Woorde: Hein Eksteen Fotografie: Michel Dei-Cont
Ons wag buite op moeder owerste, Marlize Steyn en sien ook haar- en skoonheidsalonne. Hierdie geriewe is daar om die ma’s wat hul kinders vir perdrylesse bring te pamperlang. In Maart open tot ʼn veearts die deure om na diere met kwale om te sien. Die perdespring- en oefenarenas is simmetries uitgelê, helderkleurig en word op die oog af elke dag gepoets.
Met die intrapslag begroet ʼn smaakvolle koffiewinkel ons met keurige gebak en dáárdie geur van goeie koffie. Ons sluit aan by Marlize in haar kantoor en sit om ʼn lessenaar wat voorkom asof dit deur Thomas Chippendale sélf gemaak is uit hout deur alchemiste in die lewe geroep. Marlize: “Ons het in 2003 begin met vier stalle en gegroei tot waar ons nou staan.”
Vandag staan hulle iewers tussen 60 en 90 perde – diere kom en gaan, word gebore, verkoop en sommige volg natuurlik die weg van alle vlees.
En dan is daar Lilly, ʼn hanskalf, wat verknog is aan Limelight, ʼn miniatuur Shetland-ponie, en sy gaan natuurlik nie die weg van alle bees volg nie. Lilly glo sy is ʼn perd en perde word hier gekoester tot en met hul laaste asem.
Nou, volgens perdeliefhebbers bestaan daar twee soorte mense. Diegene wat dol oor perde is. En die res. Hulle is merendeels vroue en daarom doen hulle inkopies geklee in perdryklere – om inkopies te doen word as ʼn mors van tyd beskou en daarom is kleinhandelterapie slegs van toepassing op die filistyne. Diegene wat die leerstelling volg, voel nie Saterdagoggende olik na Vrydagaand se gefuif nie, want hulle fuif nie. Hulle gaan slaap vroeg om vars vir die volgende oggend se perdrykompetisie te wees. Lede van hierdie uitgelese gemeente droom ook nie oor hul volgende paar Jimmy Choo-skoene nie. Eerder rystewels.
“Ek het self van jongs af gery en hierdie skool vir my en my sussie, Leona, begin. Ek het nooit kon dink ons so groot sou word en so besig sou bly nie.”
Bo en behalwe die aanbied van perdrylesse, teel Marlize ook perde.
“Ons het warm blood-merries waarmee ons teel. En die vullens bly hier totdat hulle op ouderdom ses verkoop word. Baie van hulle word egter nie verkoop nie en bly op die plaas tot aan hul einde. Ons het tot ons eie perdebegraafplaas.”
Terloops, daar is drie breë groeperings. Hot bloods is perde bekend vir hul spoed en uithouvermoë. Cold Bloods is weer trekperde en ponies. Warm bloods is ʼn kruising tussen die twee en word vir bepaalde doeleindes geteel – soos perdespring, dressage en dies meer.
“Ons gebruik merries wat ons goed ken en wat hulself al bewys het. Vanjaar gebruik ons byvoorbeeld nie ons eie hingste nie, maar wel ingevoerde saad. Ons is nogal opgewonde om te sien wat die eindresultaat gaan wees.”
Alhoewel hingste van kardinale belang is, bly merries perdetelers se belangrikste bates. Mans glo nou wel hulle span die kroon in ons patriargale bestel. Inderwaarheid is ons eintlik, soos in die geval van perdetelery, bysaak.
Nietemin, ʼn vooraanstaande teler het by geleentheid gesê ʼn perdeplaas is ʼn bedryf sonder kontantvloeiprobleme – enorme hoeveelhede kontant vloei in en niks vloei uit nie. Geen probleme nie.
“Dit is waar. Hierdie is iets wat jy vir die liefde doen. Veral vir die kinders wat elke dag hier kom ry. My pa het eendag vir my gesê met al my passies en liefde vir diere en kinders sal ek nooit ryk word nie.”
Ek moet byvoeg ek kan nogal gedy in die klas van ‘armoede’ (verwys na die woordkunskuttel bo) wat ek hier om my sien.
Selfs die parasietdraende insekte wat perdesiekte versprei, voel onwelkom hier.
