Woorde: Danie Keet Fotografie: Mia Truter
Enigiemand in landbou sal geredelik erken dat ‘n mens hare op jou tande nodig het om ‘n sukses van boerdery te maak. En die paadjie sluit gewoonlik op- en afdraande en verskeie stampe en stote in. Met verbete vasberadenheid het Boet le Roux sy pad oopgetrap – tussen tabak, koi-visse, waterblommetjies en merino’s deur. Op die ou end het hy besluit dat kanola, koring en amandels die beste resultate lewer. Ons kry die storie agter Vlakkenheuwel se storie.

Boet le Roux boer al vir 45 jaar op Vlakkenheuwel, ‘n graanplaas op die Porseleinberg-pad as jy vanaf Riebeek-Wes ry. Boet se oupa, Andries le Roux, het ‘n geleentheid raakgesien in die relatief hoë en winsgewende pryse van koring gedurende die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) en die jare onmiddellik daarna. Hy wou deel in die voorspoed wat die Swartlandse koringboere in daardie stadium ondervind het. ‘n Groot aanvraag na landbouprodukte soos koring, skaapvleis en wol het in daardie tyd ontstaan en pryse van hierdie produkte het skerp gestyg. In 1920 het koring die hoogste prys tot in daardie stadium in die geskiedenis behaal: £3 3s per mud van 200 pond gewig – ‘n prys wat eers weer vier dekades later geëwenaar sou word.
Van innovering, aanpassing en ondernemingsgees hoef jy hom niks te vertel nie. En hy is ook nie bang om verskeie boerderybedrywighede te takel om sy opbrengs te verbeter nie.
“Ek en my seun Frikkie boer saam op die familieplaas van sowat 1 200 ha. Dit is al vyf geslagte in die familie. Die graanafdeling is in agt dele van ongeveer 90 ha elk verdeel waarop verskillende gewasse verbou word. Ons volg ‘n wisselboustelsel wat oor agt jaar strek en plant om die beurt medics, koring en kanola om te verseker dat die grondgehalte behoue bly. In die vyfde jaar van die siklus laat ons skape op die medics wei, om op hierdie manier weer voeding in die grond terug te sit,” verduidelik hy.

“Ons het ook 80 ha onder wyndruiwe met ‘n verskeidenheid kultivars, insluitend chenin blanc, sauvignon blanc, pinotage, tinta barocca en cabernet sauvignon. Om ‘n groter opbrengs te verseker en om beter inkomste te verdien, gebruik ons ‘n unieke opleistelsel. So kon ons oor die afgelope vier jaar die produksie van hierdie blokke wat sowat 15 t per hektaar gelewer het, uitbou sodat hulle nou tot 30 t per hektaar lewer – nog steeds met goeie gehalte druiwe. In die ander blokke wat normaalweg gesuier is, en wat besproei word, is ons opbrengs ongeveer 17,5 t per hektaar. Die water kom uit die Bergrivier, wat sowat 4 km van die plaas af verbyvloei.”
VAN TABAK, KOI-VISSE, WATERBLOMMETJIES EN MERINO’S
Boet vertel dat hulle ook met 20 ha se tabak geboer het, maar toe die bedryf in duie gestort het, het hulle dit gestaak. Dit het voorheen werk aan meer as 200 mense verskaf en ook vir ’n goeie inkomste gesorg.
“Ons moes hierdie bedryfstak vervang. Ons het koi-visse oorweeg en ons wou 24 damme daarvoor bou. In die beginfase het ons ses damme gebou – elkeen het sowat 10 000 vingerlinge gehuisves.
“Ons het ’n probleem met ons korttermyngeheue en moet besef dat alles nie elke jaar vlot kan verloop nie. Die een jaar is dit goed vir koring, die volgende vir druiwe – elke siklus kan nie ideaal vir alle gewasse wees nie.”
“Ons het hulle grootgemaak en dan verkoop. Die water uit die Bergrivier wat in die damme gebruik is, het egter ‘n virus afkomstig van tilapia-visse bevat en dit het die koi-visse se kieue besmet. Dit het beteken dat daardie idee ook daarmee heen was en ons moes dit toe staak,” deel hy ons mee.

