Woorde: Hein Eksteen Fotografie: Michel Dei-Cont
Die mensdom (lees hier spesifiek politici) is geneig om blaam op andere te werp ter wille van selfverontskuldiging. En soos met alle politieke kwessies in ons land, rus die koms van die boerboel óók op Jan van Riebeeck se skouers. Die dag toe hy en Maria voet aan wal sit, was daar ’n bullenbijter kort op hul hakke.
Skaars hier of Brakkenjan Bullenbijter betrek en dek die naaste Africani-doedie (plaaslike skoonhede uit die groep Canis lupus familiaris – Afrika se oerhonde) om sodoende die stamvader van die boerboellandras te word.
Hond en mens se gesamentlike geskiedenis is egter onmeetbaar omvangryker en langer as ons troebel land se politiek. Kort ná die Ystydperk begin sekere ape in Afrika orent loop en astrante vosse in die suidelike dele van Noord-Amerika ontaard in wolwe. Hierdie twee soogdierlyne mik oor die eeue vanaf teenoorgestelde kante van die aardbol stadig maar seker na mekaar toe en ontmoet uiteindelik in Eurasië. Vandaar loop hulle die pad saam.
TERUG IN DIE GESKIEDENIS
Honde is dan ook die eerste spesie wat mak gemaak is, en wel deur jagter-versamelaars ongeveer 15 000 jaar gelede.
Namate die mens in rasse vertak het, so het ook die hond. Die Molosser, waarvan die Boerboel deel is, is een van daardie takke. Die oudste verwysing na dié soort hond is in die naam te vinde. Koning Molossus, nogal ʼn kleinkind van die magtige (en toe ook nie so magtig nie) Achilles van Troje-faam, wat die septer oor die Molossiane in Epirus geswaai het.
Hierdie aloue ras is na Wes-, Sentraal- en Suid-Asië en Noord-Afrika uitgevoer. Soos Brakkenjan het hulle onder die plaaslike bevolking gekuier en hul kleure en haarlengte het verander. Die kenmerklike bou – hoogte, die kolossale koppe en kort snoete – het egter behoue gebly.
‘N BOK VIR ‘N HOND
Een wat hierdie kenmerklike bou en rassuiwerheid in stand hou, is die toonaangewende Koos van der Westhuizen van Middelpos boerboele te Middelpos – daardie klein Roggevelddorp in die middel van nêrens op gelyke afstand tussen Sutherland en Calvinia.
Indien jy die logika volg van hoe hond en mens ontmoet het en hoe die boerboel voorgrootjie hier ter plaatse aangeland het, is dit ook logies dat Koos se boerboeltelery sy oorsprong in ʼn melkbokskou het.
Hy vertel: “My waghond – ek het altyd boerboele aangehou, is in 1997 oorlede. Ek was op pad na ʼn melkbokskou toe ek hoor daar is ʼn teler op Kroonstad wat hondjies te koop het.”
Terloops, Koos was tot onlangs ook ʼn vooraanstaande verskaffer van bekroonde bokmelkkaas.
“Die hondjies se eienaar en sy pêl soek toe hoeka melkbokke en ek gee vir hulle elkeen een en hulle gee my twee honde. Ek weet nou nog nie of ek baie vir my bokke gekry het of die hondjies goedkoop gekry het nie, maar dit was ʼn baie goeie ruiltransaksie.”
In 1998 registreer Koos as ʼn teler. Aanvanklik was die doel om die Boerboele as waghonde te gebruik. As eienaar van die hele dorpie, beskik Koos uiteraard oor vele poste wat behond moes word. En so word die hondskappe jaar na jaar meer.
Hierdie vermeerdering van Canis lupus familiaris is die verantwoordelikheid van Koos se 25 tewe en ses volwasse reuns.
“Natuurlik is daar die jonges wat besig is om groot te word. Indien hulle aan sekere vereistes voldoen, word daar ook met hulle geteel.” As teler is Koos baie ernstig oor hierdie vereistes.
