farmers, Niche Farmers
Leave a comment

Kommetdieding, perde met paspoorte en ander sprokies

Woorde: Danie Keet Fotografie: Mia Truter

Weggesteek in die Hemel-en-Aardevallei, bykans ongesiens, maar beslis nie vergete nie, lê die plaas Oldlands Stud waar wêreldklasrenperde al die afgelope paar dekades geteel word. Aan die spits van bedrywighede is die enigmatiese Barbara Sanne (86) steeds vandag met ’n stewig houvas oor alles wat hier gebeur.

Elke perd op die Oldlands Stud het ‘n eie paspoort waarin die dier se besonderhede opgeteken word, insluitend kenmerkende haarkrulle, en kleurvlekke op die lyf.

Barbara en haar man, wat sedert 1963 hoof van Siemens in Suid-Afrika was en uit Duitsland hier kom woon het, het die plaas van sowat 165 hektaar in 1994 van die eienaars van Hamilton Russel-wyne gekoop omdat hulle graag met perde wou teel en in die Kaap wou kom bly.

“Die wingerde in hierdie deel van die vallei het in die verlede nie goed gevaar nie, maar was reg vir weiding vir perde. Baie mense het ook van hul grond verkoop weens die onsekere politieke omstandighede van die tyd en ons het die geleentheid aangegryp.

“Die streek is ook in ʼn gebied waar daar feitlik geen voorkoms van die Afrika-perdesiekte nie. Dit is ʼn baie groot voordeel as ʼn mens perde wil uitvoer,” vertel Barbara waar sy geklee in ʼn kakiekleurige langbroek en wit bloes op ʼn klein kampstoeltjie in haar kantoor in die stalle van Oldlands sit en gesels.

Barbara Sanne (86) is die eienaar van Oldlands Stud en is steeds in beheer van haar omvangryke renperdtelery.

Die reuk van strooi, perde en die leer van saals en tuie hang sterk in die lug en teen die mure van die kantoor is rye en rye lêers met inligting oor elke perd in die stoet – ook dié wat al verkoop is. Foto’s van blinklyf-renperde wat pronkerig rondstaan, bedek die mure. In die agtergrond is die staljoggies besig om perde in die stalle te roskam en dan na buite te neem waar hulle in die groot kampe loop. Die ronde kampe is met teerpale omring en saam met die welige gras en reuse-akkerbome, maak dit ʼn amperse idilliese prentjie.

“Die perde is die hele tyd buite. Ons het oorgenoeg natuurlike en aangeplante weiding vir hulle om te sorg dat hulle ʼn gesonde dieet volg. Daar is natuurlik aanvullings, maar die meeste kos vir hulle is verskillende grassoorte waarvan die saad ingevoer is.”

Barbara word op die plaas bygestaan deur ʼn jarelange vertroueling en die stoetbestuurder, Nicolene Dormehl, terwyl haar seun, die nou reeds wêreldbekende viroloog dr Ian Sanne, die mede-eienaar is. Hy speel tans ʼn belangrike rol in die bekamping van die Corona-virus en bedien sowel die Suid-Afrikaanse regering as die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) van raad, maar is van plan om waarskynlik binnekort na Oldlands te verhuis.

Daar is tans is daar 30 merries en 24 vulletjies op die plaas.

Nicolene vertel dat elke perd sy eie paspoort met al sy biologiese besonderhede daarin het. “In die paspoort is ʼn skets van elke perd met sy unieke kenmerke daarop aangedui – kleurvlekke, die kleur van hul pote en haarkrulle wat by elke perd verskil. Elke perd kry ʼn unieke staafkode wat op ʼn mikroskyfie geplaas en in die perd ingeplant word. So kan ons elkeen se vordering elektronies moniteer en ook hul bewegings dophou,” vertel sy. Sy het reeds op 5-jarige ouderdom op perde verlief geraak – toe sy in die dorre Noord-Kaap twee donkies gesien het. Sy is die hartklop van Oldlands Stud, bestuur alle bedrywighede, doen die boeke en is Barbara se regterhand.

Oldlands Stud is hoog in die Hemel-en-Aardevallei geleë in ‘n asemrowende mooi omgewing.

“Soos met ons almal maar, het die Covid-pandemie ons ook kwaai geknou. Daar was maar min sprake van wedrenne en die uitvoer van perde was heeltemal buite die kwessie. Alle grense was so lank gesluit en ons kon nie veel vermag nie. Nou gaan dit gelukkig beter en is ons besig om weer kop op te tel. Daar was nie juis verkope nie, maar gelukkig is ons weiding van so ʼn hoë gehalte dat ons ten minste nie voer moes inkoop nie. Dit het baie gehelp.

“Die sorg van die perde is allerbelangrik. Mense oorsee is erg besorg oor die Afrika-perdesiekte en ons diere gaan deur streng kwarantynbeperkings as ons hulle uitvoer – eers ses maande in Mauritius en in Frankryk en weer drie weke as hulle by hul bestemming in Europa of die Verre Ooste aankom. Daar het van die sjeiks al heelwat van ons perde gekoop en goeie resultate verkry.”

Die stalle waar die perde vir veilings voorberei word – reg langs die kantoor van Barbara Sanne, eienaar van die plaas.

Barbara vertel dat hul perde meestal buite bly en net in die stalle inkom om te vul. Hulle is dan na ʼn dag of twee weer buite, afhangend van hoe vinnig die vulletjies aansterk. Die perde word ook gestal kort voor ʼn veiling sodat hulle deeglik versorg, geborsel en skoongemaak kan word.

