Woorde: Hein Eksteen Fotografie: Anina Lonte
Laatmiddag sit ek saam met Danie en Flippie onder Khamkirri se driester lodge (vir my lyk dit nader aan vyfster te wees) se grasafdakke om die breë, hoefystervormige kroeg wat eweneens oor die rivier uitkyk. Visarende doen weer eens wat visarende doen en ons doen wat regdenkende mense om kroeë doen: teug aan nie-alkoholiese drankies en voer sinvolle gesprekke aangaande landboutoerisme.
Danie verduidelik: “Ons is in vennootskap met verskeie uitvoerdruiweboere en hulle besit grond aan beide kante van die rivier, insluitende Khamkirri se wildsplaas. Dus doen ons wildkykritte en neem gaste tydens die pakseisoen na die plase. Dit is belangrik vir mense om te weet wat dit behels om die druif van die stok tot in die mond te kry. Buite seisoen gaan kyk hulle na die snoeiwerk en alles wat dit verg vir die korrel om die pakstoor te haal. Die ongelooflike hoeveelheid werk wat gedoen moet word.”
Julle ken daai stories? Sit drie Afrikaners op een plek neer en ʼn jaar later is daar vyf verskillende politieke partye en agt kerke. Alternatief: drie Amerikaners saam stig ʼn maatskappy. Drie Britte stig ʼn universiteit. Drie Afrikaners stig af.
Hoe druk Danie en Flippie talle boere saam in ʼn vennootskap?
Die Noord-Kaap is anders,” laat Danie weet. “Almal hier is pelle. Almal help mekaar. Hulle het studiegroepe en besoek ander boere se plase om te sien hoe daardie boer te werk gegaan het in sy bedryf. Want as een boer goed doen, doen almal goed. As jy jou onkruid spuit, help jy die boer langsaan. Doen jy dit nie, en daai sade waai na jou buurman toe . . . Ons woon in daardie laaste stukkie paradys waar almal saamwerk. Dit klink miskien moeilik om te glo, maar dis hoe dit is.”
Indien boere ekstra inkomste wil verdien deur landboutoerisme te beoefen, wat staan hulle te doen?
Flippie dra by: “Indien jy grond langs die rivier het, is die keuse eenvoudig. Bou ʼn kamp. Maar wees op jou pasoppens. Nie almal is in die wieg gelê om met mense te werk nie. En mense, veral dié wat met vakansie is, kan moeilik wees. Kry dus jou plek reg en stel iemand wat sy storie ken aan om die besigheid te bedryf.”
Daarbenewens is bootritte met jenewer en tonikum in die hand op die rivier haalbaar. River rafting. Visvang-ekspedisies. Kajakvaarte. Perdry. Druk jou vier-by-vier bakkie in lae strek en vaar die roetes in wat boere beskikbaar stel. Quad bike-toere (in die Tankwa Karoo praat die mense nader aan die waarheid en roep hulle kwaadbaaikse). Staproetes en enkelspore vir die bergfietsentoesiaste. Voëlkykroetes met ʼn lys van al die geveerdes wat op die plaas voorkom. Boomkyk is baie gewild, veral indien die boomname aan die bome geheg is.
“Maar,” waarsku Danie, “daai dae toe jy bloot ʼn boot gekoop het, of perde opgesaal het, en laat waai het, is lankal verby. Alles wat jy deesdae doen, moet by verskeie instansies geregistreer word, en jou aanspreeklikheidsversekering moet voldoende wees.” Wimpie Strauss is die Khamkirri wildsplaas se bestuurder en ons neem stelling op die Nissan Safari wildkyktrok. Die kroegdame bewapen ons met ʼn koelboks yskoue drankies en ons maak stof.
“Khamkirri is so 7 500 hektaar en die naam beteken Plek van die Luiperd. Ons kry gereeld spore en neem hulle af met kameras wat by die watergate opgestel is.”
Dit herinner my aan my gesprek met Flippie vroeër.
“Drie jaar gelede het ons inwonende luiperdwyfie nog met haar drie welpies hier rondgeloop en saans moes ons die seuns voor donker in die huis kry. Maar die plek is deesdae té besig.”
Nietemin, daar is steeds baie plek vir die luiperdmoeder en haar kroos. Om dit te beaam druk Wimpie die bakkie se neus in die rigting van ʼn plek genaamd Tiernes en vertel: “In die ou dae het die mense nog hierdie grond vir weiding gebruik. Tiernes is ʼn berg in die vorm van ʼn hoefyster en wanneer dit gereën het, kon die water vir dae, selfs maande, daar staan en het die vee kom suip en is hulle deur die luiperds gevang. Die oues van dae het luiperds mos tiere genoem.”
Ons ry verby twee koedoebulle half tussen doringbome verskuil. Met een vernuftige draai word hulle deel van die bome.
“Jong, dis maar moeilik om koedoebulle agter heinings te hou. Die koeie bly, maar die bulle glip deur draad soos jy met ʼn mes deur vet sny.”
Hier is ook kameelperde, blouwildebeeste, rooihartbeeste en elande.
“Ons het onlangs ʼn klompie rooibokke gevestig en hulle kom baie mooi aan.”
‘n Trop sebras wei naby die pad en ek vis oor hoekom hulle anders as ander sebras lyk.
“Die Hartmann-bergkwagga se swart strepe kom nie tot onder sy pens nie en strek nie tot onder by die hoewe nie.”
En die rooierige kleur?
“Nee, dis maar van die Kalahari se rooi grond waarin hulle graag rol.”
Die aarde is droog, die grassies wat oor is, se koppe hang onder die droogte.
“Ons grond se drakrag is van die swakste in Suid-Afrika, indien nie die swakste nie. Ons werk op 60 hektaar per grootvee-eenheid. Gedurende normale jare boer jy in tien jaar so drie goeie jare en vir die ander sewe hou jy maar uit. Vroeër jare het die mense hier met karakoel geboer, want jy kon die lammers wegslag. Ons het darem nog ʼn bietjie veld, maar ons gee steeds vier ton voer per week.”
Dit bly moeilik om te glo. Staan op een van die koppies en jy sien met die blote oog die kronkelende groen rivierstreep wat deur dié woestynagtige wêreld sny.
Besigheid: Khamkirri | Eienaars: Danie en Flippie van Zyl | Area: Kakamas, Northern Cape, South Africa | www.khamkirri.co.za