Woorde: Bianca du Plessis, Leoni Kok & Maryke Roberts Fotografie: Michel Dei Cont & Dewald Kirsten
Suid-Afrika se bloubessie-produksie blom behoorlik die afgelope paar jaar. Sommige boere plant in potte of sakke, ander direk in die grond, in tonnels, onder skadunet of in oop lande. Dit is ’n veeleisende plant wat noukeurigheid vereis, maar die winsgrens daarvan maak dit ’n soete versoeking. Grond tot Mond besoek drie boere in verskillende streke wat besluit het om die sappige, swart supervrug ’n kans te gee.
VIERFONTEIN
Die infrastruktuur van Vierfontein se bessieboerdery is nogal verbysterend: tientalle tonnels van 65 m lank strek oor 20 ha met bessiebosse in potte onder plastiek- en seilbedekking. Die bessiebosse is aanvanklik direk in die grond geplant, maar hulle het gevind dat die grond te swak was om bessies te dra.
“POTPLANTE”
Die potstelsel is oor die afgelope vier jaar verbeter deur onder meer van ’n 20 L pot na ’n 25 L pot oor te skakel. Die ekstra 5 L bied groter kapasiteit vir wortelgroei wat ook die plant se opbrengs verhoog. “Ons gebruik ook nou ’n ander reeks potte wat ons glo beter dreinering bied,” sê algemene bestuurder Kobus du Plessis. Die tonnels is oop aan die kante wat lugvloei bevorder en help met siektebeheer en peslading, terwyl dit ook die bye se werk as kruisbestuiwers vergemaklik. Elke pot is met twee of vier druppers vir besproeiing toegerus.
Die oudste boorde in potte is vier jaar oud en ’n vinnige sommetjie dui op astronomiese insetkoste om hierdie bedryf te betree. Die plantmateriaal, die potte en die groeimedium wat uit Holland ingevoer word, kos reeds meer as een honderd rand per eenheid. En teen R3 per drupper, maal sesduisend potte per hektaar . . . Gelukkig sê Kobus dat daar nou meer rolspelers in die mark is wat opsies vir potte en groeimedium teen meer kompeterende pryse moontlik maak.
SPREADSHEET-BOERDERY
Eienaar Jannie Gutter erken dat dit dalk waaghalsig is om soveel geld te spandeer op ’n gewas waarmee jy nie heeltemal vertroud is nie. “Maar dis ‘n opwindende boerdery, en ook ‘n presiese boerdery,” sê hy van sy spreadsheet-boerdery. Hy verduidelik dat ‘n mens elke faset van die boerdery, van bemesting tot besproeiing, fyn kan bepaal en bestuur. Dit is vir hom ‘n veiliger gewas as byvoorbeeld mielies of koring waar jy nie soveel insette kan bestuur nie. Vierfontein verbou hulle bessies op programme vir BerryWorld, wat die plaas ook uitstekende tegniese ondersteuning gee.
Kobus brei verder uit oor die bemesting- en waterbestuur. “Ons het ‘n gesofistikeerde pompkamer waar programme vir bemesting opgestel word. Kunsmistoediening word aangepas na gelang van seisoenale groeistadiums. Kunsmis word saam met water in siklusse van nege minute toegedien. Hoe vroeër in die dag, hoe beter; in die somertyd begin ons teen sonop besproei en doen ons tot agt of nege siklusse per dag. Die spits-groeiseisoen is van Januarie tot Mei en ons begin middel Augustus oes, tot in Desember.
“Ons oorbesproei effens en meet dan die hoeveelheid water wat uit die potte dreineer. Dit moet tussen 20 en 25% wees. Die water se EC (elektriese geleiding) word ook vóór en ná die tyd gemeet om te bepaal hoeveel kunsmis in die water is. Die ekstra besproeiing is om te keer dat te veel soute in die groeimedium opbou,” verduidelik hy.
