Die voorbladboer van Grond tot Mond se nuutste uitgawe is Jesse Christelis van The Donkey Dairy. Tussen Johannesburg en die Magaliesberg boer Jesse met donkies, wat enig in sy soort in Suid-Afrika is. Kleopatra en Hippokrates het donkiemelk gebruik vir die instandhouding van skoonheid, en vandag maak The Donkey Dairy velsorgprodukte uit hierdie vloeibare goud.

Hieronder is ‘n voorsmakie van die uitgawe se artikels:

Nuwe landbou nismark in hondekos?
Die mark vir troeteldierkos en ander produkte, is besig om sterk te groei. Vind uit watter byprodukte kan in troeteldierkos gebruik word en hoe om elke geleentheid in die nuwe mark te benut.

Planne met swamme
Die misterie van sampioene fassineer vele plantkundiges, maar hierdie vroueboer het dit haar roeping gemaak om die kuns van sampioenproduksie onder die knie te kry. Ons loer by Chanmar Mushrooms in om die heerlike resultate van haar arbeid te proe.

Biljoene bye in die vrugtebedryf
Hy wil almal van die bytjies en die blommetjies vertel, sê Jaco Wolvaardt. Die feit van die saak is dat hierdie klein werkers allernoodsaaklik is vir die voedselproduksieketting en hulle belange moet beskerm word. Hy vertel ons wat hy daaromtrent doen.

Five winner get each a case of Darling Cellar wines, which include:
1 bottle MCC Blanc de Blanc Brut, 1 bottle MCC Brut Rose, 2 bottles Chocoholic Pinotage, 1 bottle De-Alcoholised Sparkly Rose and 1 bottle Old Bush Vines Chenin Blanc.
Click here to enter: https://grondtotmond.com/subscribe/

Is daar so iets soos ʼn tipiese boer?
Hulle werk almal hard en is altyd besig, dit weet ons. Maar wat gee hulle ʼn sagte trek om die oë? Waaroor droom hulle? Ons vra ʼn bietjie uit.

Die wonderlike melk van donkies
Volgens ʼn volksliedjie is die donkie ‘n wonderlike ding, want hy rol in die sand en vreet ‘n koerant. Nie die donkiefamilies van The Donkey Dairy nie. Die wonderlike ding hier is waarvoor hulle melk aangewend word.

Wingerdskat uit die donkerte van die nag
Graham Beck-wyne bevat natuurlike borrels en sedert die tagtigs het hierdie ervare span geleer hoe om te keer dat die Bolandse hitte nie die sap uit druiwetrosse tap nie. Hulle deel hul nagtelike eskapades met ons.

In pas met die veld
Met sy roer en sy honde die veld in Leslie van der Merwe weet hoe moeilik dit is om kransduiwe met ʼn windbuks te jag – ondanks die hulp van sy getroue pointers. Hy verduidelik die belangrikheid van jag vir die landboubedryf.

Fyn kosse met fyn bosse
Fynbos se medisinale voordele is welbekend, maar Giselle Courtney is gretig om almal wat lief vir die Kaapse bossies is aan die besondere geure voor te stel – veral wanneer dit by kos kom.

Son- of oondgebakte vrugte
Daar is soet steenvrugte in die Koo-vallei waar die Van Deventers meestal sonenergie gebruik om hul heerlike droëvrugte te verwerk. Hulle het egter onlangs ook splinternuwe droogoonde bygevoeg en nou wikkel hulle produksie behoorlik.

Sjef JAN se tafel
SA se eerste sjef bekroon met ’n Michelin-ster, Jan Hendrik van der Westhuizen, deel sy kosfilosofie met ons. Sy passie voer hom mee van die Franse Riviera tot in Kaapstad en selfs tot diep in die Karoo.

Bure van nature
Oudredakteur Hennie van Deventer weet hoe om ʼn storie te vertel. Maar hierdie boek is nie vol stories nie, dit bevat staaltjies van ware ervarings en diepe oortuigings oor die toekoms van die planeet.

Dit borrel behoorlik appels
Die Whitfields geniet die vonkelende vars lug van die Ceresvallei en dit inspireer hulle om met siders te eksperimenteer. En na ‘n paar jaar se weer-probeer, spog Loxtonia Cider vandag met ‘n kroon van sukses.

ʼn Plaas op ʼn winkelsentrumdak?
Hierdie boer voer baie planne uit en sy het groot drome. Sommerso in die middestad kweek sy hidroponiese blaarslaai en sprietuie en dra sy haar kennis aan ander leergieriges oor.