Woorde: Hein Eksteen, Fotografie: Michel Dei-Cont
My eerste ontmoeting met Stephan le Roux vind plaas op die Oubergpas (die een wat Montagu en Warmwaterberg verbind) kort nadat my motorfiets ʼn pap voorwiel onderlede het en die uwe bykans oorlede in die karoobossies langs die grondpad sy wonde lek. Stephan was toe nog ʼn student en medekroonprins van Amanteco, een van die eerste kommersiële amandelplase in die land, en met die gebruiklike plattelandse gasvryheid bied hy my spyse en drank (hy maak die verleidelikste limoncello), oornagrus en die heelmaak van die voorwiel op die plaas aan.
Met ons volgende besoek aan die plaas is Stephan nou Amanteco se algemene bestuurder en sy suster Réni daarenteen is verantwoordelik vir voedselveiligheid, bemarking en verkope.
Terloops, wysgere laat weet die amandel simboliseer vrugbaarheid en huweliksgeluk. Plant een naby die huis van ʼn bruid en daar kom kinders by die dosyne. Stephan is intussen met Margot getroud en om sy huis staan om en by 60 000 amandelbome. Maak die som. Maar ek moet byvoeg: Margot is werksaam as geoktrooieerde rekenmeester (nogal vanaf die plaas by ʼn firma in Bermuda) en sal kan boekhou.
PERSKES UIT, AMANDELS IN
Stephan: “In 1974 ontdek my oupa Rino Brochetto aan moederskant, ʼn eerste-generasie Italianer, die Klein-Karoo en is onmiddelik verlief.”
Ná Rino se aftrede koop hy dié perske- en appelkoosplaas. Gedurende die 1980’s beveel SAD egter aanplanting van amandels aan. En hier begin alles.
“Die laaste jaar wat my oupa perskes geoes het, ry hy dit self aan en nadat hy haglike pryse gekry het, jaag hy terug plaas toe, haal die kettingsaag oor en saag al die vrugtebome summier af.”
Stephan se pa, Hans, verskyn toe op die toneel en trou met Rino se dogter Angela. Hans het gereeld in Kanada as mediese dokter gewerk, besoek onder andere Kalifornië en word op sy beurt verlief op die amandelbedryf. Liefde en vrugbaarheid waar jy kyk.
Saam pak Hans, Rino en Angela die opwindende en onbekende projek in Suid-Afrika aan.
AMANDELBOERDERY IS GEBORE
Stephan: “My pa het egter nog gereeld in Kanada gewerk en moes my ma instaan om vir oupa te help.” Aanvanklik word ʼn gemengde boerdery bedryf, maar sedert 2003 fokus hulle op amandels. Tans staan hulle op 120 hektaar hier met ʼn bykomende 70 op ʼn plaas buite Robertson en, volgens Stephan, is laasgenoemde die wegspringplek vir steeds verdere uitbreidings.
Terloops, amandels is die grootste neutgewas ter wêreld en word ook as die mees volwasse mark beskou, aangesien hierdie neut wêreldwyd verkoop word. Dit teenoor byvoorbeeld die pekanneut wat omtrent net na Sjina uitgevoer word en dus as enkelmarkgewas beskou word. Pimperneute is weer ontsettend duur, maar volgens Stephan behoort die pryse te daal aangesien daar enorme hoeveelhede in Amerika aangeplant is.
En daarom fokus Amanteco op uitvoere, omdat hulle ʼn premium produk verbou. Volgens Stephan is die plaaslike mark net te pryssensitief.
Boonop vergelyk die insetkoste verbonde aan amandels gunstig met dié van makadamia en pekanneute.
“Sederdien het my pa die relevante masjiene – dit is nou kraak- en skudmasjiene – ingevoer. Om die waarheid te sê: my pa en oupa was regtig die plaaslike pioniers in hierdie bedryf. Alles wat hulle moes leer, moes hulle hier op die plaas leer. Al die foute wat hulle kon maak, het hulle ook sommer hier gemaak.”
ROBERTSON ALMOND COMPANY
Die woorde proef en beproewing bestaan baie na aan mekaar. Só plant hulle bome met die verkeerde onderstamme en dit lei tot oeste van een ton per blok. Met die regte kombinasies bo- en onderstamme trek hulle nou by oor die vier ton per blok. Skoolgeld is betaal en vooruitgang gemaak.
“Hierdie is absoluut ʼn proefplaas en het tans 15 verskillende kultivars en ons plant nou nog twee aan.”
