Farm to Fork, Farm Tourism, farmers
Leave a comment

Hemels in die Hemel-en-Aarde

Woorde: Jacques van Zyl Fotografie: Dewald Kirsten

Die eerste ding wat my oog in Die Plaaskombuis se ingang vang, is ’n snawellose hoenderpop in ’n piepklein draadhokkie wat so knap om hom sit dat dit alkant aan hom raak. Daar’s altyd aspekte aan ’n plaaswinkel wat onmoontlik is om na te doen, laat alleen te verduidelik. Net as ek in die eklektiese versameling van antieke en nuwe dinge begin verdwaal, verskyn daar ‘n vrou wat niemand anders as Nita Lötter kan wees nie.

‘n Voëlverskrikkerpop kyk uit oor vars patats en botterskorsies.

VAN MELKSTOOR TOT PLAASWINKEL

“Kies vir julle solank iewers om te sit,” stel sy voor en koes terug in die kombuis in.

Om ons is ‘n groterige saal met ‘n stuk of twintig houttafels en -stoele. Die tema is pretensieloos – byna soos ‘n uitgebreide plaaskombuis, dink ek, voor die pennie uiteindelik deurval: ja, Plaaskombuis. Nita is skaars weg as Jadri by ons kom sit.

Die Lötters se plaas, Vrede, in die Hemel-en-Aarde-vallei buite Hermanus, was aanvanklik ‘n groenteplaas, maar die groot kettingwinkels het hulle aankope en store begin sentraliseer wat dit haas onmoontlik gemaak het om groente aan selfs die kleiner winkels te lewer.

Met of sonder die winkeltjie genereer die restaurant vandag een van die plaas se grootste inkomstestrome. Mens kan eenvoudig nie die impak van toerisme onderskat nie. 

“Die smous het altyd ‘n honderd sakkies of so kom koop,” vertel Jadri. “Nou is dit een of twee sakkies, en volgende week miskien niks.”

Die Plaaskombuis se ingang, uit die oog van die hommeltuig.

Jadri se pa se plaas, hoër op in die vallei en nou in die hande van sy broer, is steeds ‘n groenteplaas. Jadri vertel hoe hy eers op en af na die familieplaas moes ry met sy motorfiets – om ‘n trekker of ‘n bakkie te gaan leen – en dan weer al die pad terug. Maar toe plant hy ‘n hektaar uie onderkant die plaashuis en haal daar vier vragte uie af. Hy het hulle in stringe gevleg reg voor die ou melkstoor, vandag die restaurant se ingangsportaal, om te wag tot die prys reg was. “Daai jaar slaan ons R26,00 ‘n sakkie …”  

Hy maak net daar genoeg geld om ‘n trekker én ‘n bakkie aan te skaf.

Jadri wys vir ons ‘n foto van die stokou bakkie wat hy met die uie se wins aangekoop het. “Ek gaat nog vir hom ‘n glaskas bou.”

Houtstoele en -tafels in die ruim eetsaal. 

Mens vergeet maklik hy is die boer wat al die langste in Hemel-en-Aarde ‘n bestaan maak. “Mens is bekommerd oor die ambagte in die toekoms. Rêrig,” peins Nita as ons wonder of haar kinders dalk eendag die restaurant sal kom oorneem. Dit blyk vinnig dat hulle koppe almal in ander rigtings staan. Veral die seun skop vas.

“Dis ons nuutste baba,” vertel Nita. “Boer se Wyn – Hannes Storm van Spookfontein maak dit vir ons van ons eie druiwe.” 

“Ek glo jy eet ‘n braaivleistjoppie met die hand. Hy vat hom nie met die hand nie; hy eet hom met ‘n mes en vurk,” skud Jadri sy kop as hy vertel hoe sy jongste liewers met syfers wil boer as om sy hande met plaaswerk vuil te maak. “Ons kinders leer nog almal. Hulle vát nog net,” las Jadri glimlaggend by.

