writer: Hein Eksteen
Hansie Slim lê die ganse nag wakker. Rol rond. Grom ten hemele. Dit voel naderhand asof die swart hond, daardie denkbeeldige mismoed-ondier, met sy kop op die kussing reg langs syne lê. En aan sy wang lek. ‘n Perverse liefkosing.
Eers het die pandemie sy reisplanne ontfutsel. Nou hou die brandstofpryse hom in die triesterige Kaap vasgeketting. Hansie se genetiese kode bestaan uit eindelose grondpaaie wat oor die einder voor hom uitstrek. Om op verlate vlaktes te boskamp. Op sy eie. Waar sy gedagtes kan hardloop waar hulle wil en stories vir hom soek.

Nou lê hy hier, ʼn uitgewekene in sy eie huis.
Met die daeraad kom ʼn roekelose dog bevrydende wete. Hansie gaan Kalahari toe ry. Hansie gaan sy bietjie spaargeld vat en die bakkie vol petrol gooi, die boswa haak en vort. En daar waar die geld en die petrol op is, sal hy bly tot . . . Hy dwing daardie neerslagtige gedagte uit sy kop en begin pak.
“En waar gaan jy?” ʼn Vrouestem agter hom terwyl Hansie die boswa in die oprit voor sy huis vir die lang afstand regruk.
Sy nuwe buurvrou. Fatsoenlik. Marilyn Monroe-oë. Iewers in daardie leeftydsgroep waar jeugdrome reeds verpletter is, maar die ongenaakbaarheid van die middeljare se wortels nog vlak groei.
“Ek’s Netta.” Die vlekkelose hand in syne. “Maak nie saak waarheen jy ry nie, neem my saam. Asseblief.”
Oorbluftheid laat hom eers sprakeloos. Hansie het jare gelede besef sy lewenswyse en sielkundige samestelling laat hom nie romantiese verhoudings toe nie. Hy verkies die geselskap van die berghaan en blouwildebees.
“Hier’s net een bed in die boswa,” probeer hy verskoning maak.
“Jy is ʼn eerlike mens. Ander mans sou niks gesê het nie. Tot by slapenstyd.”
Hulle slaap die eerste nag op Verneukpan. Styf langs mekaar teen die koue. Net dit. Terwyl Hansie die boswa vroeër die aand oopgeslaan het, sit Netta en verlustig haar aan die lugspieëling wat soos ʼn meer verder en verder wegskuif soos die son sak. “Kyk daar is selfs ʼn boot,” sê sy van ʼn bossie op die waterlose pan. Kunssinnig.
“Jy’t soveel tyd vir jou medemens. Te goed om waar te wees.”
Tydens die ete vra sy nuuskierig uit oor die pan en Hansie vertel van Malcolm Campbell wat hier die landspoedrekord probeer breek en daarna met sy vliegtuig naby Calvinia neergestort het. Maar oorleef het.
“Dankie dat jy jou nie laasnag op my probeer afdwing het nie. Jy is amper te goed om waar te wees.”
In die Kalahari voer Hansie onderhoude met verskeie Boesmanboere.
Hannes Vaalbooi boer op Uitkoms, skuins oorkant die Gemsbok-grenspos. Hy vertel: “Onse voorgrootjies het van daardie jare af aan die agterspeen gedrink. Soos baie van ons tot vandag toe nog doen. Daai tyd, as die baas – ons het hulle mos Baas of Miesies moes noem – as die baas hoor jy praat jou vreemde taal, is jy baie vinnig warm getik.”
Die Boesmans verloor op die ou end nié net hul taal nie. Aangesien Baas en Miesies nie die klik-klak-name kon uitspreek nie, word hulle Vaalboois en Witboois en Kruipers.
Die doringhoutvuur knetter waar hul staning op die Molopo-rivierbedding gemaak het. Netta huil saggies waar sy langs Hansie sit en hy haar vashou en probeer troos.
“Is jy seker hulle sal regkom?”
“Natuurlik. Kyk waardeur die Boesmans al vir derduisende jare gekom het.”
“Jy’t soveel tyd vir jou medemens. Te goed om waar te wees.”
Sy kyk hom diep in die oë.
“Kom ons gaan klim in die bed.”
Ongekende vure brand in Hansie se binneste. Hy staan op. En toe kom daar ʼn voertuig aan. Hou naby hulle stil. ʼn Man staan nader.
“Ek wil net vir julle waarsku,” sê hy. “As julle om middernag ʼn skoot hoor, dan’s dit net ek.”
Sy vrou is ʼn jaar gelede op hierdie einste plek in ʼn motorongeluk dood. En hy kan nie meer nie. Die man loop terug na sy bakkie toe. Klim in. Sit.
Netta staan op.
“Jy het my nie nodig nie. Hy het.” Sy loop.
Hansie sit tot laat die aand by die vuur. Die volgende oggend is die bed langs hom leeg. Dan hoor hy hoe Netta haar tas kom haal. Saam ry sy en die man weg.
Hansie kom tot die wete dat Netta straks óók te goed is om waar te wees.
Hein Eksteen is ’n storietrekboer wat saam met Ben Rumson (Lee Marvin in Paint Your Wagon) glo: ‘I’ve never seen a sight that didn’t look better looking back.’ Die Wes-Kaap is sy herkoms. Suider-Afrika sy herwaarts en derwaarts.