News
Leave a comment

Tegnologie, kampioene en rekordgetalle: Swartlandskou tref die kol

Die Swartlandse dorp Moorreesburg het van 3 tot 6 September behoorlik uit sy nate gebars met die 91ste Swartlandskou – ’n tentoontoonstelling van die voorste tegnologie, diere en implemente wat die landboubedryf het om te bied.

Die grootkampioenram behoort aan Johan Kotzé, Korhaansrug Merino’s van Moorreesburg. Van links is Kobus Louw van BKB (borg), Johan en Wilma Kotze, en Christiaan Esterhuysen (hanteerder).

In die skou se 91ste bestaansjaar was groot opwinding en prestasies aan die orde van die dag, met ’n rekordgetal van meer as 21 000 besoekers wat die skou oor die vier dae besoek het. Die skoubestuur is egter nog besig om die finale besoekersyfers te finaliseer.

2025 Swartlandskou Stalletjie Trofee Wenner bo R15 miljoen AFGRI

JONGSTE TEGNOLOGIE – ’N EERSTE IN SUID-AFRIKA

Daar is jaarliks gesonde mededinging onder die Swartlandskou se uitstallers om een van die skou se gesogte pryse in die afdelings vir onderskeidelik Masjinerie-, Motor-, en Landbounywerheid-uitstallings op te raap.

Die landboumaatskappy Afgri, een van die Swartlandskou se ankerborge, het vanjaar die nuwe John Deere T6700-stroper by die skou bekend gestel – ’n eerste in Suid-Afrika. Hierdie tentoonstelling het die Afgri-span die Nulandis-wisseltrofee vir die beste uitstalling in die kategorie vir implemente bo R15 miljoen besorg, sowel as vir die beste verkoopspersoon vir implemente bo R15 miljoen.

John Deere T6700 Stroper

INTERRASKAMPIOENSKAP HERSKRYF GESKIEDENISBOEKE

Hierdie gesogte beesskou lok elke jaar van die land se voorste telers sowel as talle skougangers wat hierdie gehalte-diere wil kom aanskou. Die kampioenskap het vanjaar gasheer gespeel vir altesaam sewe verskillende beesrasse, naamlik: Swart Angusse, Rooi Angusse, Herefords, Simmentalers, die Santa Gertrudis-beesras sowel as Romagnolas.

Daarbenewens het dit ook vanjaar op ’n geskiedkundige noot afgesluit toe die angusstoet De Panne die titels vir opperste kampioenbul, sowel as opperste kampioenkoei verower het. Volgens die skou-organiseerders is dit die eerste keer in die geskiedenis van die Swartlandskou dat ’n teler altwee hierdie titels verower.

Die beoordelaars en vertoners was baie beïndruk met die gehalte van die diere en die aanbied van die kampioenskappe, en meen die Wes-Kaap hoef vir geen ander gebied terug te staan wanneer dit by die gehalte van vleisbeeste kom nie.

Swartlandskou De Panne Angus Stoet Interras Kampioene Manlik en Vroulik 2025

AGTSPAN-WAGPERDE SORG VIR SKOUSPEL

Perde is oor al die jare heen een van die spilpunte waarom die Swartlandskou draai, en vanjaar was dit nie anders nie. Die nasionale Vlaamperdkampioenskappe sowel as die Wes-Kaapse Saalperd-streekskampioenskappe is by die 2025-skou aangebied, met ruiters wat in verskillende klasse deelgeneem het. Die wagspanne van agt is elke jaar ’n groot hoogtepunt en vanjaar het Martin Eksteen as die kampioenwagspan vir 2025 weggestap.

TOPKLEINVEE EN SKAAPSKEERDERS WYS HUL STAAL

Altesaam 73 SA Vleismerino’s van ses telers het vanjaar aan die Suid-Afrikaanse Super 10-vleismerinokampioenskappe deelgeneem. Jannie du Toit, van die stoetery Vlakkerug Vleismerino’s in Riekbeek-Wes, was die ontvanger van die Victor Ludorumtrofee.

Daarmee saam het Johan Kotzé, van Korhaansrug Merino’s op Moorreesburg, die merino-grootkampioenram vir 2025 opgelewer, terwyl Eben Schellink, van die stoetery Swartland Merino’s van Malmesbury, die trofee vir die reserwe-grootkampioenram gewen het.