“Omdat ons die damme gehad het, wou ons toe waterblommetjies kweek. Ons rol in die mark was egter te klein en dit was nie winsgewend nie. Daarna het ons met SA vleismerino’s geëksperimenteer en lammetjies grootgemaak as deel van ‘n projek saam met SA Vleismerino waardeur hulle die lam-persentasie wou verhoog met behulp van veelvuldige dekkings van die byna 800 ooie,” beskryf hy.
“Swamsiektes aan die ooie se voete het egter veroorsaak dat hulle minder melk geproduseer het, wat weer tot swak groei onder die lammers gelei het. Dit het te duur geword om die lammers langer in die hokke te voer en omdat ons nie van die swamme wat in hul voete gevestig het, ontslae kon raak nie – ondanks uitgebreide programme om hul hokke skoon te hou – moes ons dit ook laat vaar. Later het ons lammers aangekoop en grootgemaak en aan ‘n slaghuis verkoop, maar die aankoopprys het later buite verhouding teenoor heersende markpryse gestyg en dit was nie meer ‘n ekonomiese opsie nie.”

Boet glo dat deeglike beplanning die basis van enige boerdery-aktiwiteit is. Hy meen dat hy nie verniet na die Universiteit Stellenbosch gestuur is om ‘n BCom-graad te verwerf nie. “As dit maklik was om te boer, sou hulle my mos nie soontoe gestuur het nie! Jy moet enige nuwe bedryfstak wat jy wil vestig, voluit doen, maar jy kan dit net doen as jy feite tot jou beskikking het. Jy moet kyk na grondontledings en wat daarby pas en dan moet jy plant wat daar aard. Jy moet baie meer bestuur insit om suksesvol te wees en jy moet vooraf beplan. Die beplanning kan jy op papier doen tot dit reg is, maar jy kan nie ‘n fout wat jy buite op die plaas maak, opfrommel nie – dit gaan jou geld en dalk jou plaas kos.”
DIE KROKODIL SE BEK MAAK TOE
Boet vertel dat hy en sy span baie met mekaar gesels en saam beplan wat op die plaas gedoen kan word. Verlede jaar het die inkomste uit wyndruiwe met 20% geval en hulle moes iets doen om dit mee te verhaal. Dit help hom dat almal op die plaas as ‘n span saamwerk en insette kan gee. Elke afdeling het ‘n bestuurder wat leier van sy span is. Die werkers se gemiddelde werksloopbaan is by die 30 jaar wat elkeen van hulle ‘n bestuurder in eie reg maak. Maar hy meen dit bring ook verantwoordelikheid mee om die verskillende take waaroor hulle beheer het, behoorlik uit te voer.
“Die krokodil se bek maak toe – die inkomste styg stadiger as die uitgawes. Ons moes iets anders kry om te doen om die inkomste aan te vul. Ons moes iewers water kry omdat ons hier feitlik niks het nie en dit wat hier is, is brak,” sê hy met ‘n sardoniese stemtoon.

“Ons het ‘n buurplaas waarop daar water is, gekoop. In ‘n boorgat, die tweede een wat ons gesink het, kry ons toe goeie water – sowat 30 000 liter per uur, op ‘n diepte van ongeveer W120 m.
Dit het die speelveld verander. Ná goeie navorsing, deeglike beplanning en goeie grondvoorbereiding het ons in samewerking met ZZ2 30 ha amandelboorde gevestig. Ons het hoofsaaklik die Independent-kultivar, wat selfbestuiwend is, aangeplant om dit meer ekonomies te maak. Dit het op sy beurt weer daartoe gelei dat ons ‘n groot waterprojek kon aanpak. ‘n Nuwe pomp- en pyplynstelsel is gevestig om die ander aktiwiteite verder te ondersteun.”
“Omdat ons die damme gehad het, wou ons toe waterblommetjies kweek.”
Boet glo die klimaat vir die verbouing van amandels is goed. Die bome begin binne die eerste drie jaar al neute dra. Hy hoop om ná 3 jaar in volle produksie te wees en teen jaar 7 gelyk te breek.
“Die eerste 2 jaar verg die grootste werk met die grondvoorbereiding, aanplantings en snoeiery, maar daarna is dit feitlik net spuitprogramme wat gevolg moet word. ZZ2 gaan ook die oes waarneem aangesien oesmasjinerie baie duur is.”
BEWARING EN KLIMAATSVERANDERING
Bewaring van die omgewing is vir Boet van kardinale belang en hy glo jy kan nie alles wat jy gekry het, verander om daarop te boer nie. Hy hou 200 ha berggrond uit om die bedreigde renosterveld te help beskerm. ‘n Verskeidenheid bokkies, rooikatte en bobbejane hou nog in daardie gebied en dit is ook ryk aan veldblomme wat hierdie tyd van die jaar helderkleurig in blom staan. Dit skep ‘n lappieskombers van kleure met die fletsgeel van die kanolalande en die donkergroen van rypwordende koring wat mekaar afwissel.
Hy het ook besliste idees oor klimaatsverandering en die invloed daarvan op landbou. Boet glo dat die natuur in siklusse werk en dat ons tans die ideale siklus ervaar – met goeie winterreën en heelwat koue.

