Woorde: Maryke Roberts | Fotografie: Jana Neethling en verskaf
Niks kan jou voorberei op die warrelwind genaamd Faan Grobbelaar van Soetendal nie. Goed, ek gee bes, dis seker te wagte as jy in die middel van parstyd gaan kuier en hy boonop ’n parsdag weens onverwagte reën verloor het, maar soveel multi-tasking het ek nog by geen man (of mens) gesien nie!
Maar kom ons begin by die begin. Die lang ry palmbome met die geboue in die verte en ’n bord wat wys “Woning links” en “Stoor en kantoor regs”, is die eerste verwelkoming op die plaas. Onder ’n afdak staan sleepwaens met nommerplate, “Faan se wa 10” en daarnaas “Faan se wa 11”, maar jy weet daar moet iewers nog vele wees, want wanneer die wingerdstokkies op die plaas lóóp, is twee waens nie genoeg nie.
Ons kry sitplek in die stoor, waar die rye en rye werkstasies in Februarie stil is. Al die werkers knip druiwe. Kom Mei, is hier nie plek vir ’n muis nie en die meer as 450 snoeiskêre sing om die wingerdstokkies so gou moontlik voor te berei. Of soos Faan verduidelik: “Ek het plek vir 430 mense sonder dat hulle mekaar se blaaie klap.” Hy het 25 permanente werkers en kan in die seisoen tot 450 akkommodeer.
Faan se onderneming berus op drie pilare: wyndruiwe, wingerdstokkies en dienste. Sy wyndruiwe verkoop hy aan wie ook al sy druiwe nodig het; stokkies is vir ander wynprodusente en kwekerye vir wie hy die lote voorberei en dan is sy dienste wel, so wyd soos die Heer se genade, want hy sit nooit stil nie en as hy ’n geleentheid sien, gryp hy dit.
Tussen die gesels deur, kraak sy radio kort-kort om te sê ’n nuwe vrag druiwe is gereed en op pad stoor toe; daar word raad gevra oor dit of dat en voor jy jou kom kry, vlieg hy op om buitentoe te hardloop om opdragte te gee.
Om ’n idee van skaal te kry vra ek uit: hy het 65 hektaar wingerd, sowat 30 hektaar wingerdstokkies van agt kultivars, maar verwerk jaarliks 25-30 miljoen stokkies. “En onthou, elke stokkie word sewe maal geknip, so maak jy self daai som!”
Teen die stoor se muur staan houttafels waarvan die blaaie 500 snoeiskêre verberg en elkeen het ’n baas wat in die wintermaande met vlytige vingers wingerdlote in stokkies knip wat dan op ander geënt word. Op die ander mure is honderde foto’s van mense wat die afgelope paar jaar hier kom stokkies knip het. Ek vra hom daarna. “Dis memories. Meeste is foto’s geneem voor selfone en vir my en die mense wat vir my werk, is dit ’n lekker besprekingspunt. Kleinkinders kom vra na hul familie en geniet dit om na die foto’s te kyk.”
Faan is die vyfde generasie op die plaas en hier is al van 1862 ’n Grobbelaar in die saal, vertel hy. Vorige oupas en grootjies het ook al wyn gemaak en hy onthou die staaltjies van hoe die KWV gestig is om die wynbedryf te reguleer. Faan waag nie sy hand aan wynmaak nie, hy sorg eerder dat hy die beste kwaliteit wyndruiwe produseer en lewer dit dan aan kelders. Hy was vir jare lid van Wellington Kelder, maar het ’n paar jaar gelede groener weivelde gaan soek.
“As jy nie my produk wil hê nie, verkoop ek dit aan die kelder wat ’n mark daarvoor het. Ek was aanvanklik skrikkerig toe ek my lidmaatskap opgegee het, maar het nog nie een maal teruggekyk nie,” vertel hy. Hy sê voorts dat die wynbedryf ’n besigheid is en jy moet dit sodanig navigeer. “As die ouens kampioenwyn uit my druiwe maak, goedso. Ek het my prys bepaal en dit gekry. Ek lewer druiwe. Dis al.”
Hy het Cabernet Sauvignon, Shiraz, Pinotage, Malbec, Durif, Ruby Cabernet, Chenin (sy ruggraat), Chardonnay, Sauvignon Blanc, Colombar en Nouvelle geplant. Hy het geen ou wingerde nie en glo as die opbrengs per hektaar nie goed genoeg is nie, is die wingerdstokkies net goed vir vuurmaakhout. “Ek het een 1,5 hektaar Colombar van 1988. Sy opbrengs is 30 ton per hektaar, so hy is nog nie op die dodelys nie, maar sodra hy my teleurstel en minder lewer, kom sy naam in permanente khoki op die witbord in die kantoor en ná die oes trek ek hom uit en plant jong wingerde.”
Hy voeg by dat hy vir geld boer. “Sentiment is die Afrikanerdom se ondergang. Ons kan nie meer droëland ekonomies boer nie. As jy nie aanpas nie, gaan jy onder.”
Faan se pa, Bertie, het destyds ook stokkies geknip, maar 300 000 per seisoen geknip. Nou doen Faan en sy span 780 000 per dag. “Dit wat my pa in vier maande gedoen het, doen ons in ’n halfdag,” vertel hy.
