Woorde: Jacques van Zyl Fotografie: Michel Dei-Cont
Ligdag vat ons die pad deur die lemoenboorde, Padlangs toe. By ‘n groot staalfiets op ‘n netjiese uithangbord draai ons in. ‘n Grasperk met ‘n fonteintjie vir die kinders, skei die restaurant van die grootpad; dis droog, maar die gras is so groen soos ‘n bak krulkool. Ons ry om ‘n kol welige bome na die parkeerplek. In hulle skaduwee blom cerise-pienk Lachenalias en trosse boslelies in ‘n bedding wat vleg deur ‘n vyftal tafeltjies met stoele. Iemand hier weet hoe om tuin te maak. As ons begin wonder waar Heidi kan wees, sien ek iemand wat niemand anders kan wees nie. Voor ek twee woorde in ‘n ry kan kry, is Heidi Muller aan die gesels.

KWAGGA SE OASE
“Dis presies drie jaar terug wat ons hier ingetrek het,” vertel sy as ek my klankopnemer aansit. “Twee weke voor ons oopmaak toe sê ek vir my man, ‘O Donderdag, hierdie ding gaan nie werk nie. Ons is te ver van die pad af.’”
Spoedig is daar ‘n cappuccino voor my, so lekker soos enige in die Kaap.
“Maar ja. Toe is dit die beste move, ever.”
Sy vertel hoe hulle ‘n hoop huur vir hul vorige perseel moes hoes.
“Dink nou hoeveel ontbyte moes ek verkoop. Die familie het gepraat van Heidi se speelplek,” lag Heidi.
Dis nog vroeg, maar een vir een begin die motors daar indraai – Padlangs is beslis naby genoeg aan die pad.
“Dis presies drie jaar terug wat ons hier ingetrek het,” vertel Heidi as ek my klankopnemer aansit. “Twee weke voor ons oopmaak toe sê ek vir my man, ‘O Donderdag, hierdie ding gaan nie werk nie. Ons is te ver van die pad af.’”

Die stukkie grond waarop ons sit, het aan ‘n Tannie Dorien behoort, hoor ons, en was omring deur die Mullers se twee plase. Toe dit op die mark kom, was dit ‘n eenvoudige besluit om te koop, al was daar lopende onkoste aan die woonhuis verbonde en twee lappies lemoenboord wat te min geld sou inbring.
“Hier op Kwagga is seker die tweede duurste grond in die land; jy koop nie net hier nie,” verduidelik Heidi.
Die plase is ook selde groot – so vyftig of sestig hektaar is tipies, hoor ons. Maar alles het merkwaardig goed uitgewerk. Daar’s genoeg parkeerplek, speelplek vir die kinders en ‘n asembenemende uitsig oor die vallei.
“Jaco sê Sondagaand, ‘Gaan jy nie huis toe kom nie?’ Ek sê, ‘Los my net so bietjie; ek wil net sien hoe die son sak. Dis so mooi.’”
Op die oog af lyk dit of die plate lemoene in stroke oor die R331 aangelê is, met ‘n komplekse sisteem van parallelle kanale wat deur die individuele plase sny.
“Ons sit nou 190 mense,” borduur Heidi voort op die suksesverhaal wat hier onder ons neuse aan die afspeel is.
“Ek dink nog steeds nie jy maak geld met kos nie. Jaco dink ons is te goedkoop; hy sê as die mense vra wat is op special vandag, moet ek sê alles is op 50% afslag . . .” lag sy.
Die kos op die spyskaart is besonder bekostigbaar en die beskrywings, kom ons vinnig agter, laat beswaarlik reg geskied aan wat mens te ete kan kry.

“Ek dink nog steeds nie jy maak geld met kos nie. Jaco dink ons is te goedkoop; hy sê as die mense vra wat is op special vandag, moet ek sê alles is op 50% afslag . . .” lag sy.

UIT DIE VALLEI SE KOSMANDJIE
Dit vat nie lank om agter te kom dat Heidi effens ongemaklik voel oor die gepastheid van ons Grond tot Mond-tema nie.
Al kom byna al haar bestanddele uit die Patensie-gebied, en meeste daarvan direk van plase af, word baie daarvan aangekoop.
“Ek ry letterlik in die straat af en kry al my goed.”
Haar slaaiblare en kruie, byvoorbeeld, kom van Waterwiel af; vleis, van ‘n slaghuis iewers in die Baai. Die snuisterye en soetgoed in die winkelgedeelte word ook grotendeels ingekoop.

