Daardie vraag verskyn toenemend op boerdery-verwante groepe op Facebook: “Ek het ‘n paar hektaar bewerkbare grond in die Overberg. Waarmee kan ek winsgewend boer?” Baie mense wat voorheen naweekboere was of genoeg spasie in die stad het, wil deesdae hul eie produkte kweek of selfs wins daaruit maak. In sommige voorstede sien ons toenemend hoenders, kweekhuise – of swembaddens wat in tuine omskep word. Die Covid19 pandemie het soveel druk op die wêreldwye voedselvoorsieningsketting plaas, dat baie mense ‘n tuisbou-ingesteldheid ontwikkel het. Programme soos Clarkson’s Farm waarin die bekende TV-aanboeder ‘n boerdery begin, se gewildheid het die hoogte ingeskiet. Verkope van tuisbou en beginner-boer literatuur en voorraad ook.
Deur René Lötter
Ek wil graag boer maar hoe begin ek? Die vraag, ietwat vaag oor gebied en spasie, op die Kom ons Boer Facebook-groep, klink aanvanklik amper naïef. Tog het dit by die 300 kommentare gekry. Benewens ‘n paar sarkastiese antwoorde soos: “Jy begin deur NIE te vra op Facebook nie!” het die meeste kommentaar praktiese advies, of aanbiedinge vir hulp gebied.
Hier is ‘n lys van die werkbares en die wyses:
• Dit hang af van van wat in jou area aard – water, grond, grootte en watse kapitaal en toerusting jy het.
• Het jy jou eie grond en indien wel hoe groot en wat is jou drakrag per hektaar?
• Die verkoop van produkte teen wins, vanaf die land aan kopers binne ekonomiese afstand, behoort sekerlik die einddoel te wees. Dit kan dalk ‘n goei ding wees om eers in die bemarking van produkte betrokke te raak, dan in bestuur en finansiële administrasie.
• Baie geld en die wysheid van Salomo en dan moet jy kan dobbel, want glo my elke oes dobbel jy….of dit reën of n misoes. Sterkte!
• Kry mense wat die pad gestap het – mense met ondervinding wat jou kan help.
• Hoe maak mens ‘n miljoen uit boerdery. Begin met agt miljoen en hou op as jy een miljoen oor het.
• Koop grond met implemente by want dan betaal jy nie BTW nie, as jy wel BTW geregistreerd is kan jy dit terug eis.
• Kyk met watter diere die meeste boere in jou omgewing mee boer, en dan moet jy besluit, wil jy net skaap hê, of wil jy kwaliteit skaap hê.
• As jy die geld het of lening kan kry, koop of huur grond. Besluit waarmee jy op daardie grond kan boer (drakrag, voeding, water ens). Doen deeglik navorsing oor die tipe boerdery. Boekhouding van inkomste en uitgawes.
• Begin om na te vors, wat aard in jou area, wat is winsgewend, is daar afsetpunte en is daar kompetisie. Hou jou budget in ag en hoeveel spasie jy gaan nodig kry.
• Gaan werk vir peanuts op ‘n ryk boer se plaas. En wat jy daar leer kan geld nie koop nie.
• Begin eers met ‘n groentetuin. Raak dit baas; dan kan jy na die groter goed gaan.
• Het jy geld om te begin? Jy moet genoeg het vir vee, voer, kostes vir tenminste 6 maande. Kry ‘n paar ou dragtige ooie wat binnekort moet lam, hulle sal nie op ‘n plaas wees as hul nie gelam het nie; jy gaan moet ekstra kos gee vir hulle – dan verkoop jy die lammers en ooie en koop dan weer in.
• Oom gee darem bietjie grasie na 6 weke dink jy nog jy gaan vorentoe boer na 6 maande begin jou maag werk en jou keel toetrek. Lam pryse val ooie vrek. Mense in stede dink jy huur gou gou ‘n stukkie grond en gaan boer.
• Ek het spinasie in ‘n tonnel wat vol in produksie is met kopers in plek, en kan gemiddeld 400 bossies per week verkoop.
Dr Hlamalani Ngwenya, die hoofdirekteur van Agri ondersteuning en ontwikkeling by Elsenburg Agri opleidingsentrum het die vraag as baie belangrik en glad nie naïef nie, beskryf. “Ons departement hanteer daagliks daardie tipe vrae en ons het ‘n span deskundiges en kantore”
Hy het aspirerende boere uitgenooi om na die Elsenburg webwerf te gaan en te kyk na al die FAQ wat deur beginner-boere gevra word. Daar is ook kort kursusse en assistente wat gretig is om boere te help.
