Woorde: Maryke Roberts Fotografie: Mia Truter en verskaf
Wanneer die sneeuvlokkies in Ceres val, is al wat leef en beef in hul motors om die Matroosberg met sy sneeukombers te gaan geniet. Daar word sneeumanne met wortelneuse gebou, droë takke word inderhaas vir arms ingespan en serpe word om die sneeumanne se yskoue nekke gedraai. Groot sneeuballe tref dik baadjies met dowwe plofgeluide – sneeupret op sy beste, ’n uur of drie van die Kaap af.
Vir dié wat weet, is dié berg egter heeljaar ‘n besienswaardige bestemming vir gesinne, avontuursoekers en natuurliefhebbers, en is ‘n besoek aan die Matroosberg- natuurreservaat ‘n jaarlikse instelling.
Mens kan nie help om jou aanhoudend te verkyk aan die Hexrivierberge te verkyk wanneer jy op die R46, oos uit Ceres in die rigting van Touwsrivier ry nie. Ná sowat 11 km draai jy regs op die Bo-Swaarmoed-pad. Ek wonder waar die pad sy swaarmoedige naam gekry het, want hier voel dit eerder of mens met ’n lied in jou hart in die rigting van Klondyke-kersieplaas ry, voor jy weer regs draai by Erfdeel/Matroosberg.
Die 35 km-rit duur ’n rapsie meer as ’n halfuur en jou longe is vol vars lug wat by die oop ruit inwaai, die stadiger pas dwing jou in die natuur in. Jou oë kyk anders as in die stad.
ERFDEEL PLAAS – IETS VAN ALLES
Dis vroegoggend lekker warm toe die bestuurder, Didi de Kock, ons verwelkom. Die Matroosberg-natuurreservaat lê op die plaas Erfdeel, ’n werkende plaas met vrugte en groente, wat ook plaastoere aanbied. Daar is staproetes, 4×4-roetes en besoekers kan in die plaasdamme kom kunsvlieghengel.
Erfdeel se geskiedenis is baie interessant: die oorspronklike plaas het vanaf die huidige plaas, vir meer as 100 km gestrek, al die pad tot by Tweedside, naby Matjiesfontein. Later jare is daar op dié streek, vanuit ’n plaasopstal, sowat 20 km vanaf die huidige plaaswerf, geboer en die geboue wat nou die hart van die reservaat en plaas vorm, is destyds vir ’n paar maande elke jaar vir lewende hawe-beskutting gebruik.
Vandag bestaan die plaas uit 130 ha appels en pere, 35 ha uie, ’n paar hektaar proteas wat vir droë blomme gelewer word en ’n paar skape wat aan die Laingsburg-slagpale gelewer word.
Die plaas is ’n Smith-spanpoging: van Pa André wat sy bes probeer om af te tree, maar steeds ’n belangrike rolspeler in die plaas se toerisme-aanbieding is, tot André, wie die meesterbrein en ontwikkelaar is van ‘n heel nuwe vrugte-aanplantingsmetode, asook sy dogter, Didi, wat in September saam met hom en die minister van landbou na Italië gaan om na soortgelyke aanplantings te gaan kyk. Ook ma Cora, wie dalk eerder kleinkinders aan haar rokspante verkies, kan haarself eenvoudig nie daarvan weerhou om gaste met ’n varsgebakte brood te bederf nie.
LANDBOUTOERISME
Didi behartig die toerisme, bemarking en spyseniering en is ook ’n abseil- en hoë tou-instrukteur. Tydens skoolvakansies bied sy verskeie interessante aktiwiteite vir kinders aan om hulle die plaaslewe te laat ervaar. Sy is ook gekwalifiseerd om giftige slange te vang, te verwyder en te hervestig, in ’n poging om die Bo-Swaarmoed-gemeenskap meer omgewingsbewus te maak, asook om mense – veral kinders – meer te leer oor die belangrike rol wat slange in die omgewing speel.
