Agri-entrepeneur, Events, farmers, News
Leave a comment

Inskrywings open vir die 2025 Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe

Suiwelvervaardigers regoor Suid-Afrika word uitgenooi om in te skryf vir die 2025 Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe, die land se grootste en oudste suiwelkompetisie. Hierdie gesogte byeenkoms, wat vanjaar vir die 192ste keer plaasvind, word sedert 1834 deur Agri-Expo aangebied.

Die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe lok elke jaar sowat 1 000 inskrywings van vervaardigers van regoor die land. Foto: Agri-Expo 

Die kampioenskappe lok elke jaar sowat 1 000 inskrywings van groot, medium en klein vervaardigers wat om top-eerbewyse meeding, insluitend die SA Kampioen-titel, die Qualité-merk van Uitnemendheid, en die gesogte Produk van die Jaar-toekenning.

Alle Suid-Afrikaanse suiwelvervaardigers word genooi om teen 31 Januarie 2025 vir die 2025 SA Suiwelkampioenskappe in te skryf. Foto: Agri-Expo

Die kompetisie bestaan uit meer as 100 klasse, wat ‘n wye reeks suiwelprodukte insluit, van kaas, jogurt en melk tot room, botter, roomys en meer. Elke klaswenner word as SA Kampioen bekroon, terwyl die Qualité-merk, wat as die bedryf se hoogste toekenning beskou word, slegs toegeken word aan produkte van uitsonderlike gehalte wat aan streng kriteria voldoen. Die produk wat die hoogste algehele punt behaal, word as Produk van die Jaar aangewys.

‘n Paneel van 80 beoordelaars evalueer sowat 1 000 produkte tydens die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe. Op die foto is die beoordelaar Laura Nyamukapa tydens die 2024-kampioenskappe. Foto: Agri-Expo

Volgens Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo, dien die kampioenskappe as ‘n maatstaf vir uitnemendheid in die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf. “Hierdie kompetisie stel vervaardigers in staat om hulself te meet teen die beste in die besigheid,” sê Milford. “Ons is bevoorreg om die bedryf te dien deur hierdie platform, wat moontlik gemaak word met die ondersteuning van ons platinumvennote, IMCD en DSM-Firmenich, en ander borge.

Die SA Suiwelkampioenskappe se hoofbeoordelaar Graham Sutherland, die beoordelaar en voedseltegnoloog Bianca Mollar, Breyton Milford, Hoofbestuurder van Agri-Expo, en die internasionale beoordelaar Steve Bullin tydens die beoordeling van die 191ste Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe in 2024. Foto: Agri-Expo

BELANGRIKE DATUMS
• Inskrywings open: Maandag 2 Desember 2024
• Inskrywings sluit: Vrydag 31 Januarie 2025
• Beoordeling: Donderdag 20 Februarie en Vrydag 21 Februarie 2025, by Eensgezind, Durbanville
• SA Suiweltoekennings-seremonie: Dinsdag 8 April 2025, by Eensgezind


Vervaardigers kan aanlyn inskryf by https://cheesesa.co.za/. Vir meer inligting, skakel 021-863-1599 / 083-440-1628, of stuur ‘n e-pos aan dairy@agriexpo.co.za.

Leave a Reply

Your email address will not be published.