Farm to Fork, farmers, Niche Farmers
Leave a comment

Groen seekos? Ja vir oesters!

Woorde: Clifford Roberts Fotografie: Verskaf

Dis maklik om te vergeet dat landbou verskeie vorms aanneem en dat Saldanhabaai een van die groot spelers in Suid-Afrika se mariene kultuur is. Al is daar plase in Knysna en Algoabaai, is hierdie area die tuiste van die grootste konsentrasie oesterkwekerye en heel moontlik die enigste natuurlike baai langs die Suid-Afrikaanse kuslyn wat waarlik vir mariene kultuur geskik is. Dit was met hierdie agtergrond in gedagte dat Saldanha Bay Oyster Company (SBOC), ‘n pionier in die bedryf, in 2005 hier gestig is.

SBOC se lekkerny word verkoel en lewend, in die skulp, versprei.

SEEDIERE WORD GEPLANT

SBOC boer met die Stille Oseaan-oester, Crassostrea gigas. Sy lewensiklus begin met die baba “saad” wat in spesiale kweekhuise geteël word. Hulle word daarna “geplant” in hokke wat aan lang lyne in die baai gehang word.

Die water in Saldanhabaai se omgewing is ryk aan voeding – vir alle seediere, nie net vir oesters nie – as gevolg van die plankton en ander ryk voedingstowwe wat deur die koue Benguela-stroom van die see rondom Antarktika aangedra word. Die oesters spandeer sowat 18 maande in die hokke tot hulle volwassenheid bereik. Hulle word dan met bote na ‘n tweede baai verskuif om hulle geure en tekstuur vir die mark af te rond.

Oesters word van saad gekweek en groei in hokke wat aan lang lyne in seewater gehang word.

Die diere het nie kunsmatige voeding nodig nie, dus word niks tot die see-omgewing bygevoeg nie. Die grootste koste vir die onderneming, is personeel en die aankoop van oestersaad, vertel Jonathan Venter, algemene bestuurder en gekwalifiseerde dierkundige.

Seetoestande is ‘n bepalende faktor in die oes van hierdie fynkos.

Jonathan was in die Verenigde Koninkryk ná hy sy Meestersgraad in Dierkunde voltooi het. “Ek het vir ’n baie goeie vriend, toe ‘n akademikus aan die Universiteit van Kaapstad, genoem dat ek geen idee het wat om te doen wanneer ek na SA terugkeer nie. Toe stuur hy vir my ‘n advertensie oor ‘n vakante pos by Jacobsbaai Sea Products (JSP), ‘n groot plaaslike perlemoen-produsent.” Dit was 2003. In 2010 het JSP die hoof-aandeelhouer van SBOC geword, saam met ‘n SEB-komponent.

Die ontwikkeling van die oesters word noukeurig gemonitor.

SKOON SKULPIES

Deesdae is Jonathan verantwoordelik vir ‘n onderneming met die kapasiteit om vier miljoen oesters per jaar te verwerk. Oesters word regdeur die jaar, drie tot vier maal per week, geoes. Die maatskappy, met 26 werknemers en twee bestuurslede, het ‘n totale area van 35 ha beskikbaar vir die boerdery en ‘n fasiliteit waar die oesters vir herplanting gegradeer en in tenke gehou kan word. Daar is ook ‘n verpakkingsaanleg by Pepper Bay-hawe waar die oesters skoongemaak, verpak en aan klante versend word.

“Die feit dat beide maatskappye – SBOC en JSP – by mariene kultuur en seekosboerdery betrokke is, beteken dat daar wetenskaplike kennis en ervaring gedeel kan word,” sê Jonathan.

SBOC het sy eie bote wat help om oesters te skuif en te oes.

‘n Belangrike aspek van die boerdery, is hul toewyding aan volhoubaarheid. SBOC is betrokke by die bevordering en uitbou van wetenskaplike kennis oor oester-biologie en -kultuur in Suid-Afrika, en hulle let veral daarop om nie die area met oesters te oorlaai nie. Hul produk verskyn op die groen lys van die Wêreldnatuurfonds se Suid-Afrikaanse Volhoubare Seekos-inisiatief (Sassi).

Waar JSP op uitvoer fokus, is SBOC se mark hoofsaaklik plaaslik. Die oesters wat hulle wel voor die pandemie uitgevoer het, is Hongkong en China toe gestuur.

Al hoe meer Suid-Afrikaners ontdek die lekkerte van oesters.

HET JY AL EEN GEPROE?