Maar hoewel hy dalk soos ’n moeilike woelwater voorkom, erken hy dat hy mal is oor mense en hoe strenger die arbeidswetgewing, hoe meer ekstra werk kry hy, want regulasies en vorms is sy kos. Hy laat hom nie onderkry deur stremmende wetgewing nie.
“Die lekkerste gevoel is as hierdie store volstaan en ek weet ek gee vir ’n klomp honger mense kos.”
Ek wonder waar sy sukses ontstaan het. Faan lag as hy terugdink aan hoe alles begin het: in 1984 was hy in standerd vier. “Ek hoor van ’n man in die omgewing wat uitvoerspanspek het wat te klein vir die uitvoermark is.” Faan oortuig hom toe om die vrugte by hom af te laai vir hom om dit teen 10% kommissie te verkoop. Hy maak daardie Desembervakansie R298 wins. ’n 12-spoed Raleigh-resiesfiets kos toe R99. Sy onderneming word al hoe groter en mense uit alle uithoeke laai vrugte en groente af.
“Matriek koop ek my pa se ou plaasbakkie. Met ’n voertuig en ’n bestuurderslisensie, kan ek koop en verkoop wat ek wil en ek doen toe weg met die 10% kommissie-struktuur.” Faan spaar sy geld en in 1999 koop hy ’n plaas op Wolseley – sonder dat hy die grond gesien het.
“My pa preek dat my planne nie daar gaan werk nie, want die oostewind waai alles daar weg. Ek plant onderstokke en probeer my pa weghou, maar op die ou einde vrek die stokkies tog maar. My pa preek weer en sê ek moet pere plant. Ek gaan lê egter nie, ek leen vir die eerste keer in my lewe R30 000 en koop 17 km se dreineringspyp, sny dit in stukkies en plant ’n groeibuisie om elke wingerdstokkie. Mens moenie vir my sê ek kan nie dit of dat doen nie, dan wys ek jou ek kan.”
Die beginsel van die “dodelys” geld vir alles – van die trekkers tot die plukkratte. As iets onherstelbaar stukkend is of ’n vertraging meebring, moet hy van die werf af.
Ek wonder hoe hy in onderstokkies of wildestokkies beland het.
Dis weer KWV wat by hom opkom. In 1995 het Faan 20 snoeiskêre besit wat meestal vir sy eie wingerdstokkies ingespan is. “Met Madiba Magic in 1995, is daar ’n tekort aan wingerdstokkies en KWV vra wie almal kan help. Ek was een van dié wat hand opgesteek het. In 2001 is net ek oor en van geen vragmotors en 21 manne het ek tot vandag se huidige kapasiteit gegroei.”
Die store gons van middel Mei tot middel September, wanneer Soetendal tweederdes van SA se wingerdbedryf se onderstokkies voorberei. Wetgewing vereis dat die stokkies binne ’n week verwerk moet word, maar Faan weet hoe langer hy lê, hoe swakker word hy en daarom is hul omdraaityd 72 uur.
Omdat heelwat van die seisoenale arbeiders ongeskoold is, het Faan sy stokkiebesigheid in kleure verdeel en elke stokkie is naspeurbaar, sou daar fout kom. “Soms is al agt kleure in produksie en dit verg kophou om al agt lotte gelyktydig te verwerk sonder om deurmekaar te raak,” vertel hy.
Faan lewer die stokkies droog of in water, ry dit self aan as klante vervoer of berging vereis.
Pieter Retief is al 23 jaar deel van Faan se span en die twee korswel soos ou maats. ’n Mens kan sien dat daar baie goedhartigheid is wat jy in bykans ’n kwarteeu van hard saamwerk opbou.
Faan het baie by sy pa geleer, wat hy daagliks in sy boerderypraktyke toepas. “My pa het hard gewerk en het geglo jy maak jou meganika reg as dit breek. Behoorlik reg. Geen draad en tang en quick fixes nie. Jy stel ook nie herstelwerk uit nie. Hy was egter baie meer konserwatief in sy aanslag en bang vir skuld. Daar verskil ons baie, maar hy het my geleer jy plant elke jaar wingerd, al is dit ’n halwe hektaar. Ek doen dit vandag steeds en dis jou behoud op ’n wynplaas, dat jou wingerde nie te oud raak nie,” vertel hy.
Faan is ’n glas-half-vol tipe mens. Waar baie ander produsente die donker wolke sien, sien hy die silwer rantjie en woeker hy daarmee.
Verlede jaar het hy 100 sonpanele geïnstalleer, ’n kamer vir die omskakelaar ingerig en die afgelope 14 maande is hy vry van beurtkrag. “Dis ’n plesier om te hê. Enige downtime op ’n plaas is onbekostigbaar, so die uitgawe van die panele is ’n goeie belegging.”
Hy voeg ook by dat hy nie organies boer nie, “maar lewendig”. Hy ry elke jaar 2 000 kubieke meter hoendermis in sy wingerde in. Hy verkies braaikuikenmis, want dit sit al die nodige elemente terug in die grond. Hy plant ook jaarliks dekgewasse.
En die toekoms? Hy lag en sê hy koop nou nie meer plase by nie, hy het genoeg gekoop en verkoop.
“Maar ek kyk altyd rond. As daar ’n kans verbykom, dan loer jy.”
Ná die besoeke verstaan ek dié pionier ding al hoe beter: dis ’n strewe na meer en verder en hoër. Dankie tog daarvoor, want dis iets waarby ons almal baat vind