Tot en met 2015 was Amanteco die enigste kommersiële amandalprodusent in die land. Sederdien het heelwat nuwe toetreders hul op hierdie terra wat Hans en Rino van incognito tot cognito oopgekap het begeef en dit lei uiteraard tot verdere vernuwing deur die Le Roux-familie.
Stephan: “Ons het toe ʼn verwerkingsaanleg saam met drie aandeelhouers ontwikkel en daarmee saam ʼn nuwe maatskappy, Robertson Almond Company. Hierdie maatskappy het ten doel om verwerking namens ander amandelboere te doen.”
Met Stephan as uitvoerende direkteur van Robertson Almond Company bekom amandelboere jaar-tot-jaar of 15 jaar kontrakte wat verwerking en bemarking insluit.
Die logiese vraag: hoekom het ander boere in die Wes-Kaap nie hierdie winsgewende pad probeer loop nie? “Sommige het, maar hulle het die amandels soos perskes probeer boer en net nie die opbrengs gekry nie. Die ander probleem is dat jou bome eers ná sewe jaar in vol produksie kom.”
Dit is ʼn lang siklus waartydens jou belegging dormant is en die produsent rente moet betaal of verloor.
“Die ander struikelblok is die verwerking. ʼn Baie duur komponent. Boonop was daar net nie die kundigheid nie.”
Die ander werklikheid: skaal. Met dertig hektaar amandels sal produsente nie ʼn R60 miljoen verwerkingsaanleg kan bekostig nie.
“Natuurlik kan jy meganisasie probeer systap deur met arbeid te boer. Maar met die minimum loon wat gereeld styg, sal jy binne die volgende vyf jaar moet meganiseer en daarvoor moet jy skaal hê.”
THE ALMOND GIRL
Réni: “Verder doen ek waardetoevoeging en bedryf ʼn aanlynwinkel genaamd The Almond Girl. En ek is The Almond Girl. Alles om meer amandels en verwante produkte die mark in te stoot. Dit is ook vir my wonderlik om die publiek in te lig dat Nonpareil die mees gesogte variteit is (mooi lig van kleur en lekker soet).
Besoek haar winkel by www.thealmondgirl.co.za en jy besef die amandel simboliseer oor die waarheid.
Volgens Réni verskaf hulle boonop vyf tot tien ton neute per maand as rou materiaal aan ʼn plaaslike vervaardiger wat dit in amandelmelk en –botter omskep.
DROË SOMERS EN KOUE WINTERS
Oukei, jy is deel van ʼn volwasse internasionale mark en die neut met die grootste markaandeel, maar is jou grond geskik vir die verbouiing van amandels?
Stephan: “Die hele Wes-Kaap is geskik vir amandels oor die droë somers en koue winters. Die klein vallei waarin ons boer is uniek in die sin dat ons het ook koue winters, maar nie te nat nie. Dit gesê, sit ons nou met droogte wat al vir sewe jaar aanhou. Nietemin, amandels gaan byvoorbeeld nie in gebiede soos die Hoë- en Laeveld aard waar dit omtrent daagliks gedurende oestyd reën nie.”
Amandels droog in die boord en ten spyte van die droogte, soek die boer daardie droë somers. Indien die neute week na week reën kry, vrot hulle. “Die buitevel bars onder hierdie omstandighede oop, die neutedoppe word blootgestel en die neut muf.”
Ironies genoeg is een van Amanteco se grootste uitdagings juis water. Hierdie neut wat vrugbaarheid en huweliksgeluk waarborg het sy oorsprong miskien in droë wêrelddele, maar benodig om en by 10 000 kubieke meter water per hektaar per seisoen.
“Ja, die amandelboom kan met min water oor die weg kom. Hy gaan egter nie vir jou produseer nie.”
En dan ʼn eerste vir my. Stephan reken hy moet nou versigtig oor ander uitdagings wat die amandelboer in die gesig staar dink, want daar is nie juis veel nie.
UITDAGINGS
“Peste en plae het ons nie eintlik nie. En die naaste amandelplaas aan ons is in Robertson. So, dit is nie ʼn probleem nie. Wat wel problematies is, is die feit dat daar wêreldwyd nou ʼn oorproduksie is. Boonop sit Europa met ʼn baie hoë inflasiekoers en amandels is ʼn luxury goods item. Maar jy moet onthou ons kompeteer met die Amerikaners en dit kos hulle dubbel die hoeveelheid geld om een hektaar amandels te produseer. Dus sal ons altyd beter af as hulle wees.”
Die ander immerteenwoordige uitdaging is natuurlik die arme Eskom. Stephan is egter filosofies deur aan te voer jy kan nie op ʼn hoop gaan sit en kerm nie. Almal ly onder dieselfde karwats.
“Ons het gesukkel om die bome water te gee, maar het in sonpanele en kragopwekkers belê sodat ons die invloed wat Eskom op ons bedryf het, kan versag. Jy werk rondom die probleem en maak ʼn plan.”
Met toekomsvisie het Stephan en Hans twee jaar gelede die plaas se waterinfrastruktuur aangepas en dus kan al die boorde binne ʼn bestek van twaalf uur kan besproei.
“Volgens my gaan die Eskom-probleme vir maklik vyf jaar nog met ons wees en indien jy nie planne beraam nie kan jy netsowel jou deure toemaak.”
Oukei, jy het ál die uitdagings met Kurt-Lee Arendse se vaardighede gesystap en jou vier-plus ton per hektaar hang trots aan die bome.
OES EN DROOG
Vervolgens word die bome meganies geskud, die neute val af en dan die kardinale proses: die amandels moet vir drie tot vier dae in die boord droog. Daarna word die neute onder dak of onder seile beskerm en na die verwerkingsaanleg in Robertson aangery. Die eerste proses daar is om alle stokke, klippies en takke uit te haal. Nou word die buitevel afgehaal en na die kraker vervoer, die neute en doppe word geskei. Daarna word die neute deur optiese sorteerders geklas. En uiteindelik die verpakking.
“Amandels is ook uniek omdat daar geen uitskot is nie. Die buitevel word gebruik as veevoer. Boonop word die een tot twee persent neute wat afgekeur word ook gebruik as veevoer. Dus omtrent geen waste nie. En daar is baie min industrië wat dit kan sê.”
EIE KWEKERY
Die bome is vir 16 tot 25 jaar in produksie. Nuwe kultivars word ondersoek en ontwikkel. En daarvoor word ʼn kwekery benodig.
“Ons het per ongeluk ʼn kwekery begin aangesien ons van bome voorsien was wat nie op standaard was nie. Toe begin ons ons eie.”
En dit werk só: jy het ʼn onderstam gekweek vir sekere toestande soos sanderige of souterige grond. Dus kies jy die onderstam wat by jou grond pas. En dan ent jy die gekose kultivar bo-op.
“Ons produseer ongeveer 60 000 boompies per jaar. Hierdie is vir eie gebruik en vorm ook deel van ander boere se nuwe aanplantings en vervanging.”
Die vooruitdenkende Stephan bedryf die boerdery met ʼn vyf tot tien persent vervangingsiklus jaarliks en hierdie jaar se nuwelinge staan gereed om hul deel tot die algehele harmonie by te dra.
BLOMMETJIES EN BYTJIES
Natuurlik waar daar blommetjies is moet daar noodwendig óók bytjies betrokke wees. En bye trek swaar. Verlies aan habitat en veranderings in daardie habitat as gevolg van klimaatverandering, onoordeelkundige bespuiting, perste en siektes vorm deel van die by se stryd en daarmee saam Suid-Afrika se om en by R7 biljoen se vrugtebedryf se oorlewing. Hoe gaan dit hier by Amanteco?
Stephan: “Nee, ons nie daardie probleme hier nie, omdat ons geen skadelike stowwe gedurende die blomtyd spuit nie. Kyk, amandels is die eerste plant in die jaarlikse blomsiklus en hierdie blomme is besonder ryk aan voedingstowwe. Met ander woorde, wanneer die bye hier klaar is, is hulle baie sterker en gesonder as wanneer hulle hier aankom. Ek wil weer onderstreep: ons doen absoluut niks om die by en die byeboer te benadeel nie.”
Met my vertrek druk ek ʼn amandelneut in my sak met die hoop dat hierdie beskeie vrug ook my huwelikgeluk en motorfiets se betroubaarheid positief sal beïnvloed.
Bestel neute en olie van The Almond Girl: www.thealmondgirl.co.za/shop
Of kry dit by hierdie winkels: www.thealmondgirl.co.za/stockists
Addersfontein, PO Box 214 | Montagu, 6720, RSA | +27 (81) 644 6351 (Slegs Whatsapp)
Hoe word n amandelboom van joks af gesnoei is daar dalk videos of fotos
Kan u vir my dalk n prys lys aanstuur. As mens aanlyn ook is daar n sekere hoeveel huid.
So mooi geskryf!