Die land se skaapskeerders het ook ’n geleentheid gehad om hul staal by die Swartlandskou te wys. Die Skaapskeer- en Wolhanteringskampioenskappe is vanjaar in samewerking met die Suid-Afrikaanse Skaapskeer-federaise en dr. Jasper Cloete, van die landboukollege Elsenburg, aangebied. Skaapskeerders kon gedurende hierdie kampioenskappe meeding om vir die 2026 Nasionale Kampioenskappe te kwalifiseer. In die ope-skeerafdeling het Hans Van Schalkwyk 1ste, Zakobane Qamakhana 2de, Dumisani Xhasa 3de en Willie Vusumzi 4de plek behaal.

Swartlandskou 2025 Paneelbespreking met Min Ivan Meyer

SWARTLANDSKOU, SLEUTELVENNOTE BIED TOONAANGEWENDE PANEELBESPREKINGS EN SEMINARE AAN

Die Swartlandskou is nie net ’n vertoonvenster vir die beste wat die lanboubedryf het om te bied nie, maar het ook vanjaar as ’n platform gedien vir die aanbied van ’n reeks invloedryke paneelbesprekings en seminare. Hierdie sessies is in samewerking met sleutelvennote aangebied en het ten doel gehad om werklike uitdagings en geleenthede in die landboubedryf te belig.

Een van die kernfokusse van só sessie was ons land se uitvoergereedheid. Dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van landbou, tesame met die verteenwoordigers van verskeie ambassades soos Kanada, Italië, Nederland en Namibië het hul insigte gedeel oor internasionale markgeleenthede en handelsbetrekkinge.

“Die hele gemeenskap pluk die vrugte daarvan – van die kleinste tot die grootste ondernemings. Die groot getalle besoekers en die positiewe beeld wat hul verder uitdra, bevestig dat die Swartlandskou ’n belangrike vertoonvenster vir die Wes-Kaap is.”

Daarmee saam was die Swartlandskou se Produsenteseminaar ook vanjaar ’n groot trekpleister, met voorste sprekers soos die ekonoom Theo Vorster, prof. Johan Fourie (ekonomiese geskiedenis), dr. Tobias Doyer (landbou-ontwikkeling) en die politieke ontleder JP Landman wat opgetree het. Hul waardevolle perspektiewe oor die ekonomie, volhoubare ontwikkeling en die toekoms van die landbousektor op eie bodem was blywend gewees.

’n Verdere insiggewende aanbieding was die Inteligro Intellect Solutions-dag – ’n aanbieding wat gefokus het op praktiese landboukennis en werkbare oplossings wat regstreeks tot volhoubare boerdery bydra.

Die Swartlandskou het met hierdie uiteenlopende program net weer bevestig dat dit nie bloot net ’n uitstalgeleentheid is nie, maar ook ’n platform vir intellektuele en strategiese gesprekke waar rolspelers uit die landbou, akademie, regering en die privaatsektor byeenkom om die pad vorentoe vir die bedryf te help vorm.

Die seniorkampioenram is die eiendom van Jannie du Toit (links), Vlakkerug SA Vleismerino’s van Riebeek-Wes. Van links is Hans Burger van Voermol (borg), Stephanus du Toit, en Jaco-Jacobus Smit (hanteerder).

GEMEENSKAP EN VERTONERS DRA BY TOT VOLHOUBARE SUKSES

Jacques Bester, die president van die Swartlandskou, het sy dank uitgespreek teenoor alle vertoners, uitstallers, vennote en borge vir hul betekenisvolle rol in die sukses van vanjaar se skou. Hy beklemtoon dat die ekonomiese uitwerking van die skou beduidend is en ’n wye reikwydte het.

“Die hele gemeenskap pluk die vrugte daarvan – van die kleinste tot die grootste ondernemings. Die groot getalle besoekers en die positiewe beeld wat hul verder uitdra, bevestig dat die Swartlandskou ’n belangrike vertoonvenster vir die Wes-Kaap is.”

Bester het verder sy waardering uitgespreek teenoor die plaaslike gemeenskap, bestuurslede, vrywillige werkers, die Swartland-munisipaliteit en die Weskus-distriksmunisipaliteit vir hul toegewyde samewerking. “Die kern en hartklop van die Swartlandskou is die mense van Moorreesburg wat hande vat om ’n skou van gehalte aan te bied waar die landboubedryf en gemeenskap sentraal staan,” sê hy.

Die 2026 Swartlandskou gaan vanaf 2 tot 5 September gehou word. Besoek gerus www.swartlandskou.co.za vir meer inligting en volg @SwartlandskouMoorreesburg op Facebook en @Swartlandskou op Instagram.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *