Woorde: Bianca du Plessis Fotografie: Mia Truter
Ek praat met sy assistent, Carol, om ʼn onderhoud met Dr Johan van Deventer en sy vrou te reël. Hy is besturende direkteur van Freshmark, Afrika se grootste verspreider van vars groente en vrugte, en sy is ʼn voormalige advokaat en bekroonde wynmaker. Carol noem haar naam – Gesie – en ʼn liggie flikker in my agterkop. “Gesie. Ons burgemeester hier in Stellenbosch se naam is ook Gesie,” sê ek meer vir myself as vir Carol. “Ja. Dis sy,” kom dit droogweg van Carol. “Wat? So die MD van Freshmark is getroud met die burgemeester van Stellenbosch, wat ook ʼn wynmaker en eks-advokaat is?” “Uh-huh,” bevestig Carol, en ek hoor sommer hoe rol haar oë.

Ek dra gewoonlik vellies of tekkies wanneer ek plaasstories skryf. Maar voor dié onderhoud verruil ek my vellies vir deftiger skoene. Want dis altemit advokaat-burgemeester en doktor-grootbaas. En hóé het ek myself misgis. “Ag nee wat,” lag Johan en Gesie met die groetslag. “Dis sommer Gesie en Johan,” sê sy terwyl ons aansit by ʼn tafel in die Toeka stoor en restaurant op hul plaas, Domaine Brahms, in Agter-Paarl.
TOEKA SE GASVRYHEID
Blikbekers met moerkoffie, tuisgemaakte koeksisters en beskuit word bedien. Toeka is ʼn negosiewinkel op steroïede. Dis enige versamelaar se droom: van antieke ysters, gieters en vleismeule tot ou fietse wat uit die dak hang langs ʼn ry antieke trourokke wat lyfloos bo alles sweef. Toeka se spyskaart weerspieël dieselfde nostalgie vir outydse kwaliteit en ruimhartigheid. Gesie paai my om ʼn pastei te probeer. “Ons sit nét vleis in ons pasteie en maak self die deeg. Mense is soms teleur-gesteld dat ons nie salmslaai bedien of ʼn cappuccino-masjien het nie, maar vroeër dae se mense het nie salm geken nie! Hier bly alles pure plaas, pure platteland.”

My pa en my oupa was albei baie lief vir groente, so ek het dit seker by hulle gekry. Hy’t in die laerskool reeds begin smous.
Johan van Deventer
KLEINTYD REEDS GESMOUS
Met sy keps en Massey Ferguson-baadjie lyk Johan vandag beslis meer boer as besigheidsman. Hy is ʼn kind van Coligny in die ou Wes-Transvaal, waar hy in die hart van die mieliewêreld op “noem dit maar ʼn plaas” grootgeword het. Sy pa het by die koöperasie gewerk en Johan het as enigste kind begin help met plant, skoffel, koeie oppas en groente smous. “My pa en my oupa was albei baie lief vir groente,” sê hy, “so ek het dit seker by hulle gekry.” Hy’t in die laerskool reeds begin smous. “Vrydae na skool moes ek vinnig huis toe hardloop om groente te pak. Ek’t toe reeds sekere beginsels geleer. As die prys van groente styg, maak jy die sakkie kleiner en hou die prys dieselfde. Maar ag, in daardie dae was ʼn 15 kg-sak aartappels ‘duur’ as dit een rand gekos het,” vertel hy.
Die familie het elke Saterdag groente verkoop: eers op ʼn markie, waarna die oorskot op ʼn bakkie gelaai en van huis tot huis verkoop is. Johan was die geldteller en in die vroeë sewentigs was R50 vir ʼn Saterdag se groentesmousery goeie geld. “Ek sou self nooit kon droom dat ek eendag die grootste pampoensmous in Afrika sou wees nie. Die hele Freshmark verkoop tans R8,3 miljard se groente en vrugte per jaar. Dis R23 miljoen per dag,” sê hy kopskuddend, asof hy selfs steeds sukkel om dit te glo.

AFRIKA SE VARSPRODUKTEREUS
Johan is al 25 jaar aan die stuur van Freshmark en het dit sien groei van klein na groot, maar kan steeds nie help om daaraan te dink as klein nie, omdat die mense na aan hom is. Hy verwys na Freshmark se bestuur as ʼn “home office” eerder as ʼn tipiese “head office”. Freshmark het landwyd besigheidseenhede geskep met die doel om eienaarskap af te wentel. “Ons het net ses takke in SA. Ons gee leiding en ondersteuning, en alhoewel die besigheidseenhede baie vryhede geniet, is daar tog reëls en riglyne wat deur ons vasgestel word.”
Na matriek het Johan ʼn BCom by Potchefstroom verwerf, gevolg deur ʼn Hoër Onderwys- diploma. Hy’t sy honneurs- en meestersgraad by Tukkies voltooi – “ek’s ‘n gePukte Tuk” – en die tema van sy tesis in 1986 was Die Bemarking van Vars Produkte in die Republiek van Suid-Afrika. Vandag kan Johan ʼn boek skryf oor die bemarking van vars produkte in Afrika. “Ek sê gereeld vir hom hy moet ʼn boek skryf,” sê Gesie.

In sy tesis het hy aanbeveel dat varsmarkte landwyd geprivatiseer moet word. “Maar dit is steeds in die hand van die munisipaliteite, wat nie in die huidige tydvak die mees effektiewe stelsel is nie. Dit moet eerder deur die produsente en ander rolspelers in die groentebedryf besit word. Onder die huidige stelsel word ʼn 5%-heffing van die boer afgetrek. En die verrekening van alle transaksies word ook beheer deur die stadsraad en sentrale munisipale rekenaarstelsels. Dit was tóé al die hoofprobleem,” sê hy. Volgens Johan is ons stelsel op die Spaanse Mercasa-stelsel geskoei, wat aanvanklik ʼn doel gedien het. “Dit werk as jy iets van niks af moet opbou. Elke dorpie het altyd ʼn Pleinstraat of Markstraat gehad waar handel gedryf is. Ten einde te vernuwe en ʼn sentrale kommersiële spasie te skep, moes iemand geld neersit. En net die munisipaliteite kon dit bekostig,” verduidelik Johan.
Alhoewel die huidige marksisteem sy tekortkominge het, sien hy in die res van Afrika hoe problematies die gebrek aan markte is. “Maar op ʼn sekere stadium raak dit noodsaaklik om te skei – die stadsraad besit die gebou, maar die besigheid moet privaat besit word,” is sy oplossing. Freshmark doen met 450 boere landwyd besigheid van aangesig tot aangesig. Daar is groeiprogramme in plek om produsente te ondersteun en ontwikkel. “Die boer is ook ʼn ondernemer. Dit is ʼn kompeterende wêreld, en met die jongste tegnologie wat groter produksie moontlik maak, wil ons verseker dat boere sáám met ons groei.” In die dertig jaar van Freshmark se bestaan het die jaarlikse omset van R165 miljoen per jaar na R8,30 miljard in 2018 gegroei. Die kostemotief berus op die beginsel “van Afrika vir Afrika”. Met hul eerste toetrede tot ʼn Afrikaland buite die Republiek – na Zambië 25 jaar gelede – het hulle in die begin alles ingevoer. Vandag voorsien Zambië 80% van alle groenteprodukte wat deur Freshmark in die land versprei word.

Plaaslik is die Laeveld steeds Freshmark se winterspens, aangesien die area rypvry is. “Van ons grootste groenteboere sit nog altyd daar. Die ouer ooms vertel hoe die groentetrein destyds op Hectorspruit gelaai het, dan’t die boere by die kroegie ingeval vir ʼn ‘limenade’,” vertel hy. Die groentetrein het 12-uur vertrek, die Johannesburgse mark dieselfde dag nog bereik en die groente kon die volgende oggend vars verkoop word. Sonder ʼn betroubare spoorwegstelsel moet vragmotors noodge-dwonge gebruik word, wat meer skadelik is vir die omgewing.