“Ons gebruik obviously ons sitrus en plaaslike aartappels. Ook elke liewe ding wat nie regtig ‘n landbouproduk is nie, soos hierdie wildewaatlemoene wat hier groei, of vye, of wat ook al. Dan bring my man hulle hier aan en ek moet konfyt kook. Dis nou nie noodwendig goed waarmee ons boer nie.”
Heidi het dit aanvanklik ernstig oorweeg om haar eie groente hidroponies te verbou, maar finansieel het dit eenvoudig nie sin gemaak nie. En hoeveel eetplekke verbou werklik alles wat hulle verkoop?
Die Grand is volgens Heidi sommer ‘n ou stoor wat gerenoveer is. Soos die naam dit duidelik maak, is dit ‘n veels te beskeie beskrywing. Funksies en troues en konferensies is wat hier gebeur, alles met Padlangs se navolgenswaardige inslag en smaak.
FOKUS OP SITRUS
Heidi se man, Jaco, boer saam met sy broer, Dempers. Hulle pa, wat lankal ophou boer het, woon steeds op die plaas en is ‘n bron van oor-vloedige raad, meeste daarvan vyfuur in die oggend.
“Hy gaan nooit aftree nie,” lag Heidi.
Net as sy oor Jaco begin praat, sluit hy by ons aan.
“By ons gaan dit baie swaar,” val hy tong-in-die-kies met die deur in die huis.
Wanneer hy sien ons dink hy maak ‘n grap, gaan hy aan: “Ja-nee, ons dam staan darem by 33% maar ons moes baie aanpas by die droogte.”
Vir ‘n ruk gesels ons oor hoeveel water 190 mense wat Sondae musiek kom luister, gebruik, net deur toilette te spoel.
“Ons kan altyd die pomp onwettig in die rivier gaan druk,” spot Jaco.
“Dan gaan ons kinders pa-loos grootword, want jy gaan in die ronde tronk sit.”
“Mense is soms so lelik met restaurant- personeel. Dit ontstel my geweldig. Hulle is tieners. Die diens is dalk nie vyfster nie, maar dit is vriendelik, eerlik en opreg.”
Mens kan sien sy weet waarvan sy praat. Heidi is opgelei in kriminologie en sielkunde en moes vir vier ure op ‘n slag in nuwe tronkselle in ‘n privaat tronk in Bloemfontein opgesluit word om gevangenes se gedagteprosesse te probeer voorspel soos hulle byvoorbeeld aan ontsnap of moles maak sou begin dink.

Op die oomblik is die Mariri- en DM Muller-plase onder lemoene en suurlemoene. As gevolg van die waternood boer hulle nie meer met aartappels of tabak nie. Daar is wel meer water vir die sitrusboorde as in 2017, maar evaporasie en grondvog word noukeurig gemonitor om goeie waterbeheer te verseker.
Die gesprek oor ‘n mandjie pampelmoese by Padlangs wat vir konfyt bestem is, is steeds by my as ons stop by ‘n boom met groot, liggroen vrugte; beide aan die takke en op die grond onder om die boom. Miskien is dit die sitroenboom waarvan Heidi gepraat het. Jaco sê dis reg as ek een optel. Wanneer ek hom oopbreek is die pienk vrugteselle styf, en los van die wit bitter van die vrug. ‘Soet’ is die verkeerde woord, maar geen pomelo in die winkel smaak so nie. Met sap tot by my elmboë ry ons verder, die lug dik aan die bedwelmende geur van suurlemoenbloeisels.
Ek vra uit oor sy pa se betrokkenheid.
“Nee wat,” knip hy my kort. “Noudat hy afgetree is, boer hy eers.”
‘n Ent verder kom ons onverwags op ‘n begraafplaas tussen die suurlemoenboorde af.
“Nie enigeen kan hier kom lê nie,” skerm Jaco grappenderwys as ek uitvra.
Met ‘n vergete aantal generasies op die plaas is dit dalk meestal Mullers. Bo by die grensheining stop ons vinnig vir foto’s. Ek gaan was my hande in die plaasdam. Anderkant die draad golf die Oos-Kaapse heuwels weg, oortrek met tipiese digte, subtropiese Euphorbia-ruigte. Jaco stop ons elkeen twee helder oranje-groen lemoene in die hand.
“Dis ‘n mutasie,” vertel hy. “Ons noem dit Cambria. Dis die soetste lemoene wat jy kan kry.”
Weereens is ‘soet’ ‘n versagting. Miskien dra die plaaslug by, maar dis die lekkerste lemoen wat ek nog geëet het. Ek eet versigtig die laaste wiggie van my lemoen. Nugter weet wanneer ek weer die kans gaan kry.