“Ons het ‘n probleem met ons korttermyngeheue en moet besef dat alles nie elke jaar vlot kan verloop nie. Die een jaar is dit goed vir koring, die volgende vir druiwe – elke siklus kan nie ideaal vir alle gewasse wees nie,” verduidelik hy.
“Mense wat van klimaatsverandering praat, moet besef dat dit eintlik normale siklusse is. As jy gelukkig is om tot op die ouderdom van omtrent 70 te kan boer, sal jy net ‘n paar sulke siklusse beleef – dis natuurlik. Ons moet die geskiedenisrekords nagaan om presies te verstaan watter veranderinge in ag geneem moet word en wat verstaan moet word sodat ons behoorlike besluite vir ons boerdery kan neem.”
“Om ’n groter opbrengs te verseker en om beter inkomste te verdien, gebruik ons ’n unieke opleistelsel.”
“Vlakkenheuwel is al vir ‘n paar jaar deel van die Kaapse bergkwagga-teelprogram wat aanvanklik by die Landbouskool Boland in die Paarl in samewerking met CapeNature begin is. Die doel van die program is om die bergkwagga – wat bruin van kleur was, sonder strepe op die boud en maag – terug te teel. Die program het reeds ten einde geloop, maar ons en vier ander telers gaan voort daarmee om die bruin kleur reg te kry. Daar was aanvanklik ongeveer 120 diere in die program en ons het 40 hier op die plaas uitgehou.”
Ry jy saam met Boet en Generaal, sy Duitse herdershond, deur Vlakkenheuwel se netjies versorgde landerye van kanola en koring, die boorde amandels en druiwe, verby die pakstore en ander geboue, sien jy erns in die boerdery, dinge is georganiseerd en goeie beplanning is duidelik sigbaar.
“Boerdery is ‘n besigheid. Jy moet die ekonomie, bemarking en die omgewing verstaan. Jy moet feite hê waarop jy jou besluite kan baseer en jy moet betroubare werknemers hê wat saam met jou die pad kan stap,” beaam Boet.

Die kwagga is een van die talle diere wat weens die mens se wanbestuur van die natuur uitgesterf het. Danksy moderne wetenskap en biologiese manipulasie, kon hierdie dier egter weer geteel word.
In 1987 is die hertelingsprojek begin in ‘n poging om hierdie spesie se uitwissing, ʼn fout van honderde jare gelede, reg te stel. Die laaste kwagga het reeds in 1883 gesterf en ‘n foto van die laaste een, bekend as die Artis-hings, is nog in die Naturalis-museum in Leiden, Holland, te sien.
Die kwagga, wat as ‘n subspesie van ander sebras beskou word, het in groot dele van die Karoo en suidelike Vrystaat voorgekom. Die opvallendste kenmerke wat die spesie van ander sebras onderskei het, was dat strepe hoofsaaklik op die kop en voorste gedeelte van die lyf voorgekom het en dat dit bruin van kleur eerder as die wit van gewone sebras was. Hul mae en bene was sonder strepe en was wit van kleur.
Die kwagga se wetenskaplike naam is Equus quagga quagga en sy noordelike Afrika-buurman is Equus quagga burchellii. Nog verder noord verskyn die Equus quagga antiquorum. Daar was nog altyd onenigheid oor die benaming van die kwagga en sebras en oor die familieverband tussen die twee groepe. Sommige kenners het die kwagga as ‘n volwaardige sebra-spesie beskou, terwyl ander dit as ‘n suidelike subspesie van die wydverspreide Vlakte Sebra, of die Burchell’s Sebra, beskou het.
Die projek het ‘n lang aanloop, maar dit het amptelik op 24 April 1987 afgeskop toe 9 sebras uit 2 500 in die Etosha Nasionale Park geselekteer is om die teelprogram mee te begin. Hulle is naby Robertson op CapeNature se plaas, Vrolijkheid, gevestig. Ter voorbereiding, is DNA-monsters van opgestopte kwaggas uit verskeie museums ontleed voordat daar besluit is om met ‘n hertelingsprogram te begin. Verskeie rolspelers, insluitend privaat telers, was by die program betrokke.
Een van hierdie telers, is Boet le Roux en sy seun Frederick van die plaas Vlakkenheuwel. Hulle hou nog steeds van hierdie teruggeteelde kwaggas aan. Die amptelike teelprogram is reeds gestaak, maar privaat telers hou aan met teling om getrouer weergawes van die kwaggas te produseer. In totaal is daar tans ongeveer 95 diere in verskillende teelprogramme waarvan 40 diere uit 3 teelgroepe op Vlakkenheuwel aangehou word.
Besigheid: Vlakkenheuwel | Area: Porseleinberg-pad, Riebeek-Wes, Wes-Kaap