Female Farmers, In depth
Leave a comment

Die ander mooi van Namakwaland

Woorde: Maryke Roberts Fotografie: Michel dei-Cont

Namakwalanders is die sout van die aarde – mense wat swaarkry, vasbyt én deurdruk ken. Hulle pak hewige hindernisse en meedoënlose uitdagings met ‘n breë glimlag en ‘n stewige handdruk aan wat dalk die twyfel en vrees in hul hart verdoesel. Nes die dorre vlaktes wat oornag in plate oranje, geel en wit met bont kolle bloupers tussenin verander. Die onlangse droogte ten spyt, lê die natuur se kleur-seën vanjaar die internet vol. Geen wonder dat The Telegraph Suid-Afrika as een van die 20 beste blommekykplekke op aarde beskryf nie! Ons vind uit wat sit murg in hierdie mense se bene.

’N AGTERMEKAAR BOER

Annabe van Dyk boer net duskant Kleinsee. Sy wag ons by haar rooi plaashek in. Sel-ontvangs bestaan nie hier op die rooipad nie. Ek klim by haar in die bakkie, die res van die span kom agterna in die gehuurde voertuig. Só in die geskud op die grondpad, beduie sy by die ruit uit. “Die drakrag is 1:10, want anders oorbewei jy en die kudde raak te moeilik om te beheer.”

“Ek werk altyd in ’n blou oorpak, want ek dip diere; maak die windpomp reg; ek boer! Ek was altyd ’n boer se vrou en moes toe oornag ’n boer word”

Annebe van Dyk

Ek kyk onderlangs na haar: haar donkerbruin kort krulhare wat so opwip soos sy beduie; die gesig wat maklik in ’n reuse glimlag vertrek. Dis moeilik om te glo sy boer vrou-alleen op hierdie plaas wat vir die leke-oog onherbergsaam lyk, in die middel van nêrens. Sy stryk verleë oor haar netjiese hemp. “Ek werk altyd in ’n blou oorpak, want ek dip diere; maak die windpomp reg; ek boer! Ek was altyd ’n boer se vrou en moes toe oornag ’n boer word,” erken sy.

Annabe van Dyk het ’n polisie-uniform verruil vir dié van ’n boer se oorpak, wat sy nou, vandat haar man afgesterf het, amper voltyds dra as sy buite werk op die plaas.

Sy boer met boerbokke en dorpers in die sandveld met sy lae bossies. Die droogte is hier nog meer prominent as in ander dele van die Namakwa- en Boesmanland. Tot dusver het sy vanjaar 12,5 mm reën gehad; verlede jaar 32 mm en dit in ’n streek waar hulle gewoond was aan tot 200 mm per jaar.

“Ja, dit raak nou daardie jaloerse reëntyd – jy weet, as jy sien dit reën by jou bure maar nie by jou nie; dan is jy sommer dikbek.”

Ek vra watter tipe bossies die diere hier by haar vreet. Sy lag so ’n ondeunde laggie: “Jong, moenie vir my die bossies se name vra nie; ek wis nie eintlik nie. As die droogte so vir jare aanhou, is die veld pikswart. Dan val daar ’n paar druppels en alles kry lewe. As ons as mense maar net so gewillig kon wees om weer op te staan, soos hierdie bossies en veld…” mymer sy eintlik meer vir haarself as vir my.

Haar plaas is omring deur De Beers-grond en dis ook hulle wat die rooi grondpad wat voor haar hek verbyloop, gestoot het. Met onbewerkte plase kom ongediertes wat deur haar drade klim en haar diere kom vang. ’n Mens kan amper nie glo sy gee nie moed op nie.

Die diere op die plaas se water kom van drie windpompe en Annabe stoot die water tot 10 km ver na die waterkrippe.

Sy wys eerder trots na die nuwe windpomp naby die pad. Ek vra verbaas hoekom sy nie sonkrag gebruik nie en sy verduidelik dat die water eers op 230 m gekry is; té diep vir ’n sonpomp om effektief te wees.

“Die bure het met die stok en bottel kom waterwys en toe boor ons water raak. Ek is dankbaar daarvoor,” vertel sy. Die diere op die plaas se water kom van drie windpompe en Annabe stoot die water tot 10 km ver na die waterkrippe.

SPAN JOU SEILE NA DIE WIND

Ons ry verby ’n wit en rooi antenna-agtige stellasie. Sy vertel dat dit ’n windtoets-meter is wat twee weke gelede opgerig is. Sy is genader om haar grond vir ’n windplaas beskikbaar te stel. Die impakstudies is tans onderweg en as dinge volgens beplanning uitwerk, sal daar ongeveer 40 windturbines op haar grond staan.

Dis ’n uiters geleë uitkoms vir haar omdat dit ’n maandelikse huur-inkomste gaan verseker. “Al neem dit ’n groot stuk van my plaas in beslag en moet ek my kuddes by die verkleinde plaas aanpas, gee dit gemoedsrus,” verduidelik sy.

Die dankbaarheid as sy praat oor die welkome droogtehulp wat vir drie maande voer-uitkoms bied, maak haar oë sag. Sy pak haar skure vol voer vir die maer jare wat dalk weer aan’t kom is.

’N BEGIN SONDER ’N BAKKIE

Annabe en haar oorlede man, Kruger, het in 1991 op die plaas Zonnekwa begin boer. Hulle was voorheen aan die polisie op Kleinsee verbonde. Sy vertel dat hulle vrek swaargekry het. “Ons het nie eers ’n bakkie gehad nie, net ’n ou Mazda-karretjie, maar ons was saam en gelukkig,” sê sy.