VROU VAN VELE VERMOËNS
Johan spring skielik op. “Is dit die vrolikste musiek wat ons het?” vra hy – sonder erg aan ʼn antwoord – en gaan verander die musiek. Johan en Gesie is boeiende geselskap. Haar Weskus-wortels slaan deur in ʼn ligte aksent. Sy is gebore in Vanrhynsdorp in die Wes-Kaap. “Dis droë, droë wêreld daai. En dis hoekom die Boland vir my so wonderlik is,” sê sy. Die drie jaar van droogte was vir Gesie baie traumaties. “Ek hou niks van bloekombome nie. Dis vir my ʼn simbool van swaarkry,” sê hierdie dogter van ʼn mynwerker wat in 1981 as advokaat gekwalifiseer het. Sy’s in 1984 aangestel as advokaat in die Hooggeregshof en het ook gedien as landdros, sowel as in verskeie kommissies van ondersoek na korrupsie en wanadministrasie. Sy was betrokke by Marike de Klerk se hofsaak, wat haar laat besef het dat niemand – ongeag status, welvaart of sekuriteit – werklik onaantasbaar is nie.
Hy stap rond met sy selfoon en maak aantekeninge en neem foto’s van wat gedoen moet word op die plaas. En naweke maak hulle lysies.
Gesie van Deventer
“In die regswêreld kyk jy altyd terug en jy orden – wat ongelooflik bevredigend is – maar jy werk altyd met die gebroke kontrak, die gebroke huwelik, die gebroke situasie.” Sy wou terugkeer na die grond, want landbou leef vorentoe. “Landbouers is vir my ʼn wonderlike, positiewe spesie,” sê sy. Gesie was diep in haar dertigs toe sy in 1990 by Elsenburg Landboukollege inskryf as voltydse student waar sy ʼn diploma in Wingerdbou en Plantkunde (cum laude) verwerf het. En in 1992 het sy ʼn diploma in Keldertegnologie (eerste klas) ingepalm. As ouer vrou het sy studeer saam met outjies wat pas hul weermag voltooi het. “Dit het my vir ewig jonk gemaak,” vertel Gesie. “Ek het gesien hoe hulle eenvoudig alles probeer. Op ʼn dag luister ʼn ou na musiek wat regtig nie lekker was nie. Ek vra toe of hy dit geniet en hy antwoord: ‘Nee, maar as ek nie daarna luister nie, sal ek nooit weet of ek daarvan hou of nie.’” Dit het ʼn blywende indruk op haar gelaat.

SOOS MARIO EN GATTO
Haar eerste oesjaar as wynmaker op Domaine Brahms was in 1999 met “net vier tenkies”. Tans produseer Domaine Brahms chenin blanc, cabernet sauvignon, pinotage, shiraz en merlot. Gegewe hul onderskeie werksladings as besigheidsman en burgemeester, is hul maar min op die plaas. “Maar as ons hier is, is ons soos Mario en Gatto. Ons doen alles saam,” sê Gesie. Hulle “posseëlplasie” van 22 ha het 10 tot 12 ha wingerd en 5 ha olywe. Volgens Gesie is Johan se rol as moniteerder krities belangrik. “Hy stap rond met sy selfoon en maak aantekeninge en neem foto’s van wat gedoen moet word op die plaas,” sê sy. En naweke maak hulle lysies. Johan fokus op die meganiese aspekte van die boerdery en Gesie op die wingerd. Ongeveer 95% van Domaine Brahms se wyn word uitgevoer na Japan, waar Gesie hegte bande gesmee het met invoerders wat haar passie vir die bemagtiging en opheffing van vroue deel. Die balans van Domaine Brahms se wyne word by Toeka en in die plaas se onthaalsaal, ʼn populêre trouvenue, verkoop. Olywe word ingelê vir eie gebruik en om in Toeka te verkoop, terwyl die nabygeleë Olyfenbos-plaas olyfolie van hul eie olywe pars.

Dit was nooit Gesie se voorneme om ʼn politikus te word nie. “Ek beskou dit as my gemeenskapsdiens en voel dat elke Suid-Afrikaner van sy of haar tyd in die land moet investeer om die skade van die verlede te herstel,” sê sy, met haar helderblou oë op skrefies getrek. Van 2011 tot 2016 was Gesie die burgemeester van Drakenstein Munisipaliteit, waarna sy in 2016 tot dieselfde amp in Stellenbosch verkies is. “My wens is om weer terug te kom landbou toe,” sê sy, en Johan knik sy kop. Hulle praat nie van aftree nie, maar eerder van die volgende fase wat voorlê op die plaas – ʼn nuwe seisoen in hul lewens.