DIS IN DIE GENE
Snowchaser was aanvanklik Vierfontein se hoofkultivar maar hulle plant toenemend Mountain Blue Orchard (MBO) genetika aan. Die markaanvraag is ook toenemend vir MBO en die plaas beplan om in die toekoms van Snowchaser af te wyk. Snowchaser is egter steeds relevant aangesien dit die vroegste markgereed is van al BerryWorld se variëteite. MBO-genetika klop Snowchaser (en meeste van die ou genetika) in terme van fermheid, raklewe, smaak en grootte. “Eureka is nou ons hoofkultivar en ons plant ook ander MBO-genetika soos First Blush. Vierfontein se bessieboerdery word op die nabygeleë Magdala voortgesit met 48 ha bessies wat direk in die grond geplant word. Op Magdala plant hulle hoofsaaklik Eureka. “Die Mountain Blue Orchard, Dazzle, Masina, Twilight, Splash, First Blush en Eureka wat ons daar geplant het, is nog meer gehard. Sover aard dit baie goed en ons is tevrede met die genetika,” sê Kobus. Die boerdery is deel van die BerryWorld-groep en plant op hulle aanbeveling. “Ons koop ons plante by BerryWorld en lewer al die vrugte aan hulle, en hulle doen al die bemarking en uitvoer,” sê Kobus.
Die hoë gemiddelde prys wat bessies behaal, is ’n groot beweegrede agter die besluit om bessies op Vierfontein en Magdala te vestig. Aan die begin van die seisoen is pryse ver bo R100/kg, maar dit stabiliseer soos die volume bessies in die mark toeneem. Negentig persent van bessies word uitgevoer na hoofsaaklik die Verenigde Koninkryk, die Europese Unie en die Midde-Ooste.
KRUISBESTUIWING
Kruisbestuiwer-kultivars moet ook in die bessieblokke geplant word. Kobus noem byvoorbeeld dat daar in 12 hektaar Eureka, ná elke 11de plant, ‘n First Blush-bessie geplant word. Bye doen ook hul deel om kruisbestuiwing van kultivars te bewerkstellig. Wanneer die eerste wit blomme aan die bessiebosse oopmaak, word byekorwe in die boorde geplaas. Met eerste blom word twee korwe per hektaar ingebring en soos die blomme meer raak, vermeerder dit tot daar uiteindelik tien korwe per hektaar staan. Die bye werk gewoonlik tussen Mei en Julie. “Wat sleg is, is dat daar teen oestyd steeds bye op die plaas is, en dit verhoog die kans dat werkers gesteek kan word,” sê Kobus.
VELE HANDE
Die verbouing van bessies is uiters arbeidsintensief. Met oestyd is daar tussen 400 en 420 werkers op die plaas wat bessies een-vir-een met die hand pluk. Die bestuur van die koueketting is ook van kardinale belang om te sorg dat die vrugte ferm bly. “Dis kritiek dat bessies so gou as moontlik verkoel word, binne tien tot twintig minute ná dit gepluk word. Die bessies word verkoel na 5° Celsius, verpak en dan so gou moontlik na tussen nul en 1° Celsius verkoel.”
Hulle doen ook weeklikse insekmonitering. “Goggas word per blok getel, want ons spuit nie tensy daar genoeg goggas is om dit te regverdig nie. Ons tel ook die blomknoppe aan elke plant, sodat ons oesskattings kan doen.” Selfs om die plastiektonnels te bestuur is meer arbeidsintensief as wat ’n mens sou dink. Die plastiek word oorgespan en afgetrek afhangend van die plante se behoeftes. In oestyd word die plastiek hoofsaaklik aangewend om die bessies droog te hou. Ons staan en kyk hoe een van die 65 meter lange plastiekseile oor ’n tonnel getrek word. Dit neem ‘n hele span werkers en met die eerste teken van wind – niks meer as ‘n briesie nie – word die plastiek geskep, sywaarts gewaai, en moet die hele proses weer van vooraf begin.
WÊRELDMARK
Ondanks die toename in Suid-Afrikaanse bessieboere is die internasionale aanvraag in die regte tydgleuf sterk genoeg om goeie pryse te verseker. “Danksy nuwe genetika is dit nou moontlik om bessies met skepe uit te voer, in plaas van in vliegtuie. Dit is ’n groot prysvoordeel aangesien ons vervoerkoste amper halveer word,” meen Kobus. Suid-Afrikaanse bessieproduksie beslaan ’n relatief klein deel van die internasionale mark. Markte soos Sjina is nog nie betree nie. En alhoewel plaaslike aanvraag by tye sterk is, meen Kobus dat die aanbod in die plaaslike mark egter vinniger groei as die aanvraag. “Maar daar is nog heelwat geleenthede in die uitvoermark,” voeg hy optimisties by.
