News
comments 12

Tien jong adviseurs maak geskiedenis met unieke NWU-opleiding

Die rol van Gewas Adviseurs in landbou behels vandag veel meer as produkverskaffing en tegniese advies. Die regte profiel van adviseur speel ’n strategiese rol as besigheidsvennoot wat saam met produsente risiko bestuur, oplossings implementeer en winsgewendheid verhoog.

Janet Lawless, InteliGro Bemarkingsbestuurder

InteliGro het met die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool saamgespan om ’n pasgemaakte driejaar-opleidingsprogram vir Gewas Adviseurs te ontwikkel. Die loodsprojek het in Mei 2025 afgeskop, met tien jong InteliGro-adviseurs wat tans besigheidsopleiding ontvang om die maatskappy se sterk tegniese benadering op plaasvlak aan te vul.

Volgens Janet Lawless, bemarkingsbestuurder by InteliGro, is dié praktykgerigte opleiding noodsaaklik vir die unieke vaardighede wat die rol van Gewas Adviseur vandag verg. Adviseurs wat die program voltooi, sal ’n formele kwalifikasie ontvang wat hulle loopbaanontwikkeling en geloofwaardigheid versterk.

“Die verskil lê in die gehalte van die Gewas Adviseur,” sê Lawless. “Kennis alleen is nie meer genoeg nie. Klimaatsverandering, markverskuiwings en regulatoriese druk verg kritiese denke en sake-insig. Daarom fokus die program op selfontwikkeling, operasionele bestuur, strategiese entrepreneurskap, toekomsgerigtheid, finansiële bestuur, doeltreffende kommunikasie en praktiese landbou-toepassing.”

Niel Kruger, InteliGro Uitvoerende Bestuurder: Primêre Besigheidskanaal

MEER AS 90 GEWAS ADVISEURS ONTWIKKEL DEUR CCA-PROGRAM

InteliGro het reeds meer as vyf jaar gelede die grondslag gelê vir ’n doelgerigte en relevante ontwikkelingspad met hulle interne Certified Crop Advisor (CCA)-program.

Vandag is meer as 90 adviseurs landwyd betrokke by hierdie formele opleidingsinisiatief. Elke adviseur volg ’n persoonlike ontwikkelingsplan wat tegniese opleiding, mentorskap en loopbaanbeplanning insluit.

“Adviseurs moet nie net raad gee nie, maar luister, sake-insig toepas en oplossings bied vir komplekse uitdagings,” sê Lawless. “Bo en behalwe goeie produk- en gewaskennis, moet hulle tegnologies vaardig wees, basiese besigheidsbeginsels kan toepas en die vermoë hê om komplekse lae van data te interpreteer vir besluitneming.”

InteliGro en die NWU Besigheidskool het ’n pasgemaakte driejaar-opleidingsprogram bekendgestel om Gewas Adviseurs met besigheidsvaardighede, benewens hul tegniese kennis, toe te rus.

Die CCA-program verseker dat alle adviseurs aan die nodige standaarde voldoen deur voortdurende evaluering en en opleiding in tegniese, besigheids- en sagte vaardighede. Kursusse word deurlopend ontwikkel op grond van die nuutste navorsing en praktykervaring. Temas sluit in gewasfisiologie, -voeding en -beskerming, besproeiing, toedieningstegnologie en grondvrugbaarheid.

“Die CCA-program rus my toe met waardevolle kennis om oplossings vir kliënte te bied,” sê Stephan Venter, ‘n Leerling Gewas Adviseur van Wolmaransstad. “Die besigheidskursus verbreed my perspektief en beklemtoon die belang van fokus en dissipline. Ek glo dit gaan my help om my eie besigheid beter te bestuur.”

DIE BRUG TUSSEN TEGNIESE KUNDIGHEID EN PRAKTYK

Lawless sê samewerking met universiteite voeg akademiese waarde by en help om die sektor se spesifieke behoeftes aan te spreek. “Hierdie vennootskap met NWU, en ook ons moedermaatskappy WinField United SA se betrokkenheid by die Universiteit Stellenbosch, bevorder navorsing, tegnologiese vooruitgang en toegang tot die nuutste kennis op plaasvlak.”

Die CCA-program is InteliGro se eie vertrouensindeks – en dit begin op die plaas. Hier is Etiënne Aucamp, Senior Gewas Adviseur by InteliGro, saam met produsente van Parys en omliggende gebiede (van links): Johan Viljoen, Bernard Haggard, Etiënne Aucamp en Willem Coetzer.

“As ’n verskaffer van geïntegreerde gewasoplossings wat nog altyd op kundigheid en tegniese advies geskoei was, stel InteliGro nou ’n nuwe standaard en produsente wéét hulle kry kundigheid,” sê Lawless. “Ons fokus bly daarop om in elke Gewas Adviseur ’n betroubare vennoot te hê wat produsente help om sukses te behaal.”

“Wat ons adviseurs onderskei, is nie net hul tegniese vaardighede nie, maar ook hul vermoë om vooruit te beplan”, sê Niel Kruger, Uitvoerende Bestuurder: Primêre Besigheidskanaal. “Hulle moet huidige behoeftes aanspreek én beplan vir die toekoms in areas soos wisselbou, weerstandbestuur, biologiese oplossings, tegnologie-hulpmiddels, alternatiewe beheer opsies en marktoegangvereistes.”

Kruger sê InteliGro is daarop gefokus om produsente met die regte professionele advies te ondersteun deur middel van doelgerigte opleiding, tegniese ondersteuning, mentorskap, ’n gewas-spesialisbenadering en gewaswerkgroepe. Hierdie benadering help produsente om risiko proaktief te bestuur en volhoubare boerdery te bou.

Meer as net advies: Die regte profiel van Gewas Adviseur tree op as ’n strategiese besigheidsvennoot – iemand wat saam met produsente werk om risiko’s te bestuur, oplossings te implementeer en winsgewendheid te verbeter.

“Die vermoë om toekomstige tendense te identifiseer en daarvolgens strategieë te ontwikkel, beteken dat ons Gewas Adviseurs baie goed geposisioneer is in die bestuur van boerdery-uitdagings.”

VERTROUE BLY DIE SLEUTEL TOT SUKSES OP DIE PLAAS

Volgens Kruger is dit die kombinasie van tegniese kundigheid, strategiese visie, tegnologiese vaardigheid en die regte profiel mense wat die InteliGro-span laat uitstyg. “Hierdie benadering ondersteun nie net volhoubare sukses van landbou as sektor nie, maar bied ook aan produsente gemoedsrus dat daar `n besigheidsvennoot aan hul sy is wat saam met hulle die uitdagings in die bedryf aanpak en help om geleenthede aktief te ontgin.”

“Vertroue vorm die fondament van ‘n suksesvolle produsent-adviseur-verhouding,” sê hy. “Produsente moet op hul adviseurs as ’n betroubare vennoot kan staatmaak vir komplekse besluite. Hierdie verhouding berus op deurlopende openlike kommunikasie, ervaring, kundigheid en bewese resultate, wat jaar na jaar nagestreef word.”

“Die CCA-program dien as ons eie vertrouensindeks. Ons weet dit begin op die plaas – en dit is waar ons die verskil maak.”

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *