Female Farmers, In depth
Leave a comment

Die geur van groenvingers

Woorde: Maryke Roberts Fotografie: Michel Dei-Cont

Dis vroegoggend toe Lizette Kloppers van Rooikrans Kruie met ’n breë glimlag en honde om haar enkels, haar hand uitsteek vir ’n stewige handdruk. In die tonnel oorkant die grasperk, hoor jy die sagte gesels van vroue. Die sproeiers op die grasperk dwing jou om jou skoene uit te skop en op die welige, groen gras te gaan stap met die water wat tussen jou tone deursypel. Ek maak my oë toe en die reuk van basiliekruid vul my neusgate. Behaaglikheid op sy heel beste.

Soos ’n wafferse godin van groen, glimlag Lizette Kloppers in ’n see van basilieblare.

Sy het twee hektaar onder kruie, groente en ’n paar rytjies blomme, maar lag as sy vertel dat die blomme haar bankrot gaan maak, want sy deel alles uit – niks word geoes en verkoop nie. “Ek is ’n treurige verkoopspersoon.” Ons gaan sit op die agterstoep; die honde half óór ons voete, lui in die louwarm oggend.

SPEEL-SPEEL BEGIN

Lizette se pa, Danie Naude, wat nou afgetree het, het vir haar dié twee hektaar op sy plaas gegee om op te boer.  Sy het 25 jaar gelede met een tonnel begin waarin sy babatamaties geplant het, sommer net om mee rond te speel.

Rooikrans Kruie verskaf basilie aan die grootste vervaardigers van basiliepesto in die land.

“Ek het in ’n Margaret Roberts-kruieboek gelees van saamplantery, waar verskillende plante mekaar teen siektes en plae beskerm en ook mekaar se geure beter na vore bring. Ek het gedink dis nou regtig sommer oumens-nonsens. Die een plant help die ander een; die een jaag die ander een se goggas weg. Op dié lys is tamaties en basilie, hulle is blykbaar soos kettie en klip. Ek het twee rye tamaties uitgetrek en basiliekruid geplant. Toe die resultate ooglopend is, moes ek erken dat dit nie oumens-nonsens is nie. Die tamaties raak nie siek nie en het beslis ’n meer intense geur gehad. Elke tamatietjie is rooiwang en pesvry.

Die blare moet versigtig hanteer word, anders word dit binne minute swart en verwelk. Sy vertel dat hulle altyd soos kettingrokers lyk omdat hul vingers so bruin gevlek is van die basilie.

So het Rooikrans Kruie ontstaan. Die naam is te danke aan ’n krans op die plaas waar argeoloë gereeld kom navorsing doen. “Dis ’n baie unieke krans met interessante dinge soos versteende dinosourusbene,” vertel sy. Dit was toe vir haar die natuurlike keuse vir haar kruie-handelsmerk. “Maar toe die basiliekruid heuphoogte is, besef ek dis hopeloos te veel vir ons huishouding. Onthou, ek weet toe nog niks van kruie af nie. My buurvrou – wat letterlik net hier agter die bloekombos woon – sien toe in ’n tydskrif ’n piepklein advertensie met net die woorde: ‘Basiliekruid gesoek’ met ’n selfoonnommer. Sy skeur dit uit en bring dit vir my. Ek bel en beland by die Pesto Princess, wat toe nog uit haar motorhuis net basiliepesto maak.”

Twee swartsakke vol is wat Lizette in die Kaap gaan aflewer het. Vier vroue het daar by Robyn Smith se  kombuis-eiland gestaan en blaartjies stukkend geskeur om die geur vry te stel. Vandag bedryf Pesto Princess ’n vooruitstrewende fabriek met voedseltegnoloë en ’n uitgebreide reeks produkte. Die vroue staan en skeur egter steeds elke blaartjie vir die beste geurekstraksie – ʼn tydsame proses.

Lizette het 25 jaar gelede een tonnel kruie as ’n “stokperdjie” gevestig.

Later trek Lizette toe al haar tamaties uit en plant die hele tonnel vol basilie. Een tonnel word twee, toe vyf, en vandag is daar nege en verskeie blokke onder skadunet. So groei sy saam met Pesto Princess. “Pesto Princess vra naderhand vir kruisement en oreganum. My oes is te veel vir hulle en só beland ek by Mediterranean Delicasies.” Basilie is steeds haar hooffokus, maar sy eksperimenteer oor die jare ook met roosmaryn, tiemie, pietersielie en oreganum. Later is daar ook sprietuie, brandrissies, soetrissies, eiervrug en verskillende soorte slaaisoorte soos blaarslaai, gekrulde blaarslaai en roket. “Ek het alles probeer: pynappel-salie, suurlemoen-tiemie, maar daar is geen aanvraag voor nie.”

FYNWERK OP GROOTSKAAL

Ons stap oor na die skadunet waaronder 50 000 basilieplante in sakkies staan. Vyf vroue oes die reuse, grasgroen blare. Die delikate blare word met die hand afgeknyp, eerder as gepluk en geen snoei-skêr is betrokke nie. Die blare moet versigtig hanteer word, anders word dit binne minute swart en verwelk. Sy vertel dat hulle altyd soos kettingrokers lyk omdat hul vingers so bruin gevlek is van die basilie. “Ek vind die vroue se aanslag is heelwat sagter as die mans s’n, maar ons het een manlike werker, Samuel Majogo, wat die fisieke werk doen en kratte laai vir aflewering,” vertel sy.