Besigheid: Vierfontein | Eienaars: Jannie Gutter | Area: Napier, Western Cape, South Africa | Kontak: kobus@vierfontein.com | 083 372 9979
KLEIN SIMONSVLEI
Niel Joubert is die vierde generasie Daniel Malan Joubert op die plaas Klein Simonsvlei in Simondium. Sy oupagrootjie het die grond in 1889 gekoop en sedertdien verbou die Jouberts wyn hier. Benewens wingerd het die plaas ook 100 hektaar vrugte, waaronder bes-sies wat sedert 2016 aangeplant word.
“Ons het swak grond op die plaas en het iets gesoek om daarop te plant. Die bessie-kwekery is ook hier langsaan,” sê Niel. Bessies word in potte geplant onder plastiekkoepels met net-beskerming aan die kante. Om onkruid te bekamp staan die potte op geweefde onkruid-matte. Coco Peat – wat onder meer uit kokosneuthare vervaardig word – word as ‘n groeimedium gebruik.
PLASTIEKKOEPELS
Bessiebosse onder plastiekkoepels groei nie hoër as ongeveer 1,3 m nie, teenoor bosse in die grond wat groter word indien hulle goed gespasieer word. Volgens Jason Collett, produksiebestuurder van Klein Simonsvlei se bessies, is laer bosse makliker om te pluk. Hulle oes ongeveer dertig ton per hektaar uit die potte, en selfs meer van gevestigde bosse wat in grond groei. Die produksieleefyd van ’n bessiebos in ’n pot is nagenoeg agt jaar. Die eerste aanplantings op Klein Simonsvlei is ook met die Snowchaser-kultivar gedoen omdat Snowchaser geoes word op ’n tyd wat die plaas niks anders oes nie. Bessieproduksie is onderworpe aan tantieme en kommissies en die plaas lewer op kontrak aan BerryWorld, wat verantwoordelik is vir die bemarking en verspreiding van die bessies.
VARIËTEITE WAT WERK
Bessieproduksie sorg ook vir ekstra kontantvloei en wyer risikoverspreiding. “Die bessies se oestyd is van Junie tot einde Oktober. November oes ons pruime en perskes, Januarie is dit appels en pere, sitrus in April en Mei en dan pars ons druiwe in Februarie en Maart,” sê Niel. Sedert die eerste aanplanting in 2016 het die plaas ’n verdere 5 ha Eureka aangeplant wat baie goed vaar. Tans het hulle 6,3 ha Eureka, 1,3 ha First Blush, 4 ha Twilight, 1,9 ha Dazzle en 3,6 ha Snowchaser. Snowchaser en Dazzle groei in plastiektonnels en die ander variëteite is onder skadunet. Die plaas beplan om 1,5 ha Masena en 1,5 ha Splash in Maart 2020 aan te plant. Niel noem dat die oortollige water vir die bessie-aanplantings opgevang en weer na die plaasdamme gesirkuleer word. Die plastiek koepelbehuising het ook geute wat gebruik word om reënwater op te vang.
Soos met bessies, probeer die Jouberts om die nuutste genetika met al hul vrugte te benut. Niel verwys na die Black Pearl pruim-kultivar wat ook op ‘n tantieme-stelsel geplant word. “Dit is ‘n groot swart pruim wat ons oes wanneer daar nie ander swart pruime in die mark is nie. Dis gemik op die Oosterse mark wat goeie pryse bied.”
Besigheid: Klein Simonsvlei | Eienaars: Niel Joubert | Area: Simondium, Western Cape, South Africa | Kontak: +27 (21) 300 3018 | jason@nieljoubert.co.za | www.nieljoubert.co.za
MONT ROUGE
Broers Johann en Charl du Plessis van Mont Rouge buite Tulbagh is vrugteboere wat in 2015 met bessies begin boer het. Die Mont Rouge-pakstoor verpak nét hul eie uitvoervrugte (clementines, perskes, nektariens, appels, pere en pruime) wat onder meer deur United Exports bemark word. United Exports is verantwoordelik vir die verpakking en verspreiding van al die plaas se bloubessies.