Waldo, Didi se man, behartig die bouprojekte, is verantwoordelik vir instandhouding, verwelkoming van gaste en hy behartig die bemarking van vierwielmotorfiets- en bergsafari’s.
Hy is wel nie bloedfamilie nie, maar hy is al só deel van die familie, hy kon netsowel ’n Smith gewees het!
Hul dogter, Heike, behartig ook die toerisme-deel van die plaas, beman die ontvangskantoor en is ’n raakvatter en aanwins met haar oorsigtelike begrip van die plaasbedrywighede. Sy vertel dat haar oupa die plaas 44 jaar gelede gekoop het, en dat landbou natuurlik altyd die slagaar van die boerdery was, tot hulle 22 jaar gelede ook begin het om landboutoerisme aan te bied het.
Sy vertel van die tien verskillende tipes akkommodasie waaruit gaste kan kies en dat daar 250 beddens in chalets en huisies is asook ’n verdere 250 slaapplekke in twee aparte kampterreine.
Heike vertel dat Facebook die plaas se lewenslyn is, aangesien die gure weer in die yskoue winters die plaas dikwels sonder krag of sein laat, en dan word alles op hul Facebookblad gekommunikeer.
“As ons die dag vroeër oopmaak of as dit gesneeu het, of as daar ander nuus is om met besoekers te deel, doen ons dit op Facebook.”
Op die webwerf is daar ’n video van ’n sneeubedekte Matroosberg en ‘n mens kan beswaarlik glo dat dit in Suid-Afrika geneem is.
Daar heers ’n baie opgewekte en lighartige stemming op die plaas, niemand is ernstig en beswaard nie en bewaring en werk word met ywer gedoen. Ek lees op hul webwerf van die diere wat die plaasspan bedank vir hul insette om besoekers aan die plaas te verwelkom: Brakkies, die klein Jack Russell; en Jaeny, die Golden Retriever, wat mal is oor gaste. Brakkies sal maklik saam met jou oorslaap, klim graag in jou 4×4 of draf sommer gou-gou die berg uit!
Daar is ook ’n paar perde, donkies en Alpakkas wat mal is oor iets te ete en ’n kopvryf.
Heike vertel dat baie van die terugvoer op hul sosiale media-inskrywings lewer kommentaar oor Didi se komieklike skrywes en hulle volg alles wat sy sê; of hulle nou gereeld op die plaas kom of nie!
Besoekers se behoeftes en plesier is beslis bo aan die prioriteitslysie. Daar is ’n 4×4-roete wat besoekers na die piek van die Matroosberg (op 2 240 m bo seespieël die hoogste piek in die Boland) kan neem. Jy kan dit ook met jou eie 4×4 aandurf, maar Heike sê die roete is baie steil en nie alle veldvoertuie is opgewasse daarvoor nie. Slegs 4×4-voertuie met lae ratverhoudings en ewenaarslotte is geskik. In die winter neem dié baie gewilde 18 km-roete jou na die dik sneeu.
“Neem genoeg padkos en drinkgoed, want as ’n voertuig op die enkelbaan breek, gaan jy dalk sit en wag.”
Piekniekmandjies kan nou by die nuwe restaurant – ’n informele plaasrestaurant – bestel word. Daar is ook ’n mini-gholfbaan, binnenshuise swembad en kroeg gebou. Vir diegene wat die ander dele van die plaas verkies, is daar rotspoele om in te swem, staproetes, of jy kan met die ou Bedford-trok aangery word.
GROENTE VIR POTJIEKOS EN VRUGTE
Die Smiths se seun, Cordré, is die finansiële bestuurder en hy behartig die boerdery-gedeelte van die plaas en sien om na die appel-, pere- en uieboerdery. Daar is ook ’n klein stukkie grond met skorsies en pampoen. Ons ontmoet vir Cordré in die uiestoor waar die daaglikse kapasiteit 3 500 sakkies (35 ton) is wanneer 22 personeellede aan diens is. Hier vlieg klein stukkies uieskille soos sneeuvlokkies deur die lug. Op die uielande staan trekkers met kratte op sleepwaentjies, gereed om verwerk te word.