’N POT VOL STORIES MET ’N GLASIE WYN
Johan en Gesie is plat op die aarde, maar elk in eie reg ʼn hoë boom. Ek wil weet waaroor hulle saans na werk praat. “O, die aand is te kort,” sê Gesie. “Ons gunsteling ding is om te kyk wat op die plaas aangaan. Dis ons weerligafleier,” sê Johan, wat toegee dat hulle tóg oor werk praat. Maar meestal praat hulle oor mensgoed, want beide glo dat dit die mense rondom jou is wat die verskil maak. “Johan is ʼn wonderlike klankbord en dis goed om jou perspektief te toets,” sê sy. Alhoewel hul loopbane hemelsbreed verskil, sluit dit tog bymekaar aan. Met Gesie se regsagtergrond en Johan se besigheids- en bestuurskennis is hul pot altyd vol stories. “Met ʼn glasie wyn vir die stres!” sê die wynmaker.
“Mag ons maar hieroor praat?” vra ek en beduie na die oudhede wat op en onder elke moontlike oppervlak sit, staan of hang. Benewens Toeka is daar nog ʼn skuur, hul privaatwoning en verskeie ander vertrekke en plekke propvol oudhede. Gesie en Johan is vyftien jaar getroud en ek vermoed die versameling het al voor hulle saamwees begin, en dat dit die werk van meer as een persoon móét wees. “Dis ʼn gesamentlike virus waarvoor daar geen pille of genesing is nie,” sê Gesie. Die gedeelde koors maak dat hulle soms soggens vyfuur die aanlyn mark vir oudhede betree. “Facebook so vroeg in die oggend is bitter gevaarlik,” meen sy. Johan se swakheid is trekkers (skud net sy kop as ek vra hoeveel), ou lorries, nommerplate, wieldoppe, spoorweglampies (meer as 100) – eintlik enige spoorweggoed. Sy mees ambisieuse aankopie is ʼn 9 ton-stoomenjin wat hy in 2018 gekoop het in Paul Roux in die Vrystaat. Die vervoer daarvan na die plaas was glo “ʼn saak van proporsie”. As student het Johan tydens vakansies vir sakgeld gewerk as assistent-treindrywer. Hy het altesaam twee-en-ʼn-half jaar vir die spoorweg gewerk. “Dit was góéie geld,” sê hy, maar sy liefde vir vars produkte het hom dié spoor laat byster raak. Hy het sy loopbaan begin as adjunk-direkteur van die Johannesburgse vrugtemark en het eerstehands beleef hoe die treinplatforms met beton toegegooi moes word omdat die spoorwegstelsel nie meer effektief was nie.
Dis ʼn gesamentlike virus waarvoor daar geen pille of genesing is nie. Die gedeelde koors maak dat hulle soms soggens vyfuur die aanlyn mark vir oudhede betree.
Gesie van Deventer
Benewens “meer vroulike goeters” soos trourokke, hoede, breekware, emalje kombuisgoed en antieke Kaapse koper sluit Gesie se versamelsondes ook aambeelde en ou ploegies in. “Dit fassineer my om te sien waarmee mense destyds oor die weg gekom het,” sê sy. “Met hoe min hulle kon geld maak en vir hul families sorg.” Sy het ook ʼn swakheid vir ou breekware en beplan om binnekort ʼn outydse teekamer op te rig en haar meer as twintig Royal Albert-teestelle af te stof en vol te skink. “Sy droom soos altyd groot,” sê Johan, en dis duidelik ʼn kompliment.


EER AAN DIE LANDBOUERS
Die skuur langs Toeka huisves die Landbou Museum wat eer bring aan landbouers en die implemente wat gebruik is om landbou te vestig. “Johan verneuk baie,” spot Gesie toe ons die skuur met sy dubbele ry ou trekkers instap. “Vir elke trekker wat hy koop, mag ek ʼn waentjie of ploegie kry. Maar soos jy kan sien, het hy baie meer trekkers.” Die oudste trekker is ʼn McCormic Deering wat dateer uit 1916. Daar’s ook verskeie pragtige veteraanmotors, wat met hul elegante lyne in die mooiste skakerings – sagte duifblou, edel jade en sonverbleikte wynrooi – ʼn mens laat hunker na ʼn tyd voor selfone, sitplekgordels wat biep en pos wat pieng.
