn dekade gelede.
In Suid-Afrika is al die groot winkelgroepe min of meer op dieselfde “groen” bladsy en volgens hul volhoubaarheidsverslae, streef almal daarna of het almal reeds in plek ‘n honderd present gebruik van ten volle herwinbare inkopiesakke.
Plasiekverpakking word stelselmatig, waar moontlik, met karton of komposteerbare alternatiewe vervang.
Suid-Afrika het ʼn “zero-gemors na stortterrein”-doelwit vir 2030.
Die kettingwinkel, Woolworths, wat aan die voorpunt van die zero-gemors-oorlog is, het aan hulself dié doelwit vir 2022 gestel. Woolworths wil seker maak al hul verpakking is herwinbaar. Meer as 200 takke het enkelgebruik plastiekinkopiesakke heeltemal afgeskaf, en met goedkoop herwinbare sakke vervang – asook 350 ton plastiek verwyder by die verpakking van hul vars voedsel.

Volgens Diane Peterson, wat namens die maatskappy oor hul volhoubaarheidsbeleid praat, het grendeltyd baie uitdagings meegebring om ekodoelwittte te bereik. “Daar was langer omsettydperke vir nuwe verpakkingsmateriaal in omgewings waar sosiale afstand-protokol gegeld het, asook beperkings op die aantal mense in voedselfabrieke, om nuwe produkte te toets. Dit het soms vertragings in nuwe verpakking veroorsaak sodat daar op essensiële verpakking gefokus kon word.”
Sy benadruk dat plastiekverpakking steeds belangrik is vir voedselveiligheid en om vermorsing te elimineer.
“ʼn Goeie benadering is om te besef dat daar nie een oplossing vir alles is nie. Dit behoort ondersteun te kan word deur honderd persent herwinbaarheid, eliminasie van probleem-plastiek, eliminasie van oor-verpakking en waar moontlik, vervanging van plastiek met beter geselekteerde verpakking. Indieptekennis van die Suid-Afrikaanse herwinningslandskap is belangrik om seker te maak plastiekverpakking werk nou saam met herwinners en die industrie, sodat dit gekies en ontwerp word met herwinning as eindbestemming.’’

OPLOSSINGS, ALTERNATIEWE PRODUKTE EN IDEES
Suid-Afrika het ʼn “zero-gemors na stortterrein”-doelwit vir 2030. Ons wil negentig persent gemors herwin deur ʼn sisteem van herwinning en hergebruik in plek te stel. Dis moeilik om te glo dat die doelwit bereik gaan word sonder dat die verbruiker die koste daarvoor gaan moet betaal. Ons is nog ver van ʼn plastiekvrye planeet en ‘n meer realistiese antwoord sal wees om eerder plastiek te vervaardig wat beter herwin kan word in ‘n sirkelekonomie.
RAMTSILO MANUFACTURING & CONSTRUCTION
Die twee susters, Kekeletso en Kedibone Tsiloane het die Ramtsilo-maatskappy gestig wat poog om die sirkelekonomie in die plastiek- en boumetariaalindustrie ʼn sukses te maak – en hulle kry dit reg. Hulle voorsien rommelbestuur en herwinningsdienste. Plastiekafval word gebruik om duursame en brandbestande bakstene te maak. Ramtsilo se ekobakstene is nou beskikbaar by Builders Warehouse, het die maatskkappy op Twitter aangekondig.

THE REFILLERY
Die egpaar, Dom en Samantha Moleta, het hul plastiekvrye winkels oopgemaak, ná hulle jare lank in die seiljagindustrie hulle eerstehandse kennis van die gemors in die oseane opgedoen het het. Hulle gebruik byewaspapier en vra klante om hul eie houers te bring om produkte in te plaas. Volgens hulle is produkte in hul winkels soms goedkoper as in konvensionele winkels – ook omdat klante per gewig betaal. Hulle het tans vier takke in Johannesburg en Pretoria. In ʼn onderhoud met Grond Tot Mond-tydskrif, vertel Sam dat hulle die produkte meestal by klein familieprodusente kry. Hulle koop in grootmaat aan om verpakking te elimineer. Hulle glo kinders moet van kleins af geleer word om verantwoordelik te verbruik – nie net hergebruik en herwin nie, maar ook hervul. Om plastiek in hulle huis en winkel uit te skakel, gebruik hulle byewastoebroodjiepapier en om oorskiet te verwerk, herbruikbare silikoonsakkies wat goed werk in die vrieskas en wat ook in ʼn skottelgoedwasser gewas kan word. Vir skoonmaakdoeleindes is daar ook komposteerbare alternatiewe soos sisalsponse.

FRESHPACT
ʼn Nuwe innoverende manier vir verpakking van varsprodukte is papierhouers – vervaardig deur Mpact, ʼn plaaslike vervaardiger en herwinnner. Volgens Freshpact word dit van honderd present SFI-gesertifiseerde (verantwoordelike bosboupraktyke) papiermateriaal gemaak. Dit kan hergebruik, herwin of komposteer word.
BIOPLASTIEK
Daar is ook plaaslike maatskappye wat begin het om verpakking en eetgerei uit bioplastiek (gemaak van koring of suikerriet) te vervaardig. Bioplastiek word van bronne soos groentevet en -olie, suiker, stysel en ander plantmateriaal gemaak. Nie alle bioplastiek is bioafbreekbaar nie, terwyl sommige petroleumprodukte bioafbreekbaar is. Dis nie die wonder-oplossing nie. Bioplastiek sluit ook ‘n eetbare beskermende laag oor komkommers in wat plastiek inderwaarheid vervang; die gebuik van laser om produkte te merk instede van plastieketikette en ink, asook groente- en kruietuine in winkels verminder die vervoer- en verpakkingvoetspoor.
PLUK EN BETAAL
Die Saint-Laurent IGA-kruidenierswinkel in Montreal, Kanada; die Nederlandse supermark, Albert Heijn; en die supermark, Delhaize in Brussel, België, is voorbeelde van supermarkte met eetbare tuine in die winkel of op die dak van die winkel.
WWF-SA SE CIRCULAR PLASTICS ECONOMY
ʼn Sirkelekonomie het baie uitdagings. Deel daarvan is om seker te maak dat die emissies tydens vervaardiging van herwinde produkte laag bly (dit sluit in hitte en waterverbruik). Dis ʼn ingewikkelde wetenskap om werklik die voor- en nadele asook koste van “die wieg tot die graf” van herwinde produkte te vergelyk.
