Woorde: Magda du Toit, Fotografie: Helenus Kruger
Die Van Reenen Pas, een van die besigste bergpasse in die land, is ongeveer 30 km noordwes van Ladysmith. Die pas is vernoem na die dorpie Van Reenen aan die bo-punt van die pas. Die dorp het sy naam te danke aan Franciscus Josephus van Reenen wat sy trek uit die Kaap Kolonie hier afgesluit en grond in die gebied besit het. Die grond is later jare verkoop en sy nasate, Dewet en Sharyn van Reenen, het die plaas Cameeldraai aan die hange van die Drakensberge gekoop en hier begin boer.
OUTSPAN PLAASPADSTAL EN VAN REENEN-BILTONG
Die Outspan plaaspadstal is die tuiste van die Van Reenen Biltongwinkel en The Coffee Patch-kafee. Die hoofaantrekking is egter die biltong. Die resep het sy ontstaan in 1848 tydens die Groot Trek gehad toe Franciscus Josephus van Reenen, biltong gemaak het om die vleis tydens die lang reis te bewaar. En hierdie resep word al vir meer as 150 jaar van geslag tot geslag oorgedra. Dewet en Sharyn van Reenen het die plaas Cameeldraai in die 1996 gekoop en besluit om die stukkie geskiedenis met ander te deel deur die biltongwinkel in 2002 oop te maak.


Maar, dit is net ’n gedeelte van dié geskiedenis wat hulle deel. Soos enige ander familieresep word die Van Reenen-biltongresep se geheim baie styf teen die bors bewaar. Die goeie nuus is dat die voorafgemengde biltongspeserye te koop is sodat mens jou eie Van Reenen-biltong by die huis kan gaan maak.


Elke dag word daar biltong gemaak op die plaas. “Ons gebruik net A-graad silverside vir die biltong,” vertel Celeste van Reenen ons. Sy sê hulle sny maandeliks sowat 500 kg vleis op vir biltong en droëwors. Dit is 6 ton ’n jaar! Aanvanklik het hulle self op die plaas geslag, maar met die aanvraag wat so gegroei het, het die model verander. Nou kry hulle die vleis by die nabygeleë abattoir.

KOMPOSTEE
JP maak sy eie kompostee. Die tee is ’n komposaftreksel wat gebruik word om oor die grond te spuit voordat hulle plant en bevat mikrobes wat goed is vir die grond en plantwortels.
Biltong is egter nie die enigste bron van inkomste wat uit die 2 600 ha plaas, Cameeldraai, gegenereer word nie. Die huidige geslag van Reenen-broers, JP en Russell, is besig om hul merk op die landbou-omgewing te maak. JP is verantwoordelik vir die gewasverbouing, terwyl Russell na die vee omsien. Hulle glo in die beginsels van herlewingslandbou. Hoe nader hulle saam met die natuur kan boer, hoe beter glo hulle.
Die komposmetode wat hy gebruik is geskoei op die Johnson-Su-beginsels. Dit is ’n aërobiese metode en fokus daarop om die grondgesondheid te herstel deur mikrobes terug te plaas in die grond.