Die gras waarop die perde wei is mengsels wat ingevoer is uit Nederland. ʼn Vorige besending uit Australië het endofiete bevat wat die perde “mal”gemaak het. “Dit het gelyk asof hulle dronk is, hul bene het oorkruis gevou en hulle het geval. Ons kon gelukkig die probleem identifiseer en geen blywende skade is aangerig nie. Nou plant ons verskillende soorte gras, wat vir sowel die somer as winter geskik is. Ons gebruik feitlik geen medisyne nie, behalwe voorgeskrewe inentings. Ons probeer biodinamies boer en sny al die onnatuurlike byprodukte uit. Boonop gebruik ons ons eie kompos wat in die kampe versprei word om die gras te voed.”

Die perde kry byvoer by hul natuurlike dieet van grasse waarvan die saad ingevoer word.

Tans is daar 30 merries, 24 vulletjies, een hings, Indigo Magic (GB), en ʼn koggelhings wat vir teeldoeleindes ingespan word, op die plaas. Sy vertel dat perdetelers nie eintlik hingste besit nie, maar gewoonlik aandele in een of twee wat gebruik word om die merries te dek. Hulle kan vir tussen 10 en 15 jaar goeie dienste lewer.

Nicolene Dormehl is die stoetbestuurder op die plaas en reeds sedert haar kinderdae dol op perde.

“Ons is vanjaar baie gelukkig omdat Oldlands Stud aangewys is as die Wes-Kaapse teler van die jaar. Dit neem ʼn rukkie voordat hierdie titel in geld omgesit kan word, maar dis voorwaar ʼn groot prestasie waarop ons baie trots is, veral omdat ons die stoet van niks af opgebou het.”

Sanne ken goeie renperde uit ná jare se ervaring. Dit gaan vir haar oor die voorkoms van die perde en die energie wat in hulle opgesluit is.

“Die lyne moet reg wees, spiere goed gedefinieer en daar moet baie energie en afwagting in die dier wees, maar nie wankelrige energie nie. ʼn Mens kan dit ook in hul groot, bruin oë sien,” vertel die kenner wat deernis, liefde en verstaan van perde uitstraal.

Een van die teelmerries op Oldlands in die stalle op die plaas. Hierdie stoeteryse perde het al ‘n lang lys van wedrenwenners opgelewer, insluitend die moeder van Kommetdieding, vanjaar se July-en Met-wenner.

“As ek ʼn perd moet uitsoek, soek ek gewoonlik vir kenmerke in sy bou wat nie teenwoordig is nie, nie noodwendig vir foute of swak plekke nie. Hul gehalte gaan ook 90% van die tyd in by die mond, die gehalte van die kos wat hulle kry. Dit is baie keer meer ʼn kwessie van smaak. Jy kan kyk of hul gewrigte sterk is, die lywe se lyne lank of kort is en of hulle geskik sal wees vir kort- of langafstandwedrenne. Ons weet al dat ʼn kortafstandperd nie met ʼn langafstand een gekruis moet word nie – dit werk net nie.”

Dat hulle al groot name en wenners gehad het, is sy baie trots.

Die perde loop die hele jaar die meeste van die tyd buite op aangeplante en natuurlike weiding. Die merries kom gewoonlik net na die stalle as hulle moet vul of gereed gemaak word vir ‘n veiling.

“Die mees onlangs sukses uit ons stoet is die ma van Kommetdieding, die wenner van die July-en Met-wedloop vanjaar. Dis ʼn sprokiesverhaal en sy moeder is deur ons geteel en is nou ook weer terug by ons. Ons is baie trots op daardie perd. Ons eerste internasionale sukses is Lucky Find wat deur ʼn Arabiese sjeik gekoop is en in die Wêreldbeker-wedren, die duurste wedren in die wêreld met prysgeld van $10 miljoen vir die eerste plek, ʼn vyfde plek behaal het. Ons het ook aandele in ʼn vul, Fly My Flag, wat ons geteel het en wat in Port Elizabeth ʼn baanrekord opgestel het.

Oldlands Stud is vanjaar aangewys is as die Wes-Kaapse teler van die jaar. Die span is, van links, agterste ry: Nicolene Dormehl (bestuurder), Walter Cwele, Jim Wilshire, Ponki Blaai, Petrus Tshayela en Barbara Sanne (eienaar). Voor staan Isak Louw, George Wilshire, Isak Wilshire, Ronnie Snyders en Thembile Sophini.

“Ander suksesvolle perde wat deur Oldlands Stud geteel is, en tans goed op die wedrenbane presteer, sluit in Abiorix, ʼn hings van twee jaar, en Zarina en Netta, albei merries van drie jaar.

“Jy het net drie dinge nodig as jy ʼn renperd suksesvol moet teel. Die eerste daarvan is geluk, as jy dit nie het nie, tel die ander in elk geval nie,” vertel Sanne laggend, die moederfiguur van Oldlands, sterk, hard en trots – nie net op haar perde nie, maar ook op haar kinders en kleinkinders wat as kampioenruiters in verskillende afdelings haar liefde vir die diere voortsit.


EIENAAR: Barbara Sanne | NAAM: Oldlands Stud | AREA: Hemel-en-Aardvallei, Hermanus, Wes-Kaap | KONTAK: 028 312 4581 | www.oldlands.co.za

Filed under: farmers, Niche Farmers

by

Danie is an award-winning journalist with three decades of news writing under his belt. He has a special love for local news, having served as the editor of a community newspaper for seven years. He is has also written for most of the daily newspapers and a variety of online news platforms. People and what make them tick intrigues him, but he is also fond of wine, travel, environmental, investigative and a host of other stories. “Being in the outdoors, with people who has a love for nature in their souls, and to put those feelings and experiences into words, is the ultimate challenge to me as journalist.”

Leave a Reply

Your email address will not be published.