Charl Van Rooyen van dieselfde departement, het die volgende lys van kursusse en inligtingsblaaie gestuur: As jy suksesvol wil boer, is dit die moeite werd om hierdie vier aspekte goed te bestudeer.
• Boerdery-beplanning – “checklist” en algehele boerdery-beplanning.
• Marktoegang – norme, standaarde en akkreditasies om toegang te kry tot verskeie markte soos Global Gap, SA Gap, BRC, Natures Choice, Farm to fork, Wieta & SIZA
• Die wette en regulasies wat op boerdery van toepassing is en wat waar geregistreer moet word.
Nommer 2 op hierdie lys kan elke beginner-boer gerus teen die muur in die skuur vasspyker: Hoe begin jy ernstig en slim boer?
1 Met ‘n plan insluitend voervloei en drakrag
2 Plaaskaart wat kampe/blokke en infrastruktuur aantoon (groottes, besonderhede van besproeiingsdroëland en veld)
3 Blok-/kamprekords moet kunsmis, onkruiddoder, swamdoder, insekdoder en kultivar toon
4 Grondkartering opnam, of CFM-rekords
5 Grond-, blaar- en waterontleding vir blokke/kampe en alle waterbronne
6 Dieretabelle maandeliks opgedateer
7 Produksierekords vir elke blok/kamp hoeveelheid & kwaliteit – pak persentasie uit vir vrugte
8 Water – lyste, gelisensieerde en algemene magtigings – totale somer en winter ontleding
9 Inventaris van toerusting, vaste en roerende bates – moet eerste registrasie en waarde insluit
10 Arbeidsrekords – permanent, seisoenaal en “casual” – Coida, WVF & SIZA
11 Masjinerierekords – diens, olie & brandstofbenutting – bewerkingsrekords per kamp
12 Klimaat Data vir die plaas – CFM Temp, Reën, Koue eenhede, Wind, Verdamping, Dagligure
13 Besproeiing – onttrekkingspunte, bergingsfasiliteite – vermoëns, Hooflyne – groottes en tipe pype (AC vs UPVC)
14 Watter stelsels gebruik
15 Onderhoud & filters – elektrisiteit/sonkrag
16 Skedule
17 Finansiële rekords vir BI – Ondernemingsbegrotings op blokskaal
18 Gelyk Breek Begrotings
19 Capex-begroting
20 Kontantvloeibegroting
21 Besigheidsplan
22 Maandelikse rekonsiliasie van begroting
23 Maandelikse bestuurstate
24 Opgestelde jaarstate
25 Geouditeerde jaarstate
Kort kursusse
Vind dwarsdeur die jaar plaas. Dit word op ‘n ad hoc en aanvraag-basis aangebied en sodra ‘n minimum getal van 12 studente op die lys vir ‘n kursus is, sal studente oor die datum en plek ingelig word.
Elsenburg bied ook inligting en toegang tot Apps asook hommeltuie https://www.elsenburg.com/elsenburg-agricultural-training-institute/
Daar is ander opsies en sentrums in die res van Suid-Afrika. Graan SA bied hierdie aan: https://www.grainsa.co.za/pages/farmer-development/projects
Indien jy nie tyd of geld het vir opleisingskursusse nie – die web is jou vriend. Daar is baie nonsens wat met ‘n knippie sout geneem word, maar daar is ook waardevolle groepe wat advies van gesoute boere inwin en uitdeel. ‘n Veesiekte Facebook groep bied bv. in die veld raad indien jy in nood is met ‘n skielike siek lam of ooi as jy ver van ‘n veearts is. Daar is legio sulke groepe met waardevolle raad van hoe om kalkoenne groot te maak tot hoe om ‘n siek skaaplammer reg te dokter of hoe om ‘n gat in ‘n watertenk vinnig te fix.
Op die ou einde is hierdie opmerking van ‘n sosiale media kommentator egter die heel beste. Benewens begrotings, planne en kennis van regulasies:
Of jy nou wit swart, bruin is – passie vir boerdery is absoluut noodsaaklik. “Boerdery moet in jou bloed en in jou hart wees.”
(Dan ook ‘n lekker kort Boerboel broek, kakie hemp, keps, Leatherman en ‘n John Deere sticker vir jou bakkie).
Goeiedag
Graag verneem ek of lente 2022cen somer 2023 al op die rakke is. Ons us woonagtig in kroonstad en kry net die tydskrifte in die hande nie. Kan u asb help.
Baie dankie
Will meet uitvind
Ek “boer” al vir jare in my agterplaas…
Ek stel baie belang en voel ek kan ook n bydrae lewer!
Ek is al 64