Hy kry baie van die droë materiaal wat hy vir die kompos gebruik by die ATKV-oord nie ver van hulle nie af nie. “Ek kry die blare daar want ek weet dit is gesonde blare wat nie chemiese middels bevat nie. Ek sal enige tyd droë plantmateriaal by mense in die omgewing gaan haal mits ek tevrede is met die gehalte en oorsprong daarvan.”
Die blare word in houers gegooi waar dit oor tyd in kompos verander. Die houers word daagliks natgemaak. Hiervoor is ’n besproeiingstelsel bo-oor die houers geïnstalleer met fyn spuitkoppe. JP wys daarop dat die hope net klam gehou moet word en nie papnat moet wees nie.
Die kompos is binne ’n paar maande gereed vir gebruik en is plant- en omgewingsvriendelik. “Omdat ons net blare gebruik en geen mis of ander afvalprodukte soos skille en groente nie, is daar geen slegte reuke nie. Die gekontroleerde afbreek en opbouproses verhoed anaerobiese toestande en onaangename reuke. Die finale produk lyk amper soos grond. Dit is donkerbruin en het ’n fyn krummelvoorkoms wat soos grond ruik.”
Die tee word gemaak deur ’n paar emmers van die kompos op in slag in ’n sak of houer met fyn gaatjies in die teetenk te gooi waarna dit toegelaat word om vir ’n paar uur te week. Die goeie mikrobes wat in die kompos is, syfer dan deur in die water terwyl die soliede stukkies in die sak agterbly. Dit werk op dieselfde beginsel as wanneer tee in die teepot trek. Die komposteewater word dan gebruik om oor die grond te spuit.
JP meen die kompostee dra daarby dat die plante se opname van voedingstowwe verbeter sonder dat grondgesondheid benadeel of omgewing beskadig word. Hy verduidelik dat die kompostee help om ’n diverse verskeidenheid voordelige mikro-organismes in die grond te vestig en dat dit verder bydra om die balans tussen aërobiese en anaerobiese organismes, mikrobes en patogene te herstel. Die balans in die grond help om voedingstowwe aan die plante beskikbaar te stel en verminder die nodigheid vir kunsmistoedienings.
“Vrugbare grond is nie net goed vir die omgewing nie, maar ook vir jou sak. Met insetkostes wat so geweldig gestyg het, spandeer ek baie minder aan kunsmis. Die gebruik van kompostee in my biologies geïntegreerde gewasverbouingspraktyke, help om my insetkostes te verlaag en so kan ek die kosteknyptangeffek beter bestuur.”
BOER SAAM MET DIE NATUUR
Jaarliks plant JP 50% van die lande met mielies en die ander 50% met sojabone. Nadat die gewasse gestroop is, sal die beeste op die oesreste kom wei vir sowat 2 maande en daarna geskuif word na die lande waar dekgewasse geplant is. Die lande waar sojabone onder droëlandtoestande verbou is, word direk na stroop met dekgewasse geplant. Op die spilpuntlande waar sojabone onder aanvullende besproeiing verbou is, plant JP koring direk nadat die sojabone gestroop is, mits daar genoeg water in hul damme is.
“Ons probeer om altyd lewendige wortels in die grond te hê. Dit is een van die kritiese beginsels van grondgesondheid en herlewingslandbou,” verduidelik JP. Die gewasse word onder geenbewerking verbou en direk in die oesreste geplant. “Op dié plaas word nie geploeg nie,” beklemtoon hy.

JP deel sy lande in vier dele op. Grondontledings word elke vier jaar op een van die dele gedoen om vas te stel hoe die grondgesondheid daar uitsien. Die regstellings word nie sommer lukraak gedoen nie, maar elke stukkie grond word behandel volgens die uitslae van die monsters wat ontleed is. Die kalk en gips en ander organiese voedingstowwe word gevarieerd met presisie-implemente uitgestrooi.
Die mielies wat op droëland verbou word, word teen ’n plant-populasie van 50 000 plante/ha geplant en onder spilpunt word die plantpopulasie opgestoot na 70 000 plante/ha.
Nie alle gedeeltes van die plaas is geskik vir gewasverbouing nie. Die beeste het 1 200 natuurlike weiding wat hulle kan benut. Russell sê hulle fokus op kommersiële beesboerdery en gebruik ’n Beefmaster/Brahman-kruising omdat dit vir hulle die beste resultate lewer. Hulle het twee kalfseisoene en die wisselwerking tussen die aangeplante weidings, die oesreste en natuurlike weiding werk soos ’n goed geoliede wiel wat elke seisoen aanhou draai. Wanneer die koeie kalf is die aangeplante weidings net reg vir benutting. Die weidings is hoog in voedingswaarde wat help dat die koeie genoeg melk produseer en groter kalwers speen.


Die Outspan Farmstall, Bergville | Tel. +27 76 445 2575 | e-pos: celeste@theoutspan.co.za | www.theoutspan.co.za
Is it possible to get a copy of this article in English?
Greatly appreciated!!!