Woorde: Danie Keet Fotografie: Michel Dei-Cont
Baie besig – altyd, hy sit nooit stil nie, soek altyd iets om te doen en nuwe plekke om heen te ‘vlieg’, by wyse van spreke. Bye is sy besigheid en vir hom is dit ‘n belangrike by-saak. Jaco Wolfaardt van Ubusi Beekeeping op Swellendam is net soos sy derduisende ‘werknemers’ – hy is die hele tyd besig en aan die ver-nuwe en ontwikkel.
BESTUIWINGS FASILITEERDER
Op die stoep van die Aan de Eike-koffiewinkel onder reuse-akkerbome wat uit Swellendam se stigtingsdae dateer, gesels hy entoesiasties oor Suid-Afrika se byebedryf, iets wat hom na aan die hart lê en waarvoor hy sy arms stomp werk.
“Ek is nie ‘n heuningboer nie. Ek fokus op die bestuiwing van ‘n verskeidenheid gewasse vir produsente,” verduidelik hy as ‘n mens na hom as heuning- of byeboer verwys.
“Vir kommersiële byeboere is die heuningbedryf eintlik ietwat van ‘n bysaak, maar tog help dit baie met kontantvloei buite die seisoentye om die byewa op die pad te hou,” sê hy met ‘n skalkse glimlag, ”maar die bedryf as geheel, en veral die bestuiwingsapek, is allerbelangrik.”
“Min mense besef werklik watter enorme rol bye in die bestuiwing van gewasse speel – daardie gewasse wat geoes word en dermiljoene rande vir produsente oplewer. Nie een produsent wat gewasse verbou wat afhanklik is van insekte-bestuiwing en om die vrugte daarvan te oes, kan sonder bye klaarkom nie – dis so eenvoudig soos dit,” sê hy passievol.
Jaco, wat al 30 jaar in die byebedryf is en sedert 2010 sy stokperdjie na ‘n voltydse kommersiële byeboerdery verander het, vertel dat daar ongeveer 4 220 byeboere in die land is met die grootste gros in die Wes-Kaap. Tans is ongeveer 1 270 by die departement van landbou geregistreer. Dit is vier maal meer as vyf jaar gelede.
“Dit mag na ‘n maklike boerdery lyk en daar is goeie winste te maak, maar dan moet jy weet wat jy doen en die erns van die werk besef. Dit gaan nie net daaroor om ’n paar korwe met swerms bye daarin iewers te gaan neerplak en dit dan weer te gaan besoek om die heuning te oes nie, of om net aan produsente vir bestuiwing te verhuur nie.
VERNIETIGING VAN HABITAT
“Die bedryf is onder geweldige druk omdat die natuurlike habitat en dus die voedingsbronne van bye skynbaar lukraak vernietig word. Die Werk vir Water-projek, wat indringerplante uitroei en veral bloekombome afsaag, is een van die groot sondaars. Geen impakstudies word gedoen om die gevolge van hierdie onbeheerde ontbossing op die byegemeenskap en ekosisteme te ondersoek nie. Alles word eenvoudig voor die voet afgesaag. Die wat oorbly, word geringbas en vrek ook. Die houtkontrakteurs maak geld, maar ten koste van Suid-Afrika se byebevolking en niks word weer aangeplant nie.
“Volgens bestaande regulasies is ses bloekomboomspesies gelys wat afgesaag moet word, met verskillende voorwaardes ook daaraan verbonde, maar daar word nie hierby gehou nie. En dit is die probleem met die bedryf – daar is geen regulering nie. Ons moet inspekteurs uit die geledere van die byeboere aanstel om die regulasies te skep en toe te pas. Die bedryf moet homself eenvoudig reguleer, want die regering is nie bereid om dit te doen nie.
“Saam met hierdie stelselmatige ontbossing word geen plaasvervangers hervestig om nuwe stuifmeelbronne beskikbaar te stel nie. Ek moes al tussen 400 en 500 korwe langs die Breërivier verskuif omdat die oewers skoongemaak is. Dieselfde het gebeur langs die Bergrivier waar kommersiële byeboere met groot hoeveelhede korwe na ander reeds oorbevolkte staanplekke moes wegtrek. Dit mag mooi en skoon lyk, maar dis ‘n nagmerrie vir byeboere en vir die sagtevrugte-, bessie-, neut- en groentesaadprodusente,” is sy betoog.
