Farm to Fork, farmers, Sustainability
Leave a comment

Die gee en neem van die natuur

Woorde: Hein Eksteen Fotografie: Michel Dei-Cont

Om te jag of nie te jag nie is bykans dieselfde kaliber tameletjie as dié wat Hamlet in die gesig staar wanneer hy peins: to be, or not to be, . . .

JAG VS. SLAG

Wysgere leer ons egter daar is drie kante aan elke argument verbonde: my kant, jou kant en die waarheid. Ek kan argumenteer dat dit oneties is om onskuldige wild dood te skiet, te eet en hul koppe teen mure te monteer. Jy kan daarenteen debatteer dat die onskuldige hoender, skaap, bees en vark dieselfde paadjie loop wanneer hulle ter slagting aangejaag word. Die waarheid: sedert boere gedurende die 1970s besitreg van wild ontvang het, het die aantal diere landwyd van ʼn skamele 500 000 eenhede tot ongeveer 20 miljoen toegeneem. Waar hulle vroeër waardeloos was en om weiding meegeding het, het wild tans waarde. Vra enige wildboer of sy boerdery sonder jag kan voortbestaan en die dawerende antwoord is: Nee!

Bogenoemde stelling sluit beslis nie suiwer trofeejag in soos dié van leeus, luiperds, olifante, renosters et al nie. Selfs in die Oos-Kaap kan jy vir 400 Amerikaanse dollars ʼn bobbejaanmannetjie as trofee skiet en daardeur die trop se algehele sosiale infrastruktuur verwoes.

Wingshooter, Leslie van der Merwe, spandeer die grootste gedeelte van sy lewe in die veld saam met sy honde Ruger en Jeffery.

Natuurliefhebber en jagter (ja, die twee begrippe kán lepellê), Leslie van der Merwe, is dit eens in sy boek South African Gamebird Recipes – a wingshooter’s delight: “Dit is belangrik om jag teen ʼn breër agtergrond te bekyk. Vele vee- en selfs graanplase het oor die afgelope 30 jaar grensondernemings geword en is omgeskakel tot wildplase. Die rede hiervoor is eenvoudig. Wildproduksie kan in baie gevalle aansienlik winsgewender wees as tradisionele boerderypraktyke waar die grond nie meer oor die gewenste drakrag beskik nie. Hierdie verandering in grondbenutting het ons land se biodiversiteit op onverwagte maniere verryk. Nie net die groot hoeveelhede wildsbokke wat in gebiede soos Limpopo- en Noordwesprovinsie hervestig is nie, maar ook insek- en plantlewe wat floreer. Minder gifstowwe laat groter diversiteit en ʼn gesonder natuur toe. So ook die vermindering van kunsmis wat ons riviere en damme binnevloei.”

WIE TREK VOORDEEL?

Volgens Leslie spandeer buitelandse trofeejagters en plaaslike vleisjagters jaarliks biljoene rand in Suid-Afrika. Dan is daar natuurlik ook byvoordele vir toerisme en die teel en verkoop van lewendige wildsbokke. Met betrekking tot omgewingsbewustheid is die gesegde, if it pays, it stays, hier geldig. Dit sluit nie net die manjifieke gemsbok in nie, maar ook die beskeie tarentaal.

En dit is juis die beskeie tarentaal en ander gevleueldes waaroor Leslie se passie vir jag handel: gamebirds en wingshooting.

Ons ontmoet Leslie en sy wederhelf, Monique, op die plaas Waterhaven, noord van Sandton in Gauteng, waar hulle ʼn kamptafel gedek het en spyse en versnaperings uit koelbokse voorsien. Ons maak ons gerieflik en die twee Duitse korthaar-pointers, Ruger en Jeffery, sit ongeduldig en ongedweë maar gedienstig, eenkant en wag vir die aksie om te begin. Hulle weet hier kom ʼn ding.

Jag is geneties in pointers gesetel en hulle is van nature nie knalsku nie.

