Woorde: Maryke Roberts Fotografie: Dewald Kirsten
Wanneer die beampte by die tolhek my laat terugdraai omdat sy my kredietkaart vir ‘n debietkaart aansien, weet ek ek moes liewers oor Bainskloof gery het. Die kronkelpas deur die berg sit my altyd in die regte luim, al is die rit effens langer. Byna ‘n uur later draai ek in Bosjes se grondpad op. Die omgewing het geleidelik mooier geword – nou kan ek begin sien waarom die gebied as “Klein Switserland” bekend staan. Links van my staan die ergonomies ontwerpte Botha’s Halte Laerskool wat in September vanjaar ingelyf is. Tegnologie en ‘n bewussyn van menslike behoeftes sorg vir ‘n opvoedkundige pasaangeër wat die afgeronde ontwikkeling van leerders nastreef. Dan sien ek die gevleuelde kapel, totaal onvoorbereid op die indruk wat dit later op my gaan maak.
SKOON KOS SMAAK LEKKERDER
By Bosjes Kombuis, die plaas se unieke, minimalistiese, staal-glas-en-hout restaurant, ontmoet ons vir Carlen Vorster, Bosjes se gaste- en bemarkingsbestuurder. Ongelukkig moet sy dringend aan iets aandag gee en terwyl ons vir haar wag, gesels ek gou met sjef Nicholas Oosthuizen, wat sedert September die Bosjes Kombuis saam met sy vrou, Julandi, bestuur. Albei was voorheen by Franschhoek se bekroonde Foliage restaurant. Die Oosthuizens word bygestaan deur Abigail Donnelly, die bekende en gerespekteerde doyenne van Suid-Afrikaanse kosjoernalistiek, wat haar kennis deel om optimale gebruik van plaaslike, seisoenale produkte te maak. “Die vallei is nie ‘n gekompliseerde plek nie, en die mense is wonderlik plat op die aarde. Ons kos moet dit reflekteer,” sê sjef Nicholas.
DIE BOOM VAN DIE LEWE
Wanneer Carlen terug is, gaan sit ons by een van die tafeltjies buite; voor Lucie de Moyencourt en Michael Chandler se enorme geteëlde muurskildery wat die een sy van Nic se kombuis opmaak. Die muurskildery bestaan uit 366 wit-en-blou teëls en verbeeld ‘n Delft-porselein-geïnspireerde, kronkeltakboom, oortrek met ‘n magdom simboliese karakters, meestal diere en plante wat in die gebied voorkom. Aan die onderkant van die muur is ‘n luik wat na die kombuis lei. Wanneer die deur van die luik deur die dag oopstaan, bedek dit ’n afbeelding van ‘n nonnetjies-uil; saans is die luik toe en die uiltjie kan waghou oor die naggebeure. “Dit lyk soos een van die bome in die Paradys,” raai ek. “Dis Bosjes se Boom van die Lewe,” verduidelik Carlen.
Sy vertel van al die kreatiewe ontwerp, opleiding en beplanning wat die openingsdag voorafgegaan het. Soos ons praat, besef ek hoeveel moeite en tyd in elke aspek van die plaas ingegaan het, om nie te praat van wat dit moes kos nie. Elke aspek van die ontwikkeling is noukeurig beplan en personeel is aangestel lank voor die afdelings waar hulle werksaam sou wees in bedryf was. Alhoewel die geskiedkundige plaas in die Stofbergs se besit is, getuig die begraafplaas langs vandag se kapel van al die families wat deur die eeue heen daar gewoon het en nou daar rus. Deesdae is Bosjes ‘n rusplek van ‘n heeltemal ander aard.
Voor ons ‘n ent deur die plaas gaan ry, bekyk ek weer die muurskildery. Een van die takke van die boom lyk vir my nogal soos ‘n slang en Carlen beaam dat daar blykbaar ‘n slang weggesteek is in die magdom van beelde. Dalk sien ek tog reg.
PERSKES, DRUIWE EN OLYWE
“Proe hoe proe ‘n regte perske,” sê Dewald as hy in die bakkie terugklim.
Ons wip-wip verder op die ongelyke grondpad terwyl Carlen vertel van haar nuwe CRF250 motorfiets wat ‘n keer onder haar uitgespring het. Dan wys sy ons waar ‘n swartwildebees eerder die geselskap van twee volstruise as sy eie rasgenote verkies; ook die plek waar twee bakoorjakkalsies onlangs dood is, eers die een en toe die ander. Om ons is wingerd op wingerd, met die berge koel en goedkeurend in die agtergrond.
Meeste van die geelperskes, lank reeds geoes, is gemik op die inmaakbedryf. Die enkeles wat nog oorgebly het, is klein en hang al ’n bietjie lank aan die takke, maar is stroopsoet, geurig en proe soos dié wat ek uit my kinderdae onthou. Agt hektaar grond staan tans onder geel-perskes en die bome lewer ‘n jaarlikse gemiddeld van 400 ton vrugte.
Byna elke druifsoort waaraan jy kan dink, word tans verbou. ‘n Totaal van 60 hektaar wingerde staan tans onder Colombard, Cabernet Sauvignon, Sauvignon Blanc, Hanepoot, Chenin Blanc, Chardonnay, Cinsault, Merlot, Shiraz en Pinotage en lewer jaarliks ‘n gemiddelde opbrengs van 1 200 ton druiwe. Die plaas het onlangs Bosjes Wines geloods. Die wyne kans slegs op die landgoed geniet word en word gemaak van hul eie wingerd en druiwe wat op plase in die omgewing gegroei word.
Daar is huidiglik slegs twee hektaar onder ‘n mengsel van olyfkultivars. Die olywe is nie geskik as tafelolywe nie en word slegs vir die maak van Bosjes se eie olyfolie gebruik. Die opbrengs is maar wisselvallig, vertel Quentin Stemmet, Carlen se broer en uitvoerende hoof en plaasbestuurder van Bosjes. Sommige jare word daar geen olie gemaak nie en ander jare word daar tot 2 000 liter olie geproduseer. Die parswerk word uitgekontrakteer en daar word van jaar tot jaar besluit wie dit gaan doen.
HELDER, SOOS DIE GELUID VAN WATER
Ek wag heelmiddag om Coetzee Steyn van Steyn Studio in Londen se kapel van nader te bekyk; ’n CIFA 2017-toekenning vir argitektuur sit nie sommer in enige ontwerp se broek nie. Die gebou se elegant golwende betondak is gemodelleer rondom die vlerke van ‘n voël in vlug. Dis ‘n anderwêreldse ondervinding om op die houtbrug bo-oor die kristalagtige, spieëlgladde water na die staal-en-glas van die kapelletjie se mure waarop die wit betondak byna gewigloos rus, aangestap te kom. Dit moet onvergeetlik wees om hier te trou.
Agter die kapel is die Slanghoekvallei en Bainskloofberge duidelik deur die glasmure sigbaar. Binne is stoeltjies in netjiese rye gepak.
Ons gaan sit en luister vir ‘n paar oomblikke na die stilte. Om ons is ‘n hoë, hipnotiese, byna onhoorbare dreungeluid wat ek eers dink spesiaal oor die luidsprekers vir ons gespeel word. Maar die klank kom van niks anders nie as die pompe onder die vloer wat die spuitfonteinwater sirkuleer.
WILD, WANDELPAAIE EN VLAKTES VOL FYNBOS
Die snyblomme, hoor ons, bring amper meer geld in as die vrugteboorde, wingerde en olyfbome saam. Tom Barnard, wie se grond ‘n paar jaar terug deur Bosjes aangekoop is, het eerste met fynbos begin boer. Die 8 hektaar waarop Tom sy proteas verbou word het, is tans die moederblok van al die kommersiële fynbos op Bosjes. ‘n Kwekery is intussen gebou en maak gebruik van plantmateriaal uit hierdie ou boorde om nuwe plantjies te kweek waarmee die nuwe boorde aangeplant gaan word.
Die blomstele wat geproduseer word, is hoofsaaklik vir die uitvoermark. Die totale fynbos-aanplanting beslaan tans 5,5 hektaar – die grootste deel hiervan staan onder Madibas. Ongelukkig sukkel Madibas maar in die Breederivier se klimaat. Daar is ook 1,5 hektaar elk van suikerkanne en speldekussings aangeplant en die res van die grond staan onder reuse proteas. Suikerkanne genereer op die oomblik die grootste inkomste met 240 000 stele wat tans per jaar gepluk word, maar waarvan net 180 000 bruikbaar is. Vir speldekus-sings is daar op die oomblik ongelukkig geen aanvraag nie. Geen nuwe aanplantings is gedurende die afgelope drie jaar gemaak nie, maar die kwekery behoort ‘n groot verskil te maak en heelwat uitbreiding word voorsien.
Op die oomblik is die wild op die plaas bloot ‘n besienswaardigheid. Daar is ‘n reeks wandelroetes in die berg veral in die omgewing van die nabygeleë Fonteintjiesberg Natuurreservaat. Dagbesoekers en gaste wat in die vyf luukse kamers in die omskepte skuur tuisgaan, kan dit gebruik. Behalwe die kleinwild, loop daar op die oomblik elande, bontebokke, sebras, volstruise, swartwildebeeste, gemsbokke, springbokke en rooihartebeeste op die plaas rond. Die plan is om ook koedoes en kameelperde aan te koop. Op die oomblik is die troppies maar klein – twee ramme en vier ooie van elke diersoort. Soos hulle aanwas sal diere aan wildveilings beskikbaar gemaak word.
Hulle konsentreer daarop om net wild aan te skaf wat vroeër natuurlik in die omgewing voorgekom het. Selfs swartwildebeeste het histories sover suid as die Vrystaat en waarskynlik nog verder suid voorgekom.
