Vanjaar se Suid-Afrikaanse Kaasfees van 30 April tot 2 Mei 2022 op Sandringham buite Stellenbosch was ‘n reusesukses gemeet aan die koopkrag van feesgangers en tevrede uitstallers.
Vanjaar se fees is deur 6 000 mense bygewoon met besoekers wat tot 2000 per dag beperk moes word. ‘n Opwipfees is ook van 23 tot 24 April 2022 op Groote Post buite Darling aangebied en is deur meer as 3 000 mense bygewoon.
“Ons glo ons het met innoverende oplossings vorendag gekom om ‘n suksesvolle fees te kon aanbied binne die beperkende Covid 19-regulasies wat steeds van toepassing is op die geleentheidsbedryf,” sê Johan Ehlers, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri-Expo.

Volgens die Wes-Kaapse Premier Alan Winde is vanjaar se fees ‘n groot teken dat die ekonomie weer aan die gang kom. “Ons móét vorentoe beweeg, ons kan nie bekostig om dit nié te doen nie, veral vir werkskepping. Watter beter manier is daar nie om ‘n fees te hou as ‘n vertoonvenster van al ons landbouprodukte, en om mense byeen te bring en dit met musiek te vier nie. Vanjaar se SA Kaasfees-opwipmodel is ‘n kans wat Agri-Expo gewaag het om hierdie belangrike fees weer aan die gang te kry. Dankie aan hulle vir hierdie nuwe idee en wat dit beteken vir die platteland se ekonomie én gees.”

BUFFEL-MOZZARELLA EN HALLOUMI VLIEG VAN DIE RAKKE
Feesgangers kon kies en keur uit sowat 120 uitstallers se skeppings, waaronder ‘n aantal klein kaasmakers wat as deel van die #SupportSmallCheeseMakers-projek, in vennootskap met die Wes-Kaapse Departement van Landbou (WKDL), genooi is om hul unieke handgemaakte produkte bekend te stel. Besoekers kon ook vanjaar weer as deel van die Cape Made: Taste the Alternatives-projek, in vennootskap met die WKDL, alternatiewe nisprodukte uittoets en koop.
Menige uitstallers se produkte het heeltemal uitverkoop met besonderse produkte, soos Zandam se buffel-mozzarella, Jabulani Chigara se draakvrugte, Klein River Cheese se wêreldbekroonde verouderde Gruberg, Rockvale én Foxenburg se bokmelkkase, Tlaquepaque se halloumi, Karootjie van Calitzdorp se roosmaryn-en-rooiwynkruiesout asook die Wes-Kaap Heuningbostee-koöperasie se tee, wat van die rakke gevlieg het. “Ons was aangenaam verras met die ondersteuning”, sê die distilleerder Robyn Hartman van die splinternuwe 9 Orphans Distillery. “Ons het reeds sowat die helfte van ons heel eerste stooksel van turksvy-gin en akkergegeurde eikesap-gin, van 360 bottels elk, by die fees verkoop”.




Ehlers sê dit is wonderlik vir Agri-Expo om ‘n bydrae te kan lewer op die ekonomiese herstelpad van groot en klein besighede. “Die waarde van die SA Kaasfees lê juis opgesluit in die platform wat geskep word vir besighede, van klein entrepreneurs tot nasionale maatskappye, om interaktief met verbruikers om te gaan en hul produkte bekend te stel asook om die vele bemarkingsgeleenthede wat die fees bied, te benut.”
Die Standard Bank Travel & Taste-ervaring was ‘n groot gunsteling onder besoekers. Bekende sjefs soos Tiaan Langenegger van kykNET se Tiaan Proe, Jenny Morris en Isabella Niehaus, asook die akteur Neels van Jaarsveld, het feesgangers vermaak terwyl hulle van Suid-Afrika se top Chenin Blancs en Pinotage tot boetiekbier en -gin saam met ‘n verskeidenheid kase van gehalte kon proe.

Five winner get each a case of Darling Cellar wines, which include:
1 bottle MCC Blanc de Blanc Brut, 1 bottle MCC Brut Rose, 2 bottles Chocoholic Pinotage, 1 bottle De-Alcoholised Sparkly Rose and 1 bottle Old Bush Vines Chenin Blanc.
Click here to enter: https://grondtotmond.com/subscribe/
Die SA Kaasfees vind volgende jaar weer oor die langnaweek van Saterdag 29 April tot Maandag 1 Mei 2023 plaas. Besoek www.cheesefestival.co.za vir meer inligting, volg die SA Kaasfees op Twitter @SACheeseFest, Facebook @SACheeseFestival of Instagram @sacheesefest, of kontak Agri-Expo by tel 021 975 4440 of admin@agriexpo.co.za