EK EN MY HOND IN DIE BOSVELD

Maar eers vertel Leslie dat hy van kleins af sy jeug in die veld saam met sy honde verspil het. Later het hy dierkunde aan die universiteit studeer en gedurende hierdie tyd Botswana en Namibië gereeld besoek.

“Daar het ek diere slegs met my kamera geskiet. Aan die einde van my studies moet ons egter ʼn dier opstop. Dit is nou nie soos ʼn taksidermis dit sou doen nie. Eerder as ʼn wetenskaplike projek. Ek het uiteindelik ʼn paar hase geskiet en ʼn stukkie biochemie het daardie aand in my gekliek. En net daar het my jagdinge begin. Jag is baie diep in my. Amper soos ʼn genetiese terugkeer na my oerwese en daarom spandeer ek soveel tyd as moontlik in die bos om die verlore 28 jaar wat ek nie gejag het nie, in te haal.”

Gun dogs is van kardinale belang tydens wingshooting. Hulle soek en vind die voëls en gaan sit on point (voorvoet in die lug) tussen een en drie meter van hulle af.

Alhoewel hy gereeld wildsbokke skiet, bly wingshooting sy voorliefde. Die rede hiervoor is ooglopend. Leslie bly nou eenmaal ʼn mens en dit is eie aan die homo sapiens se natuur om dinge so moeilik moontlik te maak – ek is seker hy sal eerder die woord ‘uitdagend’ inspan. Volgens hierdie benadering kan jy ʼn stilstaande wildsbok oor ʼn afstand van honderde meter met ʼn jaggeweer en teleskoop pot. On the wing skiet jy met ʼn haelgeweer na ʼn voël wat onverwags en rats opvlieg, draaie en swaaie gooi en gereeld met al sy vere op hul plek wegkom.

“Dit is juis die beskeie tarentaal en ander gevleueldes waaroor Leslie se passie vir jag handel.”

Billikheidshalwe moet ons die volgende toegewings aan Leslie maak. Indien jy ʼn eland of kudu skiet, sit jy met dae se vleisverwerking as jou voorland. En jou vrieskas is vol en daarmee word jou volgende jag op die lange duur geplaas. In die geval van wingshooting kan jy heel moontlik alles wat jy vandag geskiet het oor die volgende klompie dae verorber. As jy gelukkig is . . .

NIE SO MAKLIK SOOS DIT LYK NIE

“Dit is nie waaroor dit gaan nie. As iemand jou aan die einde van die jag vra of jy gelukkig was, lê die geluk nie in die aantal voëls wat jy geskiet het nie, eerder in die wete dat jy in die veld saam met jou honde was. Jy kom dalk met leë hande terug, maar jou hart is gevul met vreugde.”

Gesprekke rondom wingshooting keer immer terug na die honde. Ruger en Jeffery lyk hoeka asof hulle die ritteltit kry, maar bly sit gehoorsaam. Soos in die geval van skaaphonde is hierdie ras nie stoeplêers nie. Hulle benodig ʼn aktiewe lewe en kan van douvoordag tot laatmiddag jag sonder om spoed te verloor. En alles bloot in ruil vir liefde en menslike geselskap.

Tydens die skiet van watervoëls beland van hulle uiteraard in die water en moet gehaal word. Hier verfyn Jeffery hoeka sy tegniek.

“Oukei, nou het jy jou geweer en jou honde en jy het ʼn redelike idee waar die voëls is. Terloops, hierdie twee honde is ligjare meer gedissiplineerd as my kinders. Hoe dit ook al sy, die honde hardloop diagonaal heen en weer voor jou uit en teen die wind. Hulle ruik dan die voëls – iets wat in hul gene gesetel is en met dissipline bevorder word – en hulle gaan staan on point. Dit beteken hulle gaan staan doodstil en bly so totdat jy by die hond aankom. En jy weet die voëls is tussen een en drie meter voor jou.”

Leslie is die enigste lid van sy familie wat jag en kan nie verstaan waar die ander die pad byster geraak het nie.