Oor die afgelope drie jaar is ‘n duisend soetdoring bome en ander soortgelyke boomsoorte vir blaarvreters geplant. Gelukkig is baie van die bome nou al groot genoeg om van die blaarvreters te kan dra.
Luiperds kom natuurlik op die plaas voor, maar vind genoeg om te jag onder die ystervarke, klipspringers, Kaapse grysbokkies, duikers, hase en steenbokkies wat natuurlik hier voorkom en stel gelukkig nie in die groter wild belang nie. Rooi-katte en jakkalse is volop op die plaas en een van die rooi-katte kon maklik verantwoordelik wees vir die bakoorjakkalsies se dood. Daar is ook ‘n trop van sowat sestig bobbejane wat op die plaas woon, vertel Quentin. Een bobbejaanmannetjie, wie se bynaam nou ‘Mens’ is, het beide sy arms verloor en stap nou nes ‘n mens deur die fynbos.
DEUR DIE LABIRINT
Dan gaan stap ons deur die tuin. ‘n Besoek aan Israel het die eienaar destyds geïnspireer om die kapel te bou. Die geestelike, Israel-tema is deurlopend, maar is eerlik en opreg en dit val ’n mens eers op wanneer jy daaroor begin wonder. Die plante wat aangeplant is, word almal in die Bybel beskryf en bordjies is by elke spesie van belang aangebring. Die naam “Getsémané” – letterlik olyfpars – kom onwillekeurig by ’n mens op as jy die olyfbome sien. Bossies ment kan van die paadjie af geruik word en Carlen steek ‘n blaartjie in haar kies as ek dit uitwys. Dan spiraal ons weer opwaarts deur die labirint, teen die mensgemaakte heuwel op. Labirinte is tradisioneel apotropies – bedoel om slegte geeste en invloede weg te weer – en dit voel ook so. Met elke draai voel jy nader aan iets waarop jy nie eintlik jou vinger kan lê nie. Uiteindelik staan ons bo en kyk ons uit oor die plaas en vallei.
Op pad terug stap ons deur ‘n voorstelling van die Rooisee. Hierdie indrukwekkende betonstruktuur gedenk die Israeliete se tog uit Egipte. Rondom die gesplete betonsuil groei waterlelies en -plante, maar ek sien nie ‘n enkele vis nie. Die konstante watervloei het die modernistiese betonmassa met ‘n gladde, lewende laag mikroörganismes bedek – die droom van enigeen wat ‘n bio-filter wil bou. So dis waar die helder water vandaan kom, dink ek stilweg as Carlen ons die teetuin gaan wys. So onder die gesels deur besef ons Tom Barnard is toevallig my buurman.
KLEIN DETAILS EN GROOT PLANNE
Die dennebome gaan nog vir ‘n ruk as ‘n windskerm moet bly staan – die bergreeks hier word nie verniet die Waaihoekberge genoem nie. Bosjes is tans besig met die voltooing van ‘n tweede funksie-area met ‘n deli en plaaswinkel waar allerlei vars en ingemaakte plaasprodukte verkoop gaan word. Die deli en winkel is geleë in ‘n inheemse woud wat omring word deur ‘n strook bedreigde renosterveld. Dit klink soos nog ‘n stukkie hemelse aarde. En dan, wil ek weet? “Dan gaan ons rus,” lag Carlen.
PERSKEJELLIE EN VLA
Bestanddele:
Jellie:
• 3 perskes (geskil en in skywe gesny)
• 500 ml water
• 1 koppie wilde kruie (wilde salie, suurlemoen, pelagronium – verskillende soorte wilde kruie kan gebruik word)
• ½ koppie suiker
• 4 velle gelatien, of vervang met 10 g poeiergelatien
Vla:
• 500 g melk
• 2 eiergele
• 50 g suiker
• knippie sout
• 20-30 g mielieblom
• vanielje
• 5 ml rooswater
Metode:
• week die gelatien in yswater in ’n groot mengbak van vlekvrye staal
• plaas die water, wilde kruie en suiker in ’n pot, laat dit prut
• roer die gelatien in die warm mengsel en laat dit afkoel, gooi deur ’n sif en raak van die kruie ontslae
• plaas die gesnyde en afgeskilde perskes onder in ’n vorm, giet die jellie in die vorm
• plaas oornag in die yskas
Vir die vla:
• laat die melk, rooswater, vanielje en mielieblom prut
• klop die suiker en eier tot romerig
• voeg die warm melkmengsel stadig by die eier
• plaas die vorm in ’n pot oor lae hitte en roer totdat dit verdik
• wanneer die vla gereed is, plaas in ‘n bak wat met kleefplastiek bedek is om af te koel en ook om te voorkom dat die vla ’n skilletjie vorm.
Farm: Bosjes | Location: Rawsonville, Western Cape, South Africa | Contact: +27 23 004 0496 | admin@bosjes.co.za