Hierdie is nie net ʼn resepteboek nie, maar eerder ʼn moderne ensiklopedie. Dis ʼn geure-biblioteek vir sowel leke as ervare kokke. Dis die snoet-tot-stert gids wat almal in hul kombuis nodig het en nog vir jare gaan gebruik.
Elke vleissoort wat ons ken word behandel: bees, skaap/lam, vark, pluimvee, wild, en ook afval. Daar is ook ʼn afdeling met resepte vir marinades, soutmengsels en speserye, en wenke vir die perfekte veroudering en preservering van kos sonder om kunsmatige bymiddels te gebruik. Daar is meer as 100 resepte met titels soos eland-carpaccio met sitrusslaai, Ouma Hantie se kaiings, en varksteaks met esdoringstroopglaseersel.
Elke hoofstuk begin met ʼn foto van die rou snit met benaminge en gaarmaakmetodes en aanduidings uit watter deel van die karkas dit gehaal word. Dan is daar ʼn resep en hope foto’s.
Annelien het dit oor die loop van tien jaar geskryf: “Ek het soveel data moontlik versamel en ook vrae ingewerk. Daarom word daar verwys na ʼn gids eerder as ʼn kookboek. Elke resep is noukeurig ontwikkel om subtiel die beste smaak en tekstuur uit die vleis te kry.’’
Kosskrywer, dosent, televisiepersoonlikheid. Hoe het alles begin?
“Per toeval, met ʼn Facebook-plasing oor taai vleis. Een nag het ek met my susters sit en waak by ons sterwende moeder op die plaas. Ek het my familie op sosiale media ingelig gehou. Dis toe dat ek afkom op ʼn groep wat onkundige raad oor taai vleis gee. Ek het losgetrek en as vakkundige die hele polemiek uitgeklaar met feite ter stawing. Binne 24 uur is die plasing 150 000 gedeel en die eienaar het my ingelig om my eie blad te begin. Ek het gesien die publiek is honger vir betroubare vakkundige inligting. Die webtuiste het gevolg en toe nader Human en Rousseau my vir ʼn boek. Nou trek ons by boek nommer 2 en ʼn televisiereeks!
“My ma was in die huishoudkunde-bedryf maar dit is nie wat die deurslag gegee het nie. Ons jongste sussie was ʼn insulien-afhanklike diabeet en dit was die dryfveer – ek wou vir haar lekkergoed en gebak ontwikkel wat sy kon geniet.
“Ek het op die platteland, op ʼn klein dorpie genaamd Skeerpoort, aan die westelike oewer van die Hartbeespoortdam grootgeword en toe hier hervestig toe ons met ʼn gesin begin het. Ek is ʼn voedselkonsultant, het voedselwetenskappe studeer en gespesialiseer in voedseltegnologie.
“Ek was dosent by VOO-kolleges en betrokke by die skryf van eenheid-standaarde, resepteboeke en vakkundige inligting. Ek het toe my eie kookskool in ʼn ou koeistal ingerig ná ʼn problematiese tweede swangerskap en gee steeds vanuit hierdie plek klas. Daar is ook kamers vir klante wat wil oorslaap, veral my buitelandse mense wat van Namibië, Botswana, Zimbabwe en Mosambiek kom.
Die publiek kan uitsien na nog ʼn boek geskoei op die “resep met ʼn les” beginsel. “Hierdie het al menige leser bemagtig om ʼn tuisbedryf te begin. “Daar is selfs in my boeke inligting oor kosteberekening. Op my Facebook-blad is daar gratis PDF-dokumente sodat jy net data kan intik en selfs kragverbruik is ingewerk. Ek is groot op gemeenskapsontwikkeling en hoop dat die nalatenskap van my resepte mense sal bemagtig.