LEMOEN LEKKERTE
Wanneer ons terugkom is die lemoenkoek klaar gebak en versier en Heidi trippel rond om die melkskommels gemaak te kry. Die koek lyk lig soos ‘n sprokie; amper té mooi om te eet. Bo-op roomwit suurlemoensmeer-deurtrekte versiersuiker rus ‘n handvol diep-oranje, gekaramelliseerde lemoenkonserf in ‘n poel lemoenstroop, omring deur torinkies room. ‘n Takkie kruisement en ‘n stokkie pypkaneel rond die toneeltjie af.
“Dis sommer maar ‘n gewone koek,” maak Heidi verskoning, maar ons kan sien dit is nie.
Met die eerste sluk van die lemoenmelkskommel, trap my brein rond om te beskryf hoe dit smaak. Dis dik en romerig en gee net genoeg suur op die kant van jou tong om jou mond te laat water – verbasend verfrissend vir ‘n melkskommel en merkwaardig lekker. Die naaste beskrywing waarmee ek vorendag kan kom, is ‘n vloeibare weergawe van ‘n wig Key Lime Pie wat ek ‘n keer in Florida geëet het.
“Dis sommer maar ’n gewone koek,” maak Heidi verskoning, maar ons kan sien dit is nie.
Terwyl ons eet, kom staan Heidi by ons en vertel van die ATKV-tak wat sy gestig het. Kunstenaars soos Chris Chameleon en Nataniël kom tree vir die plaasmense op. Gewoonlik kom so 140 mense luister, maar wanneer dit Nataniël se beurt is, is die kerksaaltjie tot die balke toe vol. Baie van die bedrywighede word ten bate van die plaasskooltjie gehou.
“As ‘n plattelandse skool doodloop . . . vir my voel dit soos die begin van die einde,” voeg sy by.
Nog een van haar geesteskinders, is “Vaar Mee met die ATKV”, waar die kinders die rivier betakel met opblaas-eende en enige ding wat dryf. Niks staan te lank stil hier nie.
GENERASIE FLUKS
Ook nie die kinders nie. Hul dogters, Jenna en Isabella, het vanjaar by Padlangs begin werk, want hulle is nou oud genoeg. Jenna omdat sy graag wil spaar om uitruilstudent te word, en Isabella bloot omdat sy van mense hou en die energie geniet. Kort voor die skoolvakansie het Heidi soveel aansoeke gekry van tieners wat wil werk, sy’t die Padlangs Pocket Money Project gestig om kinders die geleentheid te gee om sakgeld te verdien. “Dit maak my so opgewonde dat ons tieners wil werk!” sê sy. “Mense is soms so lelik met restaurant-personeel. Dit ontstel my geweldig. Hulle is tieners. Die diens is dalk nie vyfster nie, maar dit is vriendelik, eerlik en opreg.”
Padlangs is dalk upmarket, maar soos met die res van Patensie, is daar nie ‘n sweem van pretensie nie. Voor ons ry, bied Heidi vir my van haar kerrie-afval aan. Die versoeking is sterk, maar ‘n streng kyk van Michel laat my nee sê. Padlangs sal maar weer van my moet hoor.


Lemoenmelkskommel
- 125ml lemoensap
- 60ml pynappelsap
- 15ml suurlemoensap
- ‘n knippie sout
- 45ml heuning, gesmelt
- 2 koppies melk en roomys gemeng
Meng die drie vrugtesappe. Voeg sout, heuning en melk-en-roomysmengsel daar-by. Klits goed met ’n staafmenger of in ’n versapper. Sit koud voor met ’n bobbel room bo op. Garneer met sitrus.
Lemoenkoek
- 250g botter
- 250ml strooisuiker
- 3 eiers
- 125ml melk
- 50ml vars lemoensap
- 5ml lemoenskil fyngesny of gerasper
- 500ml bruismeel
- 5ml bakpoeier
- sout
Stel oond op 180 grade en smeer koekpanne, bestrooi met bietjie meel. Klop botter en suiker saam tot lig en romering. Klits eiers een vir een by. Voeg melk, skil en lemoensap by en meng. Sif droë bestanddele by bottermengsel, klop goed. Skep in panne en bak 25 tot 30 min tot gaar. Laat effens afkoel en keer uit op draadrak. Sprinkel ‘n bietjie lemoensap oor die koek wat afkoel om hom nog meer zing te gee.
Versiersel:
- 60g sagte botter
- 500ml versiersuiker
- 5ml lemoenskil
Meng goed en voeg genoeg lemoensap by om dit smeerbaar te maak.
Nota: Voeg suurlemoensmeer, oftewel “lemon curd”, of ingelegte lemoenskywe of heel kaneel stokkies en skuimpies by om te versier. ‘n Mens kan lekker speel met hierdie koek se versiering – dit hoef nie altyd dieselfde te wees nie. Ons gebruik ook ‘n meringue versiersel (maar die resep deel ons ongelukkig nie).
Besigheid: Padlangs Country Restaurant | Eienaars: Heidi en Jaco Muller | Area: Patensie, Oos-Kaap, Suid-Afrika | Kontak: 042 283 0798 | www.padlangs.com
Your article helped me a lot, is there any more related content? Thanks!
Your article helped me a lot, is there any more related content? Thanks!
Hierdie lyk so in my kraal pragtig, stuur asb. julle inligting ek wil kom besoek afle