FAMILIEBANDE PLUK HARTSNARE
Die wynrooi Willys Aero Ace 1954 het ʼn spesiale plek in Johan se hart. Dit het aan sy oupa, Stoffel Vermaak, behoort en is na sy dood in 1987 verkoop. Die motor het in 2019 weer op die familieradar verskyn toe Johan se neef vir hom ʼn WhatsApp stuur oor dié ou motor. Hy’t dit eers geïgnoreer, want hy was nooit eintlik mal oor ʼn Willys nie. Weke later het hy besluit om tóg die adverteerder te bel, wat toe vir hom foto’s gestuur het. Toe hy ʼn foto vergroot, sien hy ʼn T en ʼn C in die hoek van die ou nommerplaat. En Coligny se nommerplaat was TCC. Dit was toe sowaar sy oupa Stoffel se Willys – nog met die oorspronklike nommerplaat – TCC 3488. Vandag staan die Willys in Johan se museum, met ʼn foto van Oupa Stoffel en Ouma Bettie in ʼn plastiekkoevert bo die linkervoorlig. Toe ons die museum verlaat, laat rus Johan vinnig sy hand op die kar en ook op die foto van sy grootouers. Dit is ʼn mooi storie wat wys hoe ʼn geliefde besitting generasies oor dekades heen kan verbind.
Sommige mense se dae is net voller en langer, voel dit vir my. “Ek dink as jy besig bly, gee dit jou meer energie,” meen Johan. Die Van Deventers staan soggens vyfuur op om hul dagtaak te begin en werk dikwels tot laatnag. Wanneer hy tuis is, gaan stap Johan graag soggens met die sewe honde. Daar staan ʼn oefenfiets op die stoep, maar hy kom nie so gereeld soos wat hy sou wou daarby uit nie. ʼn Span van agt permanente werknemers sien om na Toeka, die Landbou Museum, kerkie, trouvenue, olyfboorde en wingerd, en Johan probeer hulle soggens met invaltyd sien. “Hier help almal mekaar en jy moet multi-skilled wees en mooi saamwerk om alles gedoen te kry,” meen Gesie.
Die naweek voor ons besoek het Toeka hul jaarlikse waterblommetjiefees gehou. Ek vra of die plaas hul eie waterblommetjies kweek, en Gesie antwoord: “Nog nie.” Haar waterblommetjie-eksperiment in die visdam het nie die droogte oorleef nie. Volgens Johan is droogte steeds voorbladnuus, al is hul onmiddellike omgewing tans in ʼn beter posisie in vergelyking met die vorige paar jaar. “Danksy die ongelooflike vindingrykheid van boere om hul boerderypraktyke aan te pas, was daar nog nooit werklik ʼn tekort aan groente en vrugte nie. Op die langtermyn sal langdurige watertekort wel produksiekoste duurder maak,” sê Johan. Wat Domaine Brahms se wyne betref, geniet Gesie op die oomblik hul chenin blanc en vlagskip-shiraz, terwyl Johan meen die Sonato rooi-versnit drink nou baie lekker.
WYSHEID UIT DIE SHOPRITE-STAL
Ons ry saam met Johan na die kerkie en onthaalsaal wat hy en Gesie in 2006 gebou het en waar daar omtrent elke naweek troue gehou word. Troues het in die afgelope dekade peperduur geraak, veral in die Boland waar besighede nie aarsel om buitensporige pryse te vra nie. Domaine Brahms se lokaal bied uitstekende waarde vir geld. “Jong, ek kom uit die Shoprite-stal uit. My motto is hou die plek vol, dat die wiele draai. As hy leeg staan, raak ek senuweeagtig,” sê Johan. In die onthaalsaal werskaf spyseniers en stileerders om alles in plek te kry vir die aand se troue. Johan peil af op die troukoek en neem vinnig ʼn foto op sy foon. Die troukoeke fassineer hom altyd. “Dit sê tog iets van die mens.”
Die vermoë om diverse goed fassinerend te vind is (volgens my) dikwels ʼn eienskap van fassinerende mense. Na ure se interessante geselskap groet ons die Van Deventers en op pad uit stop ek tog by Toeka om ʼn paar pasteie te koop. Padlangs vat ek ʼn happie wildspastei en toe’s dit neusie verby met dié pastei, want dit proe púre plaas, púre platteland.
Besigheid: Domaine Brahms en Toeka Stoor | Eienaars: Johan en Gesie van Deventer Area: Paarl, Western Cape, South Africa | brahms1@iafrica.com | www.domainebrahms.co.za
1 Comment