SKIELIK IS DAAR ‘N RESTAURANT

“Waar die Agrimark nou staan, het ons ‘n padstal gehad,” vertel Jadri as ons begin uitvra oor hoe lank hulle al direk aan die publiek verkoop. 

Die dak kraak skielik soos warmer lug oor die sinkplate begin waai.“Ons is nou so vyf jaar aan die gang. Die eerste gedeelte was net die binneste gedeelte. Ek het gedink ek gaan crafts met die plaasmeisies doen; en hier en daar ‘n muffin,” vertel Nita. “En ‘n coffee shop,” voeg Jadri by.

“Genade weet hoe dit gebeur het, maar skielik het alles in ‘n restaurant verander.”

Beesstert, te lekker om nie die laaste beentjie af te suig nie.

“Daai’s my lekker gedeelte,” gesels sy verder. “Ek sal nooit net ‘n restaurant kan doen nie – dis te stresvol. Ek koop al die ou goed en hang hulle hier op. As ek ‘n tweede een kry, verkoop ek een.”

Met of sonder die winkeltjie genereer die restaurant vandag een van die plaas se grootste inkomstestrome. Mens kan eenvoudig nie die impak van toerisme onderskat nie. Maar die plaaslike mense kom ook inloer.

“Dis kindervriendelik – oupas en oumas bring hulle kinders. Ons is baie rustig hier by die Plaaskombuis.” 

LÖTTER FAMILY WINES

Waar groente tot onlangs die oorwegende gewasse was, staan die Lötters se plaas vandag hoofsaaklik onder wingerd, tipies Chardonnay en Pinot Noir. Druiwe word aan wynmakers in die vallei verkoop. Sauvignon Blanc, Grenache Rosé, Syrah, Syrah Mourvedre Grenache en Pinot Noir word nou ook in die winkel te koop aangebied.

Daar’s egter geen sprake van ‘n wynkelder nie. Spookfontein koop druiwe vir hulle Pinot Noir by die Lötters aan en maak dan ook sommer vir hulle wyn. “Ek het gevoel hoekom moet ons ander kelders se wyne koop as ons reeds die druiwe het,” verduidelik Jadri.

Die druiwe gaan ook nie net wynplase toe nie. Hulle kook ook konfyt, hoor ons. Onder andere ‘n Pinot Noir-konfyt. Die korreltjies is maar klein en het baie pitte, maar dis die smaak wat die verskil maak. Hiervan sal ek ‘n fles moet huis toe vat, dink ek.

Lötter Family Wines produseer nou Sauvignon Blanc, Grenache Rosé, Syrah, Syrah Mourvedre Grenache en Pinot Noir wyne.

BOERVROU SE BUNNY CHOW, BEESSTERT EN KERRIE-AFVAL

Wanneer die kos by ons tafel opdaag, weet ek nie waar om te begin nie. Voor my staan drie borde kos en ‘n kwart van ‘n bobotie-omelet wat ek ook moet proe. Die omelet word vinnig kafgedraf. Dis ‘n regte boere-omelet – dik en sponserig en tot barstens toe gevul met ‘n aromatiese bobotie-vulsel. Die bunny chow behels ‘n tuisgemaakte broodjie en kom saam met ‘n poppadom en blatjang. Nita het gewaarsku dat dit dalk te branderig gaan wees, maar ek proe die rissie beswaarlik deur die aangename aromatiese kerriegeure. Dis ordes verwyder van die tipiese twee-teelepels-Cartwrights-kerriepoeier-per-kastrol kermis-kerrie wat mens op ‘n plaas sou verwag; die goudbruinkorsie plaasbroodjie waarin dit opgedien word, is duidelik daardie oggend nog gebak.

“In my binneste voel ek happy oor wat ek doen. Van my bure het ook al gesê, ‘Jis, hier’s darem mooi erdwurms.’ Dis oor ek so min spuit.”