Die uitbreiding van die landbou plaas ook addisionele druk op bye en hul bestuiwingsaksies. Volgens Jaco kan die byebedryf‘n styging van ongeveer 30% meer in die aanplanting van bloubessies, 20% meer neute en veral makadamias, ongeveer 5000 ha per jaar, oor die volgende drie jaar beleef en sagtevrugte kan met 5% toeneem. Voeg daarby vandalisme en diefstal van korwe, die vernietiging van geskikte staanplekke vir korwe en veral munisipale en regeringsmeentgronde en die ware omvang van die druk op die bedryf word dan eers ‘n werklikheid.
Weens hierdie situasie is Suid-Afrika ‘n heuning-arm land en ervaar ons ‘n tekort aan gehalteheuning. Daar is nie genoeg volume om betekenisvolle uitvoere te handhaaf nie.
Suid-Afrika is ‘n groot invoerder van heuning met ongeveer 4 000 ton wat jaarliks ingevoer word; ongeveer 95% daarvan wat uit China afkomstig is.
KOS VIR DIE BYE
Hy beklemtoon dat bye vir byna 85% van alle bestuiwing verantwoordelik is en dat nagenoeg een derde van die voedsel direk of indirek van plante kom wat deur bye bestuif is.
Produsente plant nou wilde basiliekruidplantjies wat die hele jaar blom en so deurgaans kos aan swerms gedurende die bestuiwingsperiode kan gee. Tot soveel as 300 Wilde Afrika-basilieplantjies word op die punte van die rye geplant en kry dieselfde kos en bemesting as die bloubessieplante.
Weens die voedseltekort vir bye, word Jaco se bye ook gevoer en maak hy ‘n spesiale proteïen-en-suikermengsel vir hulle. Hy voer hulle vier maande van die jaar anders kan hy maklik tot 50% van sy produksieswerms verloor.
“Ek is in die proses om 5 ha grond net buite Swellendam te koop waar ek wilde basiliekruid onder besproeiing gaan plant om my bye aan die lewe te hou tot die kanola-blomseisoen begin. Dit is die enigste manier hoe my swerms in kosarmomgewings kan oorleef. Ek wil sowat 500 korwe daar plaas en met die regte voeding vir die swerms uit die nabygeleë kanolalande, hoop ek om my swerms tot 800 korwe uit te brei.
ONS HEUNINGBYE IS UNIEK
“Een van die redes hoekom hulle so bekend is, is hul vermoë om self hul eie koningin te teel om die swerms te vergroot. Hulle doen dit deur koninginjellie, ‘n soort proteïen, te produseer en dit in selletjies met ‘n eiertjie daarin te smeer. Die eiertjie ontwikkel dan in ‘n koninginby wat ná 14 dae uitbroei. Hierdie bye mag nie na die noorde van die land verskuif word nie. Hulle moet tot agter ‘n sogenaamde capensislyn beperk word.”
Jaco meen daar is baie kansvatters in die byebedryf en dit is belangrik dat byeboere en produsente goeie verhoudings opbou om goeie bestuiwingsdienste te kan lewer. Baie faktore bepaal bestuiwingstariewe, waarvan arbeid, reiskoste en voeding van bye, die grootste is.
Die regulering van die byebedryf is iets wat kommersiële byeboere self voor pa sal moet staan deur die aanstel van inspekteurs om te verseker dat goeie bestuiwingseenhede gelewer word en waar die produsent die inspekteurs kan bel vir inspeksie van byeboere se korwe indien dit benodig word. “Daarsonder is ons verlore en die toekoms van ons bestuiwingsbye, en natuurlik ook die heuningbedryf, in groot gevaar.
Jaco het sewe spanne in die veld om die korwe te plaas en te verskuif. Afhangend van die tipe gewasse, word daar tot tien korwe per hektaar uitgeplaas vir bestuiwing, soos in die geval van bloubessies.
Hy bedryf ook ‘n interessante byewinkel in Swellendam se hoofstraat, Bee Things. Daar is winkels op George en Mosselbaai. Hier is verskillende soorte heuning en heuningmengsels met natuurlike geure soos bloekom, fynbos, uie, kanola, lemoen en lusern te koop.
‘n Mens kan hier ook alles leer van bye en onderdele vir jou eie byekorwe aankoop. Hy is een van die grootste invoerders van byeboertoerusting in Suid-Afrika en verskaf toerusting aan drie verskillende landbouwinkels in die Wes-, Suid- en Oos-Kaap.
EIENAAR: Jaco Wolfaardt NAAM: Ubusi Beekeeping AREA: Swellendam KONTAK: sales@ubusibeekeeping.com
Hi
Soek korwe, Robert
Vir plaas in De Aar
Hoe skyf ons buie wat tussen ons plafon en dak is ?