“Ek moet sê ons is baie gelukkig is daardie opsig. Dalk het dit te make met waar ons geleë is en dat daar nie juis ander perdeplase naby is nie. Maar ons rus nie op ons louere nie. Wanneer die perde ingebring word, spuit ons hulle met fly spray en Peaceful Sleep. En ons grooms is uitstekend. Hulle neem soggens en saans die perde se temperatuur en so kan jy vinnig optel indien daar fout is. Indien iets skort kyk jy na die mondholte en tandvleis. Meet die hartklop. Vreet hulle, of nie? Kan dit koliek of bosluiskoors wees? Is die oë geswel?”
Stalwerker, Mike Phiri, is die opperhoof oor die perdeversorgers en Marlize se regterhand. Hierdie veelsydige man kan alles doen wat op ʼn perdeplaas nodig is. Van perdeversorging tot die vragmotors bestuur wat die perde na Onderstepoort en skoue neem.
Reg, die jong perd is gesond en oud genoeg om ingebreek te word. Ons het egter almal al gesien hoe mustangs en bronchos gesoute rodeo-ryers die wêreld vol afsmyt.
Erin Tintinger kom voor as gans te jonk en verfynd om as perdetemmer te dien. Sy maak egter korte mette met hierdie vooroordeel.
“Jy begin deur ʼn goeie verhouding met die perd te ontwikkel, want dit is baie belangrik dat die dier jou vertrou. Daarna sit jy die saal versigtig en stadig op. En sodra die perd aan die saal op die rug gewoond is, kan die ruiter stadig en versigtig opklim. Aan die begin sal iemand anders, ook iemand wat deur die perd vertrou word, die perd aan die toom lei. Die perde is meestal rustig.”
Hierna word die perd geleer om te draf. Natuurlik kan vullens dit ʼn klompie uur ná hul geboorte doen. Hierdie draf is egter onder beheer van die een op die rug; die verskillende snelhede en hoe om te draai. Basies om korrek op die bevele komende via die toom te reageer.
Erin is ook verantwoordelik daarvoor om jong kinders wat vir die eerste keer die saal betree op te lei.
“Die eerste en belangrikste ding is om die kinders te leer hoe om na ʼn perd om te sien. Dus gee ons vir die beginners baie grooming-lesse, hoe om op te saal en af te spuit.”
Die volgende stap is om te ry en op die perd se rug te bly. Blouberg Stalle se prag en praal is immers nou verwant aan die werklikheid dat vooraanstaande aartappel- en sitrusboere se kinders se gebeendere nie hier breek nie.
“Soos ons die perde geleer het om te draai, moet ons die kinders ook leer hoe om dit te doen en al daai goed. Tot onlangs het ons net perdespring aangebied, maar ek het nou met dressage begin.”
Theane Mynhardt neem die jong ruiters na die volgende vaardigheidsvlak. Sy en haar sussies het hoeka van kleins af hier perdgery en dus is nie net ruiterkuns in haar bloed nie, ook die grond waarop sy haar kennis met die neofiete deel.
“Nadat Erin die kinders die basiese goed geleer het, leer ek hulle om te spring. Dit doen jy deur die persoon wat die perd vashou weg te neem. Daarna moet hulle leer om op te staan voor die sprong en natuurlik hul balans te behou. Dan word die pale waaroor hulle spring stelselmatig hoër gestel en berei die ruiters voor om punte by skoue te behaal.”
Caylin is Erin se sussie en sy is verantwoordelik vir skoolponies waarop die baie jong kinders hul tande vir perdespring slyp.
“Ek ry ál die ponies elke dag om seker te maak hulle doen alles soos hulle dit veronderstel is om te doen. Maar ons ponies is baie soet en ordentlik.”
Sy is ook hanskalf Lilly se aangenome moeder – ek wonder heimlik of Lilly nie straks soos ʼn Griekse mitologiese figuur half mens, half kalf gaan uitdraai nie.
Nou ja, om vir ʼn oomblik terug te keer na die woordkunskuttel. Ek was by geleentheid op Gary Player se perdeplaas buite Colesberg. Daarna te Summerhill in Nottingham Road se omte. En nou by Blouberg Stalle. Die een ding wat hulle almal gemeen het, is die prag en praal.
Marlize: “Ek glo dit is oor die trots wat ons het. Perde is mos trotse diere en hul omgewing moet daarby pas.”
Amen.
EIENAAR: Marlize Steyn NAAM: Blouberg Stalle AREA: Vivo, Limpopo KONTAK marlizesteyn26@gmail.com