News
Leave a comment

Een boervrou, vyf pienk silo’s

Vyf van NWK se graansilo’s het in Oktober pienk geskyn ter ondersteuning van Borskankerbewustheidsmaand. Die inisiatief het begin by ’n boervrou van Koster wat self die stryd teen borskanker moes voer.

Suzanne Swanepoel van Koster is sowat twee jaar gelede, op 38-jarige ouderdom, met bilaterale borskanker gediagnoseer. Sy het NWK se plaaslike handelswinkel genader met die versoek om die dorp se graansilo pienk te verlig as ’n simbool van hoop en ondersteuning vir mense wat deur kanker geraak word.

NWK het nie alleen ingestem nie, maar ook aangebied om die koste van die projek te dra. Die inisiatief is daarna uitgebrei na vyf silo’s, naamlik dié op Koster, Bodenstein, Gerdau, Blaauwbank en Delareyville.

Om die silo’s pienk te laat skyn, het ’n span silobestuurders, elektriese ingenieurs en werkers die ligte se omhulsels met pienk plexiglas vervang. Die ligte is vervolgens ná donker verstel om die silo’s so doeltreffend moontlik te verlig.

Jaco Du Rand, uitvoerende bestuurder van kommoditeite by NWK, beskryf die inisiatief as ’n simboliese gebaar van hoop, moed en solidariteit met kankerpasiënte, oorwinnaars en hul geliefdes.

Vir Suzanne gaan die pienk ligte oor veel meer as bewusmaking.

“Ek wou graag iets doen wat vir ons hele gemeenskap sigbaar is. Iets wat mense laat stilstaan en herinner dat daar vroue en ook mans is in ons eie dorp wat elke dag veg, hoop en bid en soms net die krag probeer vind om nog een dag aan te pak.”

Sy hoop dat die pienk silo’s bakens van hoop sal wees en mense daaraan sal herinner dat daar selfs in die donkerste tye lig is.

Bron: NWK-mediaverklaring, 19 Oktober 2026.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *