News
Leave a comment

Van plant tot oes: sojasukses verg beplanning

In Augustus 2023 het die Amerikaner Alex Harrell die beste soja-oes in die geskiedenis van landbou op sy plaas in die staat Georgia aangeteken. Die opbrengs van 13.9 ton/ha was beduidend meer as die vorige wêreldrekord wat Randy Dowdy, wat in dieselfde staat boer, in 2019 opgestel het.

Harrell se rekord is aangeteken in die VSA-ekwivalent van Suid-Afrika se Groei vir Goud-kompetisie wat jaarliks deur Graan SA aangebied word, en beteken dus dat die land wat die rekord gebreek het, heelwat spesiale aandag gekry het. Dis goed om te weet wat moontlik is (Suid-Afrika se soja-oesrekord wat in Augustus 2023 deur Jan van Heerden van Hartswater opgestel is, is 6.668 ton/ha onder besproeiing), maar geen produsent kan soveel moeite doen met duisend hektaar se sojabone nie. Onder gewone omstandighede, streef produsente optimale opbrengs na sonder om winsgewendheid per hektaar uit die oog te verloor, en ’n wins op elke hektaar is net moontlik wanneer die beste balans tussen insetkoste en opbrengs behaal word.
 
“Die basiese beginsels bly belangrik om gewaspotensiaal só te beskerm dat die maksimale opbrengs gerealiseer kan word, veral op hierdie tydstip in Suid-Afrika waar ons ‘n moeilike, droë seisoen agter die blad het,” sê Hanlie Geldenhuys, rygewaskenner by Syngenta Suid-Afrika. Die sleutel tot die beskeriming van opbrengs is om stremmingsfaktore wat wel bestuur of tot ’n mate gemanipuleer kan word, sover moontlik te verminder.

Beplanning is die sleutel

Volgens Geldenhuys is die vooruitsigte vir sojabone positief in die seisoen wat voorlê, danksy hoë kommoditeitspryse en die bogemiddelde reënval wat La Niña behoort te bring. Dit is egter ook waar dat natter toestande ‘n teelaarde vir swamme en siektes skep, en produsente sal dus slim te werk moet gaan wat siekte- en pesbeheer betref. “‘n Gesonde sojaboonoes word grootliks bepaal deur ‘n spuitprogram wat behoorlik beplan en uitgevoer word. Stappe wat op die ingewing van die oomblik geneem word, is dikwels te laat en kan teenproduktief wees.”

Sojaboonsukses kan met ’n vierkampwedloop vergelyk word waar elke item, of stadium, gefokusde aandag en insette verg.

Nog voor die eerste vore geploeg word, moet opbrengs reeds aandag kry. Saadbehandeling verseker behoorlike ontkieming, groeikragtige saailinge, eweredige stand en behoorlike wortelontwikkeling wat gesonde, sterk plante aan die hand werk. Wanneer ‘n gewas op hierdie manier wegspring, staan hy die beste kans om sy opbrengspotensiaal te verwesenlik. Syngenta se APRON® Plus Beans saadbehandeling met CRUISER® as ’n byvoeging, is die resep vir ’n goeie begin tot die seisoen. Saam hou hierdie produkte swamme en insekte wat sade en saailinge aanval, onder beheer.

Daar word geskat dat 70% van ’n gewas se opbrengs deur klimaat en klimaatverwante faktore bepaal word – aspekte waaroor produsente min of geen beheer het. Produsente moet dus alles in hul vermoë doen om die oorblywende 30% optimaal te bestuur.

Onkruidbeheer vroeg in die lewe van ‘n sojaplantjie is uiters belangrik om opbrengsverliese te voorkom. Onkruid kompeteer met gewasse vir lig, water en voedingstowwe, en kan sojaboonkwaliteit en opbrengs dramaties verlaag. ‘n Studie wat in 2006 gedoen is, het bevind dat onkruiddruk en -kompetisie 37% van sojaboonproduksie wêreldwyd in gevaar stel. In Etiopië is bevind dat onkruid tot 60% van ‘n sojaboonoes se opbrengs kan steel, en ‘n studie wat oor ses jaar in Amerika gedoen is, het die verliessyfer op 52% gestel. Navorsers het ook genoem dat onkruid in lande wat geoes word, sojaboonsaad kan vlek en saadkwaliteit verswak, asook die oesproses minder effektief maak (https://www.cambridge.org/core/journals/weed-technology/article/perspectives-on-potential-soybean-yield-losses-from-weeds-in-north-america/839B31C6771865071E6956BAEFC0F076).

Produsente behoort dus nooit te wonder of onkruidbeheer nodig is nie – die wetenskap spreek vanself.  ‘n Program wat Syngenta se TOUCHDOWN FORTE® Hi Tech en METAGAN® Gold kombineer, is uiters doeltreffend om onkruid te beheer.

Insekplae kan ’n soja-oes soos mis voor die son laat verdwyn, veral grondinsekte wat saailinge en wortelstelsels vroeg in die seisoen aanval. As teenvoeter kan produsente met KARATE® Zeon begin, gevolg deur AMPLIGO® wat danksy sy langnawerking veral bolwurm in bedwang hou. Bolwurm wat die gewas later in die seisoen aanval, kan graangehalte ernstig benadeel.

Siektebeheer is die vierde stap op weg na ’n suksesvolle soja-oes. Wanneer sojaplante begin blom, kan siektes wat veral fotosintese belemmer baie skade aanrig. AMISTAR® Extra bekamp nie net siektes nie, maar verbeter ook opbrengs deur plante langer groen te hou (wat beter fotosintese moontlik maak) en die opname van water en voedingstowwe aan te moedig. Die resultaat is sterker plante wat beter bestand is teen sklerotinia, die sojaprodusent se groot kopseer waarvoor daar geen direkte behandeling is nie.

Sojaboonproduksie is aan die toeneem in Suid-Afrika en dié boon is vinnig besig om een van die land se ekonomies mees belangrike gewasse te word. As ’n wisselbougewas herstel soja grondgesondheid wat gewoonlik in die volgende mielie-oes se opbrengs sigbaar is, terwyl laer insetkoste en ’n gunstige risikoprofiel sorg dat soja winsgewend in sy eie reg is.
 
Dit is dus die moeite werd om in goeie beplanning en noukeurige toediening van die regte program te belê. Die optimale balans tussen insetkoste en opbrengs wat sodoende bereik kan word, sal die weg baan vir ‘n suksesvolle sojaboonseisoen.

Leave a Reply

Your email address will not be published.