farmers
comment 1

Stampriet se ystervark-hotel

‘n Leser het vir Grond Tot Mond die brokkie gestuur.

Die storie gaan so – my pa boer naby Stampriet in Namibia en hy het lusern geplant. Om ongediertes uit te hou, maak hy reg rondom ‘n wildwerende heining. Dit hou koedoes en ander bokke uit, maar hy het nie gereken op die ystervarke nie. Die ystervarke is kampioen-grawers en grawe gate onderdeur die heinings.

Hulle vreet nie baie nie, maar die springhase kom deur die opening en kerjakker deur die nag ‘n die lande, en trek die plantjies wortel en al uit. My Pa besluit toe om die vanghok voor een gat te sit, na hy al die ander gate toegemaak het. Sit ‘n mielie daarin en bob’s your uncle – volgende oggend is daar ‘n ystervark.

My pa hou nie van goeters doodmaak nie. Hy besluit toe om die ystervark in die groot ou reghoekige dam te sit – bodem is gekraak, gebruik al jare nie meer nie, en in elk geval is verdamping van so ‘n groot oppervlak in die Kalahari te veel. So gaan dit nag na nag, elke oggend ‘n ystervark, tot daar so 5 in die dam is en daar nie nuwes kom om te vang nie.

Maar wat nou gemaak met die ystervarke in die dam? Hy kry uitskot groente by die bure wat groente vir die mark verbou, en met sy eie mielies voer hy hulle elke aand. Die ystervarke raak so mak dat my pa tussen hulle kan deurloop as hy hulle kosgee. Hy bou ‘n klein baksteenskuilingkie in die een hoek dat hulle darem bedags in die donkerte kan slaap. Maar die dak, nogal geinsoleer, is op skarniere sodat mens dit kan oplig en vir kuiergaste die ystervarke wys.

Die eerste paar jaar kry die ystervarke net betaalde vakansie tydens die droee seisoen. As die reëns kom, laat hy hulle vry, want dan is daar genoeg veldkos en hulle sukkel nie met die lusern-heining nie. Maar na ‘n paar jaar kry die ystervarke twee kleintjies in die dam. En my Pa is jammer vir die kleintjies, hy dink hulle is nog te klein om vry te laat, dus hou hy maar die yestervarke in die dam.

Intussen grawe die ystervarke aan die mortel tussen klippe in die dam se mure. En hulle grawe deur die sementvloer se krake en breek ‘n stuk sement uit om ‘n diep gat onder die sement te maak. Die rooi Kalahari sand staan sulke hope soos hulle dit uitgegrawe het.

Bedags slaap hulle daar binne – nou is die skuilinkie met die opligdak nie meer goed genoeg vir hulle nie – maar skemertyd kom hulle uit vir die kosgee. En ek dink my Pa geniet die kosgee ook – dit raak ‘n ritueel, en saans word kuiergaste geneem met ‘n flits om te gaan kyk na die ystervarke.

Ek sê vir my Pa – gaan die ystervarke nie uitkom met al die gegrawe nie? Nee, sê hy, die mure is te dik en die gat is in die middel van die dam, dis te ver om uit te tonnel onder die mure se fondasies deur. EK bly maar stil.

Een dag praat ons op die foon, en my Pa sê dat daar moes nog ‘n ystervark ingespring het, want daar is nou 6 grotes. Later kan my Pa nie verstaan hoekom daar skielik weer so baie ystervarke in die nag om die huis is nie. En toe die eendag kry hulle die tonnel se ander punt – ten minste 50 meter weg van die dam af. Die ystervarke slaap lekker in hul tonnels in die dag, kom skemertyd uit in die dam vir die voorgereg, en dan bietjie later sluip hulle deur die tonnel uit om lekker te kerjakker op die werf.


Het jy ‘n unieke of interessante storie vir ons? Stuur dit na redaksie@grondtotmond.co.za

1 Comment

  1. Elize van Schalkwyk says:

    Dis nou ‘n lekker storie!

Leave a Reply

Your email address will not be published.