Amper al die groente, vertel Nita, kom uit hulle eie tuin en die beesvleis kom ook van die plaas af. Dis half ironies dat Jadri nou van sy grond uithuur aan mense wat groente voorsien aan dieselfde winkelgroepe wat sy groenteboerdery onlewensvatbaar gemaak het, maar ‘n reuse pakstoor vir veral slaaiblare staan nou op ‘n stukkie grond skuins onderkant die Plaaskombuis. Die stoor verskaf aan drie kompeterende winkelgroepe, maar die nadraai is dat die slaaiblare wat nie markgeskik is nie, nou as voer vir Jadri se beeste dien waarmee hy op ‘n 3 ha stukkie grond boer. Dis veel minder pro-blematies as om diere vir ander boere aan te hou.

Jadri kry skoon lewe as hy van sy groente begin vertel.

Die beesstert kom volgende aan die beurt – ‘n reusagtige bord saggekookte stertvleis, stampmielies en spinasie en ‘n dik skyf romerige pampoentert wat ek dadelik besluit ek nie gaan eet nie. Na die eerste hap jeuk my tande – die stertvleis is soos wildsvleis gegeur en dig van die naeltjie- en ryk plaasvleisgeure. Dis so doodeenvoudig lekker dat ek van die kleiner beentjies sommer heel afsluk. Die groente proe vars en aards, soos ek verwag, en goed anders as wat mens in die supermark koop. Dewald help met ‘n hap of twee en voor ek oë uitvee is die bord leeg, pampoentert en al. 

Eers sien ek byna nie kans vir net so ‘n groot bord kerrie-afval nie, maar as ek ‘n versigtige toetshappie vat, herinner dit soveel aan die moddersagte, liggekerriede en gelatien-agtige skaapafval wat ons op ons familieplaas in Namibië leer eet het dat ek byna alles in enkele minute kafdraf, sommerso sonder die hulp van Dewald. Nog ‘n skyf pampoentert bly in die slag.

“In my binneste voel ek happy oor wat ek doen. Van my bure het ook al gesê, ‘Jis, hier’s darem mooi erdwurms.’ Dis oor ek so min spuit.”

Blink van die vet en gelukkig soos ‘n kind vat ek pad oor die R320 na die plaashuis toe. ‘n Spul hans ganse en ‘n knorrige kalkoenmannetjie stap dreigend op my af as ek op die plaaswerf aankom, maar as hulle sien ek steur my nie aan hulle nie, maak hulle hulself vinnig uit die voete. Hoog bo in die lug hoor ek die hommeltuig steun teen die wind wat intussen effens begin opsteek het. Selfs van waar ek staan is die vallei asemrowend. Ek kan nie wag om die foto’s te sien nie. Jadri sien my soos ek bult-op stap en wink my nader om na die wingerde te kom kyk. Netjiese rye reguitgekamde wingerdstokke staan groen onder vragte blare en groen vruggies – tussen die wingerdstokke staan ‘n deklaag hawerplante met hulle los saadstingels wat roer in die wind, kompleet soos die “wuiwende hande” in Eugène Marais se gedig.

Heerlike groot porsies kerrie-afval word met plaasgroente en rys of stampmielies bedien. 

Die tuine en wingerde is wel nie geheel en al organies nie, maar alles gaan terug grond toe en daar word ook nie voorkomend gespuit nie.

“Ek spuit glad nie vir wurms en goggas en goeters nie,” verduidelik Jadri. “In my binneste voel ek happy oor wat ek doen. Van my bure het ook al gesê, ‘Jis, hier’s darem mooi erdwurms.’ Dis oor ek so min spuit.”

Bo by die plaasdam is ‘n twaalf-meter-hoë stellasie waarvan daar in die water gespring kan word. Groepe toeriste kom spandeer gereeld die dag vir ‘n appel en ‘n ei hier, word ons vertel. Meeste van die groente is reeds geoes, maar ‘n paar rye diepgroen spinasie stoot nog steeds nuwe blare. ‘n Ent af in die tuin staan ‘n bloedrooi papawer parmantig in blom. Skielik in sy element gesels Jadri een stryk deur. Dan draai ons terug deur die wind en stap weer bakkie toe. 

