Woorde: Hein Eksteen Fotografie: Anina Lonte
Die ingang na Capespan se uitvoerdruiweplaas Oorkant is reeds indrukwekkend, maar dit word bykans oorweldig deur die werkers-behuising naby die pad. Simmetries uitgelê, laat dié wonings jou dink aan ʼn voorstedelike veiligheidskompleks. Egter sonder elektriese heinings en diefwering en armed response soos wat die herverdelers van welvaart deesdae op inwoners afdwing.
LEWENSGEHALTE WERP VRUGTE AF
Algemene Bestuurder Dawid Dege verduidelik: “Ons het lankal agtergekom ons moet dieselfde as wat ons aan produksie spandeer, op ons mense uitgee. Hoe gemakliker hulle woon, hoe veiliger hulle voel, en die mate waartoe hulle deel van die onderneming is, verbeter hulle werksgehalte en produksie.”
Die afgelope drie jaar ontwikkel Dawid en sy span kindersorg-fasiliteite, klinieke en opleidingsentrums – met rekenaars en wifi toegerus – waar werkers ná ure hul vaardighede en horisonne kan verbreed. Kosteloos.
Elke nuwe werker word deur privaat Capespan-klinieksusters getoets en behandel, vir enige vorm van olikheid. Geen onderskeid word getref nie en hulle ontvang behandeling, kry die nodige medikasie (in vennootskap met die ZFM Distrik se Departement van Gesondheid) en, indien nodig, soos in die geval van VIGS, berading. En hierdie diens sluit die werkers se kinders in, in soverre seker te maak hulle is gesond en die inentings is op datum.
“Die voordeel hieraan verbonde is dat ons omset van werkers dramaties afgeneem het. Seisoenale werkers kom jaar na jaar terug oor die fasiliteite wat ons bied. Hier word binnekort behuising vir nog 80 mense gebou. En dis nie omdat ons nou te min het nie. Dit gaan eerder daaroor dat elkeen meer ruimte en privaatheid het met hul eie badkamergeriewe.”
RISIKO EN RESULTATE
Capespan besit tans vyf plase in hierdie omgewing en almal beskik oor dieselfde geriewe.
As jy dink Namibië ken nie vrugteboerdery nie, was jy duidelik nog nie in die Aussenkehr-kontrei nie. Dit is egter daar (en in De Doorns) waar Dawid en sy pa geleer het hoe om met druiwestokke te kotiljons.
“Ek is verantwoordelik vir drie van Capespan se plase sover dit die operasionele sy van sake aangaan. Dit sluit onder andere in beplanning, begrotings, om toe te sien dat ons produkte na die regte markte gaan, aankope, arbeidsbestuur en die vyfjaarplan wat ons jaarliks wysig. Dan het ek drie produksiebestuurders onder my.”
Jare gelede grom ʼn druiweboer in Kanoneiland se koers: “As jy die dag uitvoerdruiwe begin plant, vertel jy beslis nie vir jou vrou, óf jou bankbestuurder daarvan nie! Want jy kan baie hoog vlieg, maar jy kan net so ver val.”
Helaas, ja. En daarom durf Dawid en sy produksiebestuurders nie waag om vir ʼn oomblik die spreekwoordelike vinger van die pols te lig nie.
Daardie hartklop skakel in Junie oor na snelgang wanneer hulle begin vleg en ander voorbereiding doen. Gedurende daardie tyd word die replants (die vestiging van nuwe stokke in blokke waar die oues uitgehaal is) afgehandel. Dan verskuif die fokus na die produksiekant wanneer die blokke begin bot. Gedurende Augustus en September kom die seisoenale spanne aan om die ligte voorbereiding te doen. Hulle maak seker die regte hoeveelheid lote bly agter aan die stokke om die regte hoeveelheid en gehalte trosse te lewer.
“In September begin die baie fyner werk wanneer jy tros-tellings doen en elke tros nagaan om toe te sien daar is nie vrot korrels of enigiets wat die gehalte van jou produk gaan belemmer nie. Sodra ons in November na die pakstore toe beweeg, sit ons met skoon druiwe wat gereed is om verpak te word.”
Onlangs praat ek met ʼn uitvoerdruiweboer wat boer daar langs die Bergrivier naby Piketberg en kom met dié wysheid vorendag wanneer daar van insetkoste gepraat word: “Jy kan nooit genoeg geld op jou druiwe spandeer nie. Sodra jy dink dit is nou genoeg, is dit nog té min.”
DIS PRIVAATSKOOLGELDE DIÉ
Dawid is van mening: “Ons is redelik gefokus op nette met ons nuwe aanplantings en dít, tesame met jou grondvoorbereiding en die strukture, werk so tussen R400K en R450K per hektaar uit. Dan kom die skietwerk om te sien wat onder die grond aangaan, nog by. Ons sit hier met redelike dreineringsprobleme omdat ons in ʼn baie rots- en bergagtige gebied is en daarom is ons onder- en bogrondse werk ewe belangrik. Dit is kardinaal om te verseker jou stok word in ʼn goeie medium geplant, want dit bepaal sy uiteindelike gehalte en leeftyd. Om daarby aan te sluit, is jou voorbereiding van volproduksie-blokke hier in die omgewing van R380K per hektaar.”
Seker aansienlik meer as in enige ander vorm van landbou is die betaal van skoolgeld die uitvoerdruiweprodusent se voorland. En ons praat nie hier van plaasskooltjies nie. Privaatskool. Dink Hilton College. Bykans R300K per knapie per jaar. Die rede: kultivars, daardie duistere kuns (amper so donker soos Rassie, Faf en Willie se plan om die wêreldkoppie huis toe te bring).
Om hierdie werklikheid teen te werk, het Dawid uiteraard sy strategieë. “Ons is bevoorreg om as deel van Capespan ʼn redelik beweeglike bemarkingspan te hê. Hulle gaan saam met ons om marke te besoek, na nuwe kultivars en teelprogramme te kyk. Ons besoek Spanje gereeld en veral Kalifornië waar hulle heeltyd met nuwe kultivars besig is. Daaruit kies ons dan produkte wat vir ons sin maak. Hierdie word op ʼn kleiner skaal, tussen twee-en-ʼn-half tot vyf hektaar, aangeplant en sodra ons sien hulle werk, brei ons uit. Alles gebaseer op die arbeidsvriendelikheid, smaak, kleur en gehalte van die teelprogramme. Capespan is dan ook die besigheid wat die grootste nuwe kultivar aanplantings het.”
Nuwe stokke word in Augustus aangeplant.
“En dan met die volgende jaar, of tweede blad, soos ons dit noem, kan jy al jou eerste oes teen 30% afhaal. Derde blad, tweede oes is omtrent 70%. En daarna gee jou voldraende stok 4 500 kartonne oor ʼn leeftyd van tussen 15 en 18 jaar.”
Enige boer weet sy beste jaar is volgende jaar as gevolg van die uitdagings wat hom jaarliks in die gesig staar.
WIPPERIGE WEER
“Ons grootste uitdaging tans, is klimaatsverandering. Die winters word warmer. Dus verander ons die besproeiingsprogramme, sit nette oor om teen hael en sterk winde te beskerm. Ons kom ook agter die Augustus-winde, wat die groei van ons wingerd beïnvloed, skuif aan na September toe. En dan is ons in ʼn somerreënvalgebied en daarom bedek ons die wingerd tydelik met plastiek. Maar jy moet by die veranderings aanpas.” Of die trein verpas.
Richard Branson het te wete: “Berei voor vir die ergste en hoop vir die beste.” Goed en wel, maar soms gebeur die ergste ten spyte van alle voorsorg.
“Twee jaar gelede het ons verkeerde reën op een van ons plase gekry en moes ons meer as 70% van die oes afskryf.”
Omtrent alle landbouprodusente moet oor ʼn baie gesonde aptyt vir risiko beskik. Uitvoerdruiwe soveel te meer.
“Jy is heeltyd aan die weer gekoppel. Iets waaroor jy geen beheer het nie. Al is jou voorbereiding en beplanning perfek en die weer werk nie saam nie . . . Jy moet baie hoop en geloof hê. As jy begin snoei, moet dit koud wees. Wanneer die stokke bot, moet dit warm wees. Sodra die stokke blom, soek jy matige temperatuur sonder wind en reën. Sodra die vrugte begin deurslaan, het jy koel nagte nodig. Kry die vrugte suiker, het jy droë dae met goeie humiditeit nodig. Met ander woorde, jy is omtrent die hele jaar direk aan die weer uitgelewer, en as die weer nie na wense nie, het dit ʼn direkte impak op jou produksie.”
En die stres aan hierdie onverdraaglike onvoorspelbaarheid verbonde?
“Jy het geen ander keuse as om jou stres soos alles anders, te bestuur nie. Stres ek, gaan dit impak hê op my bestuurspanne, my werkers en uiteindelik op die produk.” Desnieteenstaande reis Capespan beslis eersteklas en voorsien 45% van sy produksie aan die Verenigde Koninkryk, 35% aan Europa, 8% aan Noord-Amerika, China kry ses, die Midde-Ooste drie-en-ʼn-half en die res word aan sekere plaaslike supermarkkettings voorsien, daardie wat uitvoergehalte druiwe aan hul klante bied.
Uitskotdruiwe, oftewel die trosse wat van die wa af val, gaan na ʼn versappingsaanleg in Kakamas, of word op rosyntjiebane gegooi.
Ná genoeg kantoorpraatjies, soek ons die buitelug en Dawid hou langs rye groentetonnels stil.
“Elkeen van ons plase het hierdie tonnels en hulle word deur Capespan se Korporatiewe Sosiale Investering-organisasie bekend as “Blue Hand” befonds, waardeur ons in die werkers terugploeg. Die werkers bestuur hierdie tuine self en elke aand bring jy jou sak en het jy vars groente op die tafel.”
BÔLSPORTS
Vervolgens gaan kyk ons na die groen sokkerveld en netbalbaan kompleet met kleedkamers en afsonderlike geriewe vir elke voornemende Jaco Peyper wat hier die fluitjie kom blaas.
“Ons hou elke jaar ʼn sporttoernooi onder ons plaas-spanne. Die Oos-Kaap se sokkerspan was hoeka vanjaar ook hier. Kaap Agri is een van die borge van die dag waartydens die manne en vroue aan uitkloprondtes deelneem waarna elke span aan die einde van die dag ʼn prys ontvang.”
En wie is die All Blacks (oukei, ʼn swak keuse) van hierdie omgewing?
“Arendsnes kraai maar elke jaar koning, maar ek is nie kwaad vir my eweknie, Leon van Zyl, op daardie plaas nie, alhoewel hy my aanmekaar druk om meer saam te oefen. Walter, die sportbestuurder daar, spandeer nogal baie tyd aan sy spanne en hy verloor nie sommer ʼn wedstryd oor die naweke nie.”
Capespan, tesame met vele ander plaaslike landboumaatskappye, se gulhartigheid doen baie om werkers se moraal te lig. Soos ons wysgere sê: ‘Happy wife, happy life.’ Só ook met enige arbeidsmag.
Eienaar: Capespan | Area: Kakamas, Noord-Kaap, Suid-Afrika | Kontak: www.capespan.com