PLANT IN SAKKE
Die plaas is 64 hektaar in totaal, waarvan 45 hektaar bewerk is. “Toe United Exports voorstel dat ons bloubessies by ons portefeulje voeg, het ons besluit om die uitdaging te aanvaar,” vertel Johann. Die plaasgrond is al redelik uitgeput omdat hulle elke jaar ’n gewas plant. Daarom het hulle besluit om die bloubessies in sakke – eerder as direk in die grond – te plant. Dié stap verg ’n groot kapitaaluitleg, maar dis gelukkig eenmalig en as jy stuk-stuk groei soos die Du Plessis’s, word die risiko en kontantvloei versprei. Charl vertel dat hulle met 1,2 hektaar onder skadunet begin het, maar dubbel die hoeveelheid plantjies as gewoonlik, styf teen mekaar gepak het om sodoende hul oppervlak vinniger te vergroot.
KULTIVAR-KEUSE
Die OZblu-kultivar van Australië is gekies, gegewe die vallei se klimaat en grondsoort. Hulle het plantmateriaal van United Exports gelisensieer met die hoop dat dit suksesvol sou wees. “Om die regte keuse van variëteit te maak, is altyd die grootste uitdaging,” sê Johann. Vier jaar later is die broers baie tevrede met hul keuse.
Charl is al 17 jaar op die plaas en Johann 12 jaar, en hulle skryf hul saamboer sukses toe aan goeie beplanning, goeie kommunikasie en goeie strukture, en dat elkeen vir sy eie afdelings verantwoordelik is. Sedert 2015 het Mont Rouge nuwe genetika by United Exports gekry wat danksy ’n langer raklewe per boot oorsee vervoer kan word. Dit smaak ook soeter as vorige variëteite. Johann vertel dat nuwe markte gedurig ontwikkel danksy die smaak, verbeterde grootte en rakleeftyd van hul bloubessies.
DIE WAARDE VAN RAAD
Die Du Plessis’s groei en oes bessies met tegniese advies van United Exports, wat ook die kwaliteit toets en die bessies verpak en versprei. “Ons leer soos ons vorder. Aanwysings oor hoe om in sakke te boer is nie geredelik beskikbaar nie en ons leer met elke nuwe besending steggies en elke oes nuwe lesse.” Charl meen dat die ondervinding wat hulle met bloubessies opgedoen het, in die toekoms met ander boerdery-vertakkings van onskatbare waarde gaan wees.
Sonbrand, voëls, sterk wind en streng regulasies oor wat hulle mag spuit en toedien, is hul grootste uitdagings. Die opleiding en bestuur van plukkers is ook noodsaaklik om te verhoed dat verliese gely word wanneer beskadigde of onryp vrugte gepluk word. Bosse word met valkoë dopgehou en dieselfde bos word tot twee of drie maal per week gepluk omdat die bessies nie almal gelyk ryp word nie. Mont Rouge het tans 7 ha bessies, maar glo dat hul kapasiteit vir 12 hektaar het. Verdere uitbreidings is reeds in die pyplyn vir 2020.
“Ons pa was nie bang om nuwe goed te probeer nie. Ons is byvoorbeeld ook die enigste boere met sitrus in Tulbagh. Ons boerdery is goed gediversifiseer met verskillende oestye, wat die risiko en werklading eweredig versprei.
Die diversiteit en leefstyl op die plaas gee vir Charl groot vreugde, terwyl Johann byvoeg dat hy daarvoor leef om ’n nuwe projek aan te pak en dan die vrugte daarvan te pluk. Letterlik.
Besigheid: Mont Rouge | Eienaars: Johann du Plessis en Charl du Plessis | Area: Tulbagh, Western Cape, South Africa | Kontak: Cindy – 072 6732 405 | Mont Rouge Cottages: Marisha – 072 4612 123 | www.montrouge.co.za