Jong hondjies (dit is nou pointers) kom op ouderdom ses tot 10 weke by die nuwe eienaar aan. Selfs in daardie jeugdigheid sal die hondjies instinktief point indien daar ‘n vlerk van ʼn voël voor hulle neergesit word. Die dissipline begin vroeg. Die bevele ‘sit’ en ‘kom’ word van die begin af aangeleer.

“Alvorens die hondjie kos kry, moet hy eers sit. Iemand sal die hond vashou terwyl ek sy kos verder weg neersit. Sodra ek sê ‘Kom’, dan kom hy. Nie vroeër nie.” Ruger is reeds dertien jaar oud en is steeds ʼn aktiewe jaghond.

HONDE WAT NIE WIL HOOR NIE

“Die ou word doof, maar ek weet nie altyd of hy agter hierdie gestremdheid skuil nie. Ek glo hy verstaan die verskil tussen hoor en luister. Eersgenome geskied wel, maar laasgenome . . . Hy sal byvoorbeeld maak asof hy my nie hoor wanneer ek hom roep nie, maar sodra ek die bakkie se deur oopmaak, staan hy langs my.”

Pointers benodig ʼn aktiewe lewe en kan van douvoordag tot laatmiddag jag sonder om spoed te verloor. En alles bloot in ruil vir liefde en menslike geselskap

Die honde is van nature ook nie knalsku nie. “Indien jou hond wel knalsku is, is daar feitlik geen kans om die dier te rehabiliteer nie.” Alhoewel die jag van byvoorbeeld tarentale teen die intuïsie indruis, is dit voordelig vir die voëlbevolking. Soos die winter kouer word, so word die voëls se kos en beskutting skaarser en die hele bevolking stres.

Leslie se wederhelf, Monique, is dit eens: al keer jy na die jag met leë hande terug, het jy die wete jy het die dag saam met die honde in die veld deurgebring en jou hart is gevul met vreugde.

“Ons eerste jag op plase begin teen die einde van Mei en die laaste in Augustus. Gedurende daardie tydperk sien jy hoe die voëls se energievlakke kwyn. Die vermindering van die getalle het die voordeel dat koswedywering onder die voëls verminder. Met die koms van lente is dit ooglopend hoeveel gesonder en viriel hulle is. En gereed vir die volgende paartyd.”

KOEËLS FLUIT VERBY VOËLS

Die kransduif is egter die grootste uitdaging om te skiet en by uitstek die voorkeur van buitelandse jagters. “Hulle kan baie maklik in ʼn pes ontaard aangesien hulle sonneblomlande vinnig verwoes en boere baie skade berokken. Daarom kan hulle dwarsdeur die jaar geskiet word.” Dit is egter makliker gesê as gedaan. Die kransduif verstaan die kuns van ontduiking meesterlik. “Die snelheid waarteen hulle vlieg en hul akrobatiese maneuvers vereis dat die jagter sy storie moet ken. Jy mik byvoorbeeld effens voor die voël. Tydens die oomblik wat die brein die sein na die snellervinger stuur, swenk die voël en jy skiet ʼn gat in die lug.” Leslie skiet gelukkig nie te veel gate in die hemelruim nie en ons sit aan om van sy disse te geniet.

Daar is ’n grap oor hoe jy tarentaal voorberei. Jy braai uie en knoffel, gooi aftreksel en kruie by, plaas die tarentaal in die pot met ʼn baksteen langsaan. Prut vir drie uur, gooi die tarentaal weg en eet die baksteen. Leslie lag en reken ʼn stuk treinspoor werk net so goed.

FYNPROEWERWILDSGEREG

Hy bewys egter die teendeel. Die eerste is ʼn terriengereg, gefatsoeneer uit springbokboud, rooiboklewer, bosduif, natuurlik tarentaal, pimperneute, bosbessies wat in jenewer geweek is en jenewerbessies. Voortreflik. Daarop volg bunny chow gemaak van kerrierige springbokboud. Leslie bak die broodjies in blikbekers. Klein as voorgereg en groot as hoofgereg.

Soos enige etiese jagter, glo Leslie dit wat jy skiet moet jy eet. Hierdie terrien is gemaak van onder andere van tarentaal en bosduif wat hy self gepot het.