Teen die rantjie van die uielande hou die Matroosberg trots wag oor die skapies wat teen haar voete wei.
Die plaas se appels en pere word met die hand gepluk en dan by ’n ander pakstoor verpak – slegs die uie word op Erfdeel verwerk.
Die Witzenberg, wat Ceres en Prince Alfred Hamlet insluit, lê in ’n winterreënvalstreek met temperature wat in die winter baie skerp daal, en aan vrugtebome die geleentheid bied om goed te rus. Ryp kom algemeen voor en die lang, warm somers verg goeie beplanning vir water en opgaardamme, en boorgate en reënwatertenks is van kardinale belang.
Cordré vertel dat hulle uie pak vir Mosambiek, Angola en Zambië en dat hul tot 32 verskillende soorte uiesaad kweek. Tydens die plaastoere kry besoekers die geleentheid om die verskillende stappe in die siklus van plant, oes, snoei en grondvoorbereiding op die plaas te ervaar. Van die plaas se 2 000 hektaar, word net meer as 100 hektaar bewerk omdat dit al water is wat daar beskikbaar is. Didi vertel dat die bewaring van die berg vir hul gesin van groot belang is, en dit kan nie onder slot en grendel gehou word nie. “Ons glo aan bewaring deur deelname, en deur meer mense die geleentheid te bied om in die natuur te ontspan en te stap, ervaar hulle ook die natuurskoon.”
Cordré vertel die stygende energiekostes én -kunsmispryse is sy grootste uitdagings aan die produksiekant van die plaas, asook die uitdaging om betroubare personeel te behou.
Die markneigings bepaal nuwe kultivars wat aangeplant moet word en hy glo dat aanpasbaarheid die sleutel tot boerderysukses is.
Tegnologie speel ’n groot rol in hoe hy sy boerdery bestuur, maar hy erken dat hy groter tegnologiese veranderinge verwag het, en toe egter heelwat groter veranderinge op biologiese front ervaar het. “Dis nie noodwendig dat ons nuwe goed uitvind nie, maar dis eerder ’n geval van dat ons biologie beter verstaan en aanwend. Daar is byvoorbeeld nou ’n biologiese produk wat jou tot 20% water kan bespaar. Daardie water kan dus elders vir uitbreidings aangewend word.”
Cordré meen die duurste les wat die landbou jou leer en wat jou ook die meeste skade kan berokken, is die kwessie van prysbepalings. “Ons is prysnemers, ons kan nie bepaal watter pryse ons vir ons produkte wil hê nie. Óf ons nou hael- óf wind- óf rypskade gehad het, die pryse word deur die markte bepaal.”
Hy sê die nuwe appelboorde word arbeiders-vriendelik aangeplant – bome word gesnoei om vrugte laer te dra sodat lere nie nodig is om by hoë appels uit te kom nie. Dit spaar tyd en gevolglik ook arbeidskoste omdat die werk minder ure en inspanning verg. Hy sê brandstof, elektrisiteit en arbeidskoste styg altyd vinniger as die inflasiekoers en moet goed bestuur word.
Didi se woorde op die webwerf, sal my egter nog langer bybly. Sy herinner besoekers daaraan om benewens die regte klere, ook sonroom en ‘n kamera saam te bring en vra dat jy ook jou liefde en blydskap moet onthou.
NAAM: Matroosberg-natuurreservaat EIENAAR: André Smith AREA: Ceres, Wes-Kaap
PRODUK: Vrugte, groente, stap- en 4×4-roetes en kunsvlieghengel KONTAK: 023 312 2282 | info@matroosberg.com | www.matroosberg.com