Basilie word jaarliks ná 15 Oktober geplant wanneer die ergste koue verby is. In November is die eerste oes gereed. Daar word Maandae, Woensdae en soms Vrydae geoes en op Dinsdae en Donderdae word aflewerings gedoen. Die plukkers werk van 06:00 tot 12:00 voor die ergste hitte van die dag neerdaal. Die blare word oornag in die koelkamer langs hul huis verkoel. Die gereelde pluk is nodig om nie net die mooi blare te kry nie, maar ook blomme uit te breek, want sodra die plant geblom het, vrek dit. Die plukseisoen duur tot einde Mei, wanneer die temperatuur weer begin daal en die plante swaarkry.

Vroue se sagter aanslag maak hulle meer geskik as plukkers van hierdie kruid wat so maklik kneus.

Lizette se produksie het gou Pesto Princess en Mediterranean Delicasies se behoeftes ontgroei en sy beland toe danksy ’n vriend, JP Viljoen, wat vir Ina Paarman songedroogte tamaties lewer, by dié maatskappy. Tussen dié drie ondernemings, het sy afsetgebiede vir al haar kruie. Twee klein ondernemings in Kaapstad koop ook by haar en verpak self die kruie wat hulle op hul beurt weer aan restaurante lewer.

Die geur is soveel beter as dit sagkens afgevryf word en nie deur masjiene fyngeslaan word nie.

Maar soms het sy steeds te veel; of besighede sluit vir die feestyd en sy sit met tonne vars kruie. Of as die tiemie, roosmaryn, oreganum in vol blom staan, wil niemand dit hê nie. Almal soek net blare. Hoe nou gemaak? Lizette besluit toe om uit te vind hoe om kruie te droog. Die natuurlike manier waar geen oonde of ligte betrokke is nie, verseker ’n baie beter geur én kleur en haar gedroogte kruie word baie gesog. Die kruie word in piesangbokse geplaas en met koerantpapier bedek en in ’n tonnel wat onder swartplastiek is, geplaas. Daar lê dit dan vir vier tot ses dae, voor dit sagkens afgevryf word om die blaartjies fyn te breek. Alles word van die stingels afgevryf.

Die geur is soveel beter as dit sagkens afgevryf word en nie deur masjiene fyngeslaan word nie. ’n Man op die dorp het vir haar ’n masjientjie gebou wat die droë kruie sif om die stingels te verwyder. “Dit lyk dan soos die kruie wat jy in botteltjies koop,” vertel sy laggend.

Verlede jaar het hulle sowat 800 kg gedroogde kruie gelewer. Dit neem ongeveer vyf kilogram vars kruie om een kilogram droë kruie te verseker. Jy het dus baie groot oeste nodig, om in die behoefte te voorsien en haar grond is hopeloos te klein. Sy sê dit sal omtrent ’n besigheid op sy eie kan wees.

PESBESTANDE BASILIEKRUID

Haar eerste basilie was van saadjies, maar later het sy saailinge begin aankoop. Die peste en plae waarvoor sy uitkyk, is gewoonlik donsskimmel en die Amerikaanse bolwurm. Maar een oggend tref ’n ander plaag haar basilie, naamlik fusarium wat deur water versprei word. Die water uit die Breërivier –  soos die meeste riviere in Suid-Afrika – se kwaliteit is nie waffers nie.

Lizette kyk hoe haar hele basilie-oes eers pap hang en toe binne ure doodgaan. Dit lyk eers asof die plante droog is en ’n uur of twee later lyk dit asof iemand dit met onkruiddoder gespuit het. Sy begin oplees en sien dat fusarium alle plante deur water aantas, maar dat wingerd, vrugte, pampoen al weerstandig is, omdat dit daarteen geënt is. Die kruiemark is egter só klein en niemand het nog daaraan gedink om kruie te ent nie.

Samuel Majogo, die enigste haan onder Rooikrans se henne, laai kratte vir aflewering.

“Ek sit toe een dag moedeloos voor my rekenaar en google ‘fusariumbestande basilie’ en kry ’n verskaffer in Indië.”

Nou plant sy net hierdie variant, wat Hygrotech vir haar invoer. Braam Colyn van Robertson, maak al haar saailinge. “Soms jeuk my hande al hier in September as die lente aanbreek en dan smeek ek vir Braam om vroeër plantjies te gee, maar gelukkig weet hy dat hy my geneul moet ignoreer: as ons te vroeg plant, verwelk die plante. Basilie hou nie van koudkry nie.”