Terwyl ek en Mike (ons fotograaf) oppak, stap Leslie en Monique met Ruger en Jeffery die veld in. Leslie, met ʼn fluitjie is sy mond, wys vir Jeffery om langs hom te sit. Hy maak so. Leslie wys in ʼn rigting skuins voor hom en daar gaan Jeffery. Die fluitjie blaas en brakkenjan gaan sit. Sy oë op Leslie. Die fluitjie word weer geblaas en Jeffery hol in die rigting wat Leslie aandui. Ons ry met die wete in my hart dat ek as ouer ook gefaal het wat dissipline aanbetref. Natuurlik ook my eie ouers.

Bunny chow word van kerrierige springbokboud gemaak. Leslie bak die broodjies in blikbekers. Klein as voorgereg en groot as hoofgereg.

BRAAI TAREBTAALFILETTE TANDOORI-STYL

Aangesien tandoor-oonde skaarser as tarentaaltande is, smaak hierdie speseryagtige dis voortreflik oor hardehoutkole gebraai. Hoe langer die vleis gemarineer word, hoe sagter maak die jogurtmengsel die vleis. Oppas, hierdie pittige dis kan maklik doodgebraai word.

Skiet jagters groot bokke, sit hulle vir maande met vol vrieskaste. Met disse soos hierdie terrien en bunny chow maak wingshooters korte mette met die dag se jagsak.

Bestanddele:

  • 2 eetlepels olyfolie
  • 1 teelepel gemaalde koljander
  • 1 teelepel gemaalde komyn
  • ½ teelepel gemaalde borrie
  • 2 teelepels cayennepeper
  • 1 eetlepel kerriepoeier
  • 2 eetlepels soetpaprika
  • 1 koppie ongegeurde jogurt
  • 2 eetlepels suurlemoensap
  • 4 gemaalde knoffelhuisies
  • 2 eetlepels gemaalde vars gemmer
  • 1 teelepel sout

Metode:

Verhit die olie in ’n pan oor matige hitte en voeg die koljander, komyn, borrie, cayennepeper, kerriepoeier en paprika by. Roer gereeld sodat die geure vrygestel word (ongeveer 2 tot 3 minute). Laat die mengel heeltemal afkoel. Klop die verkoelde speserymengsel saam met die jogurt en meng die suurlemoensap, knoffel, sout en gemmer by. Plaas die tarentaalfilette in die mengsel en verkoel vir 2 tot 4 uur. Smeer olie aan die rooster en braai oor matige kole –ongeveer 5 minute aan elke kant. Maak seker die vleis brand nie. Bedien saam met ’n groenslaai wat komkommer, rooiuie, avokadopeer, rooiwynasyn en olyfolie insluit.


SOUTH AFRICAN GAMEBIRD RECIPES & EVERYDAY VENISON

Fynproewers vind ‘n spesiale aanklank met wildsvleis want daar is geen ander diereproteien wat dieselfde geur en kwaliteit ewenaar nie. Wildsvleis is natuurlik aangepas in hul omgewing en vry van hormone en antibiotika. Niks is meer vrywei en organies as wilsvleis nie. Bo en behalwe Leslie se beroep as jager is hy ook ‘n bobaaskok met twee boeke reeds onder sy blad. Everyday Venison bevat meer as 50 grond tot mond resepte wat maklik is om te maak vir die jagter of as jy dit by jou slaghuis koop.

South African Gamebird Recipes bevat 40 resepte en illustrasies in stap vir stap instruksies hoe om jou eie voëls te slag, hang en gaar te maak. Kontak Leslie om jou getekende boek te ontvang by 082 577 3365, of stuur ’n epos na lesliej375@outlook.com Die boek kos R350.00 (koerierkostes van R99 uitgesluit). Of kry dit by Safari and Outdoor-winkels landwyd www.gamechef.co.za


EIENAAR: Leslie en Monique van der Merwe AREA: Sandton, Gauteng PRODUK: Jagekspedisie, vleisverwerking en natuurbewaring

Leave a Reply

Your email address will not be published.