Dis die vinnigste wynproe van my lewe wanneer ek uiteindelik by die wyn uitkom – ons moes eintlik al gery het.

Sekondes later hou ons weer by die restaurant stil. Vir die eerste keer merk ek die kwekery en die speelplek vir die kinders op. Daar’s selfs ‘n klein klimraam vir die jongstes.

Dis die vinnigste wynproe van my lewe wanneer ek uiteindelik by die wyn uitkom – ons moes eintlik al gery het. Die rosé is presies wat mens verwag van ‘n vrolike, droë rosé en die Pinot Noir en Chardonnay wys tipiese, koelgroeiende druifkarakter: vars en elegant, maar aan die ligter kant van die wynspektrum. Maar ‘n minuut is veels te min om reg aan enige vier wyne te laat geskied en ek belowe om later werk daarvan te kom maak.

Plaasstyl Hoender Bunny Chow

Bestanddele:

  • 12 hoenderborsies, vel en al
  • 4 groot uie
  • 2 eetlepels kookolie
  • 4 wortels  
  • 5 aartappels
  • 1 blik klappermelk
  • 2 eetlepels vars rissies
  • ’n knippie sout
  • 3 eetlepels kerriepoeier
  • ’n koppie water

Metode: 

Braai die uie tot bruin in olie. Voeg wortels en aartappels by en braai verder. As mengsel te droog is, kan jy ’n klein bietjie water ingooi (maar nie te veel nie). Braai hoender in ’n aparte kastrol tot dit lekker bruin is. Voeg die uie-mengsel by die hoender en gooi die blik klappermelk by. Kook vir minstens 10 minute lank en maak seker dat die hoender in klein genoeg stukke opbreek. Skep op in blikbroodjies en versier met vars vinkel. Bedien met blatjang, poppadoms, vars gekapte uie, tamatie en komkommer en jogurt gegeur met varsgekapte koljander-blare.

Blikbroodjies

Bestanddele:

  • 4-6 skoon, leë blikkies (groot tuna-blikke)
  • 4 koppies witbroodmeel  
  • 10 ml sout
  • 10 ml suiker
  • 1 pakkie pers Anchor-kitsgis
  • 450 ml louwarm water
  • 75 ml olyfolie

Metode: 

Voorverhit die oond tot 180ºC en smeer die blikke goed of spuit met kossproei. Meng al die droë bestanddele in ’n groot bak. Meng die olie en water apart. Voeg die vloeistof bietjie vir bietjie by die droë mengsel, tot ’n sagte deeg vorm. Knie die deegmengsel tot dit elasties voel. Laat staan dit vir 30 minute om te rys. Knie dit weer af. Deel deeg op om dit in gesmeerde blikkies of panne te sit en laat dit weer ’n bietjie rys. Bak vir ongeveer 45 minute tot gaar. Haal broodjies uit die blikkies. Sny die bokant van die broodjies af en hol effens uit om die Bunny Chow-mengsel bo-op te skep.


Besigheid: Die Plaaskombuis| Eienaars: Jadri en Nita Lötter | Area: Hemel-en-Aarde-vallei, Hermanus, Wes-Kaap | www.dieplaaskombuishermanus.co.za

Filed under: Farm to Fork, Farm Tourism, farmers

by

A writer with a passion for the arts – including the art of cooking. Jacques concentrates on the stories that surround the people who are involved in making food, craft beer and wine. He received an award at the 2015 Franschhoek Literary Festival and the South African Wine Writers’ Awards. Another feather in his cap is that he is the author of Craft Beer: A Guide to South African Craft Breweries and Brewers. He is a writer of superior calibre and extensive creativity.

Leave a Reply

Your email address will not be published.