Hy is tien jaar gelede oorlede en sy het aangebly. “Dit was maar altyd in sy hart om te boer en toe hy wegval, was dit net so voor die hand liggend dat ek en die seuns, Werner en Kruger, sal aanbly,” gesels sy. “Hier was niks toe ons hier gekom het nie. Alles wat ek besit, is hier. Ek is veilig hier en dis waar ek net myself kan wees.”

Sy sê sy en Kruger het baie hard gewerk om iets uit niks te bou. Die plaashuis is ’n ware oase, omring deur reuse bome. Daar is ’n lekker kuier- en braaiplek buite en onbesoedelde plaaslug vul ons longe.

Kruger en sy broer, Willem, het ’n katspoegie verder, op Steenvlei, grootgeword. Willem boer vandag nog daar.

As jy op ’n verafgeleë plek wil boer, is goeie verhoudinge met bure, vriende en familie van onskatbare waarde.

Haar gedagtes voer haar ver terug toe sy vertel dat die droogte al vir ’n hele paar jaar aankom. Sy lag toe ek vra of ons haar kudde kan sien. “Nee jong, vier druppels val en dan vaar alles die veld in. Voorheen het hulle nadergekom as hulle die bakkie gesien het, want ons het gevoer; maar nou is hulle op die bossies aangewese en ontwyk hulle ons!”

Sy erken dat haar kudde die afgelope paar jaar nie gegroei het nie, inteendeel, dit het aansienlik gekrimp. “Dit sal ’n hele paar jaar van goeie reën en weiding vat voor ek weer is waar ek was,” vertel Annabe.

Sy is mal oor Namakwaland as sy sê dat die gesegde beslis waar is: “In die Namakwaland huil jy net twee keer: die dag as jy hier aankom en die dag as jy weer vertrek.”

Annabe is ’n plaasnooi in murg en been, maar sy is nie van dié omgewing nie. Haar pa was ’n deeltydse saaiboer in die Cullinan-omgewing; dus ’n heeltemal ander boerdery-opset as hare.

Ons drink koffie onder ’n peperboom by haar televisiekamer. Haar meerkat, Charlie, kom aandag soek en speel met die kamerasak se bande en veters. Annabe vra haar regterhand in die kombuis om gou vir ons vetkoek te bak, want mens kan nie op ’n leë maag gesels nie! Met kieste vol vuurwarm vetkoek-happe met gerasperde kaas op, vra ons verder uit.

Charlie die meerkat het die baas van dié plaas aangeneem en ly deesdae ook ’n gemakliker lewe.

Haar oë vertroebel as sy van die afgelope paar jaar vertel: “Ons kon nie die gewig by die lammers kry nie. Dan slag jy al op drie tot drie-en-’n-half maande, al is hy nog ’n suiplam. Ek sak my kop in skaamte as ek daaraan dink. Maar ons moes oorleef.”

Hul kinders is van graad 1 af koshuis toe en aanvanklik was die plaas deur die week te stil vir haar. “Toe begin ek op Komaggas ’n winkeltjie, Help Mekaar. Ek was nog nooit ’n naaldwerk- of koekbak-vrou nie. Die kinders het daar in die winkeltjie grootgeword.”

Die Help Mekaar-winkeltjie op Komaggas.

DIE UURWERK WAT NIE KANTEL NIE

Annabe vertel van die tien jaar sedert Kruger oorlede is. Sy erken dat sy nie gedink het sy sou in 2018 nog daar wees nie. “Ek het twee pragtige kinders en het staande gebly. Ek het baie dae gedink ek is klaar met die boerdery. Dis vir my ’n wonderwerk dat ek nie die pad byster geraak het nie.”

Maar sy erken dat sy dit nie sonder familie, vriende en bure sou kon vermag nie. “Hier is almal almal se vriend. Ons almal span in nood saam. My pa het my geleer: ‘Jy probeer eers self, voor jy vra.’ Trots is baiemaal my grootste doodsteek hier.”

Sy hou vrouenaweke op die plaas, waar vroue van die omgewing van sover as Springbok af kom kuier en ontspan. Die geselskap voed haar siel en die stilte voed weer hulle siele.

Sy is nugter én realisties oor die toekoms. “Daar is nie ’n toekoms in boerdery in die Namakwaland nie. Die droogte maak dit haas onmoontlik en mens kan nie heeljaar voer gee nie; dis te duur. My seuns moes gaan kwalifiseer vir iets anders, een is ’n sielkundige, die ander een besig met LLB. As hulle wil terugkom plaas toe, moet hulle ander perspektiewe bring.”

Haar droom is om haar eie stoetery te begin. As die windplaas ’n realiteit word, sal sy met dorpers en Meatmasters wil teel.

“En ek wil op vakansie gaan. Sommer weer Margate toe, waar ek en Kruger op wittebrood was; of Hentiesbaai of God’s Window. Memory lane, jy weet.” Sy sal nooit weer trou nie. “Ek het ’n wonderlike man gehad en wil nie ’n ander vrou se man hê nie. Kruger word deel van ons familie gehou, in ons almal se harte.”

Sy waai met oorgawe toe ons groet en die grondpad terug hek toe aandurf. My oë is klam en daar is ’n knop in my keel wat net nie wil weg nie. Annabe van Dyk verdien ’n medalje – en ’n vakansie in Margate!


Owner: Annabe van Dyk | Location: Kleinsee, South Africa

Filed under: Female Farmers, In depth

by

Maryke is a prizewinning journalist whose articles have been published countrywide. She has written about a wide range of subjects including books, actors, theatre, food, wine and travel. When she pulls over to open a farm gate and shakes the farmer’s hand, the anticipation rushes through her veins. “Agriculture is more than the production of food – it is the heart and soul of our country. And this is where you’ll discover tales of true grit,” according to her.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *