Dis moeilik genoeg om boer te wees in Suid-Afrika. Reën is óf te min óf te veel, insetkoste klim soos raketbrandstof, en beurtkrag maak dit by tye onmoontlik om jou besigheid normaal te bedryf. Nou kom daar nog ’n nuwe kink in die kabel – invoertariewe van die VSA.

Die Amerikaanse owerhede het besluit om verskeie invoerbelastingkoerse op produkte soos sitrusvrugte, wyn, beesvleis en selfs suiker uit Suid-Afrika op te jaag. Sommige van dié tariewe kan tot 30% wees – wat beteken dat dit skielik véél duurder is vir Amerikaanse verspreiders om ons boere se produkte in te voer.
En dit bring ’n groot skokgolwe deur die landbousektor, veral in plekke soos die Wes-Kaap en Oos-Kaap, waar baie produsente sterk op uitvoere staatmaak. In Citrusdal, waar sitruskonings hul lemoene, naartjies en suurlemoene kweek vir die wêreldmark, is die kommer tasbaar. Een boer sê: “Ons is vir jare geleer om na uitvoere te kyk vir groei. Nou word daai deure vir ons stadig maar seker toegemaak.”
Die probleem met invoertariewe is dat dit nie net ‘n internasionale politieke speletjie is nie – dit het werklike, plaaslike impak. Minder uitvoere beteken minder inkomste. En minder inkomste beteken minder werk. In sommige streke word daar geskat dat duisende poste op die spel is. Van die pakhuise in die Swartland tot die wingerde in Robertson – almal voel die knyp.
’n Ander uitdaging is dat uitvoermarkte nie oornag vervang kan word nie. Dit neem jare se onderhandeling, sertifisering en verhoudingbou om in lande soos die VSA ’n voet in die deur te kry. En as jy daai plek verloor, is daar altyd ander lande soos Egipte, Chili of Marokko wat die gaping vinnig vul.
Intussen het InteliGro en verskeie landbounetwerke hul kommer uitgespreek en versoek dat die regering vinnig optree om die impak te beperk – al is daar min hoop dat Washington gou van koers gaan verander.
Wat kan die gewone mens doen? Wel, koop plaaslik. Ondersteun SA-produkte. En deel die stories van boere wat nie net teen droogte, hoë pryse en beurtkrag veg nie, maar nou ook teen internasionale tariefmure.
