Deur Hein Eksteen, Fotografie: Michel Dei-Cont
Ry met die kronkelpad op na Buysdorp in die Soutpansberge. Hou stil om oor die vlaktes te kyk en jy sal soos Mike (ons fotograaf) onteenseglik aankondig: “Hier wil ek vir ewig bly.” Ongetwyfeld.
Met jou rug na die berge gekeer, tuur jy só ver die toekoms in jy verbeel jou jy sien ʼn land sonder korrupsie en die gepaardgaande armoede en hopeloosheid, bevry van die ondeurdagthede verbonde aan Taalpale en Vlagpale (bykans so kortsigtig soos die ou grappie wat vertel dat PW die swart mense die see wou injaag, maar dit kon nie, want swart mense was nie op die strande toegelaat nie), waar daar groter gelykheid tussen die armes en die rykes bestaan, waar Fikile sy reg tot stilswye uitoefen, Carl ophou cammo dra, volksleiers nie miljoene rande onder hul matrasse wegsteek nie en Juju eerder MCC in plaas van Franse sjampanje drink en vellies dra (David Kramer het ons mos hoeka aan Rooies bekend gestel).

HUIS EN HAARD VIR ALMAL
Verder op teen die voorheuwels kom jy die eerste huise teë. Party nederig, ander meer gegoed. Maar almal by mekaar. Asof Buysdorp nie verdeeld is tussen ʼn bo- en onderdorp nie. Gelykmatigheid. Vee stap langs die paaie en tussen die huise en jy word oorweldig deur ʼn gevoel van vreedsaamheid. ʼn Ouderwetse herdersgemeenskap. Amper soos Van Gogh se Koringlande met Sipresbome – die groen landskap in die voorgrond, die dramatiese wolke en berge agter, met Vincent se ore beide nog waar hulle hoort.

Aldrin Lawrens se huis is omtrent die hoogste een teen die voorheuwels en dit kyk uit oor die 11 000 hektaar gemeenskapsgrond. Hy reken: “Ek staan hier op my voorstoep en ek kan presies sien hoe dit daar onder met my boerdery gaan.”
En boer word hier geboer. Miskien nie op die megaskaal van sekere van die omliggende produsente nie. Egter met dieselfde (indien nie meer nie) deursettingsvermoë, vernuwing, geesdrif en liefde vir die grond. Waar die Buysgemeenskap, die legendariese Coenraad de Buys se nasate, tot kort voor 1888 bykans reddeloos en sonder grond was, skenk President Paul Kruger toe vier plase aan hulle as dankbetuiging vir die hulp wat hulle aan die Voortrekkers, onder andere Louis Trichardt, verleen het. En dit is belangrik om hierdie skenking in die tydgees te verstaan.
Die Buysvolk is en was natuurlik in daardie tyd ook rasgemengd en rassevooroordeel is reeds so oud soos die Soutpansberge. Die Voortrekkers het uit die Kaap gevlug om die Britse juk af te gooi, maar ook oor die opheffing van slawerny. Eweneens het die Dorslandtrekkers gedeeltelik die pad gevat omdat swart mense in die destydse ZAR groter gelykheid bekom het. Hier sit die Buysvolk dus haweloos in ʼn wêreld waarin hulle nie juis plek het nie. Die ironie is skreiend: die Buysvolk bekom toe hul grond oor die hulp verleen aan mense wat in dier voege nie juis ooghare vir hulle gehad het nie.
HUL EIE BLYPLEK
“Die Buys-familie-tribe, die naam op al ons titelaktes, bestaan uit Buysdorp hier teen die berg, dan Mara, daar by die polisiestasie, Buyshoek, waar ek boer, en verder weg, Buysplaas.”
Om grond hier te kry, moet die aansoeker uiteraard ʼn Buys-afstammeling wees, of met een getroud wees. Op sterkte daarvan kan aansoek vir ʼn woonperseel gedoen word. Aspirant-boere doen dan weer aansoek vir ʼn landeryperseel.
“Vroeër jare was almal maar landbouers, want hier was nie ander werk nie. Jy moes plant om te lewe. Daardie jare het die mense meer reën gekry en het droëland met mielies en groente en vrugte geboer. Maar ál die droogtes het die boerdery tot ʼn mate laat uitsterf.”
As gevolg hiervan gaan soek die mense elders ʼn heenkome. Baie van hulle het wel huise op Buysdorp en kom kuier gereeld. Die ouer siele kom tree graag hier af.
KINDERS MOET INSPRING
“My pa was lewenslank ʼn bestaansboer en ons seunskinders moes hom help. Sodra jy die middag klaar is met skool, is jy in die landerye om te skoffel en nat te lei. Daai jare het ons nog vloedbesproeiing gedoen. Oestyd moes ons inspring. Pa het altyd ook ʼn klompie bees aangehou en ons het hulle soggens bymekaarmaak en gemelk voor ons skool toe is. Dit was my bekendstelling aan boerdery.” Gedurende Aldrin se jongdae het die plaaslike skooltjie net opvoeding tot standerd ses aangebied.
“Weens die politiek van daardie tyd [1980’s] was daar nie bruin hoërskole naby nie. Nie eens Pietersburg het een gehad nie. Die meeste kinders is dan na skole in die stede waar hulle in koshuise gebly het. My oudste suster was egter in Bloemfontein en ek het by haar gaan bly. Ná matriek is ek RAU toe. My pa het geglo ons moet gaan studeer om iets agter die naam te kry. Maar nou ja, daardie tyd was beroepskeuses baie beperk. Jy kon óf ʼn polisieman, ʼn onderwyser óf ʼn verpleegster word.”
Aldrin se hart was egter nie in sy studies nie. Hy was ʼn man wat wou werk en geld verdien om selfstandig te wees. En nie een van die beroepe tot hom beskore, was goudmyne nie. Intussen ontmoet hy toe sy aanstaande wederhelf, trou en begin met ʼn gesin.
“My pa was teen daardie tyd reeds bejaard en hy het gevoel dit sou baie hartseer wees indien sy boerdery saam met tot tot ʼn einde kom. Ek reken dis waar die saadjie geplant is. Kort daarna besef ek ek wil nie my kinders in Johannesburg grootmaak nie en hier is die lewensgehalte net soveel hoër.”

‘N HART WAT NA GROND HUNKER
Aldrin se vrou, Juta, was natuurlik ʼn stadsmeisie wat nog nooit eens van Buysdorp gehoor het nie. Maar een kyk na die plaas, die gemeenskap en omgewing en sy was bankvas agter manlief en sy toekomsplanne. Soos wysgere sê: ʼn man met groot drome het ʼn ruimdenkende vrou nodig. Soveel te meer wanneer die man op ʼn klein skaal ver van alles af wil boer.
“Aanvanklik het my pa groente geplant en ʼn markstalletjie in Louis Trichardt bedryf en ek het dit oorgeneem. Maar die munisipaliteit verkoop toe die perseel en daar is my besigheid tot niet.”

Aldrin volg toe sy pa se raad en begin met braaikuikens boer. Vervolgens begin hy kool op aansienlik groter skaal aanplant om aan smouse te voorsien.
“Maar die uitdagings raak ook meer. Jy sit byvoorbeeld met te min produkte om hulle met ʼn vragmotor na die groot marke toe aan te ry. Aan die anderkant sit jy weer met te veel om plaaslik van die hand te sit. En jy kompeteer mos met baie ander kleinboere.”
DIE BESTE BEESTE
Vandaar brei Aldrin uit na vleisbeeste. Aanvanklik met Bramane gekruis met Simmintalers. En later selfs die Bonsmara – Professor Bonsma het hoeka hierdie gesogte ras in die Mara-omgewing ontwikkel. Nou plant Aldrin aartappels. En die logiese vraag is, hoekom juis hierdie wortelgroente?

“Ek vra myself gereeld daardie vraag af.” Hy doen ook toe aansoek vir 30 hektaar landerye, ontbos die grond en doen die nodige ontwikkeling.
“Intussen het ek bevriend geraak met ʼn kommersiële boer, Japie van der Goot, en hy het my gehelp met die beplanning en die infrastruktuur. Jy moet verstaan, geld was ʼn probleem. Ek het nie titelaktes nie, want die grond behoort nie aan my nie. Dus kon ek nie ʼn banklening kry nie.”
Met die bietjie kontant tot sy beskikking, begin Aldrin toe om drade te span en boorgate te sink. In 2016 kom die owerhede tot sy redding en kon hy die infrastruktuur klaarmaak.
“Die water tot my beskikking is gemeet en hulle bevind toe dat ek genoeg het om ʼn spilpunt op te sit. Indien jy nuwe grond met genoeg water het, is aartappels jou winsgewendste gewas om te plant.”

Alles goed en wel. Maar die aartappelboer se grond moet ʼn minimum van vier jaar dormant lê alvorens daar weer geplant word. Aldrin het agt lande waarvan hy dus twee op ʼn slag bewerk.
“Aan die anderkant, nadat jy die aartappels geoes het, is daar nog soveel kunsmis in die grond dat jy suikermielies, -boontjies en botterskorsies kan plant. En die suikermielie en -boontjie sit weer van die goete wat die aartappel uit die grond gehaal het, terug.”

PUT SONDER WATER
Hierdie meewerkende gewasse sit egter nie die water terug wat tydens aanplanting gebruik is nie en Aldrin se landerye begin dors ly. Ná 11 gate onsuksesvol geboor is (waarvoor die boer moet betaal), besef hy die enigste uitweg is om behoorlik na sy water om te sien. Daarom plant hy nou slegs eenmaal per jaar.
“Volgens daardie benadering sal my water nog baie jare lank genoegsaam wees.”
Ek wonder heimlik of die ruimdenkende Juta nie straks agter die plan sit nie.
Nietemin, daar kan nie by die Buysgemeenskap gekuier word sonder om oor Coenraad de Buys te praat nie. Stamvader van die om en by 500 gesinne te Buysdorp. ʼn Fors van bykans sewe voet lank en vader van omtrent 315 kinders. Een wat rebellies begin het. Mzilikazi se raadgewer en dié se suster (of dalk niggie) se minnaar. Dit was hoeka die drie seuns waaraan hy en die prinses lewe geskenk het wat by President Kruger om hulp gaan aanklop het.
“Hy was ʼn man met ongekende wilskrag en hy’t gedoen wat hy wou. En daarom is ek trots om een van sy afstammelinge te wees.”
Nou ja, dit wil voorkom asof oeroupa Coenraad se wilskrag en deursettingsvermoë steeds sterk in die Buysgemeenskap se are vloei.
Ek en Mike besluit terstond ons kom beslis op Buysdorp aftree.
NAAM: Buyshoek EIENAAR: Aldrin Lawrens AREA: Limpopo PRODUK: Kool, bees, aartappels OPSOMMING: Sy ambisie het hom eers stad toe gelok nadat hy in sy skooldae op sy pa se gemeenskapsgrond hand aan die ploeg moes slaan. Maar Aldrin keer terug met ‘n sterk wil om sukses op Buysdorp te behaal.
2 Comments