KIES REG EN LEI OP
“Die hond se temperament is van die uiterste belang. Mense dink ʼn groot hond is jou vriend. En dit is so. Maar onthou daardie hond bly ʼn dier. Die boerboel is bekend vir sy goeie temperament. Maar almal is nie so ingestel nie. Daarom moet die telers baie goed kies met watter honde hulle teel.
Die ander ding is: honde is tropdiere en hulle beskou die eienaar as deel van die trop. Maar die eienaar moet die alfapersoon wees.”
Kenners reken die gevaarlikste hond is ʼn bang hond sonder grense. En hulle is gewoonlik bang omdat hulle afgeskeep of mishandel word. Daarom is dit kardinaal om Brakkenjan van kleins af behoorlik op te lei.
Volgens alle bronne is dit nie juis moeilik nie. Boerboele is hoogs intelligent en leer dus vinnig en maklik. Hulle is van nature saggeaard, met laer energievlakke. En hulle is mal oor familie – dit sluit ander honde en katte in.
Die Eerste Hondegebod is om die hiërargie in en om die huis baie duidelik te maak. Mense, selfs babas, is hoër geplaas as die hond. Jy bevestig gereeld wie is baas. En beloon goeie gedrag met liefde. Geen ander wese (dier of mens) is so lief vir liefde soos boerboele nie.
“Die ander ding: die eienaar moet natuurlik oor die temperament beskik om ʼn sterk en goeie leier te wees. Die dag wanneer die boerboel die leier van die trop is, sit jy met probleme.”
Koos vors voornemende kopers goed na.
“Indien jy op sosiale media sien ʼn familie is heg en doen baie goed saam weet jy die hond sal goed inskakel.”
SO MOET HULLE LYK
Bo en behalwe ʼn goeie geaardheid en maniere is daar ander eienskappe waaraan die perfekte boerboel moet voldoen. Kyk hierna wanneer jy die Eben Etzebeth onder die honderyk gaan uitsoek.
“Die hond se bouvorm moet in balans wees. Met ander woorde, die hond moet steeds van so ʼn aard wees dat hy sy prooi in die natuur sal kan vang. Daarom doen ons toetse om seker te maak my honde se heupe is byvoorbeeld behoorlik aangeheg. Die boerboel is ʼn swaar hond en indien die dier nie perfek is nie gaan hy of sy mos nie vir tien of meer jaar gesond kan lewe nie.”
Wanneer Koos na ʼn hond kyk, som hy die dier baie vinnig op.
“Die skof en kruis moet ewe hoog wees. Sy toplyn moenie ʼn duik maak nie – die rug moet dus reguit wees. Die bors moet wyd en oop wees. Die voorbene moenie teen mekaar druk nie. Van die voorkant bekyk, moet die bors nie ʼn boog na bo maak nie. Eerder na onder. Van die kant af moet die bors by die voorbene verby staan. Dit is belangrik. Wanneer boerboele in ʼn geveg betrokke raak, stamp hulle die teenstander juis met die bors. Indien die bene te voor is, stamp hy dus met die bene en kan hy beseer word.”
Ja, al bogenoemde is belangrik. Maar wanneer leke na die boerboel kyk, wat tref die oog eerste?
“Die boerboel se blokvormige kop met ʼn breë bek en verkieslik nie lang lippe wat by die onderkaak verby hang nie.”
ʼn Groot deel van Koos se sukses oor die jare is sy geloof in ʼn baie sterk moederlyn. Die reun kan nog gemiddeld wees, maar by die teef is dit ononderhandelbaar. Sy moet natuurlik geboorte kan skenk aan redelike groot werpsels en baie goed na hulle kan omsien.
“Ek is nie ʼn puppy-fabriek nie. Ek teel honde juis om aan ander telers te verkoop.”
Gaan loer in op Middelpos, bly oor in die hotel en bewonder Koos se telery en jy sal presies sien wat hy bedoel met bykans perfekte boerboele.
NAAM: Koos van der Westhuizen | AREA: Middelpos, Noord-Kaap | KONTAK: +27 82 495 6735