“Die bewustheid van oesters as ‘n gesogte lekkerny, het beslis in Suid-Afrika gegroei, maar ek glo dat die meeste mense in die land nog nooit ‘n oester geëet het nie, of sal weet hoe om dit te eet nie,” sê Jonathan. “Seekos is nie so gewild soos wat dit in Suid-Afrika kan wees nie en ons moet aan die persepsie en gewildheid daarvan werk.”

Soos die meeste produsente, verkoop SBOC lewende oesters, verkoel en in die skulp, en dus is daar geen oorblyfsels nie.

Die skulpe is wel nuttig en kan onder andere fyngemaal en as voer-aanvulling in die pluimveebedryf gebruik word. “Uitvoere van ons oesters het bestendig gegroei soos hulle in die Verre Ooste bekend geword het. Dit was natuurlik vóór Covid,” vertel hy.

SBOC is omgewingsbewus en sy oesters verskyn op die groen lys van die Suid-Afrikaanse Volhoubare Seekos-inisiatief (Sassi).

PANDEMIEPYN

Hy sê dat Covid ’n uitwerking op die plaaslike en internasionale mark gehad het en dat dit, saam met China se handelsbeperkings, beteken het dat uitvoere met meer as die helfte afgeneem het. Laasgenoemde is tans een van hul grootste uitdagings. “As gevolg van ‘n administratiewe fout, is ons al vir amper ‘n jaar lank by die Chinese mark uitgesluit. Ons bedryf se oorlewing is in die hande van diplomate en regeringsamptenare.”

Hy noem dat die Saldanha-oester een van die beste oesters in die wêreld is en dat dit “ontsaglike” potensiaal het. “Ons het dringende en effektiewe hulp van ons regeringsdepartemente nodig om ons toegang tot die mark terug te kry anders sal werksgeleenthede verlore raak.”

Jonathan voeg verder by: “Die uniekheid van Saldanhabaai skep geleenthede vir ‘n breë spektrum van ondernemings en nywerhede om te gedy. Dis iets wat noukeurig ondersoek moet word om die impak op die omgewing en die verskillende spesies waarmee daar in die baai geboer word, te bepaal.”

Rye dobbertjies in Saldanhabaai wys waar die oester-lyne hang.

In die daaglikse bedryf van sake het die pandemie ‘n groot impak op die onderneming gehad omdat oesters deel van ‘n sosiale ervaring is. Hierdie seekos word meestal saam met vriende en ‘n glas goeie wyn geniet, gewoonlik by ‘n restaurant of oester-eetplek. “Dit word alles deur die pandemie ingekort. Reisbeperkings, op plaaslike sowel as internasionale reis, tesame met die verlies aan lewens en ondernemings soos restaurante en hotelle, het dit uiters moeilik gemaak om oesters te verkoop,” sê Jonathan.

Gewoonlik is SBOC se grootste uitdaging, soos vir die meeste boerderye, die weer. “See- en wind-toestande bepaal of ons kan oes, so ons moet altyd fyn beplan,” sê hy.

Volgens Jonathan sal dit waarlik ’n groot hulp wees as Suid-Afrikaners hierdie volhoubare, plaaslik-gekweekte produk kan ondersteun en dat dit die besigheid veral tydens die pandemie sal deurdra. Sodoende sal die woord oor hoe lekker ’n vars oester eintlik is – met ’n paar druppels suurlemoensap, met of sonder ’n druppel brandrissiesous – ook vinniger versprei. En alhoewel die sosiale sy van groot groepe wat in restaurante kuier nie op die oomblik aangemoedig word nie, kan oesters wat by die huis geëet word, ook ’n aangename geleentheid wees.

Oesters is veelsydig en kan met ‘n verskeidenheid ander bestanddele of net so geniet word.

SBOC se oesters kan aanlyn by verskaffers soos www.wildpeacock.co.za, www.themusselmonger.co.za en Charlie’s Fish Shop in Saldanhabaai bestel word. Pryse wissel volgens grootte.


NAAM: Saldanha Bay Oysters AREA: Saldanhabaai, Wes-Kaap PRODUK: Oesters OPSOMMING: Aan die Weskus van Suid-Afrika is ‘n baai waar oesters vir die hele wêreld se fynproewers (veral die in die Ooste) gekweek word. KONTAK: +27 (0)22 714 0321 | www.saldanhabayoysters.co.za

Filed under: Farm to Fork, farmers, Niche Farmers

by

Clifford has been a journalist and writer since the early 1990s. During that time – as he worked amidst the commotion of township demonstrations, among farmers, and in remote villages across the country – he discovered the stark truth about what makes us human. Nowadays he lives in a city close to the ocean which he loves, but he still brings homage to this truth by contributing to a variety of national publications. “The words of a song by Stef Bos apply to me because I will ‘always be en route’,” he says.

Leave a Reply

Your email address will not be published.