Lizette oes in hoogseisoen 800 kg per week. Een krat weeg 2 kg, so dit is lang ure se oeswerk om daardie gewigte te behaal. Elke plant word in ’n individuele swart plantsakkie geplant en het sy eie drupbesproeiing. In een tonnel staan ongeveer 50 000 plante. Die plant word in saagsels geplant en hidroponies geboer. Die nette hou gemiddeld vyf tot sewe jaar, voor dit vervang moet word. Die tonnels se plastiekstroke kry gouer windskade en moet gereelder vervang of herstel word. Lizette se man, Pierre, se hande staan gelukkig vir niks verkeerd nie en so saam-saam hou hulle dinge in stand.

“Ek het aanvanklik die saagsels van ’n saagmeule op die dorp gekry, maar die meule het intussen gesluit en nou kom haar saagsels van Klapmuts af. Maar weens die houtskaarsste, word saagsels ook skaarsser. Lizette kan die saagsels twee tot drie maal gebruik, voor dit begin afbreek en kompos word. “Ek sal binnekort aan ander opsies moet begin dink, soos steenkool-as. Dit is steriel en lyk soos gesmelte klip en is goedkoop, maar dis groot stukke met baie skerp kante, wat die swartsakke skeur. Die soektog duur voort.”

‘N KWARTEEU VAN KRUIE BOER

Lizette erken dat sy haar baie dae knyp en nie kan glo dat sy al ’n kwarteeu met die kruie doenig is nie. “Sommige dae vra ek my af: waarin het jy jou begewe? Maar oor ’n glas wyn op die stoep en met die son wat sak oor die pragtige Rooikrans, besef ek hoe baie ek dit geniet. Dit was nog nie een dag vir my ’n las om op te staan nie.”

Sy skerts dat die paar rytjies blomme haar nog bankrot gaan maak, omdat sy so baie weggee.

Landbou het vele uitdagings en dit is natuurlik nie aldag maanskyn en rose nie. “Ons het een nag in November 2008 wakker geword van ’n hewige geraas. Toe ons buite kom, was daar ’n wolkbreuk hoër op in die distrik en al ons damme se walle het gebars. Ons hele tuin was bedek onder die bruin, modderwater. Ek moes daardie oggend vir Woolies bel – aan wie ek vir ’n ruk basilie verskaf het – en verduidelik dat daar geen plant sigbaar is onder die slik nie en daar daardie dag dus geen oes sou wees nie.”

Lizette sê terwyl hulle twee weke lank gewag het dat die slik en water sak, het sy baie dae sommer so tussen die plante staan en huil. Sy en haar span het mettertyd skoongemaak, herbou, herstel en gou was daar weer grasgroen golwe onder skadunette en in tonnels. Eers later het sy besef dat die vrugbare slik wat op haar stukkie grond neergesit is, die beste grond vir haar plante sou verseker.

Lizette sê terwyl hulle twee weke lank gewag het dat die slik en water sak, het sy baie dae sommer so tussen die plante staan en huil.

Lizette vertel dat sy nie uit ’n kruie-omgewing kom nie. Haar landboukennis kom van haar pa Danie, af. Hy het jare lank met onder meer wingerd en lusern geboer. “Hy was ’n baie goeie boer en toe ek met my ‘boerdery’ idee kom, het my ma, Nerine, nog wal geskop, maar hy het my ondersteun. Alles wat ek weet van die grond, het hy my geleer. Ek is ook grootgemaak om spaarsamig met water te werk. Dis ook hoe ek my boerdery benader: met respek vir die natuur en aarde en vir mense. Ek hou van dinge netjies en agtermekaar en besef dat my werkers my net so nodig het soos ek vir hulle. Respek is van kardinale belang om vooruit te gaan.”

Iets waarop sy trots is, is haar waagmoed en oorwinning van die droog-projek. En dat sy ’n finalis was vir die Landbouweekblad se vroue-entrepreneurskompetisie. Ek wonder of sy nog nooit lus was om haar eie produkte te maak en te bemark nie? Nee, wat, sê sy. Een maal per maand kuier sy by die Groenstoor, Worcester se slow food mark, waar sy en haar vriendin Salad Sisters bedryf. Dis funky slaaie met interessante bestanddeel-kombinasies, verduidelik sy. En waarvoor jeuk haar groenvingers volgende? “Ek wil ’n klomp medisinale kruie plant, maar in sulke klossies vir hartprobleme, maagprobleme, vroueprobleme, jig en so meer. Al die kruie van die Bybel. Ek brou nou al vir my sulke aftreksels van verskillende kruie en dink dit kan lekker werk. Vandat ek die kruie begin plant het, het ek ook begin om daarmee te kook en dit kikker enige dis op. Ek wil dan ook my kruietuine oopstel vir mense wat meer oor medisinale kruie wil leer. Hulle moet  kom kyk en ervaar.”


Rooikrans Kruie | AREA: Worcester, Wes-Kaap | KONTAK: 073 246 5554  |  lizette@pkverkoeling.co.za

Filed under: Female Farmers, In depth

by

Maryke is a prizewinning journalist whose articles have been published countrywide. She has written about a wide range of subjects including books, actors, theatre, food, wine and travel. When she pulls over to open a farm gate and shakes the farmer’s hand, the anticipation rushes through her veins. “Agriculture is more than the production of food – it is the heart and soul of our country. And this is where you’ll discover tales of true grit,” according to her.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *